Die Torah leesstuk wat as Netzaviem bekend staan, strek van Deuteronomium 29:9 tot 30:20. Die naam van die Parashah, “Netzaviem” (“Julle staan”) verwys na 29:10, waar Mosheh vir die volk gesê het: “Julle staan almal vandag voor Yahweh om ’n verbond met Hom te sluit …”. Wat ‘n plegtige en grootse oomblik moes dit nie gewees het nie! Normaalweg was ‘n verbond iets wat tussen die konings van twee verskillende nasies aangegaan is – in ‘n vertrek of ‘n ontmoetingsplek, waar die “gewone mense” nie teenwoordig was nie. Maar hier staan die hele volk op hulle voete en hulle is gereed om ‘n VERBOND aan te gaan met die Skepper van hemel en aarde! Hulle kan Hom nie sien nie, maar hulle het sy werke oor en oor in die woestyn gesien, en deur die tussenganger, Mosheh, het hulle sy woorde oor en oor gehoor, tussendeur al hulle eie gekla en gemor, wanneer dinge nie verloop het soos wat hulle gehoop het dit sou verloop nie. En nou gaan hulle formeel ‘n verbond met die Skepper sluit, wat implikasies sou inhou vir hierdie volkie, tot aan die einde van hulle bestaan – duisende jare later!
Daar is ‘n paar woorde in hierdie gedeelte wat tipiese verbond-woorde is. Soos byvoorbeeld die woord “ONDERHOU” (Hebreeus “shamar”) in vers 9. Yahweh sal beslis sy kant van die verbond onderhou: Hy sal hulle beskerm. Hy sal vir hulle sorg. Hy sal hulle help. Hy sal uitkoms gee, as dit nodig is. In kort: Hy sal vir hulle ‘n Elohiem wees. Maar die volk moet hulle kant van die verbond ook ONDERHOU: Hulle moet na sy woorde luister. Hulle moet gehoorsaam wees. Hulle moenie sy woorde minag of verdraai nie. Hulle moet Yahweh liefhê en Hom eer en Hom eerste stel. In kort: Hulle moet vir Hom ‘n volk wees. Dit is hoe die verbond meeste van die tyd in die Skrif beskryf word. “Ek sal vir julle ‘n Elohiem wees, en julle moet vir my ‘n volk wees!” Nog ‘n verbond-woord is die woord “vervul” in vers 9 – “Onderhou dan die woorde van hierdie verbond en VERVUL dit …” (Hebreeus: “asah”). Hierdie woord “asah” beteken dood eenvoudig “vervul” of “doen”, soos in die sin: “Jy moet die taak vervul wat ek vir jou gegee het.” Laat ons nie vir een oomblik dink dat hierdie “vervul” beteken: “Julle moet dit vervul, sodat diegene wat ná julle kom, dit nie meer hoef te doen of te vervul nie.” Nee, dit beteken: “Julle moet dit vervul, of doen; julle kinders moet dit vervul of doen, en hulle kinders moet dit ook vervul of doen.” Dis hoe Y’shua ook die woord “vervul” verstaan het toe Hy in sy bergrede gesê het: “Ek het nie gekom om die Torah tot niet te maak nie, maar om dit te VERVUL, oftewel te DOEN.” En by implikasie: Julle wat vandag na my luister, behoort dit ook te vervul, of te doen – dit is deel van die VERBOND wat die Skepper in die tyd van ons voorvader, Mosheh, met ons as ‘n volk aangegaan het.”
Nog ‘n verbond-woord in hierdie gedeelte, is die Hebreeuse woord “shava” in vers 13, wat in Woord en Getuienis vertaal word as: “MET ‘N EED BELOOF”. Hoe weet ons dat Yahweh sy kant van die verbond sal nakom? Ons weet dit, want Hy het dit met ‘n eed beloof. Hy het dit ge-“shava”. Wat so interessant is van hierdie woord, is dat dit verwant is aan “sheva”, die Hebreeuse woord vir “sewe”. Daarom sê sommige woordeboeke dat die werkwoord “shava” beteken: “to seven oneself”. Skrifkenners meen dat ‘n antieke eed gewoonlik beteken het: jy maak ‘n belofte, en dan herhaal jy dit sewe keer. Sewe is die volmaakte getal, en wanneer jy “shava”, beteken dit dat jy ‘n volmaakte belofte gemaak het – ‘n belofte wat nie verbreek kan word nie. Hoeveel armer, en hoeveel meer kwesbaar, sou ons nie gewees het nie, as Yahweh se beloftes en sy verbond nie met die woord “shava” begin het nie!
