Miskien is daar sommiges wat die vraag vra: Waarom ROEP Yahweh mense? Is dit nie genoeg dat Hy net gewoonweg met hulle praat nie? En dat Hy net gewoonweg hóór as hulle met Hóm praat nie? Waarom word daar so ‘n groot ophef gemaak van ROEPING in die Skrif? Een rede is dat die begrip roeping vir ons sê ons redding en ons geloof het nie by onsself begin, of uit die lug uit geval nie. Dit het begin by Een wat ons geroep het – Yahweh; Een wat inisiatief geneem het; Een wat aan ons gedink het, lank voordat ons aan Hom gedink het. En dit onderstreep deur en deur hoe groot sy goedgunstigheid en barmhartigheid en liefde teenoor ons is: Van my geboorte af het Hy my naam genoem (Jesaja 49:1). Voordat Hy my in die moederskoot gevorm het, het Hy my afgesonder (Jeremia 1:5).
Maar die mees verrassende aspek van die roeping waarvan die Skrif praat, is dat dit ons nie net laat terugkyk na die plek, en die Persoon, waar ons roeping begin het nie. Dit laat ons ook vorentoe kyk na die eindpunt en die doel van ons bestaan. Reg aan die begin, het Yahweh van ons nood en ons hopeloosheid geweet en besluit om ons na Hom toe te roep. Maar ons is nie net geroep VANUIT ‘n toestand van hopeloosheid nie. Ons is ook geroep TOT ‘n toestand van hoop en herstel en nuwe lewe. Ons is nie net geroep om sekere dinge te los en sekere plekke te verlaat nie. Nee, ons is veral geroep om nuwe dinge te ontvang en te beleef en by plekke uit te kom waarvan ons voorheen niks geweet het nie. Met sy hemelse roeping wil Yahweh ons lewens volkome en sinvol en ryk aan betekenis maak. En, as ons kyk na die boodskap van die Skrif in sy geheel, sien ons dat ons roeping verder strek as die dag van ons dood. Daarom word dit in Hebreërs 3:1 ‘n “hemelse roeping” genoem. Dit bereik sy klimaks in die koninkryk van die hemel en in die dimensie van “ewigheid” en die “ewige lewe” waarvan Y’shua en die vroeë apostels voortdurend melding gemaak het. “In daardie dae sal Elohiem ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie” (Daniel 2:44). “Aan julle word toegang verleen tot die ewige koninkryk van ons meester en verlosser” (2 Petrus 1:11).
In die Skrif hoor ons gereeld dat daar gesê word dat die gelowiges geroep is TOT ‘n sekere hoogtepunt op die pad van geloof. Soms word daar verwys na ‘n sekere einddoel of ideaal WAARTOE hulle geroep is. Die woord “waartoe” beteken letterlik: “TOT waar”. En ander kere word daar bloot gesê: Die gelowiges is geroep OM iets besonders te ontvang, of OM iets besonders uit te deel, sodat iemand anders dit kan ontvang. Al drie hierdie woorde, “tot”, “waartoe” en “om”, bevestig die punt wat ons reeds gemaak het: Roeping se beginpunt gaan terug tot voor die grondlegging van die wêreld, maar sy eindpunt lê in die TOEKOMS – dit wat Yahweh vorentoe op ons lewenspad, en uiteindelik in die hemel voorberei het vir almal wat Hom liefhet en wat begeer om Hom te behaag. Hierdie drie woorde inspireer ons om nie net terug te sit en handjies te vou nie, maar om VORENTOE te kyk en te groei in die rigting van die einddoel van ons geloof.
Ek is taamlik seker meeste van ons het op ‘n stadium met aspekte rondom die DOOP geworstel, en veral vrae gehad oor die feit dat dit in baie kerke die gebruik is dat babatjies besprinkel word en dat hierdie simboliek van besprinkeling as “doop” gesien word. Gedurende my 11 jaar as predikant het ek seker by die 200 babatjies op hierdie manier, nie DEUR die water geneem nie, maar NABY aan die water gebring. En elke keer het ek (en die kerk) dit “doop” genoem, soos dit dáár die gebruik was, en nog steeds is. Maar vandag het meeste van ons ‘n ander oortuiging. En hierdie oortuiging is doodeenvoudig gebaseer op die feit dat gelowiges in die Nuwe Testament gedoop is in die Naam van Y’shua, wanneer hulle tot die geloof en oortuiging gekom het dat Y’shua van Nasaret waarlik die beloofde Messias was. Soms is ‘n persoon “en sy huis” gedoop, maar dit was daardie lede van sy huishouding (slawe ingesluit) wat OUER was en ‘n kapasiteit vir geloof gehad het, nie babatjies wat op grond van hulle ouers se geloof, gedoop of besprinkel is nie. En so het ons die waarheid ontdek van Handelinge 2:39, wat sê “die belofte (van vergifnis van sonde by die doop) kom julle toe, en julle KINDERS, en almal wat daar ver is”. Ons weet vandag dat hierdie “kinders” nie die klein babatjies in hulle huise was nie, maar hulle nageslag, en ook mense soos ons, wat vanuit húlle perspektief nog “ver” was, maar wat ook, soos hulle, tot geloof in Y’shua die Messias sou kom.
