WAT ‘N MENS IN TIEN DAE KAN LEER

alternate textAlhoewel daar nie ‘n naam (soos “week” of “maand” of “dekade”) vir periodes van TIEN DAE in Afrikaans of Engels is nie, is tien dae ‘n tydsbegrip wat ons almal baie goed ken. Jy sou byvoorbeeld vir iemand kon sê: “Ek het nou vir tien dae lank niks van jou gehoor nie”. Of iemand sou kon sê: “Ek sien die weer profete kan deesdae voorspel watter soort weer ons oor tien dae kan verwag” (Weskaap uitgesluit!). Vroeg in die vorige eeu het iemand met die naam John Reed ‘n klassieke boek oor die Russiese Revolusie van 1917 geskryf, met die titel, “TEN DAYS THAT CHANGED THE WORLD”. Die bekende fliek, “Reds” het oor die Russiese Revolusie en die lewe van hierdie skrywer, John Reed, gegaan. Een van die bekende AANHALINGS uit die boek was hierdie woorde: “The devout Russian people no longer needed priests to pray them into heaven. On earth they were building a kingdom, more bright than any heaven had to offer, and for which it was a glory to die…” As ‘n mens nie geweet het hierdie woorde is meer as 100 jaar gelede uitgespreek nie, sou meeste van ons geraai het dis iets wat iemand in ons eie tyd kwyt geraak het. ‘n Mens sien vandag meer as ooit tevore dat die verwagting van ‘n hemel links en regs ingeruil word vir die verwondering oor die aanloklike en verruklike dinge van hierdie wêreld.

Dit is interessant dat die twee woorde “tien dae” net mooi TIEN KEER in die Skrif, direk langs mekaar gebruik word. Nie elke keer dat daar van “tien dae” gepraat word, word daar fenomenale uitsprake gemaak nie. Soms is die “tien dae” dood eenvoudig net deel van ‘n sin waarin die “tien” net sowel enige ander getal ook kon gewees het. Soos in Num 11:18-20 waar Yahweh se toorn teenoor die volk ontvlam het omdat hulle so oor die manna en die ontberinge van die woestyn gekla het. Sy woorde aan hulle was: “Van more af sal julle vleis eet … julle sal nie een dag of twee dae eet nie, of vyf dae of TIEN DAE of twintig dae nie … julle sal vleis eet totdat dit uit julle neus uitkom en julle daarvan sal walg!”

Een van die bekende verwysings na tien dae is toe DANIEL vir koning Nebukadneser, die koning van Babel, laat weet het dat hy en sy drie vriende nie die kos en die wyn waaraan die koning en sy mense gewoond was, wou eet nie, maar dat hulle tien dae lank NET GROENTE EN WATER wou eet en drink. Dis ironies dat baie gelowiges deesdae aan hierdie gebeurtenis vasgryp om VLEIS uit hulle dieet uit te sny, of om ‘n sogenaamde DANIEL-VAS te onderneem. Al twee hierdie groepe mense mis egter die punt waaroor dit eintlik hier gaan. Daniel was nie ‘n kampvegter vir GROENTE ALLEEN nie, en sy dieet oor daardie tien dae was op geen manier ‘n VAS nie (want die Skrif se verstaan van ‘n vas is, soos daar dikwels bokant sommige beddens in ‘n hospitaal geskryf word: “Nothing by mouth” of “Nul per mond”). Daniel en sy vriende wou eenvoudig NIE kossoorte eet wat in Babel normaal en alledaagse gebruik was, maar in die Skrif verbied word nie. En Yahweh het hulle vereer en beloon vir hierdie besluit van gehoorsaamheid aan die Torah wat hulle geneem het, deurdat Daniel en sy drie vriende, na tien dae, gesonder en sterker en mooier van kleur as die ander jongmanne was, wat die gewone, Babelse dieet gevolg het.

Dan is daar die tien dae wat in verband gebring word met NABAL (of Naval), een van Dawid se berugte vyande. In 1 Sam 25:38 word die uiteinde van Naval in ‘n enkele sinnetjie beskryf: “En na omtrent tien dae het Yahweh Naval getref, sodat hy gesterf het.” Wie was hierdie Nabal nou eintlik? Nabal was die soort mens wat in Romeine 1:28 – 32 beskryf word: Iemand met ‘n slegte gesindheid, wat vervul is met allerlei kwaadaardigheid, boosheid, geldgierigheid, twis, bedrog en ‘n gebrek aan integriteit. Geen wonder dat sy naam, Nabal, “dwaas” beteken nie. In die tyd toe Saul vir Dawid wou doodmaak, moes Dawid en sy volgelinge van plek tot plek vlug en van die hand na die mond lewe. Hulle het vir ‘n tyd lank in dieselfde gebied gebly waar Nabal, ‘n welgestelde veeboer van daardie tyd, gewoon het. Dit was die gebied rondom Hebron, wat destyds aan Kaleb toegeken is. Soos wat dit Dawid se gewoonte was, het hy sy kant gebring en vir Nabal gehelp waar hy kon, onder andere deur sy kudde te beskerm teen diewe en kwaaddoeners. Toe Dawid eendag deur ‘n boodskapper vir Nabal vra om vir hom en sy manne brood en water en van sy skape te gee vir kos (iets wat algemene praktyk in daardie tyd was), het Nabal in die sterkste moontlike taal en met beledigings vir Dawid laat weet dat hy dit beslis nie sal doen nie. Hy het eenvoudig gemaak of hy Dawid glad nie ken nie (al het hy waarskynlik geweet dat Dawid alreeds deur Samuel as koning gesalf is) en vir Dawid en sy manne as VREEMDELINGE EN VYANDE gebrandmerk.

