DIE PRIESTERLIKE SEËN
15 June 2024

Views: 83

alternate textVyf en veertig jaar gelede het argeoloë ‘n besonderse ontdekking reg langs die ou stad van Jerusalem gemaak. ‘n Dertienjarige seun, wat saam met die argeoloë gewerk het, het ontdek dat daar ‘n weggesteekte kamer onder een van die grotte was waarin die argeoloë gewerk het. In hierdie kamer het die argeoloë toe ‘n stuk of 1000 antieke gebruiksartikels, ornamente en ander items ontdek. Deel van hierdie ontdekking was twee miniatuur silwer rolle (“scrolls”) waarop daar herkenbare woorde in antieke Hebreeus geskryf was. Dit het drie jaar geneem om die rolle met behulp van moderne tegnologie oop te rol en die verweerde teks wat daarop geskryf was, te ontsyfer. Daar is vasgestel dat die twee silwer rolle uit die 6de eeu voor Messias dateer het – min of meer die tyd toe die Babiloniese ballingskap begin het. Sommige letters was glad nie meer sigbaar of leesbaar nie. Maar uiteindelik kon die span ontleders sin maak uit die teks. Op die een rol was daar onder meer ‘n kort inleiding en drie kort sinne: Die eerste sin het drie woorde bevat; die tweede sin vyf woorde en die derde sin sewe woorde. Die tweede woord van elke sin was YHWH. As jy dit in Afrikaans of Engels vertaal, dan is YHWH die eerste woord van elke sin. Die derde sin het afgesluit met ‘n antieke vorm van die woord “shalom”. En as jy die moderne teks van Num 6:24-26 langs hierdie oopgerolde antieke teks neergesit het, het die oudste beskikbare teks van die priesterlike seën (of meer spesifiek: van enige deel van die Skrif wat nog ooit ontdek is) voor jou oë ontvou – só oud dat die profeet Jeremia dit dalk nog met sy eie oë kon gesien het! Vandag ken ons die woorde baie goed:

Yahweh sal jou seën en jou bewaar
(Yevarégega Yahweh Veyééshmeréga)
Yahweh sal sy aangesig oor jou laat skyn en aan jou guns betoon
(Ya’er Yahweh panáv eléga veegunéga)
Yahweh sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee!
(Yeesá Yahweh panáv eléga veyasém legá shalóm)

Daar word baie gesê en geskryf oor die priesterlike seën van Numerie 6:24-26. Dit is interessant dat die drie basiese sinne van die seën uit 15 Hebreeuse woorde bestaan (3 + 5 + 7) en uit 60 Hebreeuse letters (15 + 20 + 25). Dus is die getal DRIE baie prominent: 15 kan gesien word as 3 X 5, en 60 kan gesien word as 3 X 20. Die priesterlike seën, met sy drie groot komponente, is nie net ‘n beskrywing van die manier waarop Yahweh ONS seën nie, dit is ook ‘n samevatting van die vernaamste redes wat ons het om HOM te seën of te prys. Die eerste komponent praat van “seën” en “bewaar”. Die woord “bewaar” is dieselfde woord wat gewoonlik saam met Yahweh se gebooie gebruik word: Hy het sy gebooie vir ons gegee sodat ons dit in ons harte en in ons leefstyl kan BEWAAR. Daarom is die eerste komponent van die priesterlike seën, vir ons ‘n aansporing om Yahweh te prys vir die gawe van sy Torah, sy gebooie – iets wat ons in harte kan bewaar, en wat uiteindelik vir óns, na gees, siel en liggaam, bewaar.

Die tweede komponent praat van “aangesig laat skyn” en “guns betoon”. Maar ons lewens is in elk geval deurspek met sy guns! Hoeveel guns het Hy nie alreeds aan ons bewys nie? Dis uit guns dat Hy ons na Hom geroep het. Dis uit guns dat Hy die stukkend in ons lewens weer heel gemaak het, en nog steeds elke dag heelmaak. Dis uit guns dat Hy ons oë oopgemaak het vir waarhede wat ons totale lewe verander het. Dis uit guns dat Hy sy Seun gestuur het om vir ons die diepste betekenis van redding, vergifnis en versoening te kom leer. Dis uit guns dat ons more Shavuot kan vier en ons opnuut kan verbly in die betekenis van Y’shua se opstanding, en die implikasies daarvan vir ons. Dus, met hierdie tweede komponent, wil ons méér doen as net seën ontvang, ons wil ook seën en lof uitspreek en uitsing, teenoor Hom wat soveel verskillende gestaltes van GUNS in ons lewens uitgestort het.

Die derde komponent praat van “aangesig verhef” en “vrede gee”. Met “aangesig verhef” het ‘n mens alreeds ‘n aanvoeling dat die derde komponent nog ‘n stappie verder en dieper gaan as die tweede komponent. In die tweede komponent gaan dit oor Yahweh, die grote en onaantasbare Elohim, wat soms sy aangesig oor ons laat skyn. Op sigself is dit iets wat ‘n mens byna nie vir jou kan indink nie – iets wat ‘n mens nie sommer net kan beleef, en dan omdraai asof dit iets doodgewoon was nie. In 2 Kronieke 5 staan daar dat die priesters op ‘n keer, vanweë die ligglans van Yahweh, nie kon staan om hulle diens te verrig nie. En by ‘n ander geleentheid, in 2 Kronieke 7, kon hulle nie eens in die tempel ingaan, vanweë die ligglans van Yahweh nie.

