DIE SKRIF SE VERSTAAN VAN GROOTHEID
28 Oct

alternate textWilliam Shakespeare het glo gesê: “Be not afraid of greatness. Some are born great, some achieve greatness, and others have greatness thrust upon them.” Miskien het Shakespeare dit nie so bedoel nie, maar ‘n mens kry die idee dat die moderne mens se aanhoudende gesoek na grootheid, hom stadig maar seker laat weg beweeg het van daardie plek waar hy Yahweh as die Koning en as die alleenwyse Elohiem erken – weg van die plek waar die eer en die grootheid aan Yahweh alleen toegebring word. In die Skrif lees ons nie dikwels van mense wat ware grootheid bereik het nie, maar daar is tog vier name wat uitstaan. Vier mense van wie daar uitdruklik gesê word dat hulle aan Yahweh getrou was, maar ook ‘n groot naam of ‘n groot reputasie onder die mense gehad het. Dit is interessant dat die tema van BELOFTE EN VERVULLING in elkeen van hierdie vier mense se lewens, ‘n besonderse groot rol gespeel het. Kom ons kyk kortliks hierna.

Avraham: Genesis 12:2 En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees.
Belofte: Aan ‘n Bejaarde man en sy vrou (Avraham en Sarah) word ‘n groot nageslag belowe (Gen 15:5; Gen 16:10; Gen 22:17)
Vervulling: Die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Avraham (Gal 3:7); Avraham is die vader van almal wat glo dat Elohiem vir Y’shua uit die dood opgewek het (Rom 4:16,24).

Yahushua: Joshua 6:27 En Yahweh was met Yahushua, en die gerug van hom het deur die hele land gegaan.
Belofte: Yahushua was uit die geslag van Efrayiem. Efrayiem se oumagrootjie, Rievkah, het hierdie belofte/seën ontvang toe sy nog nie getroud is nie: Mag daar duisende uit jou voorkom (Gen 24:60 – die woorde van Rievkah se ma en broer, voordat Rievkah uit Garan vertrek het om met Yietsgak te trou).
Vervulling: Kort voor sy dood, het Efrayiem se oupa, Yaakov, hierdie woord oor sy seun Yosef (Efrayiem se pa) uitgespreek: Die tien duisende van Efrayiem sal tot aan die eindes van die aarde wees (Deut 33:17). In sy Patmos visioen het Johannes ‘n groot (Efrayiem-tipe) menigte voor die troon van Elohiem gesien wat niemand kon tel nie, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande, uit alle nasies en stamme en volke en tale (Opb 7:9).

Dawied: 1 Kron 14:17 En die naam van Dawied het uitgegaan in al die lande, en Yahweh het die skrik vir hom op al die nasies gelê.
Belofte: Van die vrug van jou liggaam sal Ek laat sit op jou troon (Ps 132:11); Tot in ewigheid sal Ek jou nageslag bevestig en jou troon opbou van geslag tot geslag (Ps 89:4).
Vervulling: Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en Yahweh Elohiem sal aan Hom die troon van sy vader Dawied gee (Luk 1:32); Die een wat die sleutel van Dawied het, sê: Ek sal op jou die Naam van my Elohiem skryf (Opb 3:7,12).

Mordegai: Ester 9:4 Want Mordegai was groot in die paleis van die koning, en sy gerug het deur al die provinsies gegaan, omdat die man Mordegai al groter geword het.
Belofte: Mordegai (en Ester) se voorouers was onder die ballinge wat in ballingskap na Babilonië weggevoer is. Hulle was deel van ‘n aansienlike groep Jode wat NIE ná 70 jaar na Jerusalem teruggekeer het nie. Maar meeste van hierdie groep het steeds vasgehou aan die belofte van Deuteronomium 30:3: Yahweh, jou Elohiem sal jou weer versamel uit al die volke waarheen Hy jou Elohiem jou verstrooi het. En terwyl Mordegai in die Persiese streek van Shushan gebly het, het hy nooit sy geloof in Yahweh verloor of verloën nie.
Vervulling: Mordegai was die tweede in rang onder koning Agashverosh; en hy was groot by die Yehudiem en ‘n liefling by die skare van sy broers, omdat hy die verlossing van sy volk gesoek en tot welsyn van sy hele nageslag gepraat het (Ester 10:3). Dit was deur Mordegai se toedoen dat ‘n grootskaalse ramp onder die Joodse volk afgeweer is en die fees van Puriem ingestel is.

