DIE GROOTHEID VAN YAHWEH IN SY LIEFDE
25 Nov

alternate textDie vier hoofstukke van Genesis 28 tot 31 wat deel vorm van die Torah leesstuk van hierdie week is ‘n gedeelte wat gevul is met uiterste emosies, menslike intriges en verrassende gestaltes van liefde. Met die intrapslag hoor ons die woord “vayetze” (“verlaat”) wat vir ons sê dat Yaakov Kanaän verlaat het en Garan toe gegaan het om te verseker dat hy, soos sy pa en sy oupa, vóór hom, vir hom ‘n vrou uit hulle eie mense kan gaan kies. Op hierdie manier het hy voldoen aan die wens van sy ouers om nie een van die dogters van Get, oftewel die dogters van die land Kanaän, as vrou te neem nie (Gen 27:46). En kort na sy vertrek, skaars 20 km van die moderne Jerusalem, by ‘n plek wat voorheen as LUZ bekend gestaan het, het Yaakov ‘n aangrypende ontmoeting met die Allerhoogste. Yaakov slaap in die oop veld. Hy sien in sy slaap ‘n leer, met boodskappers wat van die hemel af met die leer op en af kom en hy hoor duidelik hoe Yahweh met hom praat. En Yahweh sê vir hom minstens NEGE DINGE waarin Yaakov deur en deur die ontsettende grootheid van die liefde van sy Skepper en sy Elohiem kan ervaar: (1) Ek is Yahweh jou Elohiem (2) Die land waar jy nou slaap sal Ek aan jou nageslag gee (3) Jou nageslag sal groot wees en oor die hele aarde woon (4) In jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word (5) Ek is met jou (6) Ek sal jou orals bewaar (7) Ek sal jou terugbring na hierdie land (8) Ek sal jou nie verlaat nie (9) Ek sal doen wat Ek gesê het.

Skaars een hoofstuk tevore het Yaakov nog sy broer, Esau, uit sy eersgeboortereg verkul. Hy het voor sy swaksiende pa gestaan en vir Yietsgak in sy dowwe oë gekyk en gesê: “Ek is Esau – ek is gereed dat u my seën” (Gen 27:19). En hier verklaar Yahweh sy liefde aan hom by ‘n plek waarvan die naam hom aan sy eie verraad herinner. Want die Hebreeuse woord “luz” beteken: “om af te dwaal, om weg te draai, om pervers te wees, om slinks op te tree.” Dis ‘n woord wat in Jesaja 30:12 deur Yahweh self gebruik word om sy afkeur uit te spreek oor mense wat op SLINKSHEID steun. Net om ses verse later, in Jesaja 30:18, te sê dat Hy met ongeduld daarop wag om guns en liefde te bewys teenoor hulle wat teen Hóm oortree het. Dis presies wat met Yaakov gebeur het. Sy verraad teenoor sy broer en die las op sy gewete was nog soos vars spore in die sand, en die bedrog teen sy eie pa het gemaal en gemaal deur sy kop, toe loop hy hom vas teen die mooiste vorm van ongeduld wat ‘n mens in hierdie wêreld kan kry. Die ongeduld van ‘n Elohiem van liefde wat nie kan wag om selfs die mees slinkse en perverse mense te vergewe en sy onweerstaanbare guns aan hulle te bewys nie! Ons wat so graag wil hê dat ons huis of ons plek van aanbidding ‘n Bet-El moet wees, ‘n Huis van Elohiem, behoort met ons “luz” – ons slinksheid en ons perversiteit – weer terug te draai na Yahweh toe, wat met ongeduld daarop wag om guns aan ons te betoon. So word “vayetze” waarlik déél van ons lewe, wanneer ons menslike slimmigheid VERLAAT en slinksheid VERLAAT en liefdeloosheid VERLAAT en vermenging met vreemde idees en gebruike VERLAAT en terugkeer na die allesomvattende liefde wat die Een wat vir Yaakov by Bet-El op nege verskillende maniere van sy liefde verseker het.

En wat byna nog meer fassinerend van Vayetze is, is die grootheid van Yahweh se liefde, soos dit in die lewens van die twee susters, RAGEL EN LEÁH, na vore kom. Leáh was die oudste, en Ragel die mooiste, só word allerweë geglo. Maar daar is sommiges wat meen dat Leáh se “dowwe oë” (Gen 29:17) nie die dowwe oë van iemand was wat NIE van nature mooi was nie, maar dat dit die dowwe oë van iemand was wat baie smart geken het en baie gehuil het. Waarom? Omdat sy die oudste was en vir baie lank met die vrees in haar binneste geleef het, dat sy, soos dit die gebruik van daardie tyd was, aan Esau, die oudste van die twee seuns van Yietsgak, as vrou gegee sou word. En omdat sy ná haar troue altyd geglo het dat sy die nie-geliefde was en nie Yaakov se eerste keuse was nie. In een van die antieke Joodse kommentare op die boek Genesis word gesê dat Leáh aanhoudend by die Allerhoogste gepleit het: “May it be Your will that I not share in the fate of Esau.” Of dit die wáre rede is waarom Leáh beskryf word as die suster met die dowwe oë, weet ons nie.

Wat ons wel weet is dat die twee susters Ragel en Leáh, net soos die twee broers Yaakov en Esau, nie sonder hulle eie porsie van STRYD EN SLINKSHEID deur die lewe gegaan het nie. Dis baie moeilik om presies te bepaal hoe dit gebeur het dat Yaakov, na sewe jaar in diens van sy aanstaande skoonpa, Lavan, gedink het hy trou met Ragel, maar toe die oggend ná sy huwelik ontdek dat hy eintlik met LEAH getrou het. Natuurlik het die ou rabbi’s hiervoor ook ‘n verklaring gehad. Hulle sê Ragel en Yaakov het voor die tyd geweet dat Lavan so iets sou probeer en dat hulle afgespreek het dat Ragel deur die loop van die aand ‘n geheime teken aan Yaakov sou gee, die oomblik as sy uitvind dat daar ‘n geheime omruiling sou plaasvind. Toe sy egter deur die loop van die aand besef dat haar pa regtig so ‘n slinkse plan beraam het, het sy aan haar suster gedink en UIT LIEFDE VIR LEÁH, besluit om NIE vir Yaakov die geheime teken te gee, soos hulle afgespreek het nie. Sommiges het selfs geglo dat Ragel en Leáh ‘n TWEELING was, nes Yaakov en Esau, en dat dit selfs vir Yaakov baie moeilik sou wees om die twee in die nag uitmekaar uit te ken. Ook hierdie hele verklaring van die misleiding rondom Yaakov se eerste huwelik, behoort eintlik maar met ‘n KNIPPIE SOUT geneem te word en was bloot die ou rabbi’s se manier om al twee die susters in ‘n positiewe lig te stel. Hulle is immers twee van die matriarge van die volk wat gereeld in dieselfde asem, saam met Sarah en Rievkah genoem word.

Maar net soos Sarah en Rievkah, en net soos Yaakov en Esau, het Ragel en Leáh ook hulle TEKORTKOMINGE gehad. Dit mag miskien in die eerste plek Lavan se bedrog gewees het dat Ragel en Leáh omgeruil is, en Yaakov sodoende bedrieg is, maar vir my lyk dit of Ragel en Leáh albei deelgeneem het aan hierdie spel van bedrog, wat uitgeloop het op seker die GROOTSTE SKOK wat ‘n mens op die eerste dag ná jou huwelik te beurt kan val: “En die volgende oggend – kyk, daar was Leáh!” (Gen 29:25). Verder lees ons in Genesis 30:1 dat Ragel JALOERS geraak het op Leáh omdat sy (Ragel) nie kinders kon verwek nie, en vir Yaakov toegesnou het: “Gee vir my kinders of anders sterf ek!” ‘n Paar verse verder snou Leáh weer vir Ragel toe: “Is dit nie vir jou genoeg dat jy my man afgevat het nie …?” (Genesis 30:15). Selfs in die NAME wat Ragel en Leáh vir hulle kinders gegee het, kan ‘n mens sien hoeveel PYN die verhouding tussen die twee gebring het, maar ook watter soort venynige KOMPETISIEGEES daar tussen hierdie twee susters bestaan het. Leáh noem haar eerste seun Ruven (waarin die woord “sien” voorkom) en haar rede vir hierdie naam is: Yahweh het my ellende raakgesien en nou sal my man my ook liefhê. Haar tweede seun noem sy Shiemón (waarin die woord “hoor” voorkom) en haar rede is: Yahweh het gehoor dat ek die nie-geliefde vrou is. Toe Ragel se slavin (Bielhah), en uiteindelik sy sélf, kinders kry, volg sy ‘n soortgelyke patroon. Bielhah se eerste seun is Dan wat “regter” beteken, en die rede vir hierdie naam: Yahweh was die regter (tussen my en my suster) en het aan my ‘n seun gegee. Bielhah se tweede seun was Naftalie, wat met die woord “worsteling” te make het, en die rede: “Ek het bomenslike worstelinge met my suster geworstel en oorwin” (Gen 30:8).

