DIE BELOFTES VAN JESAJA 60
21 September 2024

alternate textMeeste gelowiges is baie vinnig om die BELOFTES VAN DIE WOORD vir hulleself toe te eien, maar nie naastenby so gretig om na die voorwaardes van die beloftes, of die konteks waarbinne die beloftes gegee is, te luister nie. Net soos verlede week se Haftarah lesing, is Jesaja 60 ook die alternatiewe lesing wat aangebied word saam met die Torah porsie van hierdie week, wat as “Ki Tavo” bekend staan (oftewel “Wanneer jy inkom”). Jesaja 60 is ‘n profetiese hoofstuk wat nóú aansluit by die leesstuk van hierdie week, en veral by Deuteronomium 26:19: “Hy sal jou die hoogste stel, bo al die nasies wat Hy gemaak het, tot ‘n lof en ‘n roem en ‘n sieraad, sodat jy ‘n afgesonderde volk aan Yahweh jou Elohiem sal wees soos Hy beloof het.” In hierdie kort vers alleen is daar nie minder nie as SEWE sterk woorde wat ook in Jesaja 60 voorkom: (1) “nasies” — 6 keer, wat meer is as enige ander hoofstuk in Jesaja (2) “lof” (3) “roem” — in Hebreeus: “shem” wat “Naam” beteken (4) “sieraad” (5) “afgesonder” of “qadosh” (6) “Yahweh” — die Skepper se Naam en (7) “Elohiem” — die Skepper se bekendste titel.

Waarom het ek begin deur te sê dat ons baie keer te haastig is om die beloftes van die Woord vir onsself toe te eien? Want die eerste 2 kommentare oor Jesaja 60 wat ek geraadpleeg het, het met die intrapslag verklaar dat Jesaja 60 oor die BEDELING VAN DIE “KERK” gaan, wat later, met die koms van “Jesus” sou aanbreek. Met ander woorde: Glo net in Jesus, word deel van die kerk, en dan gaan alles wat in Jesaja 60 belowe word, in jou en jou mense se lewens waar word. En meeste mense verstaan hierdie “kerk” só: Daardie groot groep mense wat Christelike leerstukke navolg en die Jode as Yahweh se gunstelinge vervang het (“Replacement Theology”). Daardie hoofstroom wat nie soos die Jode aan die Torah verbind is nie en nie dinge soos Shabbatte en feeste hoef te hou nie (“Selected Obedience”). Daardie hoofstroom wat tussendeur al die gehamer op “praise the Lord” net eenvoudig nie kan hoor dat die Skepper begeer dat ons Hom op sy Naam sal noem nie (“Anonymous Worship”). Daardie hoofstroom wat hom nie kan loswikkel uit die onskriftuurlike tentakels van die leer van die Drie-eenheid nie (“Non-Biblical Add-Ons”). Die ironie is: Die Skrif self weet niks van so ‘n “hoofstroom” of so ’n verstaan van “kerk” nie, of so ‘n beskrywing van die Almagtige nie. Dis ‘n MENSGEMAAKTE STELSEL, wat baie jare na die aardse lewe van die Messias begin vorm aanneem het, en wat gevul is met ‘n mengelmoes van waarhede, halwe waarhede en volle verdraaiings. Op sommige punte lyk dit eenvoudig glad nie meer soos die geopenbaarde en deurlopende geloof van die aartsvaders, die profete en die oorspronklike volgelinge van die Messias nie.