Waarom praat ons hier van die doop, as ons eintlike tema “roeping” is? Omdat Handelinge 2:39 nie net van “doop” praat nie, maar ook van “roeping”: “Die belofte kom julle toe, en julle kinders, en almal wat daar ver is, die wat Yahweh ons Elohiem na Hom toe sal ROEP!” Letterlik staan daar in die Grieks nie “sal roep” nie, maar “geroep het”. Heel EERSTE het ons roeping gekom. Daarna ons reaksie op hierdie roeping, naamlik geloof. En ná die geloof, nie vóór dit nie, ons “doop in die Naam van Y’shua die Messias TOT vergewing van sondes”. En hier kry ons daardie woord TOT – een van die drie woorde waarvan ons voorheen gepraat het – wat vir ons aandui dat roeping nooit sonder ‘n verhewe doel is nie. Ons is geroep TOT vergewing van sondes. Kom ons skets die prentjie meer volledig: Ons is geroep VANUIT ‘n patroon van sonde doen, TOT by ‘n plek waar ons wegloop van die sonde, en wanneer ons wel sonde doen, ontdek ons die uitnemende voorreg van die VERGIFGNIS van sonde. Dis waarom skrywers soos Dawid só in verwondering gestaan het oor die feit dat Yahweh ‘n mens se sonde vergewe en in Psalm 32 uitgesing het: “Geseënd is die een wie se oortreding vergewe, en wie se sonde bedek is.”
Romeine 8:28-29 is deel van ‘n hoofstuk in die Skrif waarvoor meeste van ons baie lief is. Dit sê onder meer dat Yahweh ons na sy voorneme GEROEP het, dat Hy ons liefhet en dat Hy alles vir ons ten goede laat meewerk. Beteken dit dat ons nou maar heerlik kan terugsit en handjies vou, omdat Romeine sê alles sal reg uitwerk? Nee, beslis nie. Want daar is ‘n “OM” in vers 29. Hy het ons voorheen verordineer (of geroep) OM gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun. Ons lewe nou met ‘n DOEL voor oë. Ons strompel nie maar net rigtingloos voort nie. Ons begeerte en ons norm is om GELYKVORMIG te wees aan die beeld van Y’shua, wat ons voorloper is. Ons kan nie maar net op een plek bly in die geloof nie. Ons oog is gevestig op Y’shua wat die leidsman en voleinder van ons geloof is, soos Hebreërs 12:2 dit stel. Ons het nie “idols” en “heroes” in hierdie wêreld, wat ons soos wilde diere in ‘n hok op en af laat spring nie. Maar ons het ‘n leidsman wat voor ons gelewe en gesterf het en wat deur Yahweh uit die dood opgewek is. Hy is ons INSPIRASIE. En boonop is hy die VOLEINDER van ons geloof. 2 Korintiërs 5 sê mos ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie. Maar wanneer hierdie bedeling verby is, en ons geloof gaan oor in aanskouing en onthulling, dan sal Y’shua voor ons staan en vir ons sê: Nou is dit volbring. Die tyd het aangebreek om saam met my en saam met die boodskappers en saam met gelowiges van alle tye en alle plekke lof toe te bring aan Hom wat op die troon sit en wat ons na Hom toe geroep het.
Hierdie boodskap, dikwels met ‘n prominente “tot” in die middel daarvan, word telkens in die Skrif herhaal. 1 Korintiërs 1:9 sê “Elohiem is getrou, deur wie julle geroep is TOT die gemeenskap met sy Seun Y’shua die Messias.” Kolossense 3:15 sê dat omdat ons TOT een liggaam geroep is, die vrede van Yahweh altyd in ons harte behoort te heers. 1 Tessalonisense sê “Elohiem het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar TOT afgesonderdheid.” 1 Timoteus 6:12 sê ons is TOT die ewige lewe geroep en daarom moet ons die goeie stryd van die geloof stry en lewe soos mense wat gryp na die ewige lewe. 1 Petrus 5:10 sê Yahweh het ons “geroep TOT sy ewige voortreflikheid in die Messias Y’shua.” En omdat dit so is, sal Hy vier dinge doen: Hy sal ons lewens vervul; Hy sal sy beloftes bevestig; Hy sal ons harte versterk en Hy sal ons voete op sy fondasie laat staan. 1 Petrus 2:9 sê ons is Yahweh se uitverkore geslag en sy afgesonderde volk wat die deugde moet verkondig van Hom wat ons “uit die duisternis geroep het TOT sy wonderbare lig.”
Om geroep te wees en te weet dat jy met ‘n doel voor oë leef, is nie altyd maklik nie. In 1 Petrus 2 sê Petrus, of Kefa, die dissipel wat naby aan Y’shua was, maar wat ook donker dae geken het, dat ons as gelowiges ook geroep is TOT lyding en swaarkry, na die voorbeeld van Y’shua. Soms sal hierdie lyding selfs ONREGVERDIG wees, soos wat Y’shua se lyding onregverdig was. Dit behoort ons egter nie af te skrik nie. Die blote wete, sê Kefa, dat ons in die VOETSTAPPE van ons meester loop, behoort vir ons ’n groot bemoediging te wees. Hy het immers homself vir ons sonde gegee, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (1 Pet 2:24). Die feit dat ons, net soos Y’shua, geroep is tot iets wat ontsettend groot en onberekenbaar en sonder grense is, maak dat ons elke aanslag in hierdie wêreld kan verdra en oorwin! Hy het ons geroep tot by sy wonderbare lig, en hierdie lig help my om ‘n nuwe perspektief te kry wat die wêreld nie vir my kan gee nie.