DIE FEESTE VAN 2023 IN ‘N NEUTEDOP
14 Oct

alternate text‘n Paar dae gelede was daar ‘n bydrae op die ElimPlus gonsgroep waarin iemand haar belewenis van VERLEDE NAWEEK SE SUKKOT KAMP by Yzerfontein in die vorm van sketse en ‘n gebed neergepen het. Daardie bydrae is baie positief deur almal op die groep ontvang. Want by die feeste is die klem méér op belewenis en gedeelde vreugde en spontane interaksie, as by meeste van ons ander byeenkomste. Daar kom emosies los en daar word dinge ervaar, en geen twee mense se ervaring is presies dieselfde nie. Daarom was dit goed om te hoor hoe iemand haar belewenis in die vorm van ‘n GEBED voor Yahweh gebring het. Hy is immers die Een wat hierdie feeste ingestel het en wat, so glo ons, by Yzerfontein vir ons gewag het omdat Hy dáár ‘n afspraak met ons gehad het.

Ons het by die EINDE van die fees-siklus van hierdie jaar gekom. Kom ons kyk vir oulaas terug na die feeste van die afgelope jaar en neem iets hiervan met ons saam in die NUWE PERIODE wat voorlê. Dit sal help dat hierdie hoogtepunte van die afgelope jaar nie soos ‘n VAE HERINNERING, en soos losstaande en terloopse gebeurtenisse uit ons sisteem verdwyn nie. Die Skrif sê immers vir ons dat die feeste EWIGE INSETTINGE is, nie iets wat bloot kom en gaan en dan vergeet word nie. Ons is nou in daardie deel van die jaar waarin die fokus al hoe meer val op die einde van die jaar en DESEMBER, en die fees van die groen boom en die rooi mus. Kom ons neem ‘n stap terug na die roete van die Woord en herinner mekaar nog ‘n keer aan die WARE FEESTE van die Skrif, die afgelope jaar, wat vir ons die waarheid van Yahweh en van sy Seun Y’shua, op die suiwerste moontlike manier gebring het.

Met PESAG EN ONGESUURDE BRODE het ons met nuwe oë gekyk na gedeeltes soos Deuteronomium 16:14 (Jy moet vrolik wees op jou fees, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Lewiet en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is) en Esra 6:22 (Hulle het die Fees van die Ongesuurde Brode met blydskap sewe dae lank gehou; want Yahweh het hulle verbly). Ons het ontdek dat die feeste in die algemeen, maar veral ‘n fees-week soos die Fees van Ongesuurde Brode, Yahweh se HEMELSE MEDISYNE is, wat ‘n beter teenvoeter as enige ander medisyne is, teen twee van die grootste siektes van ons dag: die siekte van eensaamheid en die siekte van hartseer en swaarmoedigheid. Let op die klem wat hier geplaas word op VROLIKHEID EN BLYDSKAP. En dis nie ‘n aangeplakte blydskap nie. Daar staan duidelik: Yahweh het hulle verbly. En let op die klem op vreemdelinge, slawe en weduwees. Mense wat so maklik in EENSAAMHEID kan verval. Mense wat voel dat hulle na die rante toe uitgeskuif is. Ons liefdevolle Vader het sy feeste ingestel om uitgeskuifde mense en onopsigtelike mense en skaam mense en hartseer mense in te trek en hulle harte te verbly met die bestanddeel van DIEPE VREUGDE EN BLYDSKAP wat hierdie wêreld nie ken nie, maar wat ‘n mens se lewe totaal kan verander!

