Views: 10
Die drie Skriflesings wat saam gegroepeer word, hierdie week, laat ‘n mens nogal dink. En die vraag is veral: Hoe pas hulle by mekaar? Wat is die GOUE DRAAD wat deur al drie loop? Die vyf hoofstukke in Numerie (25 tot 29) sluit onder meer in: Die telling van die volk (met ongeveer 600000 mans wat getel is); Die verdeling van die land tussen die 11 stamme (volgens die 11 seuns van Yaakov, en hulle families, met Levi uitgesluit); die uitvaardiging van ‘n nuwe regulasie om voorsiening te maak vir die vyf dogters van Tselofgad, wat in die woestyn gesterf het en vyf dogters maar geen seun gehad het nie; die aanwysing van Joshua of Yehoshua as die opvolger van Mosheh en die een wat bestem is om die volk in die Beloofde Land in te neem en ‘n beskrywing van al die offers wat daagliks, en elke Shabbat, en elke Nuwemaan, en by elkeen van die sewe feeste gebring moes word.
Die gedeelte van Jeremia 1:1 tot 2:3 gaan oor die besonderse manier waarop Jeremia deur Yahweh geroep is as profeet. Ons weet dat Jeremia BAIE JONK was toe Yahweh hom geroep het. Sommige vertalings sê dat nog ‘n kind was. Wat ‘n indruk moes dit nie op sy jong gemoed gemaak het nie, toe hy op ‘n dag die Woord van Yahweh gehoor het wat vir hom sê: Ek het jou geken voordat jy in jou moeder se skoot was! En, asof dit nie genoeg was nie, hoor hy verder: Ek het jou vir My afgesonder voordat jy gebore is … Ek het jou lankal reeds ‘n profeet vir die nasies gemaak (al het jy dalk nog nooit ‘n profeet gesien, of iemand uit ‘n ander nasie ontmoet nie) … na wie toe Ek jou ook al stuur, moet jy gaan … wat Ek jou ook al beveel, moet jy praat … Ek stel jou vandag oor die nasies aan, om koninkryke uit die grond uit te ruk en van voor af te bou en te plant … Ek maak jou vandag soos ‘n ysterpilaar en ‘n kopermuur teen die hele land … mense sal teen jou veg maar jou nie oorwin nie, want Ek is met jou! Min ander profete is op só ‘n direkte en duidelike manier deur Yahweh geroep!
En dan die bekende hoofstuk 11 van die boek van Romeine. Die hoofstuk wat die volk Israel se ontrou aan Yahweh beskryf, maar die feit beklemtoon dat Hy hulle nie verwerp het nie en dat daar ‘n oorblyfsel van hulle is wat nog steeds vir sy koninkryk bestem is. Dis die plek in die Skrif wat nie-Joodse gelowiges in die Messias, se verhouding met die Jode, seker die heel beste beskryf: Ons is wilde olyfboom takke wat op die oorspronklike olyfboom INGEËNT is. Die oorspronklike olyfboom waarvan sommige takke afgebreek het. Maar daardie oorspronklike boom, en sy takke, het Yahweh vir Homself afgesonder. Hóé oorspronklik is hierdie oorspronklike olyfboom? In die Jewish Encyclopedia word beskryf dat daar minstens sewe persone of groepe persone, of dinge, “bestaan” het, VOOR DIE GRONDLEGGING VAN DIE WÊRELD. Een hiervan is die volk wat Yahweh na Homself toe geroep het en vir Homself afgesonder het. Dis hoe oorspronklik die oorspronklike olyfboom is. So oorspronklik soos die “voortyd”, wat gewoonlik beteken: “vóór die grondlegging van die wêreld”! En as bewys hiervoor word Psalm 74:2 aangehaal: “Dink aan u vergadering (van mense) wat U in die voortyd verwerf het … om die stam van u erfdeel te wees.”
