Views: 4
Eksodus 33:7 “En Mosheh het elke keer ‘n tent geneem en dit vir hom buite die kamp opgeslaan, ver van die kamp af; en hy het dit genoem die tent van byeenkoms (“ohel moéd”). En elkeen wat Yahweh wou raadpleeg, het uitgegaan na die tent van byeenkoms wat buite die kamp was.” Hierdie vers het oor die eeue heen aanleiding tot baie bespreking gegee. Talle vrae is al hieroor gevra: Wat word met “elke keer” bedoel? Wanneer presies, of hoe gereeld, is hierdie tent opgeslaan? Hoekom het hy die tent “vir hom” opgeslaan, as dit ‘n tent van byeenkoms, vir almal was? Wat was die verskil tussen hierdie tent van byeenkoms en die groter tent van byeenkoms? Waarom het Mosheh juis nou, ná die sonde van die goue kalf, die kamp (en die volk) verlaat? Aansluitend hierby: Waarom was hierdie tent BUITE die kamp? Waarom het Mosheh soms na die kamp teruggegaan, terwyl Joshua ALTYD in die tent gebly het (Eksodus 33:11)?
Behalwe die baie vrae rondom hierdie tent, is daar ook minstens TWEE belangrike byeenkomste, wat by hierdie (kleiner) tent, buitekant die kamp, plaasgevind het, en nie by die groter tent van byeenkoms, binne die kamp, soos wat ‘n mens sou verwag nie: (1) Die byeenkoms van die 70 oudstes wat by die tent van byeenkoms bymekaar gekom het en geprofeteer het, net voordat daar derduisende kwartels van die see af aangekom het en die volk, en hulle kamp, byna verswelg het. Numerie 11 sê dat Eldad en Medad nie by die 70 was nie en dat hulle BINNE die kamp gebly en dáár geprofeteer het. (2) Die byeenkoms van Mosheh, Aharon en Mieryam (wat Yahweh saamgeroep het) toe Aharon en Mieryam oor Mosheh se Kushitiese vrou gekla het. In Numerie 12 sê Yahweh vir hulle: Kom UIT na die tent van byeenkoms.
Ons hoef nie antwoorde op elke vraag in verband met hierdie kleiner tent van byeenkoms te vind nie. Sommige vrae is makliker – soos die eerste vraag: Die volk het rondgetrek, en Mosheh moes dalk noodgedwonge “elke keer” die kleiner tent opslaan, minstens tot tyd en wyl die groter tent ingewy is. Ander vrae is moeiliker – soos die laaste vraag: Waarom het Joshua nooit die tent verlaat nie, veral as Mosheh, wat getroud was, ook daar gewoon het? Hier onder is een voorstelling van hoe hierdie tent moontlik kon gelyk het:
Kom ons bepaal ons by die vraag waarom Mosheh se tent BUITE die kamp opgeslaan is. Ons kry ‘n goeie leidraad in Eksodus 33:3, waar Yahweh vir Mosheh sê dat Hy (as gevolg van hulle rebelsheid) nie langer in die midde van sy volk sal opdaag of optrek of opstaan nie. Dit kan wees dat Mosheh dit só verstaan het, dat die tyd nog nie reg was om ‘n tent van byeenkoms (tabernakel) BINNE die kamp op te slaan nie, en dat die enigste alternatief ‘n kleiner tent BUITE die kamp was. Maar het die volk nie juis NOU vir Mosheh (binne die kamp) nodig gehad nie? Is dit nie juis nóú, ná die Goue Kalf, en die lamsakkige rol wat Aharon daarin gespeel het, dat daar goeie leierskap, en sigbare begeleiding onder die volk nodig was nie? Iemand sê êrens dat Mosheh dalk uiteindelik besef het, na alles wat hy ingesit het, en na al die kere dat hy voorspraak vir die volk by Yahweh gedoen het, en na al die gepraat en gesmeek en gewaarsku – dat die volk ten diepste nie vir hóm nodig het nie, maar vir Yahweh. Hy is net ‘n mens. Hy is net ‘n instrument. Hy gaan nie altyd daar wees nie. Dis vir Yahweh wat hulle nodig het en hy wat Mosheh is, gaan nie langer tussenbeide kom en sodoende vir hulle die kans te ontneem om self die nabyheid van Yahweh te beleef nie. Ek weet nie of dit die ware rede is nie. Persoonlik dink ek dat dit nie onmoontlik is nie, dat beide Mosheh en Joshua deur ‘n geweldige innerlike stryd gegaan het ná die episode van die Goue Kalf, en dat dit een van die redes kon gewees het waarom hulle hulle van die kamp onttrek het. Dis die moeite werd om weer ‘n slaggie te kyk na die aspek van BUITEKANT of BUITE DIE KAMP, aangesien dit blyk dat dit ‘n tema is wat gereeld in die Skrif na vore kom, en meeste van die tyd met SONDE en die OFFER VIR SONDE te make het.
