Views: 23
Die vraag word dikwels gevra waarom ons die Shabbat en die feeste (en selfs die nuwemane) van die Skrif erken en onderhou, maar nie die SABBATSJARE (elke sewe jaar) en die JUBELJARE (elke 50 jaar) nie. Die eenvoudige antwoord bestaan uit twee dele. Die eerste: Terwyl daar duidelikheid in die Skrif is oor wanneer dit die Shabbat is, en wanneer dit die nuwemaan en die feeste is, is daar GEEN SEKERHEID oor hoe om vandag ‘n Sabbatsjaar en ‘n Jubeljaar te bepaal nie. Party sê die telling het reeds by die skepping begin. Want volgens die Talmoed het die profeet Elia aan ‘n rabbi bekend gemaak dat die Messias nie sal kom voordat die wêreld 85 jubileums (“jubilees”) oud is nie – wat impliseer dat sommiges die jubeljare van die skepping af getel het. Maar ken ons die datum van die skepping? Ander sê die telling het begin net nadat die volk in die Beloofde Land ingekom het. Maar daar is verskil van mening oor presies watter jaar dit was – die opinies wissel van die jaar 1400 v.M. tot 1200 v.M. Nog ander sê dat daar ‘n nuwe telling is wat begin het ná die Babiloniese ballingskap (teen ongeveer 538 v.M.), of toe Israel in 1948 sy onafhanklikheid gekry het. En dan is daar tientalle ander sienings ook, oor waar hierdie 7 jaar en 50 jaar periodes in die groter prentjie inpas. En dit laat ons taamlik in die duister oor wanneer dit nou eintlik die “regte” Sabbatsjaar en Jubeljaar is.
En dan die tweede rede vir die ongemaklikheid rondom Sabbatsjare en Jubeljare, wat nog belangriker as die eerste rede is: Die Sabbatsjare en die Jubeljaar het albei te make met ‘n SPESIALE SOORT RUS – “die LAND moet ‘n Shabbat hou vir Yahweh” (Levitikus 25:2). Watter land? Dieselfde vers sê duidelik dat dit gaan oor die land wat Yahweh binnekort vir sy volk sou gee om in te woon – rofweg die land wat deesdae as Israel bekend staan. In Woord en Getuienis kom die woord “land” 50 keer (!!) voor in die drie hoofstukke in Levitikus wat handel oor die Sabbatsjaar en die Jubeljaar (Levitikus 25 tot 27). Meeste Jode, selfs godsdienstige Jode en rabbi’s, volg egter NIE die Sabbatsjare en Jubeljare nie, aangesien die situasie in die land vir hulle nie aan die VEREISTES VAN LEVITIKUS 25 voldoen nie. Dit gaan oor die land “en die wat daarin woon” (Levitikus 25:10). Daar is twee dinge wat vandag vir hulle ontbreek: Eerstens, almal wat in die land moet woon, is nog nie daar nie. Hier dink hulle veral aan die “verlore” tien stamme, waarvan net ‘n breukdeel vandag in die land woon. En tweedens, die land vandag is nie dieselfde land wat Yahweh deur Mosheh en Joshua aan sy volk toegeken het nie. Daar is verskeie dele van daardie beloofde land wat vandag aan lande soos Jordanië, Egipte, Sirië, Saoedi-Arabië en Irak behoort en dan is daar streke soos Gaza, die Wesbank, die Golanhoogte en Oos-Jerusalem waaroor daar al vir dekades lank tou getrek word.
