DIE EEN WAT MET BERGE PRAAT
9 Dec

alternate textOns het voorheen verwys na die grootheid van Yahweh wat onder meer in die skepping gesien kan word. Dis nie asof die skepping letterlik kan praat nie. En tog sê PSALM 19 dat daar dag na dag ‘n onhoorbare boodskap deur die skepping uitgestuur word. Maar daar is ‘n soortgelyke aspek van Yahweh se grootheid waarby ons nog nie spesifiek stilgestaan het nie. ‘n Minder bekende aspek, maar nie minder belangrik nie. Yahweh is nie net die Een wat DEUR die skepping met ons praat nie. Hy is ook die Een wat dikwels MET die skepping praat – met die BERGE en met die SEE en met die BOME en met die WILDERNIS. En in hierdie kommunikasie tussen die Skepper en sy handewerk, kom ons selfs nog méér te wete oor die ALLESOORTREFFENDE GROOTHEID van Yahweh. Hoe graag wil ons Vader nie met ONS as sy kinders praat nie! Daardie deel van sy skepping aan wie Hy by uitstek die VERMOË gegee het om te luister en te verstaan en terug te praat. En hoe dikwels praat Hy met ons, maar ons hoor net wat ons graag wil hoor! Want Hy het ons NIE NET geskape met die vermoë om te kan hoor nie. Hy het ons ook geskape met die vermoë om te kan KIES wat ons wil hoor en met die vermoë om TOE TE SLAAN soos ‘n boek, as ‘n woord wat van Hom af kom, nie ‘n goeie sensasie in ons ore veroorsaak nie. Dis een van die dinge wat die Skepper die meeste bedroef – wanneer hulle wat KAN hoor, nie WIL hoor nie. Daarom word die Skepper, minstens 70 keer in die Skrif, beskryf as die een wat met berge praat, en ander dele van die skepping, wat ons nog altyd beskou het as LEWELOSE DINGE wat nie kan hoor of verstaan nie. Maar uiteindelik help dit ons om te verstaan hoe GRAAG hierdie Vader wil hê dat sy EIE KINDERS na Hom sal luister en hoe BEDROEF Hy daaroor is dat ons kapasiteit om te hoor, en ons begeerte om te hoor, dikwels niks meer is as die hoor-kapasiteit van ‘n berg of ‘n boom of ‘n klip nie.

In die boek van YermeYahu (Jeremia) word hierdie punt seker die sterkste na vore gebring. Die Vader praat vir die soveelste keer met sy volk in Jer 22:21: “Ek het met jou gepraat in jou sorgelose rus, maar jy het gesê: Ek wil nie luister nie. Dit was jou weg van jou jeug af, dat jy na my stem nie geluister het nie.” En dan, net ‘n paar verse later in die hoofstuk, vind ons hierdie verrassende woord: “O Land, land, land, hoor die woord van Yahweh!” (Jer 22:29). As julle dan nie wil hoor nie, sal Ek my tot die LAND wend waarin julle woon. Miskien sal die vlaktes en die heuwels en die uitgestrekte landskap my woorde hoor en ag slaan daarop! Of, soos die profeet Esegiël in een van sy visioene uitgevind het: Miskien is daar ‘n groter kans dat ‘n vallei vol DOODSBEENDERE die Woord van Yahweh sal hoor as mense wat op die oog af, blakend gesond is! En die Een wat mag het oor lewe en dood, wat die klein beentjies in die oor kan laat vibreer en die doodsbeendere in ‘n graf kan laat herrys, gee opdrag aan die profeet: “Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: Dor bene, hoor die woord van Yahweh!” (Eseg 37:4).

Om te demonstreer hoe oneindig lief Hy ons het, maar ook om te demonstreer dat Hy met die uitspreek van ‘n woord, selfs in ‘n vakuum, dinge kan laat gebeur, het Yahweh dikwels vir sy profete gesê om met LEWELOSE DINGE te praat. Jeremia moes nie net met die land praat nie. By ‘n ander geleentheid moes hy met die HEMEL praat. “Verbaas julle hieroor, o hemele, en word stok styf van skrik, sê Yahweh” (Jer 2:12). Watter gebeurtenis is SO GEWELDIG dat selfs die hemele daaroor sidder? Die volgende vers gee vir ons die antwoord: “My volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.” As jy eers die fontein van lewende water verlaat en vir jou gebarste reënbakke begin uitkap, het jy jou kosbaarste besitting prys gegee en daarmee jou siel ingeruil, sodat jy met ‘n dwase wêreld kan saampraat wat sê: ‘n dooie, selfgemaakte reënbak is beter as ‘n lewende, standhoudende fontein.

Soms spreek Yahweh die berge aan om ellende en teëspoed oor sy eie volk te BRING. Maar ander kere spreek Hy die berge aan om sy volk uit teëspoed en ellende te RED. “Berge van Yiesraél, hoor die woord van die Meester Yahweh … Kyk, Ek bring ‘n swaard oor julle … vanweë my volk se ontugtige hart wat van My afgewyk het” (Eseg 6:3,9 – hier hoor ons ‘n woord van ELLENDE, uitgespreek deur ‘n Elohiem van liefde, wat net die beste vir sy volk begeer). Maar dan weer, die ander kant van die muntstuk. “Ek het dit teen jou, o berg van Babel, wat verwoesting en verminking aan Tsion aangebring het. Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou van jou rots fondasies laat afrol” (Jer 51:25 – hier hoor ons ‘n woord van VERLOSSING, uitgespreek deur dieselfde Elohiem van liefde, wat selfs tot in Opb 18:10 volgehou het met sy belofte om Babel te veroordeel, toe hy die STAD van Babel – nie die berge nie – aangespreek het: “Wee jou, o groot stad Babel, o sterk stad, want in een uur het jou oordeel gekom!”

En om dubbel seker te maak dat almal wat hulle geloof in Yahweh stel, nie vir die BERGE wat voor hulle kom staan, terugdeins nie, lees ons in Sagaria 4:6 en 7 hierdie aangrypende woord: “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê Yahweh van die leërskare. WIE IS JY, GROOT BERG? Voor Zerubbabel (die instrument in my hand) sal jy tot ‘n gelykte word!” As Zerubbabel dan so ‘n groot instrument in Yahweh se hand was, waarom is daar ‘n “babel” in sy naam, wat “verwarring” beteken? Omdat die eerste deel van sy naam, “zerub”, afgelei is van ‘n woord wat beteken: “to flow away”. As ons kies om te staan en te val by die beginsel van “nie deur krag of deur geweld nie, maar deur die Gees van Yahweh”, sal Babel en sy gevare en sy gruwels, al hoe meer wegvloei, en verwarring nie meer die laaste woord in ons lewens spreek nie.

Toe MOSHEH 120 jaar oud was (en seker al te oud om te sing!) het hy ‘n lied voor die hele volk uitgespreek (“ge-davar”, nie “ge-shir” soos wat ‘n mens sou verwag nie). Met hierdie lied wou hy, sover as wat dit met menslike woorde moontlik was, uiting gee aan die grootheid van Yahweh. En hy begin die lied met hierdie woorde: “Luister, o hemel, dat ek kan praat, en laat die aarde die woorde van my mond hoor” (Deut 32:1). Waarom begin hy deur met die HEMEL EN DIE AARDE te praat? Waarom begin hy nie liewer deur te sê, “Luister, o almal wat deel is van hierdie vergadering” nie? Die antwoord is waarskynlik dat Mosheh in sy gedagtegang na iets werklik groot en majestueus gesoek het, as KLANKBORD vir die lof wat hy wou bring aan die Een wie se WERKE absoluut volkome was, en wie se WEË in alle opsigte regverdig was, en wie se GETROUHEID sonder enige gelyke was. Dis op dieselfde vlak as Psalm 114:7 waarin die skrywer uitroep, “Beef, o aarde, voor die aangesig van Yahweh” en Psalm 66:1 waarin daar gesing word, “Juig tot eer van Elohiem, o ganse aarde” en Psalm 98:4 en 100:1 wat albei die refrein gebruik, “Juig voor Yahweh, o ganse aarde!” en 1 Kron 16:23 waar Dawid en Asaf en die Leviete die bekende woorde gesing het, “Sing tot eer van Yahweh, o ganse aarde!”