Wat sê dit vir ons oor Jesaja 60? Ons sou baie armer gewees het as ons nie hierdie hoofstuk in die Skrif gehad het nie. Deuteronomium 26 en Jesaja 60 word duidelik aan dieselfde groep mense geadresseer, dis net die DATUM of die TYDPERK wat verskil. En hierdie groep mense is die AFGESONDERDE VOLK VAN YAHWEH. Hierdie benaming word letterlik in albei hoofstukke gebruik. Jesaja 60 praat bloot van ‘n veel later tyd in die geskiedenis. Maar hy praat beslis nie van die sogenaamde “tyd van die kerk” nie. Sommige mense praat van die tyd waarin ons nou is, as die “tyd van die kerk”. Maar ‘n mens hoef net vinnig deur hierdie hoofstuk te lees, om te besef ons is nie nou in ‘n tyd waarin nasies en konings na die afgesonderde volk van Yahweh optrek nie (vers 3). Ook nie in ‘n tyd waarin die skatte van die nasies na die afgesonderde volk van Yahweh toe “aankom” nie (vers 5). Dis nie nou ‘n tyd waarin uitlanders besig is om die vervalle mure van die stede in Israel op te bou nie (vers 10). Trouens, daar is baie wat hulle vandag beywer om die mure van die stede van Israel net nog méér met die grond gelyk te maak. Die seuns van die nasies wat Israel vir eeue lank verdruk het, het nog nie in gebrokenheid teruggekom na Jerusalem en op hulle knieë geval en uitgeroep, “Dit is die stad van Yahweh, die Afgesonderde van Israel” nie (vers 14). Nee, my aanvoeling is dat ons in ‘n periode van die geskiedenis is waarin die seuns en die dogters van die nasies verder weg beweeg van Israel. Ons is eenvoudig nog nie in daardie bedeling waarin die afgesonderde volk van Yahweh nie meer VERLATE is en nie meer deur mense GEHAAT word, soos wat in vers 15 beskryf word nie.

As ons eerlik moet wees, moet ons vandag sê: Die afgesonderde volk van Yahweh is nie eens in die land Israel nie! Miskien ‘n klein deeltjie, ‘n klein OORBLYFSEL, (“remnant”), maar nie die volle som nie. Ook nie op een enkele ander plek in die wêreld waar ‘n mens hierdie volk met die vinger kan uitwys nie. Die Fariseërs in Y’shua se tyd het gedink dat die koninkryk van die hemel met sigbare tekens, en in hulle eie land, gesien en uitgewys sal kan word, maar Y’ shua het vir hulle gesê hulle misgis hulle. Die koninkryk is BINNE-IN ‘N MENS, het Hy gesê (Luk 17:21). Net so is dit onmoontlik om die afgesonderde volk van Yahweh vandag met die vinger uit te wys. Net Yahweh kan dit uitwys, want Hy sien tot in mense se binnekant.

En tog weet elke mens self of hy (of sy) gereageer het op die stem van die Allerhoogste wat in Jesaja 60:1 só verwoord word: “Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die grootheid van Yahweh gaan oor jou op.” Wie van ons sal nie gryp na die geleentheid om iets van die grootheid van Yahweh in ons eie lewens te ervaar nie? Vir elkeen van ons, glo ek, was daar ‘n dag, of ‘n periode, toe ons ook soos vers 16 kon gesê het: Nou weet ek dat Yahweh, die magtige van Yaákov, OOK MY VERLOSSER is! Dit mag miskien donker wees rondom my, maar ek kies Yahweh vandag as my EWIGE LIG (vers 19). Die aanloklike dinge van hierdie wêreld is nie meer my sieraad nie. Ek soek nie meer in die eerste plek om met aardse rykdom beklee en versier te word nie. Van nou af is Elohiem my sieraad (vers 19). Hy het my voortreflik gemaak (vers 9). En Hy sal die plek van my voete voortreflik maak (vers 13).

Is hierdie nuwe werk in my lewe voleindig en afgehandel? Het dit klaar gebeur? Het die silwer en die goud (vers 9) en die rykdom van die nasies (vers 11) en die voortreflikheid van die Libanon (vers 13) alreeds na ons toe gekom? Is die dae van ons treurigheid reeds verby (vers 20)? Het ons alreeds ons ewige besitting ontvang (vers 21)? Jesaja 60 sê self vir ons dat dit NIE so is nie, want in die heel laaste vers lees ons hierdie woorde: “Ek, Yahweh, sal dit op die regte tyd gou laat kom.” Yahweh se beloftes is só kragtig dat dit nie net die VERVULLING van die belofte is wat ons met vreugde en sterkte sal vervul nie, maar ook die blote WOORDE in die belofte en veral die PERSOON wat daardie woorde uitgespreek het.