Ons het hierbo gesê dat meeste Jode nie vandag die Sabbatsjare en Jubeljare tel of onderhou nie. Selfs die Jode erken dat daar dele van die Torah is wat nie vandag onderhou kan word nie. Ook vir ons is dit ONWYS om te bly vassteek by dele van die Torah wat onseker is en in wasigheid gehul is, soos Sabbatsjare en Jubeljare. Ons behoort nie daaroor te tob en te argumenteer en tyd te verspil wat liewer gebruik kon word om meer te wete te kom oor die grootheid en lofwaardigheid van Yahweh, die Skepper van hemel en aarde nie. Dit is presies wat ons nou ook gaan doen. Ons gaan kyk na aspekte van die GROOTHEID van Yahweh, en veral die vars perspektiewe hieroor wat in die TALMOED na vore kom, in aansluiting by ons boodskap van verlede week. Ek meen dat baie van ons verlede week ontdek het dat die Talmoed, met al sy tekortkominge, waardevolle lig op die Skrif kan werp en vir ons werklik kan help om temas soos die grootheid van Yahweh beter te verstaan.
Die Talmoed beskryf ‘n gesprek wat tussen FARAO EN MOSHEH sou plaasgevind het, nadat Mosheh die eerste keer gevra het dat Farao die volk moet vrylaat om te trek. “Wie is jou Elohiem en waarom moet ek na Hom luister?” het Farao gevra. Mosheh se antwoord was dié van ‘n eenvoudige mens wat iets van Yahweh se grootheid in hierdie wêreld gesien het: “Hy het voor die skepping bestaan en sal aanhou om te bestaan, selfs al gaan die hele wêreld tot niet. Hy het jou gemaak en in jou die asem van lewe geblaas. Sy boog is ‘n vuur en sy pyle is vlamme. Sy skild is die wolke en sy swaard is soos weerlig. Hy sorg vir die reën en die dou en die gewasse van die veld. Hy vorm elke embrio en maak dat daar ‘n lewende wese uit die skoot van ‘n moeder te voorskyn kom.”
Dan is daar ‘n gedeelte in die Talmoed wat vertel dat die Romeinse keiser HADRIANUS in die tweede eeu vir een van die rabbi’s gesê het: “Ek wil graag jou Elohiem sien.” “Dit is nie moontlik nie”, het die rabbi geantwoord. Maar die keiser het aangehou en uiteindelik sê die rabbi vir hom dat hy na die son moes kyk. “Ek kan nie”, het die keiser geantwoord, waarop die rabbi die gesprek afgesluit het: “Jy gee toe dat jy nie na die son kan kyk, wat een van die onderdane of skeppinge van die Skepper is nie. Hoeveel minder sal jy dit regkry om na die Skepper self te kyk!”
In aansluiting hierby, het iemand eenkeer vir GAMALIËL gevra (moontlik dieselfde Gamaliël wat Paulus of Shaúl se leermeester was – Handelinge 22:3): “Sê vir my waar die plek (location) van die Allerhoogste is.” “Ek weet nie”, het Gamaliël geantwoord, “maar kan jy vir my sê waar die plek van jou eie siel is?” “Nee, ek kan nie”, het die man geantwoord. “So, jy dring daarop aan om die plek te wete te kom van Een wat die ekwivalent van 3500 jaar van die mens verwyder is, maar jy is tevrede om nie die plek te ken van iets wat elke dag deel van jou eie lewe is nie!” Die man was egter nie afgesit nie: “Dis hoekom ek die maaksels van my eie hande aanbid, wat ek elke dag kan sien.” Maar Gamaliël het ook ‘n antwoord gereed gehad: “Jy kan die maaksels van jou eie hande sien, maar hulle kan jou nie sien nie”. En so het Gamaliël die waarheid bevestig van tekste soos Psalm 33:13 “Yahweh kyk van die hemel af; Hy sien al die seuns van Adam.” Síén, nie alleen in die sin van dophou nie, maar ook in die sin van beskerm, uitkoms gee, belang stel en verstaan.
