Views: 9
Ons het verlede week uittreksels uit sewe briewe van onbekende gelowiges gelees wat ‘n aantal temas aangeraak het wat vir ons almal relevant was. Temas soos die doop, die gee van tiendes, die feeste en die Shabbat. Vandag sluit ons weer aan by die tema van sewe briewe. Hierdie keer kyk ons na sewe briewe wat in die Nuwe Testament of Messiaanse Skrifte opgeneem is en wat spesifiek aan “die afgesonderdes” geadresseer word. Daar is net mooi sewe briewe in die Nuwe Testament wat aan “die afgesonderdes” (Grieks: “tois hagiois”) geadresseer is. Ons weet nie presies waarom net sewe briewe aan “die afgesonderdes” geadresseer word en waarom briewe soos Galasiërs, 1 en 2 Tessalonisense, Jakobus en die briewe van Petrus en Johannes aan groepe gestuur word, wat met ander name genoem word, soos “gemeente” of “verstrooides” of “geliefdes” of “vreemdelinge” nie. Dit maak ook nie saak nie, want in terme van die beginsel van beide die voor-Messiaanse Skrifte en die Messiaanse Skrifte, behoort ALMAL wat hulleself by Yahweh skaar en ALMAL wat Y’shua van Nasaret as die Messias aanvaar het, AFGESONDERDES te wees – mense wie se leefstyl in totale kontras staan met die leefstyl van hulle wat bloot die patroon van die wêreld volg. Ons fokus is vandag op die sewe briewe van Romeine, 1 en 2 Korintiërs, Efesiërs, Filippense, Kolossense en Judas. Ons gaan spesifiek kyk na sommige van die kontraste wat beskryf word in hierdie briewe en wat dit vir ons beteken wat as AFGESONDERDES in hierdie wêreld lewe.
Romeine: Die kontras van Vlees VS Gees (Flesh VS Spirit). Voordat ons die Messias en sy vergifnis en verlossing leer ken het, het ons IN DIE VLEES gelewe en is ons deur ons vleeslike en sondige begeertes beheers en van koers af gedryf. Die keuse om ‘n volgeling van Y’shua te word, is ook die keuse om nie meer jou doen en late deur die vlees te laat beheers nie, maar deur die Gees van Yahweh. In hierdie brief skryf die apostel oor hierdie groot verandering in ‘n gelowige se lewe en sê hy onder meer die volgende: Die doop in die Naam van Y’shua is simbolies van die afsterwe van die vlees en die opwekking van ‘n nuwe mens wat deur die Gees van Yahweh beheers word (H6); In die innerlike stryd wat ons dikwels beleef – wat vir ons laat besef: die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek – lê ons verlossing en ons oorwinning dáárin dat ons voorloper, Y’shua, deur dieselfde stryd gegaan het en die oorwinning behaal het (H7); Wanneer ‘n mens nie langer volgens die vlees wandel nie, maar volgens die Gees (met ander woorde: volgens die riglyne van die Skrif wat Yahweh deur sy Gees op ons harte kom druk), dan vervul jy die reg van die Torah – soos wat Y’shua die reg van die Torah vervul het (H8).
1 Korintiërs: Die kontras van Dwaasheid VS Wysheid (Foolishness VS Wisdom). Aan die begin van hierdie brief word daar heelwat geskryf oor hierdie kontras: Dit wat wysheid in die oë van die wêreld is, is dikwels dwaasheid in die oë van Yahweh, en andersom. Een van die uitdruklike wyshede van Yahweh wat in hierdie brief genoem word, wat deur ‘n groot deel van die wêreld as dwaasheid gereken word, is die folterpaal waaraan Y’shua van Nasaret vasgespyker is. Maar vir diegene wat geroep en afgesonder is, is die folterpaal (en dit wat in werklikheid rondom die folterpaal gebeur het) juis die krag van Elohiem en die wysheid van Elohiem (H1). Die grootste standhoudende faktor in ons lewe is die wete dat ons geloof nie op die wysheid van mense gebaseer is nie, maar op die krag van Elohiem (H2). Die wysheid van Elohiem bestaan van ewigheid af en is ‘n verborgenheid wat deur die Gees van Elohiem bekend gemaak word aan hulle wat oop is vir die getuienis aangaande Y’shua (H2).
2 Korintiërs: Die kontras van Uiterlike agteruitgang VS Innerlike Vernuwing (Outward decay VS Inward renewal). In hierdie brief skryf die apostel dat meeste gelowiges nie van siekte en stryd en vervolging gevrywaar is nie. Na die uiterlike word hulle verdruk en neergewerp en verwond – tot só ‘n mate dat dit lyk asof hulle die “doding van Y’shua” aan hulle liggame dra. Maar hulle gee nie moed op nie, want in hulle harte is daar hierdie wete: al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag na dag vernuwe, vanuit die wete dat Y’shua se opstanding ook ons opstanding gewaarborg het (H4). Persoonlik vind ek ontsettende troos in die vars perspektief van hierdie brief. Vir myself en vir ander in ons gemeenskap wat toenemend gekonfronteer word met fisiese en liggaamlike uitdagings en dikwels nie weet hoe om dit uit te bring by die boodskap van herstel en restourasie in die Skrif nie. Wanneer die Gees van Yahweh ons eie gees in besit neem, word ons harte só vernuwe dat ons in blydskap en vrede kan toeneem, selfs wanneer ons uiterlike aan die afneem is.
