DIE POSISIE WAT MY MENS-WEES VERANDER
8 June 2024

Views: 15

alternate textDie eerste vers van die boek Bemiedbar of Numerie, wat ook die eerste vers van die leesstuk met die naam “Bemiedbar” is, is ‘n besonderse vers. Dit bevat vier woorde wat met “Be-“ begin: BEMIEDBAR (In die woestyn), BE’OHEL (In die tent), BE’ECHAD (In of op ‘n sekere dag, naamlik die eerste dag) en BESHANAH (In ‘n sekere jaar, naamlik die tweede jaar). “Verder het Yahweh met Mosheh gepraat IN die woestyn Sinai, IN die tent van byeenkoms, IN die eerste (dag) van die tweede maand, IN die tweede jaar nadat hulle uit Mietsrayiem uitgetrek het.” In Hebreeus word “be-” aan die begin van ’n woord, gewoonlik met IN vertaal. Gewoonlik, maar NIE altyd nie. Let op die simmetriese patroon in hierdie eerste vers: Die eerste twee voorkomste van “IN” verwys na plekke – eers ‘n groot plek (woestyn) en dan ‘n kleiner plek (tent). Die laaste twee voorkomste van “IN” verwys na periodes – eers ‘n kleiner periode (‘n dag) en dan ‘n groter periode (‘n jaar).

In die res van die leesstuk, tot en met Numerie 4:20, word “be-” dikwels in die sin van “IN” vooraan ‘n woord gebruik. Drie voorbeelde hiervan is “IN Israel” (1:3), “IN die kamp” (2:9) en “IN die afgesonderde plek” (4:12). Maar daar is heelwat voorbeelde in hierdie leesstuk waar “be-” ook vooraan ’n woord gevoeg word, maar waar dit NIE met “in” vertaal word nie. Voorbeelde hiervan is: ONDER die kinders van Israel (3:41); OOREENKOMSTIG die shekel (3:47); BY die opbreek van die kamp (4:5), die leër MET sy geteldes (2:8); OOR die gereedskap (4:16) en VOLGENS die getal name. Hierdie laaste uitdrukking word 14 keer in hoofstuk 1 gebruik. Wat hierdie prentjie nog verder inkleur, is dat die TWEEDE voorgestelde lesing van hierdie week, Jesaja 63:7-16, ook woorde met “be-” vooraan, bevat, en verder illustreer hoe uiteenlopend en dinamies hierdie enkele Hebreeuse letter is, wat vooraan ‘n woord gevoeg kan word, en die betekenis van daardie woord aansienlik kan verryk.

Die plek waar dit seker die mooiste na vore kom, is Jesaja 63:9: “IN (be-) al hulle benoudheid was Yahweh benoud, en die Boodskapper van sy aangesig het hulle verlos; DEUR (be-) sy liefde en DEUR (be-) sy medelyde het Yahweh hulle verlos; en Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd.” En om alles te kroon, word die DERDE voorgestelde lesing, Romeine 9:22-33, afgesluit met hierdie aanhaling uit die Tanak: “Soos geskryf is: Kyk, Ek lê IN Tsion (“beTsion”) ‘n steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling; en diegene wat IN Hom glo, sal nie beskaam word nie.” Romeine 9 verwys hier na Jesaja 28:16 en beklemtoon dat mense IN hierdie steen van aanstoot sou glo. As jy werklik glo, glo jy nie sommer maar net in die lug of in ‘n vakuum nie. Nee, jy glo in Iemand, en jy glo in Hom omdat jy oortuig is dat net H‎‎‎ý werklik ‘n verskil aan jou lewe kan maak.

Waarom maak ons vandag so ‘n groot ophef van ‘n enkele letter in Hebreeus wat soms met IN, en ander kere met DEUR, of MET of VOLGENS of ONDER vertaal word? Omdat hierdie verskynsel in Hebreeus die tafel gedek het vir die koms van die Messias en die soort verhouding waarin ons as gelowiges met Hom sou staan. Romeine 9 wat sê dat mense nie maar net vaagweg sou glo nie, maar spesifiek IN die Messias sou glo, bevestig dat ons nie die belangrikheid van “be-” in die voor-Messiaanse Skrifte moet onderskat nie. In die Messiaanse Skrifte word die uitdrukking “in die Messias” minstens 85 keer gebruik. “In Hom”, met verwysing na die Messias”, word 60 keer gebruik. “In die Meester”, ook met verwysing na die Messias, word 50 keer gebruik. “In wie”, met verwysing na die Messias, word 20 keer gebruik. “In die Naam van Y’shua” word 20 keer gebruik. “In Y’shua” word 10 keer gebruik en “In sy Naam”, met verwysing na Y’shua, word 5 keer gebruik. Dit is altesaam 250 keer dat daar van die gelowiges se posisie “in die Messias” gepraat word. En dan het ons nog niks gesê oor DEUR Hom en ONDER Hom en MET Hom en BY Hom nie – aspekte van ons verhouding met Y’shua wat almal ingesluit is by die Hebreeuse “be-”.

