MENSE WAT YAHWEH AS HULLE ELOHIEM BELY

alternate textWanneer dit kom by die bekende Parashah oor die uitstuur van die 12 verspieders – Parashah “Lech lecha” (“STUUR VIR JOU manne uit”) – word die vraag dikwels gevra waarom Yahweh vir Mosheh so ‘n vreemde opdrag gegee het. Veral waarom Hy die woorde “vir jou” gebruik het en byvoorbeeld nie gesê het nie: “vir My”, soos twee hoofstukke tevore, toe Yahweh vir Mosheh gesê het: “Bring VIR MY sewentig manne uit die oudstes van Yiesraél bymekaar …” (Num 11:16). Soos gewoonlik, het die ou rabbis ook hier ’n netjiese antwoord gereed gehad. Hulle vergelyk die Skepper se woorde in hierdie Parashah met ‘n ryk man wat ‘n groot wingerd gehad het. As die opbrengs van die oes GOED was, het hy sy manne opdrag gegee om die wyn na sy huis toe te bring. Maar as die opbrengs van die oes sleg was, en die wyn soos asyn gesmaak het, moes sy werkers die wyn na hulle eie huise toe gevat het. Net so, sê die ou rabbis, was dit toe die Skepper na die oudstes gekyk het in Num 11, hoe waardig hulle was en watter soort vrug hulle gedra het. Daarom het Hy sonder aarseling vir Mosheh gesê: Hulle behoort aan My – bring hulle na My toe. Maar toe die Skepper na die verspieders gekyk het en na die gesindheid van opstandigheid en na die saad van ongeloof in hulle harte, het Hy vir Mosheh gesê: Stuur VIR JOU manne uit. Hy het hulle nie by voorbaat verwerp of afgeskryf nie. Ter wille van Yahushua (Joshua) en Kaleb het Hy dit nie gedoen nie. Ter wille van sy verbond en sy beloftes het Hy dit nie gedoen nie. Maar die woorde “lech lechah” is vir ons ‘n leidraad, sê die rabbis, dat Yahweh geweet het dat die volk nog nie gereed was om in die Beloofde Land in te gaan nie en dat daar nog baie water in die see moes loop. Die byna ongelooflike vir my, is dat Yahweh, ten spyte daarvan dat Hy die wrange vrugte van ongeloof só vroeg reeds in die harte van 10 van die 12 verspieders kon raaksien, NOOIT, nie vir een oomblik nie, afgesien het van sy belofte om sy volk in die Beloofde Land in te lei nie.

En die vraag bly vassteek hier in ