Ons het nog nie naastenby alles gedek wat in die Skrif onder die tema van ROEPING ingesluit word nie. Vandag wil ek fokus op SES GEDEELTES in die Messiaanse Skrifte wat spesifiek die woord “roeping” gebruik. Dat ons net ses gedeeltes kies, en nie sewe nie, is om ons daaraan te herinner dat ons in hierdie opsig NOG NIE by die volmaakte gekom het nie, en dat daar baie WERK is om te doen! Deur hierdie ses gedeeltes van naderby te bekyk, behoort ons beter te verstaan waarom ROEPING so ‘n belangrike saak is en hoe ons, soos Efesiërs 4:1 dit stel, op ‘n manier kan leef wat WAARDIG die roeping is waarmee Yahweh ons geroep het.
Ons behoort nie onseker te wees oor die Een wat ons geroep het nie. Die Skrif sê duidelik dat YAHWEH die Een is wat ons geroep het. Nie ‘n organisasie of ‘n kerk of ‘n Messiaanse beweging of ‘n mens nie. Nie eens Y’shua nie. Ons is IN Y’shua, en TOT Y’shua, en SAAM met Y’shua geroep, maar nie DEUR Y’shua nie. Daaroor is daar geen onduidelikheid in die Skrif nie. Yahweh is die Een wat ons geroep het, en Hy is die Een teenoor wie ons ‘n ANTWOORD verskuldig is. Soos wat ek ‘n antwoord van my kind verlang, as ek hom roep, so verwag Yahweh ‘n antwoord van ‘n mens wanneer Hy hom roep. In Hebreërs 3 kom hierdie aanhaling uit die Voor-Messiaanse Skrifte TWEE keer voor: “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie!” En waaroor gaan Hebreërs 3? Die heel eerste vers sê dit gaan oor die HEMELSE ROEPING waarmee Yahweh sy kinders geroep het. As Yahweh ons roep, wil Hy so graag hê dat ons sal reageer en sal antwoord en nie ons harte sal verhard nie!
Omdat die woord “roep” of “roeping” of “geroepe” so dikwels in die Skrif voorkom, behoort ons te weet wat die woord beteken. Ons het reeds voorheen gesien dat roeping altyd NAAM-SPESIFIEK is. Die Een wat roep, het ‘n Naam, en Hy roep ons ook by die naam. En dit was nooit sy plan dat mense wat positief op sy roeping reageer, sy Naam moes vergeet of vermy nie. In die Nuwe Testament is dit opvallend dat die normale woord vir roep, “kaleo”, ook vir die woord “noem” gebruik word, soos in die sin: “Hulle het hom Yoganan genoem” of “Hulle het hom Kefa genoem”. Beide in die Voor-Messiaanse en die Messiaanse Skrifte is dit ondenkbaar en ongehoord dat daar geroep en geantwoord word, sonder dat NAME gebruik word. Dis waarom die Skrif sê Yahweh se Naam word aangeROEP – dit was nooit bedoel om weggesteek en verswyg te word nie.
Ons weet egter ook uit die Skrif dat die “HEMELSE ROEPING” (Hebreërs 3:1) of die “hoë roeping” (Filippense 3:14), waarvan ons vandag praat, nie bloot die uitroep of aanroep van ‘n NAAM is nie. Nee, dis ‘n roeping met ‘n INHOUD en ‘n spesifieke boodskap, en hierdie inhoud is dat die Skepper van hemel en aarde vir jou en vir my met ‘n hemelse oftewel ‘n EWIGE roeping UITGENOOI het om déél te word van die koninkryk wat Hy van die grondlegging van die wêreld voorberei het vir die wat Hom liefhet. Geen ander uitnodiging kan naastenby hiermee vergelyk word nie! Kom ons kyk kortliks na die ses gedeeltes waarin ons meer kan leer oor hierdie groot saak van ons roeping.
1. Die wysheid agter ons roeping. In Romeine 11:29 word gesê dat die gunsbewyse en die roeping van Elohiem onberoulik is. Onberoulik beteken ONOMKEERBAAR of “dit kan nie ongedaan gemaak word nie.” Sommige Engelse vertalings sê dis “irrevocable”. Ander sê: “His calling can never be withdrawn”. In die konteks van Romeine 11, waar daar onder meer van die wilde olyfboomtakke en die mak olyfboom gepraat word, beteken hierdie vers dat daar ‘n tyd was waarin Yahweh besondere guns aan Israel bewys en belowe het, en ook ‘n tyd waarin Hy besondere guns aan die nasies bewys en belowe het. Of, as ons dit wil toepas op die tema van roeping: Binne Yahweh se raadsplan is daar ‘n roeping van Jode, sowel as van nie-Jode. Maar die een beteken nie die totnietmaking van die ander nie. Die roeping van nie-Jode soos ons, beteken nie die beëindiging van die roeping van die Jode nie. En die feit dat Yahweh se guns so GROOT, byna verstommend is – dat sy roeping van sy eie volk Israel kan oorgaan na die nasies tot aan die uithoeke van die aarde, sonder om vir Israel uit die pakkie uit te verwyder – gee vir ons ‘n kykie in sy ondeurgrondelike WYSHEID. Daarom staan daar in Romeine 11:33: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van Elohiem! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!”. Dat beide Jode en nie-Jode by hierdie groot roeping ingesluit is, is ‘n demonstrasie van ongekende wysheid aan die kant van die Een wat roep!
2. Wie ons was voor ons roeping. In 1 Korintiërs 1:26 staan hierdie woorde: “Want let op julle roeping, broers: julle is nie baie wyses na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie.” Probeer die apostel hier sê dat “roeping” verwys na die eenvoudige en onaansienlike posisie of status wat gelowiges in die samelewing beklee? Nee, net soos op ander plekke, praat hy hier ook van die HEMELSE of ewige roeping van gelowiges – Yahweh se uitnodiging aan eenvoudige mense om deel van sy koninkryk te word. Wat hy dus eintlik bedoel, is nie, “Let op julle ROEPING” nie, maar: “Let op WIE EN WAT JULLE WAS EN IS, toe julle geroep is”. Nie die magtigste mense in die samelewing nie. Nie die mees aansienlike en edele van die bevolking nie. En tog het Yahweh julle raakgesien en julle geroep. Nogtans het Hy júlle gekies en ingesluit by sy ewige plan. Want anders as ons, mense, is Hy nie ‘n AANNEMER van die persoon nie, en roep Hy ons nie omdat ons voorheen so verdienstelik was nie, maar omdat sy liefde so sonder grense is.
3. Die hoop aan die voorkant van ons roeping. In Efesiërs 1:18 bid die apostel dat die gelowiges se oë verlig mag word sodat hulle kan weet wat die HOOP van hulle roeping is. In die res van die gebed brei hy uit op hierdie wonderlike hoop. Hy sê dit sluit ‘n ERFDEEL in wat vol rykdom en voortreflikheid is. Dit sluit in dat die geroepenes meer en meer verstaan wat die uitnemende grootheid van YAHWEH SE KRAG is. Trouens, dieselfde krag waarmee Y’shua uit die dood opgewek is, en tot in die hemel, aan die regterhand van die Skepper verhoog is, is nou ook aan die werk in die lewens van gewone gelowiges. Ons roeping is inderdaad ‘n roeping wat ons dinge laat sien en verstaan en beleef en verwag, waarvan ons voorheen nie eens gedroom het nie!
4. Die wandel wat pas by ons roeping. Ons het voorheen na Efesiërs 4:1 verwys, maar dit verdien nog ‘n slag ons aandag: “Ek vermaan julle om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is.” Hierdie “wandel” sluit natuurlik alle aspekte van ons geloofswandel in, maar vyf aspekte word beklemtoon in hierdie hoofstuk: nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid, liefde en eensgesindheid. Dis ‘n hemelse roeping – groter as die roeping van konings en presidente en ministers. En tog is die wandel wat pas by hierdie roeping, totaal selfloos en ONSELFSUGTIG. NEDERIGHEID – ek is nie die een wat die lof moet ontvang nie. SAGMOEDIGHEID – my eie idees is nie belangriker as my broer of my suster se idees nie. LANKMOEDIGHEID – daar is nie ‘n tydsbeperking op hoe lank ek behoort te wag vir my begeertes om vervul te word nie. LIEFDE – my naaste soos myself, en EENSGESINDHEID, wat beteken nie net één-se-gesindheid word in berekening gebring nie. Is ons wandel waardig die roeping waarmee ons geroep is?
5. Die verhewe aspek van ons roeping. In Filippense 3:14 staan geskryf: “Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te ontvang van die HOË roeping van Elohiem in die Messias Y’shua.” Deur hierdie vers saam met die “wandel” in die vorige paragraaf te lees, weet ons dat ons nie ons “HEMELSE ROEPING” só moet najaag dat AARDSE eienskappe soos nederigheid en eensgesindheid by die agterdeur uit verdwyn nie. Maar daar IS ‘n verhewe aspek van ons roeping wat ons help om VERBY die swaarkry van hierdie wêreld te kyk en ons nie daardeur te laat onderkry nie. Wat is hierdie verhewe aspek, oftewel, wat maak hierdie roeping ‘n “hoë roeping”? Filippense 3 spel dit uit: Dit is gemeenskap en eenwording met die MESSIAS – ‘n “gemeenskap” waaraan ons ten volle deel sal kry wanneer ons op dieselfde manier uit die dood opgewek word as wat Hy uit die dood opgewek is. Maar die apostel beklemtoon: Ons is nog nie daar nie! “Nie dat ek dit al ontvang het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna soos een wat dit kan gryp” (vers 12). Dis wat my aanspoor. Dis wat my motiveer. En dis VERHEWE, omdat die dinge en die mense van hierdie wêreld dit nie van my kan wegneem nie. Dis verborge in die hemel, by die troon van Yahweh!
6. Wat Yahweh byvoeg by ons roeping. In 2 Tessalonisense vind ons ‘n besonderse woord: “Daarom bid ons dat ons Elohiem julle die roeping waardig mag ag, en dat Hy alle behae in wat goed is, en alle werk van die geloof, met (SY) krag volkome mag maak.” Ons het reeds by ‘n vorige punt gesien dat ons wandel as geroepenes in die oë van Yahweh “waardig” behoort te wees. Maar hier is iets wat BYKOM en dit word deur Yahweh self bygevoeg: Hy vra dat ons behae sal hê in dit wat goed is – dat ons met ander woorde geregtigheid en gehoorsaamheid sal nastreef. En in aansluiting hierby, vra Hy dat ons die werk of werke van geloof sal doen. Maar daar is iets wat Hy kan en wil byvoeg. As dit nie so was nie, sou die apostel nie daarvoor GEBID het nie. Hy kan, en Hy wil, ALLE behae in wat goed is en ALLE werk van geloof, met sy KRAG, wat geen perke ken nie, VOLKOME maak. Was ons nie al almal by daardie put van moedeloosheid nie, waar ons voor Yahweh moes erken: Ek het behae in wat goed is, maar die goeie wat ek wil doen, dit doen ek nie! Het ons nie al almal vir onsself die vraag afgevra nie: wat baat al my geloofswerke nou eintlik? Niemand sien dit nie. Dit laat my nie beter voel nie. Dit maak nie my wonde heel nie. Dis vir ons wat só voel, wat Yahweh vandag kom sê: Wat kortkom by jou – daardie onbekende “iets” en daardie gemis wat jy nie in woorde kan uitspreek nie – sal Ek vir jou BYVOEG, sodat daar by die ses punte ‘n SEWENDE punt kan bykom: Ek is die Een wat jou geroep het – en dis omdat EK volmaak is, nie omdat JY volmaak is nie. Maar moenie vergeet nie: Dit wat ontbreek kan Ek byvoeg. EK KAN ALLES VOLKOME MAAK! So, wat kan ons antwoord as Hy ons roep? “Hineini, hier is ek! Ek is nie volmaak nie, maar ek weet u werk is volkome!”