Ek is seker daarvan daar is meer as een goue draad wat deur hierdie drie gedeeltes loop. Maar vir my is die goue draad die feit dat Yahweh mense na Hom toe GEROEP het en dat Hy hulle tot verantwoording roep en vir hulle vra: Is jou lewe in lyn met hierdie roeping? Is hierdie roeping nog steeds die grootste dryfveer van jou doen en late? As daar ‘n roeping op jou lewe is, beteken dit Ek het geroep, en roep nog steeds, en jy behoort te antwoord, elke keer as jy my roepstem hoor.
Wat het Numerie 25 tot 29 met roeping te make? Daardie gedeelte sluit af met hoofstuk 28 en 29 wat die langste aaneenlopende beskrywing van die “Mo’adiem” of “VASGESTELDE TYE” in die hele Skrif is (selfs langer as Levitikus 23). Daarom begin hierdie beskrywing in Numerie 28:2 met die opdrag dat hierdie byeenkomste elkeen “bemo’ado” moet plaasvind, dit wil sê: Elkeen op sy “mo’ad” of op sy vasgestelde tyd. En dit sluit nie net die sewe feeste in nie, maar ook die Shabbat en die Nuwemaan. Van al hierdie vasgestelde tye word gesê dat dit AFGESONDER moet wees, of VIR YAHWEH moet wees. Is dit nie die suiwerste betekenis van die woord “afgesonder” nie? Is dit nie die rede waarom ons vandag hier bymekaar is nie? Gaan dit nie uiteindelik oor YAHWEH, en wat Hy vir ons lewens begeer nie? En ses keer in hierdie twee hoofstukke word daar van ‘n “afgesonderde byeenkoms” gepraat – in Hebreeus: “MIQRA QODESH”. Ons weet “qodesh” beteken “afgesonder” of “eenkant geposisioneer, weg van die res, vir ‘n spesiale doel”. Maar wat beteken “miqra”? “Miqra” is afgelei van die woord “qara” en hierdie woord beteken dood eenvoudig: “om iemand te ROEP”! Waarom vind daar ‘n byeenkoms of ‘n “miqra” plaas op elkeen van die afgesonderde tye? Omdat hierdie byeenkomste die sigbare en tasbare bewys is dat Yahweh mense na Hom GEROEP het. Hy het ons nie net uit die duisternis geroep nie. Hy het ons nie net uit ons vreemdelingskap, uit ons verlorenheid, uit ons desperaatheid en uit ons gevoelens van minderwaardigheid geroep nie. Hy het ons ook bymekaar geroep. As daar “qara” oor ons lewens geskryf staan – Jy is geroep! – dan is “miqra” ononderhandelbaar. Op die Shabbat en op die Nuwemaan en op die Fees moet daar ge-“miqra” word – bymekaargekom word, en sigbare uitdrukking gegee word aan die feit dat ons saam met ‘n skare mense, uit die duisternis geroep is tot sy wonderbare lig.