Iemand wat afgode aanbid het op ‘n keer probeer om ‘n rabbi met ‘n STRIKVRAAG vas te trek, net soos wat sommiges met Y’shua ook probeer doen het. Die persoon het vir die rabbi gesê: Die een wat ek aanbid is magtiger as die een wat jy aanbid, want toe jou Elohiem Homself aan Mosheh in die brandende bos openbaar het, het Mosheh net sy gesig weggedraai, maar toe die staf in Mosheh se hand in ‘n slang verander het, het Mosheh weggevlug van die slang af, en hierdie slang is die een wat ek aanbid. Hierop het die rabbi geantwoord: “Toe die ware Elohiem Homself aan Mosheh in die brandende bos openbaar het, was daar nêrens waarheen Mosheh kon vlug nie, want daardie Elohiem is orals. Wanneer dit egter by die slang kom, die een wat jy aanbid, kan ‘n mens maar net twee of drie treë terugstaan om weg te kom van die slang af.”
In die Talmoed is daar ‘n baie gepaste GELYKENIS, na aanleiding van die vers in Exodus wat sê: “En die Boodskapper van Elohiem wat VOOR die leër van Yiesraél uit getrek het, het daar weggegaan en AGTER hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook VOOR hulle weggetrek en AGTER hulle gaan staan” (Exodus 14:9). Daar was ‘n man wat êrens heen op pad was saam met sy jong seun. Hy het sy seun voor hom uit laat loop. Toe daar ‘n bende van voor af kom wat probeer het om sy seun te ontvoer, het die man tussenbeide getree en sy seun agter hom laat loop. Maar toe kom daar ‘n wolf van agter af wat probeer om sy seun te vang. En die pa tree terug, tussen die wolf en sy seun, en laat sy seun weer voor hom uit loop. Maar toe hy besef daar is nog steeds ‘n bende voor, en ‘n wolf agter hulle, het hy sy seun opgetel en hom gedra. En toe die seun in sy arms weens die glans van die son nie sy oë kon oopmaak nie, het die pa sy kleed as beskerming oor die gesig van sy seun getrek. En toe die seun dors geword het, het die pa vir hom water gegee om te drink. Toe hy honger geword het, het sy pa vir hom kos gegee om te eet. So het Elohiem met sy seun, Israel, gemaak wat hy uit die hand van sy vyande verlos het. “Toe Yiesraél ‘n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Mietsrayiem het Ek my seun geroep” (Hos 11:1).
Toe Mosheh die opdrag ontvang het om ‘n TABERNAKEL te bou, sê die Talmoed, was hy baie beswaard. “Die voortreflikheid van die Allerhoogste vul elke deel van die wêreld, waarom moet ek dan ‘n onbenullige woonplek vir Hom bou? Sal Hy werklik in ‘n tent kom woon?” Maar toe hoor Mosheh die antwoord van die Allerhoogste: “Ek dink nie soos wat jy dink nie, Mosheh. As Ek so begeer, kan Ek my woonplek kom maak tussen 20 style aan die Noordekant en 20 style aan die Suidekant, en 8 style aan die Westekant (volgens die bouplan in Exodus 26). En as ek regtig wil, kan Ek my woonplek maak en my voortreflikheid sigbaar maak in ‘n ruimte van slegs een el by een el.”
Wat verhinder Hom dan om SY WOONPLEK ook in ons huise en ons werkplekke en ons eie onvolmaakte plekke van aanbidding, en in ons harte te kom maak? Daar is sommiges wat sê dat nie net Psalm 90 nie, maar ook Psalm 91 deur Mosheh geskryf is. Dalk is hulle reg. Dalk het Mosheh dit juis geskryf nadat sy perspektief verander het en hy ontdek het dat enige ruimte en enige plek, ‘n ruimte of ‘n plek kan wees waar Yahweh vir Hom ‘n woonplek maak. Want in vers 1 staan daar: “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.” En in vers 2: “Yahweh, U is my toevlug en my bergvesting.” En in vers 4: “Onder u vleuels sal ek skuil.” En in vers 9: “Die Allerhoogste is my beskutting.” En in vers 14: “(Yahweh sê:) Ek sal hom beskerm (of: Ek sal vir hom ‘n skuiling wees), omdat hy my Naam ken.”