DIE GROOTHEID VAN YAHWEH IN DIE SKEPPING
11 Nov

alternate textOns het die afgelope twee weke by die Skrif se siening van ware grootheid stilgestaan. Die fokus was tot dusver hoofsaaklik op mense, soos Avraham, wat op ‘n manier gelewe en opgetree het wat gemaak het dat hulle vandag nog gerespekteer word as rolmodelle en voorlopers in die geloof. Dit het tyd geword om in meer diepte in te gaan op die grootheid van Yahweh. As daar, binne die konteks van geloof, ‘n KLEED VAN GROOTHEID om enige mens gehang kan word, dan is dit omdat Yahweh se grootheid in die lewe van daardie mens neerslag gevind het, en weerkaats het na buitentoe. Dit sal ons dus nie ver bring as ons van menslike grootheid praat, maar ons ondersoek nie ook die Oorsprong en die Bron van hierdie grootheid nie. Yahweh se grootheid is multi-dimensioneel. Dit kan op ‘n groot verskeidenheid terreine gesien en beleef word. En een hiervan is die terrein van die Skepping.

Baie mense meen as jy meer oor die skepping wil weet, moet jy die boek GENESIS lees. Die Hebreeuse naam “Bereshiet” beteken immers: “In die begin” en die boek begin letterlik met Genesis 1:1 wat sê: “In die begin het Elohiem die hemel en die aarde geskape.” Maar ons moenie vergeet dat selfs OPENBARING ook oor die skepping praat en oor die grootheid van die Een wat alles geskape het nie. “U is waardig, o Yahweh en ons Elohiem, om te ontvang die grootheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape”, het die 24 ouderlinge in Openbaring 4:11 uitgeroep, terwyl hulle voor die Skepper neergebuig het en hulle krone voor sy troon neergegooi het. In Openbaring 14:7 het een van die boodskappers met ‘n groot stem aan mense uit al die volke en tale en nasies gesê: “Gee eer aan Yahweh en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.” Hulle wat deesdae met allerlei nuwe en VINDINGRYKE TEORIEË na vore kom, oor hoe die aarde ontstaan het, behoort kennis te neem daarvan dat selfs in die bedeling wat nog voorlê, die boodskap helder en duidelik verkondig en gehoor sal word dat dit Yahweh is wat die hemel en die aarde en alles daarin, gemaak het.

Die feit dat daar ook in die PSALMS telkens oor die grootheid van die skepping gepraat word, is net so betekenisvol. Die Psalms is meestal LIEDERE wat gesing is, en wat uit LOF EN VERWONDERING gebore is. Wanneer jy iets aanskou of beleef wat so groot en oorweldigend is, dat jy dit skaars in woorde kan uitdruk, dan dryf dit jou dikwels tot liedere en gedigte. Baie van die Psalms is gebore uit verwondering oor die grootheid van die SKEPPING. “Deur die Woord van Yahweh is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër. Hy versamel die waters van die see soos ‘n hoop; Hy bêre die wêreldvloede weg in skatkamers”, só staan daar in Psalm 33:6-7. Baie mense sal sê: Wat ‘n SNAAKSE MANIER om die skepping te beskryf! Maar die vraag is: Hoe anders moet jy die proses beskryf waarin dinge tot stand gekom het wat vir ‘n mens, of tegnologie, of die wetenskap, of die filosofie, onmoontlik is om te verklaar of na te boots?

Dit is Yahweh wat die hemel geskape en dit UITGESPREI het (of soos ‘n boekrol oopgerol het – Jes 34:4), en die aarde UITGESPAN (uitgestrek) het saam met dit wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem gee en gees (inblaas) aan die wat op die aarde wandel, sê die profeet YeshaYahu in Jesaja 42:5. Hoekom staan hier dat die Skepper die hemel uitgesprei het en die aarde uitgespan het? Is dit dan nie ‘n bewys dat die aarde (en selfs die hemel) PLAT is nie? Nee, dis ‘n poging van iemand wat Yahweh se grootheid probeer beskryf in terme en beelde wat aan hom bekend was en wat weet dat hy nie genoeg woorde en taal en kennis het om die grootheid van die Een te beskryf wat alles rondom hom gemaak het en lewensasem en gees in hom geblaas het nie.

Dis op DIESELFDE MENSLIKE MANIER (onvolledig en onwetenskaplik) dat die hele proses van die skepping ook in Genesis 1 en 2 beskryf word. Net soos wat die DAG VAN YAHWEH aan die einde nie noodwendig ‘n dag van 24 uur sal wees nie, net so was die dae van die skepping nie noodwendig 24 uur lank nie (wat egter op geen manier wegneem van die feit dat Yahweh doelbewus op die sewende “dag” gerus het nie). En net soos wat ons as mense nie naastenby ‘n begrip het van TYD EN TYDSVERLOOP in die bedeling wat kóm, wat sal oorloop in die ewigheid nie, net so kan ons ook nie ‘n begrip vorm van die tyd en die tydsverloop tussen die skepping en die menslik onvolmaakte beskrywing daarvan in Genesis 1 en 2 nie, al het die oorvertellers en die skrywers destyds met hulle BEPERKTE INSIG vir ons die tydsverloop probeer aandui. En net soos wat Openbaring beskryf dat Yahweh in die bedeling wat voorlê, van BOODSKAPPERS gebruik sal maak om sy volmaakte plan uit te voer, net so het Hy waarskynlik van boodskappers gebruik gemaak, reg aan die begin, om sy skeppingsplan uit te voer, sodat Hy op die sesde dag kon sê: “Laat ONS mense maak na ONS beeld en na ONS gelykenis” (Gen 1:26). Niks hiervan neem enigiets weg van die feit dat Yahweh die soewereine Skepper is en dat die skepping een van die eerste plekke is waar ons sy ongeëwenaarde grootheid kan raaksien nie.

In die boek van JOB, wat deur meeste kommentators beskou word as die OUDSTE BOEK in die Skrif, tref ons hierdie aangrypende uitspraak oor die skepping aan: “Vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou bekendmaak; of praat met die aarde, dat die aarde jou onderrig, en laat die visse van die see jou vertel. Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van Yahweh dit gemaak het nie? Dat Hy die Een is wat verantwoordelik is vir die siel van alles wat leef, en die gees van alle menslike vlees” (Job 12:7-10). Natuurlik kan die diere en die voëls en die visse en die aarde nie PRAAT nie. Maar tog “vertel” al hierdie dinge van die grootheid van die Een wat dit gemaak het. En hulle “vertel” dit op ‘n manier dat Job uiteindelik die vraag vra: Wie weet nie dat die hand van Yahweh dit alles gemaak het nie? Hoe moet hulle dit weet? Hoekom is dit so vanselfsprekend dat hulle dit moet weet (let wel: WEET, nie SIEN nie)? Die antwoord is duidelik: Hulle behoort dit sonder enige twyfel te WEET, omdat hulle Yahweh en sy werke en sy grootheid alreeds in hulle eie lewens gesien en ervaar het. Hulle wat al gesien het hoedat daar ander wonderwerke deur die hand van Yahweh plaasgevind het, behoort sonder enige twyfel te weet, dat dit ook Sy Hand is wat die diere en die voëls en die visse en die hele aarde geskep het.

Dit is nie net die skrywers van die 66 boeke in die Skrif, wat Yahweh dubbel en dwars vereer as die Skepper van hemel en aarde nie. In die boek van die WYSHEID VAN SALOMO, ‘n apokriewe boek wat nie deel is van die 66 bekende boeke nie, maar deur talle gelowiges, selfs so vroeg as vóór die geboorte van die Messias, as geloofwaardig en opreg en opbouend beskou is, word daar geskryf oor mense wat vuur en wind en water en sterre as afgode vereer. As hierdie mense bekoor word deur die skoonheid van vuur en wind en water en sterre, sê die skrywer van hierdie boek, dan moet iemand tog net vir hulle vertel hoeveel groter die skoonheid en voortreflikheid van die Skepper is, “for He was the very source of beauty that created these things” (Wisdom 13:3).

In nog ‘n apokriewe boek, die boek van SIRAG, lees ‘n mens hierdie juweel oor die grootheid van Hom wat alles geskape het: “Ek wil jou graag herinner aan die werke van Yahweh en jou vertel wat ek gesien het. Deur die woorde van Yahweh het sy skeppingswerke tot stand gekom en die hele skepping is onderworpe aan sy wil. Die lig van die son wat op al die werke van Yahweh val, maak dit onmoontlik om nie die voortreflikheid van die Skepper raak te sien nie” (Sirag 42:15-16, vanuit ou Engels vertaal in verstaanbare Afrikaans). Dit is interessant dat die Naam “Yahweh” in die oorspronklike Hebreeuse manuskripte van hierdie boek (wat ongeveer 150 jaar vóór Messias geskryf is) verberg word deur dit met DRIE YOD’S te skryf ( י י י), en dat hierdie Naam in die Engelse vertaling, net soos die geval met meeste Bybels, met “the Lord” vertaal word.

Dit is ’n saak om van te huil as jy besef dat daar nog steeds mense en bronne is wat praat oor die grootheid van die skepping en die Skepper, maar dat hulle dan sy Naam VERBERG OF VERSWYG, asof sy Naam niks met sy Grootheid te make het nie. En dit, terwyl Psalm 148 duidelik vir ons sê dat nie net ons as mense nie, maar ook die boodskappers van die hemel, spesifiek die Naam van Yahweh behoort te loof, oor die besonderse manier waarop Hy alles wat ons rondom ons kan sien, tot stand gebring het: die son en die maan en die sterre; die hemel en die watermassas; die seediere en die dieptes van die see; vuur, hael, sneeu, mis en stormwind; berge, heuwels, vrugtebome en sederbome; wilde diere, vee, kruipende diere en gevleuelde voëls. Waarom is Yahweh se Naam vir ons SO KOSBAAR? Daar is baie redes hiervoor, en hierdie rede is een daarvan: Omdat Jesaja 43 verklaar dat daar in die laaste dae ‘n opdrag uit die mond van Yahweh sal uitgaan wat só sal klink: “Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af, ELKEEN WAT NA MY NAAM GENOEM IS en wat Ek geskape het tot my eer, wat Ek geformeer het en wat Ek gemaak het (vers 6 en 7). Ons kan mos nie sê dat ons deur Hom gemaak is en na sy Naam genoem is, as ons agter húlle aan piekel wat sê dat sy Naam nie GENOEM mag word nie! Kom ons verbreek hierdie onnatuurlike stilte oor sy Naam en loof die Naam van Yahweh wat ons geskape het tot sy eer!