Met SHAVUOT vanjaar het ons weer ‘n slag gekyk na die bekende Shavuot byeenkoms waarin Kefa (Petrus) ‘n kragtige boodskap aan ‘n groot groep Jode uit verskeie lande van die destydse Klein-Asië gebring het, en die boodskap was veral oor Y’shua se opstanding uit die dood. Kort hierna het Kefa en die ander apostels met sommige van die gelowiges gepraat wat by daardie Shavuot byeenkoms teenwoordig was en vir hulle vertel van die wonderwerke wat intussen gebeur het, onder andere ‘n kreupel man wat in die voorhof van die tempel genees is. En dan staan daar in Hand 4:24: “Toe hulle dit hoor, het hulle EENDRAGTIG DIE STEM VERHEF tot Elohiem en gesê: Meester, U is die Elohiem wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het.” En by ons eie Shavuot byeenkoms vanjaar het ons ook besluit om eendragtig die stem te verhef en sekere dinge teenoor mekaar en teenoor Yahweh te verklaar, wat ons lewens onherroeplik verander het. Een van hierdie verklarings het so geklink: “WE REST IN THE EXPECTATION THAT YAHWEH WILL NOT ALLOW US TO SEE CORRUPTION”. Tegnies gesproke, is ons nou in ‘n RUS periode wat die feeste betref. Maar dis nie ‘n passiewe, dooie rus nie. Nee, dis ‘n rus met ‘n VERWAGTING – a rest in expectation. En ons verwagting is gegrond op die feit dat ons met Y’shua verbind is – in sy Naam gedoop is. Net soos wat Y’shua se dood in ‘n OPSTANDING uitgeloop het, so is ons grootste verwagting dat ons en ons geliefdes, en ons broers en ons susters wat gesterf het, ook opgewek sal word uit die dood, by Y’shua se koms.

Toe ons op die aand van die nuwemaan vir YOM TERUAH bymekaar gekom het, het ons stilgestaan by een van die moeiliker gedeeltes in die Skrif: Deuteronomium 29:29 “Die verborge dinge is vir Yahweh onse Elohiem; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid.” Wat hierdie gedeelte selfs nog méér kompleks maak, is die feit dat daar in die Hebreeuse Bybel, uit die bloute uit, 11 AGTEREENVOLGENDE DIAMANTVORMIGE KOLLETJIES, bokant die letters van die woorde, “vir ons en ons kinders”, verskyn. Ons het na die moontlike verklarings van hierdie verskynsel gekyk en toe tot hierdie geweldige TROOSRYKE SLOTSOM gekom: “On this day of Yom Teruah, we cannot help but remembering all the secret things that have been revealed to us. Not only the true matters that YAHWEH HIMSELF had kept secret for a season, and for a good reason, but also the truths that had been concealed BY MEN, for reasons that were not good at all. But today we rejoice in the revealed things, like the privilege of calling upon the Name of Yahweh – how it has changed the way we relate to our Creator and our Father – and the discovery of the blessing of the Shabbat and the feasts – how it brings us into the habit of preparing for the time to come. Therefore, let us rejoice at the sound of the shofar and in the revealed things of Yahweh our Elohim!

Tien dae later, op YOM KIPPUR, het ons in die Skrif ‘n duidelike verbinding gesien tussen Yom Kippur en die toekomstige, profetiese Dag wat dikwels die DAG VAN YAHWEH genoem word. Maar ons het ook ‘n tweede verbinding in die Skrif ontdek – die verbinding tussen die Dag van Yahweh en die NAAM VAN YAHWEH. In ‘n baie groot persentasie van die talle profetiese gedeeltes in die Skrif wat vooruit kyk na die toekomstige Dag van Yahweh, word daar na die belangrikheid van die Naam van Yahweh gepraat. En dieselfde profete wat oor die toekomstige Dag van Yahweh geprofeteer het, het ook geprofeteer oor die koms van ‘n Gesalfde, of ‘n MASHIÁG, wat mense met Yahweh sou versoen, op ‘n manier soortgelyk aan die versoening van Yom Kippur. Vandag herken ons hierdie beloofde Mashiág as Y’shua wat 2000 jaar gelede in Betlehem gebore is. En hierdie Y’shua wat die profesieë so goed geken het, dat hy die groot kokkedoor skrifgeleerdes van sy dag op hulle neuse laat kyk het, het geweet dat sy koms (en veral sy dood en opstanding) met VERSOENING en die toekomstige DAG VAN YAHWEH te make het. Bo alles het Hy geweet wat die diepe betekenis van die Naam van Yahweh was en hoe absoluut deurslaggewend die aanroep van die Naam van Yahweh vir die REDDING van mense is. Die profeet JOËL het dit in soveel woorde uitgespel en KEFA het dit op Shavuot herhaal: “Elkeen wat die Naam van Yahweh aanroep, sal gered word.” Dis teen hierdie agtergrond dat Y’shua in die heel laaste sin van sy bekende gebed in Johannes 17, gesê het “Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en SAL DIT VERDER (AAN HULLE) BEKEND MAAK …” Daar is min twyfel dat die herlewing in die aanroep van die Naam van Yahweh oor die afgelope 20 of 30 jaar, niks anders is nie as Y’shua wat sy BELOFTE gehou het. Hy het die Vader se Naam verder, en dieper, en opnuut, aan sy volgelinge bekend gemaak, soos Hy lank gelede belowe het!