Daar is ‘n keersy van die muntstuk wat besonders mooi is. Die berge en die woestyn en die bome en die see en die klippe “PRAAT” DIKWELS TERUG met Yahweh (en met ons). Veral in die boek van YeshaYahu (Jesaja). Die woestyn antwoord met blydskap (Jes 35:1); die gejuig van die wildernis kan gehoor word (Jes 35:2); die eilande sing ‘n nuwe lied (Jes 42:10); die hemel jubel en die dieptes van die aarde juig (Jes 44:23); die berge breek uit in gejubel (Jes 49:13); die geklank van liedere kom van die kant van die puinhope van Tsion (Jes 51:3) en die puinhope van Jerusalem jubel almal saam (Jes 52:9); die bome van die veld klap hande (Jes 55:12) en die blydskap van die sipresse kan skaars weggesteek word (Jes 14:8). En toe Y’SHUA op ‘n keer in Jerusalem ingekom het en die skare mense langs die pad spontaan uitgeroep het “Geseënd is die koning wat kom in die Naam van Yahweh, het sommiges bitterlik geïrriteerd met die skare geraak – moontlik omdat hulle die sogenaamde onuitspreeklike Naam van Yahweh, nie net UITGESPREEK het nie, maar UITGEJUBEL het. Maar Y’shua antwoord met een van die kragtigste sinnetjies uit sy mond wat in al die geskrifte vir ons opgeteken is: “Ek sê vir julle, as die mense swyg, sal die klippe dit uitroep!”

Daar is ‘n realiteit wat in die Skrif aan ons geopenbaar word, waarbinne die klippe kan uitroep en die puinhope van Jerusalem kan jubel. Vir iemand wat die eerste keer met Yahweh en sy Woord te make kry, mag dit vreemd wees dat daar so dikwels met die stad, Jerusalem, gepraat word. “Hef jou stem op met mag, o Yerushalayiem”, staan daar in Jesaja 40:9. “Ons voete staan in jou poorte, o Yerushalayiem!” staan daar in Psalm 122:2. “As ek jou vergeet, o Yerushalayiem, laat my regterhand dan homself vergeet!” word verklaar in Psalm 137:5. “Was jou hart van sy boosheid, o Yerushalayiem” sê die profeet in Jeremia 4:14. En selfs Y’SHUA het op ‘n keer profeties (en namens Yahweh) met Jerusalem gepraat en gesê, “Yerushalayiem, Yerushalayiem, jy wat die profete doodmaak en die wat na jou gestuur is, stenig, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak, soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke, en julle wou nie (Luk 13:34). Jerusalem was deur die eeue heen ‘n stad wat gelaai is met betekenis. “There is something about Jerusalem that you can’t turn away from,” het iemand eenkeer gesê. Hierdie “iets” het te make daarmee dat Jerusalem DIE EEN PLEK OP AARDE is wat Yahweh vir Homself gekies het, en vir die dood en die opstanding en die hemelvaart en die wederkoms van sy Seun gekies het, en as die sentrum van die nuwe hemel en die nuwe aarde gekies het – die FOKUSPUNT van guns en verlossing en bemoediging en verwagting, met ‘n SPERDATUM wat nie bereken kan word nie, omdat Jerusalem ons POORT NA DIE EWIGHEID is. Moet ons verbaas wees daaroor dat nie net die psalm skrywers en die profete nie, maar ook die Messias en Yahweh self, nie net OOR nie, maar MET Jerusalem gepraat het? Is dit dan nie die stad wat verteenwoordigend is van GELOWIGES OOR GESLAGTE HEEN, wat deur die Gees van Yahweh gedring is om hulle aangesigte na die Skepper en sy woorde en sy woonplek toe te draai en hulle hoop op sy Messias te stel nie? Dis met sy eie volk en sy eie stad, maar UITEINDELIK OOK MET ONS wat Hy praat as Hy sê: “Skud jou los uit die stof, o Yerushalayiem, ontwaak en beklee jouself met sterkte, want jou Elohiem is Koning en Hy het jou vertroos en verlos … trek jou sierlike klere aan, want die eindes van die aarde sal die verlossing van ons Elohiem aanskou” (Jesaja 52).