Views: 13
Ons het die aspek van ROEPING as tema vir hierdie vyfde maand gekies. Vandag nog, roep Yahweh mense om aan sy kant te kom staan. Hy roep hulle by die Naam, en Hy nooi hulle om Hom ook by die Naam aan te roep. Die Hebreeuse naam van die derde boek in die Skrif, is Vayikra, wat letterlik beteken “En Hy het geroep”. Maar dis nie toevallig dat hierdie boek net mooi in die middel van die 5 boeke van die Torah staan nie – met twee boeke aan weerskante. As ‘n mens mooi gaan kyk, is die tema van roeping ingesluit by elkeen van die vyf boeke van die Torah. Bereshiet (“In die begin”) herinner ons dat Yahweh mense reg aan die begin, selfs nog voor die grondlegging van die wêreld, geroep het. Shemot (“Name”) herinner ons daaraan dat Yahweh ons by die naam geroep het, en sy eie Naam teenoor Mosheh (en teenoor die mensdom) uitgeroep het. Bemiedbar (“In die woestyn”) herinner ons dat geen ware roeping ooit die woestyn sal uitsluit nie en Devariem (“Woorde”) herinner ons dat Yahweh nie net vaagweg, sonder inhoud en sonder woorde roep nie. Hy gebruik waardes en waarhede en waarnemings en woorde, soos dit geskryf staan in die Skrif, of, soos ons van kleins af geleer het: soos dit geskryf staan in SY WOORD. Om te roep sonder woorde, kan net so min gebeur as om te praat en te verstaan en te antwoord, sonder woorde.
Die eerste direkte woorde van Yahweh wat opgeteken word in hierdie boek met die naam, WOORDE (Devariem), is oor en oor die moeite werd om oor ná te dink. Ons vind dit in vers 6 en 7: “Julle het lank genoeg by hierdie berg gebly. Trek weg (letterlik: draai weg) en breek op en gaan na die berge van die Amoriete.” Dit is veral die eerste opdrag (van die drie) wat ‘n mens se oog vang: DRAAI WEG of DRAAI OM! Die woord wat hiervoor gebruik word, is dieselfde woord wat ook vir ‘n mens se GESIG gebruik word. Dit maak sin, want die eerste ding wat gebeur as ‘n mens weg draai, is dat jou GESIG wegdraai – en daarmee saam jou VÓÓRKANT, jou hele fokus en beplanning.
Dis duidelik dat draai en wegdraai en omdraai (Hebreeus: panah) onlosmaaklik aan ons ROEPING verbind is. As Yahweh iemand roep, beteken dit dat Hy sy aangesig na daardie persoon toe gedraai het. En wat Hy van jou verlang as Hy sy aangesig na jou toe gedraai het, is dat jy ook sal WEGDRAAI van dit waarmee jy besig was, en vir Hom jou fokuspunt sal maak. Dat jy die program en die beplanning van jou lewe só sal wysig, dat jy met jou voorkant (nie jou rugkant nie) na Hom gedraai is, en op Sy woorde en begeertes ingestel is. Hier is net ‘n paar verse wat duidelik toon dat Yahweh se bemoeienis met ons begin, deurdat Hy Hom na ons toe wend of draai (panah): “Ek sal My na julle wend (panah) en julle vrugbaar maak en julle vermenigvuldig; en my verbond sal Ek met julle bevestig” (Levitikus 26:9). “Toe draai (panah) Yahweh na hom toe en sê: Gaan in hierdie krag van jou en verlos Yiesraél uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie?” (Rigters 6:14). “Wend (panah) U tog tot my gebed en my smeking, Yahweh my Elohiem” (1 Konings 8:28). “Wend (panah) U tot my en bewys aan my guns, want ek is eensaam en ellendig (Psalm 25:16). “Wend (panah) U tot my na die grootheid van u gunsbewyse” (Psalm 69:16). “Hy het Hom gewend (panah) tot die gebed van die een wat ontbloot is (Psalm 102:17). Dis duidelik dat die Skrif Yahweh aan ons voorhou as Een wat nie ‘n oomblik huiwer om in die rigting te draai van ‘n mens wat in nood of in pyn is nie!
Dit bring ons by die ander kant van die muntstuk. Wat gebeur met jou, as mens, as jy jou na Yahweh toe draai – as jy omdraai of wegdraai van ‘n leefstyl wat jou nie bevredig het nie, en jy draai met jou voorkant en jou aangesig in die rigting van sy aangesig? In die Skrif is daar oorgenoeg bewyse dat só ‘n aksie, mense se lewens oorweldigend POSITIEF verander het. Net soos wat dit andere se lewens oorweldigend NEGATIEF verander het, toe hulle weggedraai het van Yahweh af. Die beste voorbeeld van die negatiewe kant, is Farao wat met die woord van Yahweh gekonfronteer is, maar “omgedraai het” (panah) en “huis toe gegaan het en dit nie ter harte geneem” het nie (Exodus 7:23). Ons almal weet hoe drasties hierdie keuse vir Farao, en sy hele volk beïnvloed het. Maar toe Aharon en die volk van Israel POSITEIF op die uitnodiging gereageer het om nader te kom voor die aangesig van Yahweh en letterlik gedraai het (panah) in die rigting van die woestyn, het hulle die ligglans van Yahweh in die wolk voor hulle oë gesien (Exodus 16:9-10). Op ‘n ander keer het die volk in die rigting van die tent van byeenkoms gedraai (panah) en toe beleef dat ‘n wolk die hele tent oordek en die ligglans van Yahweh daar in hulle midde verskyn het (Numerie 16:42). “Wend (panah) julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is El, en daar is geen ander nie” (Jesaja 45:22). Toe Hiskia sy gesig na die muur toe gedraai het en tot Yahweh gebid het, is daar vir hom 15 jaar by sy lewe gevoeg. Volgens Psalm 40:4 is ‘n mens wat werklik geseënd is, die een wat hom nie wend tot hoogmoediges en leuenaars nie, maar wat besluit om na Yahweh toe te DRAAI en Hom alleen te vertrou. Die hunkering van elke ware gelowige word vir my nêrens mooier uitgedruk as in Psalm 27:8 nie: “Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek u aangesig, o Yahweh!” Diep in my binneste is daar ‘n hunkering, sê die skrywer hier, wat ek dalk in die verlede onderdruk het, en wat ek selfs ontken het, maar nou het hierdie hunkering só sterk geword, dat ek nie anders kan, as om te antwoord nie: “Ek soek u aangesig, o Yahweh – en ek DRAAI met alles wat ek het, na U toe!”