En verlede Shabbat, by Yzerfontein, het ons die koue en die wind trotseer en die HUTTEFEES afgesluit deur herinner te word daaraan dat, alhoewel ons vooruit kyk na die AGTSTE DAG en na ‘n totaal nuwe soort interaksie met Yahweh en sy Seun Y’shua, ons op hierdie oomblik nog steeds in die WILDERNIS is, en met gees, siel en liggaam op die beskerming van Yahweh aangewese is. Ons het ‘n leidraad gevind in die naam “YZERFONTEIN” en gesien dat die twee komponente “yster” en “fontein” albei in die Skrif ter sprake kom, wanneer daar oor die wildernis periode, voor die koms van die Messias gepraat word. Yahweh self sal voor ons uit gaan en die hoogtes gelykmaak en die YSTERGRENDELS stukkend slaan, soos daar in JESAJA 45 staan. En terselfdertyd sal Hy ons, te midde van baie ontberinge, STERK SOOS YSTER maak. Terwyl ons die hitte van die stryd en die gloed van die son in hierdie woestyn, daagliks aan ons eie lyf voel, verseker ons getroue Ontfermer ons in JESAJA 49 dat Hy ons sal lei en ons saggies sal aanbring by FONTEINE VAN WATER. Een van die visioene van Openbaring wat die naaste hieraan kom, is die vrou van OPENBARING 12 wat deur die draak tot in die woestyn vervolg is. In ’n laaste, desperate poging om hierdie vrou te vernietig, het die draak met alles wat hy het, oorlog gevoer teen die vrou. Maar Yahweh het sy boodskappers gestuur om haar te BESKERM en die gelowiges wat hulle oog gehou het op Y’shua – hulle wat deur hierdie vrou verteenwoordig word – het DIE DRAAK OORWIN deur die bewaring van die gebooie van Elohiem, deur bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis. Hierdie Lam is terselfdertyd ook die SEUN aan wie die vrou voorheen geboorte geskenk het en wat weggeruk is na Elohiem en na sy troon en wat daar sal bly tot op die bestemde tyd, wanneer die aankondiging uit die hemel gemaak sal word: “Nou het die verlossing en die krag en die koningskap die eiendom van ons Elohiem geword, en die mag van sy Gesalfde; want die groot aanklaer van ons broers is neergewerp” (Opb 12:10). Ons het reeds gesê dat ons op die oomblik rus met ‘n VERWAGTING. Hierdie verwagting is nie vaag en onduidelik nie. Dis nie ‘n “pie in the sky when you die” nie. Ons verwag en sien uit na die oomblik wanneer daardie fenomenale AANKONDIGING gemaak sal word: Nou het die verlossing en die krag en die heerskappy die eiendom van ons Elohiem geword; nou sal die mag van sy Gesalfde gesien kan word; nou sal elke tong erken dat Y’shua waarlik deur Yahweh aangestel is en nou sal elke knie voor Hom buig. Daar is vir ons geen groter verwagting as hierdie oomblik nie.