Aan hulle wat Hom minag, verlaat, teen Hom rebelleer en reken dat hulle Hom nie nodig het nie, sê Yahweh, op talle plekke in die Skrif: Hulle ONDERGANG is naby (onder meer in Deut 35:25; Spr 24:22; Jer 18:17 en Jer 46:21). Die Hebreeuse woord vir “HULLE ONDERGANG” is אידם (uitgespreek: “eidam”). Daar is egter ook ‘n ander kant van die muntstuk. Diegene wat soek na YAHWEH SE VOLK se ondergang (ons sou ook kon sê: “hulle ondergang” – אידם of “eidam”) sal uiteindelik niks meer as ‘n wildernis en ’n puinhoop wees nie – ja, hulle sal word asof hulle nooit bestaan het nie (Eseg 35:5 en Obadja 1:13). Vanuit ‘n sekere hoek gesien is “hulle ondergang” die TEENOORGESTELDE as “hulle grootheid”. Dink net aan die manier waarop HAMAN se obsessie met grootheid en roem, tesame met sy intense haat teenoor die Joodse volk, uiteindelik tot sy ondergang gelei het, in die verhaal van Mordegai en Ester.

En dis kompleet asof die name van AVRAHAM, YAHUSHUA, DAWIED EN MORDEGAI een honderd persent inpas by hierdie patroon: Niemrod (en ander) het gesoek na Avraham se ondergang, maar Avraham het in Yahweh bly glo, en dit is hom tot geregtigheid gereken. Die sewe vyandelike nasies in die land Kanaän het gesoek na Yahushua se ondergang, en ‘n deel van sy volk het voortgestrompel na hulle eie ondergang, maar Yahushua het gesê: “Kies julle maar vir wie julle wil volg – Ek en my huis, ons sal vir Yahweh dien”. Koning Shaúl en bendes vyande het gesoek na Dawied se ondergang, maar hy het bly sê: Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen rampspoed vrees nie; want U is met my: u stok en u staf, dit vertroos my. Haman en sy gespuis het gesoek na Mordegai se ondergang, maar Mordegai het geweier om Yahweh of sy eie volk te verloën en het nie net gekeer dat sy eie volk uitgewis word nie, maar ook verseker dat die Persiese koning, Ahasveros, se lewe gespaar word.

Vier manne van wie die Skrif uitdruklik getuig dat daar ‘n GROOTHEID rondom hulle was – nie net in die oë van die mense rondom hulle nie, maar veral ook in die oë van Yahweh. En dit, terwyl daar voortdurend ‘n desperate poging van buite af was, om hulle ONDERGANG te bewerkstellig. Die merkwaardige is dat die woord vir “hulle ondergang”, אידם of “eidam”, wat nege keer in die Skrif voorkom, net mooi die EERSTE LETTERS van elkeen van hierdie vier manne se name bevat – die א waarmee Avraham se naam begin, die י waarmee Yahushua se naam begin, die ד waarmee Dawied se naam begin en die ם waarmee Mordegai se naam begin. Hulle grootheid het nie daarin bestaan dat hulle groot in hulle eie oë was nie, maar dat hulle dit wat groot of belangrik in Yahweh se oë was, MET HART EN SIEL nagejaag het. Vir die grootste gedeelte van hulle lewe, het hulle dinge beleef wat, menslik gesproke, die TEENOORGESTELDE van grootheid was – stryd en vervolging en ellende en teleurstelling. Maar Yahweh het nooit teruggegaan op sy BELOFTES nie. Hierdie vier manne het Yahweh se absolute betroubaarheid gesien en ervaar – nie soseer in die FINALE VERVULLING van sy beloftes nie (hierdie finale vervulling lê nog grootliks in die toekoms), maar in die tydigheid en die volmaaktheid van die uitkoms wat Yahweh vir hulle gebring het – elke keer as daar ‘n struikelblok in hulle pad gekom het wat soos ‘n berg voor hulle gelê het.

En by die name van hierdie vier manne kan ons die naam van Y’SHUA VAN NASARET (‘n tweede Yahushua!) byvoeg. Talle het sy ondergang gesoek, en hom tot die dood toe vervolg. Nie vir een oomblik het hy die grootheid waarin sy hemelse Vader gehul was, VIR HOMSELF probeer toe-eien nie. Maar hy het met ongekende getrouheid en deursettingsvermoë aan Yahweh en sy beloftes vasgehou. En hierdie Een in wie Y’shua sy verwagting gestel het, het hom uit die dood opgewek en hom MET ‘N GROOTHEID BEKLEE waarmee geen mens nog ooit tevore beklee was nie. Kefa of Petrus, die mens wat Y’shua seker die heel beste geken het, het later oor hom geskryf en gesê: “Ons was aanskouers van sy majesteit, want hy het van Elohiem die Vader eer en grootheid ontvang” (2 Pet 1:17). Maar nie Kefa, of enige van die ander apostels, het hierdie grootheid ooit met die grootheid van Yahweh verwar nie (veral omdat Y’shua self hulle nie toegelaat het om dit te doen nie) – daarom staan daar in 1 Tim 1:17: “Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse Elohiem (Yahweh), kom toe die eer en die grootheid tot in alle ewigheid. Amein.”