Die Torah leesstuk van hierdie week bevat ‘n hele aantal uiteenlopende temas, soos die gebruik van die as van ‘n rooi koei vir die reiniging van iemand wat met ‘n dooie in aanraking gekom het, die dood van Miriam, die water wat uit die rots te voorskyn gekom het, die verbod teen Mosheh en Aharon om in die Beloofde Land in te gaan, die oprig van ‘n koperslang om genesing te bring vir hulle wat teenoor Yahweh gekla het, die sing van ‘n lied ter ere van ‘n put wat water aan die volk voorsien het en die stryd teen Ogh en Sigon, twee van die konings van die Amoriete. Minstens sewe groot temas, en ek het taamlik geworstel om te besluit watter een van hierdie sewe, die tema vir vandag se boodskap moes wees. Toe kyk ek na die Hebreeuse teks – drie hoofstukke (Numerie 19 tot 21) met 86 verse altesaam en as jy alles onder mekaar plaas, is daar nie ‘n enkele vers wat ‘n mens se oog vang nie. Maar toe ek ‘n tweede keer kyk, is daar tog EEN VERS wat (letterlik) uitstaan: Die Hebreeuse teks van die vertaling wat ek gebruik, vir die laaste deel van Numerie 21:32, lyk só (sonder die 1 en die 2):
Ons sou dit só kon vertaal: “Hulle het sy dorpies geneem, en hy het die Amoriete wat daar was, verdryf.” Maar wat dadelik my oog gevang het, was die woord (nommer 1) wat half IN DIE LUG staan – die enigste in al drie hierdie hoofstukke van Numerie wat só gedruk is, en die woord daarna (nommer 2), byna presies dieselfde as die vorige woord, maar gedruk in ‘n ANDER KLEUR. Dit was bloot die redakteur van die Hebreeuse teks se manier om te sê dat daar twee variasies van dieselfde woord deur verskillende ou manuskripte gebruik is. Maar dit het my laat dink aan die spreuk “Why fit in when you were born to stand out?” en het vir my die knoop deurgehaak om te besluit watter een van die sewe temas ek oor moes praat. Die woord wat uitstaan en letterlik in die lug hang (net soos die een langsaan wat in ‘n ander kleur geskryf is), beteken eenvoudig: VERDRYF of VERNIETIG. Die groep of die volk wat verdryf of vernietig moes word, is die AMORIETE. En die Amoriete is ‘n deurlopende tema in die Skrif en speel duidelik ‘n groot rol, hier in Numerie 21. Ons het genoeg rede om na aanleiding van hierdie en ander tekste in die Skrif vir mekaar te sê: Die gees van die Amoriete is vandag nog met ons en behoort MET WORTEL EN TAK uit ons midde verdryf en vernietig te word.
Wie was die Amoriete nou eintlik? Wat ons reeds van hulle weet, is dat hulle een van die nasies is wat in die antieke Kanaän gewoon het. In Genesis 10 lees ons dat Kanaän (of Kenaán), die kleinseun van Noag, die vader van onder meer die Amoriete genoem word. Hulle was later ‘n magtige groep wat bekend was vir hulle militêre krag en versterkte stede. Op ‘n sekere stadium was die Amoriete in beheer van BABILON en die bekende HAMMURABI was een van die Amoriete se grootste konings. Die “amor” in die woord “Amoriete” het niks met liefde te doen nie, en die naam kom van ‘n begrip wat verwys na bewoners van die HOOGLANDE of die heuwels. Toe Yahweh aan Avraham in Genesis 14 die belofte van ‘n grondgebied en ‘n groot nageslag gegee het, het Hy TIEN NASIES genoem wat voorheen inwoners van daardie land was, wat onder meer aan die nageslag van Avraham oorgegee sou word. Die Amoriete was een van daardie tien. Maar die Amoriete was só groot en só invloedryk dat die woord “Amoriete” soms ook as SAMBREELTERM vir al tien die nasies gebruik word.
Ons het voorheen verwys na die gees van die Amoriete. Interessant genoeg praat die Skrif ook van die gees van die Amoriete. Daar staan in Joshua 5:1 dat die konings van die Amoriete en die Kanaäniete se harte versmelt het en HULLE GEES verdamp en verdwyn het, toe Yahweh die water van die JORDAAN laat opdroog het sodat die Israeliete deur die Jordaan kon trek (letterlik: “daar was nie meer gees in hulle oor nie” – vandag sou ons seker kon sê: “hulle het byna die gees gegee”). En om selfs nog sterker te beklemtoon dat die Amoriete (en die gees van die Amoriete!) uit die midde van die volk verdryf en vernietig moes word, lees ons in Joshua 10:11 dat Yahweh groot HAELSTENE uit die hemel op die Amoriete laat neer reën het terwyl die leër van Joshua hulle agternagesit het, “sodat daar meer gesterf het deur die haelstene as wat die kinders van Yiesraél met die swaard doodgemaak het”. Uit buite-Bybelse bronne blyk dit dat die Amoriete die Babiloniese (son)god, MARDUK, erken het en talle ander gode vereer en aanbid het. Daarom staan daar in 1 Konings 21:26: “Agab (Isébel se man) het baie afstootlik gehandel deur agter die DREKGODE aan te loop net soos die Amoriete gedoen het wat Yahweh voor die kinders van Yiesraél uit verdryf het.”