Volgens die amptelike Torah leesprogram, is JESAJA 62 deel van die Haftarah of profetiese lesing wat saamgaan met Parashah Netzaviem. Wat so verstommend is, is dat die woord “noem” of “genoem” (in Woord en Getuienis) net mooi sewe keer in Jesaja 62 voorkom. Ek kon nie help om die ooreenkoms van “sewes” raak te sien nie: Deuteronomium 29 wat van die verbond praat en van Yahweh se absolute getrouheid wat beskryf word met die woord “shava” wat volgens die woordeboeke beteken: “to seven oneself.” En daarteenoor: Jesaja 62 wat sê dat Yahweh se getrouheid dáárin bestaan dat Hy sy volk se omstandighede SEWE-voudig sal verander en hulle met sewe nuwe name sal NOEM!
Net ‘n kort gedagte oor die woord “noem”, wat in Afrikaans ‘n afleiding is van die woord “naam”. Een van die belangrikste eienskappe van die Hebreeuse denkwyse (of Semitiese denkwyse – afgelei van die woord “shem” wat “naam” beteken), is dat ‘n NAAM ontsettende groot betekenis het. Dit moet in ere gehou word. Dit mag nie geringskat word nie. Dit mag nie uitgelaat word nie. Dit mag nie vervang of verander word nie. Tensy jou omstandighede en jou eienskappe verander het. Alleen dán is dit nie net toelaatbaar nie, maar ook wenslik, om iemand se naam te verander. En dit gebeur hier, in Jesaja 62. Daarom staan daar in vers 2: “Jy sal met ‘n NUWE NAAM genoem word wat die mond van Yahweh sal noem.” En dan volg daar SEWE veranderinge wat Yahweh self aan die naam van sy volk sal aanbring.
1. JULLE SAL NIE MEER VERLATENES GENOEM WORD NIE (vers 4). Verlatenheid, of ‘n gevoel van verlatenheid, is sekerlik iets wat ons almal al beleef het. Ek is alleen. Daar is niemand wat my verstaan nie. Ek het nêrens om na toe te vlug nie. My naam kon net sowel Verlatenheid (“AZUVAH”) gewees het. Jesaja 62 verseker ons dat Yahweh se getrouheid bestaan dáárin dat Hy hierdie naam van ons, radikaal gaan verander.
2. JULLE LAND SAL NIE MEER WILDERNIS GENOEM WORD NIE (vers 4).“So en so was die woestyn-tyd van my lewe”, sê ons dikwels vir mekaar. Ek het totaal afgesny gevoel. Die een ramp na die ander het my getref. My gebede het geen verskil gemaak nie. Dit het gevoel of my hele lewe inmekaar tuimel. Jesaja 62 verseker ons dat Yahweh se getrouheid só groot is dat Hy die naam Wildernis (“SHEMAMAH”) van ons gaan wegneem en vir ons ‘n nuwe naam gaan gee!
3. JULLE SAL GEFTSIBAH GENOEM WORD (“DIE EEN IN WIE EK MY VERBLY” – vers 4). Kan ‘n mens jou indink dat die Allerhoogste Elohiem, Skepper van hemel en aarde, Hy wat van alle ewigheid, tot alle ewigheid bestaan, Hom in ‘n eenvoudige mens verbly? Net so ondenkbaar as wat hierdie blote gedagte is – en tog is dit WÁÁR – net so ondenkbaar is dit dat ‘n mens wat dit wéét, dikwels sonder om twee keer te dink, OPHOU om dinge te doen waaroor sy hemelse Vader Hom verbly, en met ‘n patroon van lewe begin wat die Gees van Yahweh bedroef. Kom ons lewe elke dag ooreenkomstig hierdie nuwe naam wat Yahweh eendag aan sy afgesonderde volk sal gee: GEFTSIBAH – die een in wie Ek my verbly!