Dawid was VERSTOM deur hierdie reaksie en besluit om met sy dapper helde op te trek en vir Nabal, en al die manne wat vir hom gewerk het, dood te maak. En dan kom Nabal se vrou, ABIGAIL, in die prentjie. Sekerlik een van die mees merkwaardige vroue in die hele Skrif. Totaal die teenoorgestelde van haar man. En haar naam beteken: “My vader se vreugde”. Sonder haar man se medewete, stuur sy ‘n hele vrag voorrade na Dawid en sy manne en daarna gaan sy self na hom toe, buig in nederigheid voor hom neer en in ‘n absolute GEES VAN VERSOENING (Yom Kippur!) smeek sy om Dawid se vergifnis. Sy herinner Dawid daaraan dat hy nie lank daarna nie, sy plek as koning sou moes inneem, en dat sy weet dat hy nie die las van die moord op mede-landgenote op sy gewete wil saamdra nie. Dawid erken dat sy reg is en sê vir haar: “Geseënd is Yahweh, die Elohiem van Yiesraél, wat jou vandag oor my pad gestuur het!” (1 Sam 25:32). En toe Yahweh self teen Nabal optree, en hy tien dae later te sterwe kom, het Dawid vir Abigail as een van sy vroue geneem.

Nog ‘n bekende verwysing na tien dae kom in Openbaring voor, waar Johannes opdrag ontvang om aan die gemeente van SMIRNA te skryf: “Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Opb 2:10). Die tien dae vóór Yom Kippur word soms as “THE TEN DAYS OF AWE” beskryf. Dit laat ‘n mens nogal dink aan die woorde hier in Openbaring: “julle sal tien dae lank verdrukking hê.” As YOM KIPPUR die dag op die Bybelse kalender is wat heenwys na die “groot Dag van Yahweh” waarvan daar onder meer in verse soos Jeremia 30:7 gepraat word (“Wee, want die Dag is groot, geen ander dag kan daarmee vergelyk word nie … dit is ‘n tyd van benoudheid vir Yaákov; maar hy sal daaruit verlos word”), dan is die tien dae vóór Yom Kippur vir ons ook ‘n heenwysing na die VERDRUKKING wat daar reg aan die einde, kort voor die koms van die Messias, sal plaasvind. Verdrukking is nie iets wat jy vir jou grootste vyand toewens nie. Maar vir hulle wat hulle vertroue volledig in Yahweh stel, is enige vorm van verdrukking altyd ook ‘n tyd van suiwering, ‘n tyd van selfondersoek, ‘n tyd wat jou uitbring by die OOMBLIK VAN WAARHEID waar jy ophou met die leuens, en veral die leuens aan jouself. Dit is daardie tyd dat ‘n mens ontdek dat dit nie jou uiterlike omstandighede is wat jou hart werklik gerus stel nie, en dat ware SHALOM (“die vrede wat alle verstand te bowe gaan”) op die vlak lê van ons verhouding met Yahweh, en met sy Seun, Y’shua.

As hierdie tien dae vir jou ‘n tyd van BENOUDHEID is en ‘n tyd waarin jy dinge in jouself ontdek wat maak dat die volheid van Yahweh se vrede nie heeltemal kan deurbreek nie, luister dan na die woorde wat Smirna ook moes hoor: Hierdie is ‘n tyd van toetsing (letterlik: “dis om julle op die proef te stel”). Dit is ’n tyd wat jy nodig het om te kan deurbreek. Om uiteindelik by verlossing en versoening uit te kom – dit waaroor Yom Kippur eintlik gaan. Daar mag tien dae wees, of drie dae, of sewe jaar, waarin jy nie veel meer as benoudheid en verdrukking geken het nie. Kom ons maak van hierdie “tien dae”: TEN DAYS THAT CHANGED THE WORD! Vandag kan ons opnuut, soos Yaákov, vashou aan die woorde van Jeremia: “Jy SAL uit jou benoudheid verlos word”! En ons kan opnuut, soos Smirna, vasgryp aan die woorde van Y’shua: “Vrees vir niks wat jy mag ly nie. Wees getrou tot die dood toe. Ek SAL aan jou die kroon van die lewe gee!”