Dit bring ons terug by Numerie 21 en die woord in daardie teks wat in die lug hang en so duidelik UITSTAAN, dat ‘n mens dit nie kan miskyk nie. Die Amoriete moes uitgewis word. Die nasies wat agter ander gode aan gehoereer het, en wat ‘n ander gees as die Gees van Yahweh, in en uitgeasem het, moes uitgewis word. Selfs hulle STEDE moes vernietig word. Daarom staan daar in Numerie 21:3 dat Israel die nasies van Kanaän EN HUL STEDE met die banvloek getref en die plek Gormah genoem het. Net soos die woord wat in die lug staan in vers 32, beteken hierdie woord “Gormah” in vers 3, ook UITWIS en VERNIETIG. Dis opvallend dat hulle die NAAM van die plek verander het. Name is, soos ons reeds weet, ontsettend belangrik en die (ou) name van die stede van die Amoriete (en van ander nasies wat met die Amoriete geassosieer word) gee vir ons uitstekende LEIDRADE oor presies wat dit is van hierdie gees wat Yahweh nie aanstaan nie en wat ek en jy ook in ons lewens moet beveg en met wortel en tak behoort uit te roei.
Die eerste stad wat hier met die Amoriete vereenselwig word, is YAHATS (vers 23). Hierdie naam kom van ‘n woord wat “OPBREEK” en “VERDEEL” beteken. Dit verteenwoordig ‘n gees wat die Elohim wat as “Egad” (“EEN”) bekend staan, nie onder sy volgelinge wil sien nie en wat Hy wil hê hulle uit hulle lewens moet verdryf en teëstaan. Y’shua het hierop klem gelê toe Hy vir sy dissipels gebid het en voor sy Vader gepleit het dat hulle volkome EEN mag wees, sodat die mense van die wêreld waarlik tot geloof kan kom. Laat ons ons nie skuldig maak aan die gees van “Yahats”, waarmee ons die EENHEID wat Yahweh self met groot sorg tussen ons as medegelowiges opgestel het, onder ons voete vertrap nie.
Die tweede stad wat met die Amoriete vereenselwig word, is GESHBON (vers 25). Hierdie naam kom van ‘n woord wat verband hou met LOGIESE DENKE en redenasies en allerlei slim argumente. Ons kan nie (en behoort nie) ons denke en gedagtes te onderdruk in ons wandel as gelowiges nie. Romeine 12 sê dat ons ons ou, verkeerde denke moet vernuwe sodat ons kan weet wat die volmaakte wil van Yahweh is. Maar logiese denke en redenasies en sogenaamde slim argumente kan baie maklik ons grootste VYAND word. 1 Korintiërs 3:20 sê “Yahweh ken die gedagtes van die wyse mense, dat dit nietig is.” Jeremia 18:12 sê dat die een wat beweer dat hy volgens sy eie gedagtes sal wandel, gewoonlik die fout maak om volgens die verhardheid van sy eie BOSE HART te handel. Kom ons vertrou die Gees van Yahweh om ons te help om die gees van “Geshbon” in ons eie hart te identifiseer en dit uit ons lewens te verdryf, sodat ons gedagtes meer in lyn met SY gedagtes kan kom. Hoe is Yahweh se gedagtes? Natuurlik ken ons nie sy gedagtes nie. Maar ons ken die woord wat sê: “Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, sê Yahweh, gedagtes van vrede en nie van rampspoed nie” (Jeremia 29:11).
Die derde stad wat met die Amoriete vereenselwig word, en die laaste waarna ons gaan kyk, is DIVON (vers 30). Hierdie naam kom van twee verwante Hebreeuse woorde, waarvan die een met “smart” (Engels: “sorrow”) te make het, en die ander met “versmag” (Engels: “to be consumed by something”). Ook hierdie stad verteenwoordig ‘n gees wat Yahweh nie vir sy volgelinge bestem het nie. As ons SMART beleef, as gevolg van verlies of pyn wat ons ervaar het, is dit nie sy wil dat ons deur hierdie smart GEVANGE gehou sal word nie – dit is nie sy wil dat ons daardeur “CONSUMED” sal word en dat ons as gevolg daarvan, konstant sal VERSMAG en selfs sal WEGKWYN nie! Wanneer ons siel in ons versmag, soos in Psalm 107:5 beskryf word, word ons deur hierdie selfde psalm begelei oor die ROETE wat ons behoort in te slaan: “Hulle siel het in hulle versmag. Toe het hulle Yahweh aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle gered. En Hy het hulle gelei op ‘n regte pad om te gaan na ‘n stad om in te woon. Laat hulle Yahweh loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan alle mense (sonder enige uitsondering), want Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul” (vers 5-9).
Laat ons nie ‘n oomblik langer huiwer om ons harte te ondersoek vir enige teken van die gees van Yahats of Geshbon of Divon nie. Laat ons Hom wat die EGAD is, aangryp en die saad van tweespalt en verdeeldheid in ons eie harte tot niet maak. Laat ons ons eie gedagtes en redenasies onderwerp aan Hom wat die gedagtes van die nasies verydel (Psalm 33:10). En laat ons maak soos wat Jona gemaak het toe sy siel in hom versmag het: Ek het aan Yahweh gedink; en in my gebed het ek tot by U gekom in u afgesonderde tempel (Jona 2:7).