Wat vir ons vandag ontsettend belangrik is – op ‘n praktiese vlak – is dat ons ons eie harte in alle eerlikheid sal ondersoek. Hoor ek regtig die woord (eintlik die talle WOORDE – DEVARIEM) wat sê dat die Allerhoogste sy gesig na my toe gedraai het? Is dit omdat ek so oulik is? Allermins! Hy doen dit omdat HY so groothartig en so goedgunstig en so geduldig is. Maar die vraag is: Het ek vol-uit na Hom toe gedraai? Staan ek met my voorkant na Hom gedraai, of dalk net met my sykant, of selfs met my rugkant? Of het ek dalk stadig maar seker my posisie voor Hom verander, en geleidelik weggedryf, sodat dit nodig geword het om wéér te draai? Want dis moeilik om nie onder die druk van buite af te vou en te verkrummel nie. Die druk van ‘n wêreld wat besig is om nie net volledig sy rug op die Allerhoogste te draai nie, maar ontken dat Hy bestaan, of dat Hy hoegenaamd by ons lewens betrokke is. As ek my hart ondersoek het, en besef die aangesig van die Allerhoogste het voor my vervaag, behoort ek nie ‘n oomblik langer te versuim om volledig terug te draai na Hom nie.
As ek weggedraai het van Hom omdat ek gevoel het dat Hy van my af weggedraai het, dan sê die WOORD vandag vir my: “In ‘n uitstorting van toorn het Ek vir ‘n oomblik my aangesig vir jou verberg, maar met ewige goedertierenheid ontferm Ek My oor jou, sê Yahweh, jou Verlosser” (Jesaja 54:8).
As ek getwyfel het en gedink het dat Yahweh selfs net een van sy beloftes aan my sal vergeet, dan sê die WOORD vandag vir my: “Soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, sê Yahweh, so sal jou nageslag en jou naam bestendig wees (Jesaja 66:22).
As ek bang is dat ‘n keuse vir Yahweh en vir die pad van gehoorsaamheid, my by ‘n plek van onsekerheid en alleenheid gaan bring, dan sê die WOORD vandag vir my: “As jy jou bekeer en jou verfoeisels van my aangesig af verwyder, hoef jy nie rond te swerf nie” (Jeremia 4:1).
En as ek huiwer omdat ek ver weg van Hom af gedryf het en voel dat die maat van my sonde en mislukkings al te groot geword het, dan sê die WOORD vandag vir my: “Ek laat ‘n Loot voor my aangesig uitspruit uit die droë grond en alhoewel jy gedwaal het soos ‘n skaap en op jou eie pad weggedraai het (panah), het Ek jou ongeregtigheid op hierdie Loot (Engels: “Branch”) laat neerkom. Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met swakheid. Sommiges kon nie eens hulle gesigte na Hom toe draai nie. Selfs sy eie mense het Hom nie gereken as iemand besonders nie, maar nogtans het Hy ons krankhede op Hom geneem. Nogtans het Hy ons smarte gedra. Ter wille van ons oortredinge is Hy deurboor. Weens ons ongehoorsaamheid is Hy verbrysel. Die straf wat vir ons die vrede gebring het, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (Jesaja 53:1-6). Vir die van ons wat onsself toegespin het in ‘n kokon van oorgerustheid, sê die WOORD vandag: Besef jy nie dat die goedgunstigheid van Elohim jou tot bekering (omdraai) wil lei nie (Romeine 2:4)? Besef jy nie dat bekering (omdraai) die bedekking van ‘n mens se oë wegneem, sodat jy kan sien wat nodig is om te sien nie (2 Korintiërs 3:16)? Bekering is NIE ‘n eens-en-vir-altyd gebeurtenis nie. As ek myself WEG van die aangesig van Yahweh af bevind, en weg van sy waarheid af, en weg van die duidelike pad wat Hy aangedui het, kom sy WOORD sonder doekies-omdraai na my toe: Ek, Yahweh, is lankmoedig en besorgd oor jou en wil nie hê dat jy moet WEGKWYN nie, maar dat jy (opnuut) sal WEGDRAAI van dit wat nie reg is nie (2 Petrus 3:9). Met een, enkele omdraai-slag kan ALLES in jou lewe verander!