4. JULLE LAND SAL BEULAH GENOEM WORD (“DIE EEN WAT ‘N LEWENSMAAT HET WAT HAAR BESKERM” – vers 4). Die Skrif gebruik dikwels die simboliek van die huwelik om die verhouding tussen Yahweh en sy volk te beskryf. Yahweh het onder meer beloof om vir sy volk ‘n sterk, liefdevolle en getroue man te wees, wat altyd sy bruid sal opbou en ondersteun en beskerm. En daar is ‘n tyd wat voorlê, wanneer sy geliefde Seun, as Yahweh se Verteenwoordiger en sy Gesalfde, ook hierdie rol in die lewens van die afgesonderde volk van Yahweh sal vervul. Om met ‘n naam soos BEULAH genoem te word, is die grootste enkele seën wat enige groep mense uit Yahweh se hand kan ontvang!
5. JULLE SAL DIE AFGESONDERDE VOLK GENOEM WORD (vers 12). Dis merkwaardig dat daar tot in ‘n gedeelte soos Jesaja 62, wat duidelik vooruitkyk na die bedeling ná die tweede koms van die Messias, nog steeds net van een afgesonderde volk gepraat word. In die periode ná die Messias se koms, gaan daar ‘n verskeidenheid van nasies op die aarde woon – net soos nou. Maar daar gaan slegs één afgesonderde volk van Yahweh wees – bestaande uit ‘n oorblyfsel uit die nasie van Israel, sowel as ‘n oorblyfsel uit die nasies van die wêreld. En hierdie groep mense gaan onder meer as “AM HAQODESH” bekend staan – DIE AFGESONDERDE VOLK. Hulle wat DUIDELIK onder al die volkere van die wêreld uitgeken kan word!
6. JULLE SAL DIE VERLOSTES VAN YAHWEH GENOEM WORD (vers 12). Hierdie selfde groep mense sal egter ook die “GHE’ULEI YAHWEH” genoem word. Woord en Getuienis vertaal dit met “die Verlostes van Yahweh”, wat heeltemal korrek is. Maar die woord “Ghe’ulei” het ook met FAMILIE te make, in Engels: “next of kin”. Yahweh het ons verlos en deur dieselfde proses het Hy ons deel van sy familie gemaak, al was ons voorheen totale buitestanders! En om alles te kroon, het hierdie familie ‘n kenmerkende en outentieke familienaam – dis die familie van Yahweh! Sy Naam sal van voor af op almal se lippe wees!
7. JULLE SAL DIE BEGEERDE GENOEM WORD (Afgelei van ‘n woord wat beteken “om te soek, om te ondersoek, om navraag te doen” – vers 12). Ek was diep in my hart geraak, toe ek hierdie laaste naam in vers 12 gesien het, die naam DERUSHAH. Dis ‘n naam wat na twee kante toe wys. Yahweh het van die begin af ‘n begeerte gehad om mense rondom Hom te versamel. Hy het uit sy pad uit gegaan om na ons te kom soek. Hy het geen steen onaangeroer gelaat nie. En een van sy grootste werke, vandag, is dat Hy, deur sy Gees, iets in mense wakker maak, sodat hulle ook na Hom begin soek. Hulle ervaar ‘n diepe leemte in hulle eie hart – ‘n gemis en ‘n verlange. Totdat hulle by Yahweh self en by die waarheid van sy Woord uitkom. En so word dit wáár wat Augustinus 1700 jaar gelede gesê het: “U het ons vir uself gemaak, en ons harte bly rusteloos, totdat dit rus vind in U.” Om in ‘n verbond met Yahweh te staan, beteken vir ons ‘n sewevoudige belofte uit sy mond. Jy sal nie meer AZUVAH – Verlatenheid genoem word nie. Ook nie SHEMAMAH – Wildernis nie. Maar van nou af sal jy genoem word: GEFTSIBAH – Verlustiging, BEULAH – Lewensmaat, AM HAQODESH – Afgesonderde Volk, GE’ULEI YAHWEH – Familie van Verlostes, en DERUSHAH – Hartsbegeerte!