Efesiërs: Die kontras van Nutteloosheid VS Doelgerigtheid (Futility VS Purpose). Hierdie brief herinner ons daaraan dat daar by baie gelowiges nog ‘n lang pad van groei voorlê. Sommiges het nog nie gekom by die “volle grootte van die Messias” nie. Hulle lyk soos mense in ‘n reddingsbootjie in die stormagtige see, wat heen en weer gedryf word deur elke nuwe wind van lering wat oor die see aangewaai kom. Hulle is meer geneig om op dinge te fokus wat nutteloos is, as op dit wat te make het met die doel en die essensie van die lewe, en veral die essensie van die geloof. By hierdie mense is daar dikwels ‘n soort geestelike armoede en hongersnood, wat nie gevoed word met ‘n begeerte om Yahweh te behaag nie (H4). Met ons behoort dit nie so te wees nie. Deur sy Seun het Yahweh vir ons ‘n splinternuwe doel gegee. Hy het ons bestem (en deur Y’shua gemotiveer) om nie net af en toe goeie werke te doen nie, maar om voluit in die weë van Yahweh te wandel (H2). Kom ons waak opnuut teen die verlammende obsessie met dinge wat nutteloos is vir geloof en groei en vervulling. Yahweh het ons immers voor die grondlegging van die wêreld uitverkies om afgesonder en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees (H1).
Filippense: Die kontras van Selfverheffing VS Nederigheid (Self-exaltation VS Humility). Daar is geen ander brief waarin die fokus só sterk op nederigheid val, as die brief aan die Filippense nie. En dit word saamgevat in die woorde: Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Hoe kry ‘n mens dit reg? Hierdie brief sê: Jy laat jou lei deur die voorbeeld van die Messias. Hy het homself ontledig (letterlik: leeg gemaak of onbelangrik gemaak) deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword, al het Hy geweet dat daar ‘n hoë roeping op sy lewe was. Dis jammer dat sommige vertalings probeer het om filosofiese idees hier in te bring en dit te laat klink of Y’shua se nederigheid dáárin bestaan het dat Hy voorheen ‘n posisie in die hemel gehad het en dat Hy bereid was om daardie posisie prys te gee. Dit is NIE wat hierdie brief sê nie. En boonop sou só ‘n soort nederigheid nie vir ons ‘n voorbeeld wees nie, want niemand van ons het voorheen ‘n verhewe posisie in die hemel beklee nie. Die werklike voorbeeld wat Y’shua vir ons gestel het, is dat Hy, as volledige mens – net soos ons – die voordeel en die belange van ander mense gesoek het en nie vir een oomblik na dinge gehunker of gegryp het wat Hom op ‘n hoër vlak as ander mense sou plaas nie (H2).
Kolossense: Die kontras van Aardse fokus VS Hemelse fokus (Earthly Focus VS Heavenly Focus). Hierdie brief beskou die verwagting van die opstanding uit die dood van gelowiges in die Messias, as só ‘n groot werklikheid, dat ons NOU REEDS kan sê: Ons is saam met die Messias opgewek! In die lig hiervan word ons aangemoedig: “As julle dan saam met die Messias opgewek is, soek die dinge daarbo waar die Messias is en aan die regterhand van Elohiem sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterf, en julle lewe is saam met die Messias verborge in Elohiem.” Om hierdie perspektief te hê, terwyl jy soms moeite en verdriet en teleurstelling hier op aarde ervaar, is een van die kosbaarste dinge wat ons ken! (H3).
Judas: Die kontras van Onstabiliteit VS Stabiliteit (Instability VS Stability). Hierdie kort briefie fokus baie sterk op onstabiele mense wat onstabiliteit in die gemeenskap van gelowiges kan insmokkel. Hulle doen dit onder meer deur die guns van Elohiem voor te stel as ongebondenheid (V4); deur hulle aanhoudende gekla en kroniese onvergenoegdheid; deur die uitspreek van trotse woorde en deur mede-gelowiges te vlei ter wille van hulle eie voordeel (V16). Hulle word beskryf as vleeslik-gesinde mense wat die Gees van Yahweh nie besit nie en wat skeuring bring (V19). Gelowiges en gemeentes moet wakker wees vir hierdie gees en dit teenstaan met die teenoorgestelde gesindheid: Wees geanker in die woorde van die Messias en sy apostels (V17); wees ywerig vir die ware geloof (V3); Wees bereid om opgebou te word in die afgesonderde geloof (V20) en bewys barmhartigheid aan die wat twyfel (V22).
Daar is IETS in die wisselwerking tussen kontraste en teenoorgesteldes wat ‘n mens help om geloof beter te verstaan. Geen wonder Y’shua het so baie van kontraste gebruik gemaak nie. Die kontras tussen rykes en armes. Die kontras tussen die geestelike elite en die sondaars. Die kontras tussen liefde vir jou vriende en liefde vir jou vyande. En stellings soos: Die laaste sal eerste wees; Hy wat sy lewe verloor sal dit vind; Aan die armes en die sagmoediges en die vervolg word, behoort die koninkryk van die hemel. En: As die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug. Mag daar vir ons veel vrug wees, en ‘n groter verstaan van wat dit werklik beteken om afgesonderd te lewe, namate ons hierdie briewe, met hulle kontraste, deel van ons eie lewe maak.