By die aanstelling van die priesters moes die vleis en die vel en die mis van die bul as sondoffer BUITE die kamp verbrand word (Eksodus 29:14). As ‘n priester gesondig het moes daar ‘n bul as sondoffer geslag word, en die vleis en die vel en die mis moes BUITE die kamp verbrand word (Levitikus 4:12). Toe die twee seuns van Aharon, Nadav en Avihu, teen Yahweh gesondig het, is hulle deur vuur verteer en die twee lyke moes na die BUITEKANT van die kamp geneem word (Levitikus 10:4). Op die dag van Yom Kippur moes die vleis en die vel en die mis van die sondofferbul en die sondofferbok, BUITE die kamp verbrand word (Levitikus 16:27). Indiwidue wat direk in stryd met ‘n opdrag van die Torah opgetree het, is na die buitekant van die kamp geneem en daar gestenig (Levitikus 24:14; Numerie 15:35). Die vleis en die vel en die mis van die sogenaamde rooi koei moes BUITE die kamp, saam met sederhout, hisop en skarlakendraad verbrand word, en die as hiervan moes by skoon water gevoeg word en as reinigingswater gebêre word (Numerie 19:1-6).
Ons weet dat die sondoffers in Mosheh se tyd ‘n skaduwee van die sonde-offer van Y’shua was. Dis is ook bekend dat die “offer” van Y’shua se dood letterlik BUITE DIE STAD plaasgevind het, as ‘n parallel van die BUITE DIE KAMP beginsel in Mosheh se tyd. Die presiese ligging van Golgota is ‘n groot punt van dispuut, maar selfs die sogenaamde “Holy Sepulchre” terrein wat vandag in die hartjie van die ou stad van Jerusalem geleë is, was in Y’shua se tyd BUITEKANT die stad. Ook in die gelykenis van Y’shua van die man wat sy wingerd aan landbouers verhuur het en toe eers sy diensknegte en later sy eie seun na die landbouers gestuur het, word hierdie beginsel gehandhaaf. Die landbouers wat die seun BUITE die gebied van die wingerd geneem en hom daar doodgemaak het (Matteus 21:39), is duidelik ‘n heenwysing na wat die Yehudiem met Y’shua gedoen het. Twee van die bekendste volgelinge van Y’shua wat nie deel van sy oorspronklike dissipels was nie, Stefanus en Shaúl, het ook die vernedering beleef van om BUITE DIE STAD te ly, net soos Y’shua – beide van hulle is buite die stad gestenig, met Stefanus wat gesterf het en Shaúl wat by die dood omgedraai het. En so word die patroon reg deur die Skrif bevestig. Dit is vanweë die sonde van die mensdom, dat Y’shua, die Seun van die Allerhoogste, BUITEKANT die stad van Jerusalem gesterf het. En dit is vanweë die sonde van Yahweh se eie mense dat twee van sy bekendste diensknegte vóór die koms van sy Seun, Mosheh en Joshua, oorval deur groot innerlike stryd, BUITEKANT die kamp gaan bly het. Net so is dit vanweë die sonde van Yahweh se eie mense dat twee van sy bekendste diensknegte ná die koms van sy Seun, Stefanus en Shaúl, onregmatig BUITEKANT die stad gestenig is.
Die boek van Hebreërs bring nog ‘n perspektief na vore wat vir ons van die grootste belang is. In hoofstuk 13 word daar ‘n raaklyn getrek tussen die offerdiere wat BUITE die kamp verbrand is en Y’shua wat BUITEKANT die stad gely het. En dan word daar ‘n vars perspektief aan hierdie begrip van BUITE die stad of die kamp gegee, in Hebreërs 13:13-15: “Laat ons dan uitgaan na Hom toe BUITE die kamp en sy smaad dra. Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige.” As hierdie woord ‘n mens nie uit jou winterslaap wakker skud nie, sal niks nie! Ons het hier geen blywende stad nie! Ons is nie hier geplant om in ons gemaksone wortel te skiet en van Mosheh te vergeet wat sy tent buite die kamp opgeslaan het en van Stefanus wat buite die stad gestenig is en van die Messias wat, wat ter wille van ons, buite die poort gesterf het nie. Laat ons uitgaan na Hom toe! Laat ons opstaan vir geregtigheid, soos wat Hy vir geregtigheid opgestaan het. Laat ons instaan vir hulle wat swaarkry, soos wat Hy vir hulle ingestaan het. En laat ons wegstaan van valsheid, soos wat Hy daarvan weggestaan het. Terwyl ons in hierdie wêreld woon, is die BINNEKANT meeste van die tyd aanlokliker as die BUITEKANT. Maar met dit wat Yahweh deur sy Seun vir ons gedoen het, en deur die werking van sy Gees binne-in ons, kies ons om die toekomstige te soek en te fokus op die stad wat Hy vir ons voorberei het. Laat ons nie langer stagneer in ons eie klein wêreldjies nie. Laat ons uitgaan na Hom toe!