Vir die FISIESE NASIE VAN ISRAEL het die tyd waarvan Jesaja 60 praat, OOK nog nie aangebreek nie. Net soos ons, wat by Yahweh, die Elohiem van Israel aagesluit het, kan die ware gelowiges in die land van Israel, bemoedig en versterk word deur hierdie hoofstuk. Maar ook net soos ons, behoort hulle, en ons, nie te vinnig te wees om te aanvaar dat elke belofte in hierdie hoofstuk alreeds in vervulling gegaan het nie. Laat ons VERS 22 nie uit die oog verloor nie: Ek, Yahweh, sal dit op die regte tyd gou laat kom!

Wanneer is dit die regte tyd? Natuurlik het net Yahweh die antwoord op daardie vraag. Maar ons weet uit die konteks van Jesaja 60 waarom dit tóé nie die regte tyd was nie. En waarom dit nóú ook nie die regte tyd is nie. En hierdie rede is: Die afgesonderde volk van Yahweh moet nog GESKAAF en GEVORM word. En hierdie restorasie proses sluit Jode en nie-Jode in. En dit sluit swaarkry in, stryd, ellende, moeite en selfs fisiese oorlog.

En net soos wat ek en jy nie outomaties elke belofte in die Skrif op ons situasie van die oomblik moet toepas nie, net so moet ons dit nie outomaties aanvaar dat Israel ALTYD REG is en sy teenstanders ALTYD VERKEERD is nie. Daar is n groot deel van die wêreld vandag wat net mooi alles VEROORDEEL wat Israel in sy stryd teen sy buurlande doen. Nie een van ons kan saamsing in daardie koor nie. Maar daar is ‘n ander koor waarin ons ook nie behoort saam te sing nie. Ons behoort nie saam te sing in die massakoor van evangeliese Christene wêreldwyd wat dood eenvoudig Israel se kant kies, maak nie saak hoeveel oortredinge hulle begaan om hulle eie mense en hulle eie idees te beskerm nie.

Die BLINDHEID van Israel, waarvan die profete male sonder tal gepraat het, is nog steeds oor hierdie nasie. Die hardnekkigheid het nog nie verdwyn nie. Die subtiele manipulasie van die Torah vind nog steeds plaas. Die valse steun op dinge en rituele en tradisies, in plaas van kinderlike vertroue op Yahweh en sy Woord, oorheers nog steeds hulle totale godsdienstige belewing. Die NAAM van Yahweh word nog steeds vermy. En die MESSIAS wat Yahweh gestuur het, word nog steeds misken.

My vraag is: Het ons nie ‘n PROFETIESE TAAK teenoor hierdie land en sy mense, vir wie ons liewer is as enige ander nasie op aarde nie? Is dit liefde as ‘n mens jou broer sien struikel en dwaal, maar jy praat net alles goed wat hy doen? Is dit nie presies wat die valse profete van ouds gedoen het nie? My oproep vandag is: Laat ons twee keer dink voordat ons lustig saamsing met die koor van gelowiges wat voel dat hulle geroepe is om Israel se regverdigheid, en uiteindelik hulle geregtigheid, teenoor almal te bewys. Jesaja 60:21 sê uiteindelik sal “almal van die volk” regverdiges wees. Maar daardie tyd lê nog voor. En dis iets wat Yahweh, in sy grootheid, volledig sal doen. Niemand het ons as AGENTE aangestel om dit namens Hom te doen nie. As ons Israel waarlik wil ondersteun, behoort ons fokus deurlopend op die AFGESONDERDE VOLK VAN YAHWEH te wees, meer as op die FISIESE VOLK VAN ISRAEL. Dis weliswaar ‘n fokus op ‘n belofte wat nog nie volledig in vervulling gegaan het nie. Maar dan ook weer: Yahweh se beloftes is só kragtig dat dit nie net die VERVULLING van die belofte is wat ons met vreugde en sterkte sal vervul nie, maar ook die blote WOORDE in die belofte en veral die PERSOON wat daardie woorde uitgespreek het! Hy alleen is ons sieraad en ons lof!