Ek het hier bo gepraat van ons “posisie” in die Messias. Die woord IN het dikwels die funksie om iets of iemand se POSISIE aan te dui. Soos wanneer ons sê: Daar is ‘n groep IN Vishoek, of die naald staan IN die middel, of die volk was IN die tent van samekoms. Meeste van ons gebruik deesdae vir “Google Maps” om seker te maak dat ons nie VERDWAAL in ons poging om by ‘n onbekende plek uit te kom nie. Wat hierdie tegnologie so handig maak, is dat dit die hele tyd jou eie posisie op die kaart aandui. Soos wat jy beweeg, beweeg die blou kolletjie op die kaart ook. En as jy ná baie draaie en knope en aansluitings en onbekende roetes by jy bestemming gekom het en jy weet nie mooi hoe om weer by jou eie plek uit te kom nie, is daar ‘n wonderlike oplossing: Druk net die “HOME” knoppie en Google Maps vat jou (en jou blou kolletjie!) weer terug tot by jou huis! Regdeur die hele roete het jou posisie sekonde na sekonde verander, maar die posisie waarnatoe jy telkens terugkeer, is die “Home” posisie. Selfs Google Maps weet dit. En ons behoort te weet dat ons “Home” posisie IN die Messias is. As dit nie so was nie, sou die Nuwe Testament dit nie honderde kere herhaal het nie.

Toe ons gedoop is, is ons in die Naam van die Messias gedoop. Soms klink dit of die Skrif bloot sê: Ons word IN DIE MESSIAS gedoop. Dit is waar ons tuis-posisie nou is. Dit was nie altyd so nie. Ons was op afdraai-paaie en kronkelgange en dwaalspore, soos mense wat hopeloos verdwaal het en nie weet hoe om weer huis toe te kom nie. Totdat ons die roete terug na die Vader toe, gevind het – nie met ‘n App nie, maar met die kaart van Yahweh se Woord wat ons aanspoor om ons posisie in die Messias te vind, en deur die werking van Yahweh se Gees in ons harte. Dis waar ons moet BLY – ten alle koste. Dis waarheen ons elke keer moet TERUGKOM as ons onsself in misplaaste posisies en roete-verwarring bevind. Daarom het Y’shua ‘n hele sessie daaraan gewy – in daardie besig tyd kort voor sy dood – om met sy dissipels te praat oor die tema van “Bly altyd in my, soos wat die loot altyd in die wingerdstok bly” (Johannes 15). Want sonder Hom kan ons niks doen nie en sonder Hom sal ons nie ‘n verhouding en gemeenskap met Yahweh kan beleef nie.

Om te kan verstaan wat dit beteken om in die Messias te bly, is dit nodig om na al die moontlike vertalings van die Hebreeuse “be-” te gaan kyk. Ons hoef nie verder as Parashah Bemiedbar te gaan soek nie. Numerie 3:41 praat van die eersgeborenes ONDER die kinders van Israel. As ons IN die Messias bly, tel ons ONDER die kinders en die navolgers van Yahweh. So lank as wat ons ONDER hierdie groep mense is, en aktief onder hulle bly, bly ons ook IN die Messias, dit wil sê, in die Eersgeborene, en in die werk wat Hy in ons lewens gedoen het. In Numerie 3:47 word verwys na ‘n betaling wat OOREENSKOMSTIG die shekel van die afgesonderde plek gemaak moes word. Om IN die Messias te bly, beteken dieselfde as om OOREENKOMSTIG sy lewe en sy voorbeeld te wandel. In Numerie 2:8 word daar verwys na die leër MET sy geteldes. Is dit dan nie ook ons begeerte om MET die geteldes van die leër van die Messias saam gereken te word nie? Die King James vertaling praat hier van “those who are numbered with the host”. As ons ons posisie vind IN die Messias, word ons deel van die skare wat hulle stryd aanpak in die Naam van “Yahweh of Hosts”, oftewel Yahweh van die Leërskare. Aangesien Hy reeds sy Seun as Bevelvoerder van sy eindtyd leër aangestel het, beteken dit ons moet seker maak dat ons te alle tye IN die Messias bly. Numerie 4:16 praat van die priester wat OOR die afgesonderde plek en OOR die gereedskap daarin, aangestel is. Om IN die Messias te bly, beteken om sy outoriteit te erken (wat Hy van sy Vader ontvang het) en te weet dat Hy OOR die afgesonderdes en die afgesonderde plek en die afgesonderde dinge van Yahweh se koninkryk aangestel is.

Net ‘n laaste woord oor die vertaling, VOLGENS die getal name, wat 14 keer in Numerie 1 voorkom. Daar moes ‘n sensus in die woestyn gehou word, met die oog op diens in die gemeenskap en beskikbaarheid vir die weermag, en alle mans bo 20 jaar, in elkeen van die 12 stamme, moes GETEL word. Maar hulle moes “volgens (“be-”) die getal name” getel word. Dit wil sê: Hulle NAME moes bekend wees, en hulle GETAL moes ook bekend wees. Is dit nie ook wat die Woord sê van hulle wat in Yahweh en in Y’shua, as sy Gesalfde, glo nie? Yahweh ken hulle name en hy ken hulle getal. Ons ken almal die vers: “Ek het jou by jou naam geroep – jy is Myne” (Jes 43:1). Maar luister ‘n bietjie hierna: “Rig julle oë opwaarts en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Dit is Hy wat die leërskare laat uittrek ooreenkomstig hulle GETAL; dit is Hy wat hulle almal by die NAAM roep – daar word nie een gemis nie – en Hy doen dit omdat Hy groot en magtig is (Jes 40:26). En dit alles het vir ons ‘n werklikheid geword, omdat Yahweh ons posisie verander het vanaf “Bemiedbar” (IN die woestyn) tot by “Bemashiag” (IN die Messias)! Dis ‘n posisie wat ons totale mens-wees verander het, en wat ons NIE met kompromieë of komplikasies of komplekse in gevaar behoort te stel nie.