Wat het Jeremia 1 en 2 met roeping te make? Die antwoord is duidelik. Hier is ‘n jongman, dalk ‘n jong seun, wat op ‘n SPESIALE MANIER deur Yahweh geroep is. Voordat daar ‘n saad in sy moeder se skoot ingeplant is, het Yahweh hom al geken. Voordat hy gebore is, het Yahweh hom al geroep om ‘n afgesonderde werktuig in Sy hand te wees. Kan dit miskien van jou en my ook waar wees? Dis nie net ‘n moontlikheid nie, volgens die Woord van Yahweh is dit ‘n werklikheid! Dis een van daardie kosbare, verborge waarhede van die Skrif. Sê die Skrif dan nie dat die koninkryk vir ons berei is van die GRONDLEGGING van die wêreld af nie? En staan daar dan nie in Efesiërs dat Yahweh ons in Y’shua uitverkies het, voor die grondlegging van die wêreld nie? En staan dan nie in Hebreërs dat AL YAHWEH SE WERKE van die grondlegging van die wêreld vasgestel is nie? Baie mense dring aan daarop dat as Petrus (Kefa), in sy brief sê dat Y’shua al deur Yahweh voor die grondlegging van die wêreld geken is, dit moet beteken dat Y’shua al voor die grondlegging van die wêreld, as hemelse wese bestaan het. Maar hulle verstaan nie die waarheid dat AL YAHWEH SE WERKE voor die grondlegging van die wêreld vasgestel is nie. Hulle vergeet dat Jeremia ook lank voor sy geboorte deur Yahweh geken is. En hulle vergeet dat gewone gelowiges soos ons, voor die grondlegging van die wêreld in Y’shua uitverkies is. En die grootste fout wat basie mense maak, is om NIE die sinnetjie wat Petrus geskryf het, klaar te lees nie. 1 Petrus 1:20: “Die Messias … wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar IN HIERDIE LAASTE TYE geopenbaar is om julle ontwil …”. Om lank gelede, selfs voor jou geboorte, deur Yahweh geken en geroep te wees, beteken nie jy het in een of ander gestalte bestaan voordat jy gebore is nie. Nee, dit beteken jou mens-wees het HIER EN NOU sin en betekenis, want dit is deel van ‘n groot roeping, ‘n wonderlike plan van verlossing, wat van die begin af daar was, en tot reg aan die einde, tot in die fynste detail uitgewerk sal word.
Besef ons wat ‘n voorreg dit is om, net soos Israel en Jeremia en Y’shua, deur Yahweh GEROEP te wees? Romeine 9 sê duidelik Yahweh het mense na Hom toe geroep, nie net uit die Yehudiem nie, maar ook uit die nie-Joodse nasies. En 1 Korintiërs 1 sê Yahweh het ons geroep tot die gemeenskap met sy Seun, Y’shua die Messias. Y’shua die Messias is ‘n wesenlike deel van daardie oorspronklike olyfboom wat in Romeine 11 beskryf word. Ons het vroeër verwys na die Joodse verstaan dat daar minstens sewe persone of groepe persone is wat voor die grondlegging van die wêreld “bestaan” het, en dat ISRAEL een van hierdie sewe is. Nog een van die sewe, sê die Jewish Encyclopedia, is die MESSIAS. Sy “oorsprong” is uit die “voortyd”, maar hulle verwag dat Hy nog moet kom. En hierin is hulle reg en verkeerd. Sy oorsprong is inderdaad uit die voortyd. Ons ken almal die woorde van MIGA: “Uit jou Betlegem, sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Yiesraél sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.” Maar hulle is verkeerd in hulle verstaan dat hierdie Heerser nog moet kom. Hy HET gekom! Nie soos wat hulle verwag het nie, maar soos Yahweh dit bedoel het. En deur geloof het óns – nie-Jode – deel gekry aan hierdie Een, wat deel is van die oorspronklike olyfboom. ‘n Tak wat behoorlik INGEËNT is, word so deel van die boom, dat jy dit later nie kan onderskei van ‘n tak wat ingebore is nie. Met hulle afgesonderde byeenkomste het die volk Israel gedemonstreer dat hulle vóór die geboorte van hulle volk, deur Yahweh ge-“qara” of geroep is. Jeremia van Anatot is voor sy geboorte deur Yahweh geroep. Y’shua van Nasaret is voor sy geboorte deur Yahweh geroep. Deur ons geloof in Y’shua, het ons ontdek dat ons voor ons geboorte deur Yahweh geroep is. In Efesiërs 4 noem een van die vernaamste leiers onder die vroeë gelowiges in die Messias homself ‘n “gevangene in die Meester”, terwyl hy ‘n brief skryf aan sy mede-gelowiges, waarvan sommiges Jode is en ander nie-Jode, en hy skryf aan hulle – en aan ons – hierdie aangrypende woorde: Ek vermaan julle dan, broers en susters wat in Y’shua die Messias uitverkies is voor die grondlegging van die wêreld, om elke dag te wandel op ‘n manier wat volledig pas by die roeping waarmee julle geroep is!