Maar Yahweh laat skyn nie net soms sy aangesig oor ‘n mens nie. Daar is tye dat Hy sy aangesig oor ‘n mens VERHEF. En die bedoeling is dat Hy vir ons selfs nog méér van sy aangesig wys, en dus vir ons nog so ‘n klein bietjie meer laat beleef van dit wat Hy eendag vir ons in volheid sal laat beleef. Meer as net sy ligglans wat ‘n mens op ‘n afstand sien, en uiteindelik nie langer kan verduur nie. En die sleutel hier, is die aspek van sy SHALOM. Nie net vrede nie. Nie net die afwesigheid van oorlog en stryd en konflik nie. Nie net iets wat jy van ver af sien nie, maar iets wat jy aan jou binnekant beleef en wat jou totale wese in beslag neem. Herstel na gees, siel en liggaam. Rus en genesing, in sy totaliteit. En hierdie derde komponent – die komponent van SHALOM, waarvan elkeen van ons alreeds, so elke nou en dan, ‘n voorsmakie gehad het, is vir ons ook ‘n komponent wat ons motiveer om Yahweh te seën en te prys. Terwyl ons luister na die derde komponent – “Yahweh sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee” – is daar ‘n diepe dankbaarheid in ons harte, vir daardie kere toe Hy vir ons ‘n bietjie meer van sy aangesig laat sien het, en ons sy ongekende shalom beleef het, wat niemand of niks anders in hierdie wêreld vir ons kan bied nie – selfs in tye toe ons in ons eie dal van doodskaduwee was en die pyn ons byna oorweldig het.

Beide die tweede en die derde komponent praat van die AANGESIG van Yahweh (Yahweh sal sy aangesig oor jou laat skyn en Yahweh sal sy aangesig oor jou verhef). Die Hebreeuse woord “panav” kom van die werkwoord “panah”, wat beteken “om te draai”. ‘n Mens se gesig of aangesig is daardie deel van jou wat kan DRAAI, en veral na mense toe kan draai met wie jy praat of in ‘n verhouding staan. Daar is geen groter seën wat ons kan beleef as dat Yahweh sy aangesig na ons toe draai nie. Die VERHAAL word vertel van ‘n groot skare mense wat eenmaal op ‘n heuwel langs die see bymekaar gekom het om na ‘n groot skip te kyk wat verbygevaar het. ‘n Klein seuntjie wat deel van die skare was, het driftig in die rigting van die skip gewaai en op en af gespring. ‘n Man wat langs hom in die skare staan, vra hom toe waarom hy só te kere gaan. “Ek waai sodat die kaptein van die skip my kan sien en kan terug waai” sê die seuntjie. “Maar die skip is ver weg en hier is ‘n skare mense by ons. Wat laat jou dink dat die kaptein jou sal raaksien?” het die man vir hom gesê. “Want die kaptein van die skip is my pa” het die seuntjie geantwoord. “Hy sal my soek tussen die skare en seker maak dat hy my raaksien!” Die een wat telkens kom om ons te seën, is nie net groot en Almagtig nie. Deur Y’shua het Hy ook ons Vader geword. En al is ons deel van 8 biljoen mense op die aarde, draai Hy keer op keer sy aangesig na ons toe. Hy sal seker maak dat Hy ons raaksien en Hy staan in liefde gereed om alles vir ons te gee wat ons nodig het om vol-uit te lewe.

Ons het gepraat van die aanvoeling wat ‘n mens het dat die derde komponent ‘n bietjie dieper indring as die tweede – dat Yahweh wat sy aangesig oor ‘n mens ophef, selfs nog ‘n groter impak op jou kan hê as Yahweh wat sy aangesig oor jou laat skyn. Ek het ‘n soortgelyke aanvoeling oor die verhouding tussen die drie komponente as ‘n eenheid, en die samevatting van hierdie hele seën (of epiloog) wat ons in die laaste vers van Numerie 6 aantref: “So moet hulle dan my Naam op die kinders van Yiesraél lê; en Ek sal hulle seën.” My aanvoeling is dat ‘n mens iets van die diepte en ware inhoud van hierdie seën gaan verloor, as jy nie die epiloog gaan lees en oordink en uitvoer nie. Let veral op die woorde: “Jy moet my Naam op die kinders van Israel lê.” Daarom is daar drie komponente, waarin Yahweh se Naam elke keer voorkom. Daarom is sy Naam so prominent, elke keer in dieselfde posisie. En dis nie net vir die estetiese effek nie. Die Engels sê “You shall put my Name on them.” Die Afrikaans: “Jy moet my Naam op hulle lê.” Dis moeilik om ‘n sterker woord te vind. Maar die Hebreeus gebruik ‘n werkwoord wat ryk is aan betekenis en wat onder meer insluit: “establish, constitute, determine and fix” (Afrikaans: vestig, oprig, vas maak en herstel). Sy seën is onlosmaaklik verbonde aan sy Naam en daarom moet sy Naam minstens gehoor word in hierdie seën, sodat ons wat sy seën ontvang het, ook die vastigheid en die fondasie en die herstel, wat alles met sy Naam te make het, kan ontvang. Daarom kan ons op geen manier saamstem met die gebruik om die priesterlike seën uit te spreek, maar dit dan af te water deur Yahweh drie keer met woorde soos “Adonai” of “Hashem” of “The Lord” of “die Here” te vervang nie. Vir ons wat andere op so ‘n manier seën, mag die vraag dalk eendag gevra word: Het jy die epiloog van die seën gelees? Het jy my Naam op die mense gelê toe jy hulle geseën het? Dit is Ek wat vir Aharon die eerste keer gesê het hoe om die volk te seën. Dit is Ek wat my eie Naam in elkeen van die drie komponente ingesluit het. Dit is mense wat my Naam uit al drie uitgehaal het. Hoe moet my Naam dan hier op aarde gevestig en opgerig en vas gemaak en herstel word as daar nie in my Naam geseën word nie?