Mense onthou dikwels die LAASTE WOORDE wat uitgespreek word deur leiers of bekendes wat ‘n groot impak op hulle generasie gemaak het. Epicurus, Griekse filosoof van die 3de eeu voor Messias, het voor sy dood gesê: “Now, farewell, and remember all my words!”. Toe Julius Ceasar kort voor sy dood ontdek het dat sy stiefseun Brutus ook onder diegene was wat sy moord beplan het, het hy uitgeroep: “You too, my son?” Keiser Hadrianus, een van die Romeinse keisers van die 2de eeu ná Messias, se laaste woorde was blykbaar: “O my poor soul, where are you going?” Ons weet nie of dit kort voor sy dood was nie, maar die laaste woorde van Kefa (Petrus) wat vir ons in die Skrif opgeteken is, was toe hy oor Shaúl (Paulus) onder meer die volgende geskryf het: “Ons geliefde broer, Shaúl, het aan julle geskryf dat ons as gelowiges ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde verwag waarin daar GEREGTIGHEID woon en dat ons altyd só moet leef dat ons vlekkeloos en onberispelik voor Elohiem bevind mag word. Ek herinner julle daaraan dat sommige van die dinge wat Shaúl geskryf het, moeilik is om te verstaan en maklik deur ongeleerde en onvaste mense verdraai kan word. Oppas dat julle nie deur sulke wettelose mense meegesleep word, en sodoende op ‘n dwaalspoor beland nie” ( 2 Petrus 3:13-17).
Daar is vir my DRIE ASPEKTE wat uitstaan in hierdie “laaste woord” van Petrus. Die eerste is dat hierdie woord uitgespreek word, binne die konteks van GEREGTIGHEID. Geregtigheid is hier op aarde belangrik, omdat geregtigheid in die nuwe hemel en die nuwe aarde sal “woon”. Elke deeltjie van die nuwe hemel en nuwe aarde sal volkome geregtigheid uitstraal. Die tweede is dat Shaúl dikwels oor geregtigheid (en oor ‘n onberispelike lewe) geskryf het, maar dat sy woorde dikwels verkeerd verstaan en selfs VERDRAAI word. En die derde aspek is dat die verdraaiing van Shaúl se woorde, meeste van die tyd niks minder is nie as ‘n vorm van WETTELOOSHEID.
Kom ons kyk kortliks na ‘n aantal VOORBEELDE van hoedat Shaúl se woorde vandag nog verdraai en verkeerd verstaan word – presies net soos Kefa gewaarsku het. Ons sal fokus op ROMEINE 4, wat ingesluit word by hierdie week se Torah porsie, omdat Romeine 4 aansluit by Genesis 15:6 waarin ons lees: “Avraham het in Yahweh geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken.” In Romeine 4 kan mens duidelik sien dat Shaúl die aspek van GELOOF wil uitlig. Geloof is wat maak dat geregtigheid in ons leefwêreld kom “woon”, net soos wat geregtigheid permanent in die nuwe hemel en die nuwe aarde sal “woon”. Om die punt te beklemtoon dat GELOOF (in Yahweh) die vertrekpunt vir geregtigheid in hierdie bedeling is, en nie vertroue op ons eie goeie werke nie, het Shaúl dikwels ‘n soort “shorthand” skryfstyl gebruik, wat – veral deesdae – maklik vir misverstand en misleiding vatbaar is. Shaúl se “vreemde” skryfstyl kan verstaan word omdat daar reeds ‘n gemeente van gelowiges in Y’shua as die Messias, bestaan het, teen die tyd dat hy sy brief aan die Romeine geskryf het. En Shaúl was bewus daarvan dat hierdie gemeente ‘n sekere basiese kennis en verstaan van die Skrif gehad het, wat ooreengestem het met ander gemeentes van sy tyd, wat nog grootliks Torah-georiënteerd was, en nie krities teenoor die Torah soos dit twee eeue later die geval was, en vandag nog steeds is nie. Hy het dus dikwels dinge uitgelaat wat sy lesers reeds geweet en gedoen het en waaroor daar geen bespreking en verduideliking nodig was nie.
Een baie goeie voorbeeld hiervan, is ROMEINE 4:5 waar hy skryf: “Aan die mens wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die afvallige mens regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken.” Die punt is duidelik: Dit is deur geloof dat geregtigheid deel van ons lewe word. Maar uit die aard van die saak is dit nie korrek om dit so te verstaan dat ‘n mens wat in Yahweh glo, en in sy Seun Y’shua, iemand is “wat NIE werk nie”. Natuurlik doen so ‘n mens werke wat pas by die geloof! En hierdie werke is op geen manier verskillend van die werke wat beskryf word in die Torah en die Profete en die Geskrifte nie. Maar hy vertrou nie op daardie werke om hom te red nie. Hy vertrou op Yahweh, en die verlossing en vergifnis wat Yahweh deur sy Seun Y’shua voorsien het. Almal aan wie Shaúl geskryf het, sou dit só verstaan het. Maar juis hierdie soort “shorthand” uitsprake word tot vandag toe misbruik om geloof in Y’shua TEENOOR die Torah te stel en gelowiges te aan te moedig om die werke van die Torah heeltemal opsy te skuif.