En tog het Yahweh, in sy liefde wat ALTYD GROTER is as ons menslike kleinlikheid, nie sy rug op een van die twee susters en hulle nasate gedraai nie. Leáh, wat altyd gedink het dat sy die nie-geliefde was, is ná haar dood in die grot van Magpela by Gevron (Hebron) begrawe, saam met die aartsvaders, en saam met Sarah en Rievkah. Nie Ragel nie. Ragel is vóór Leah oorlede en is langs die pad naby Betlegem begrawe. Maar haar nalatenskap is nie vergeet nie. Toe Boáz later vir Rut as vrou geneem het, het die oudstes hierdie seën oor hom uitgespreek: “Mag Yahweh die vrou wat in jou huis inkom, maak soos Ragel en soos Leáh wat sáám die huis van Yiesraél gebou het.” Al het dit baie lank geneem voordat Ragel kinders van haar eie gehad het, lees ons in Gen 30:22 dat Elohiem (uit liefde) aan haar gedink het en haar skoot geopen het. En sy word die ma van Yosef en Benyamien. Toe Yaakov vir Yosef, die seun van Ragel, geseën het in Genesis 49, het hy gesê hy seën hom met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê en met seëninge van borste en moederskoot. En toe Mosheh vir Benyamien, die seun van Ragel, geseën het in Deuteronomium 33, het hy gesê dat Benyamien die geliefde van Yahweh is en dat hy veilig by Hom sal woon en dat Benyamien voortdurend deur Yahweh beskerm sal word.

Uit die nageslag van Leáh (en uit die geslag van Yehudah) sou die MESSIAS later gebore word – die een wat in die Jordaan gedoop is en op wie die Gees van Elohiem soos ‘n duif neergedaal het en oor wie Yahweh self, met ‘n hoorbare stem uit die hemel, verklaar het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Uit die nageslag van Ragel, sou die groep mense te voorskyn kom wat later met die profetiese naam “EFRAYIEM” beskryf is en van wie die profeet Hoshea gesê het dat Efrayiem hom vermeng met die nasies (Hoshea 7:8). Ons weet dat Efrayiem ook die kollektiewe naam vir die Noordelike tien stamme van Israel is, wat in ballingskap na ASSIRIË weggevoer is en van daar af met die nasies van die wêreld vermeng is en nooit weer as ‘n groep teruggekeer het uit ballingskap nie. En tog het hierdie groep mense (waar óns as gelowiges uit die nasies vandag ‘n tuiste gevind het) van die mees aangrypende beloftes denkbaar, van Yahweh ontvang. “Hoe kan Ek jou oorgee of prysgee, o Efrayiem,” vra Yahweh vir hierdie groep in Hoshea 11:8, “my LIEFDE brand te sterk!” In Hoshea 14 verklaar Yahweh: “Ek sal Efrayiem se afvalligheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend.” “My ingewande is oor Efrayiem in beroering” sê Yahweh in Jeremia 31, “hy is vir my ‘n dierbare seun en ‘n troetelkind, Ek sal my beslis oor hom ontferm.” Nêrens sien ons die grootheid van Yahweh méér persoonlik, as in sy groot LIEFDE wat hy onverdiend en ongekend, déél van ons lewensverhaal kom maak het nie!