Nog ‘n voorbeeld van sommige uitsprake van Shaúl wat vatbaar is vir misverstand, is Romeine 4:14, waar hy skryf: “Want as hulle wat uit die Torah is, ERFGENAME is, dan het die geloof waardeloos geword en die belofte tot niet geraak.” Die normale manier om so ‘n sin te verstaan, is dat “hulle wat uit die Torah is” nie ware erfgename kan wees nie. Maar wat bedoel hy met “hulle wat uit die Torah is”? Bedoel hy die groep mense wat amptelik met die Torah verbind word, naamlik die Jode? En sê hy dus dat Jode (of ander) wat die Torah onderhou, nie erfgename kan wees nie? Maar dit sou direk IN STRYD met die res van die Skrif wees, wat pertinent sê dat verskeie lede van die volk van Israel, beide vóór en ná die ontvangs van die Torah, deur die geloof aan Yahweh vasgehou het, en erfgename van sy beloftes was. Dus is “hulle wat uit die Torah is” hier weereens ‘n soort “ekonomiese” woordgebruik om te sê: Hulle wat alleen op hulle onderhouding van die Torah vertrou, om geregtigheid te verkry, kan nie erfgename van Yahweh se beloftes wees nie.
Vers 15 is ook ‘n vers wat maklik misverstaan kan word, waar hy onder meer skryf: “Die Torah werk TOORN”. Dit beteken NIE dat Yahweh van nature toornig is op mense wat die Torah onderhou nie. Nee, dit beteken dat as jy alleen op die Torah vertrou, om daardeur geregverdig te word, jy toorn en veroordeling en skuldgevoelens, in plaas van vrede, sal beleef. Waarom? Omdat jy gedurig sal voel dat jy nie slaag daarin om die Torah te onderhou nie. Omdat jy soos Shaúl meer en meer ontdek dat jy die goeie wat jy wil doen, nie kan doen nie. Verder staan daar ook in hierdie vers: “Waar daar geen Torah is, is daar geen oortreding nie” (ook vers 15). Dit is NIE om vir ons te sê “geen Torah” is beter, omdat jy dan nie skuldig staan voor Yahweh nie”. Nee, dis ‘n uitspraak wat aansluit by wat hy later in Romeine 7 geskryf het: Die Torah is nodig, want daardeur leer ken ek my oortreding en sonde, en ek vertrou Yahweh om deur sy Seun, vergifnis te skenk, plus ‘n nuwe motivering om reg te lewe voor Yahweh. Dus, juis die dinge te doen wat in die Torah beveel word. Ek en jy sal goed doen as ons nie al te haastig is om saam te sing in die koor daarbuite wat volhou dat die apostel Shaúl ons van die Torah probeer weg stuur nie.
Net soos wat Y’SHUA nie die Torah geminag of tot niet verklaar het nie, en nie een van sy vroeë volgelinge opgehou het om die Torah as maatstaf van geregtigheid te neem nie, net so het Shaúl dit ook nie gedoen nie. Daarom het hy meer as een keer uitdruklik verklaar dat hy niks meer as ‘n getroue volgeling van Y’shua was nie. En behalwe dit, was hy ook iemand wat hom in die bekende Geskrifte van daardie tyd verdiep het en sy eie lewe en geloof daarop gebou het. Hy het geweet dat ware geregtigheid in die eerste plek ‘n eienskap van Yahweh is, maar dat Yahweh wil hê dat dit meer en meer die mees opvallende eienskap van ons lewens ook sal wees. En in 2 Korintiërs 6:14 het hy self geskryf dat geregtigheid absoluut niks met wetteloosheid te make het nie. Die mens wat oor geregtigheid praat, en die Torah probeer systap, is iemand wat na kortpaaie soek – kortpaaie wat jy nêrens in die Woord sal aantref nie. En terwyl sommige van Shaúl se mede-fariseërs hulle blind gestaar het teen die meetbare en sigbare nitty-gritty van die Torah, het Shaúl, soos Y’shua, die soort insig van die profeet Yeshayahu (Jesaja) gehad en geweet dat geregtigheid ten diepste gaan oor dinge soos vrede (Jesaja 9:7); billikheid (11:4); getrouheid (11:5); goedgunstigheid (16:5); rus en veiligheid (32:17); opregtheid (33:15); lig (42:6); verlossing (45:8); betroubaarheid (45:23); waarheid (48:1); die soeke na Yahweh (51:1); die hulp aan verdruktes (54:14); die weiering om Yahweh se kriteria van reg te verlaat (58:2); die kompas wat vir jou die pad aandui (58:8) en die bron van beskerming in hierdie wêreld wat jy kan aantrek soos ‘n kleed (Jesaja 61:10).
As mens een enkele aspek uit die bogenoemde moes uitlig, hoef jy nie verder as VERLOSSING te soek nie. Verlossing van sonde, ja, maar ook verlossing van soveel dinge wat ons vashou en beïnvloed in hierdie wêreld. Verlossing van ons eie idees wat dikwels nie in lyn met die Woord is nie. En hopelik ook verlossing van die idees van mense daarbuite, waardeur ons dikwels soos blindes gevange gehou word. Een van Jesaja se bekende profesieë was dat daar uit Tsion ‘n kosbare hoeksteen te voorskyn sou kom wat onwrikbaar vir geregtigheid sou staan (Jesaja 28). Toe hierdie Een later in Betlehem gebore is en veral onder die gemeenskappe en indiwidue in Galilea gewerk het, het Hy aanhoudend oor geregtigheid, en veral die aspek van verlossing gepraat. En sy LAASTE WOORDE word vir ons opgeteken in Lukas 24:47-49: “Ek stuur julle as getuies om bekering en vergewing van sondes (dus: VERLOSSING) in my Naam te verkondig aan al die nasies en my Vader sal julle hiervoor toerus met krag uit die hoogte.” Dit is vandag nog ons grootste mandaat in hierdie wêreld. Ons is volgelinge van Y’shua. Bekering en vergewing van sondes en GEREGTIGHEID sal altyd deel van ons lewens en ons getuienis wees. Deur Y’shua kan daar nou VRUG van geregtigheid in ons lewens gesien word (Filippense 1:11). En dit is volledig die werk en die toerusting van die Gees van Yahweh.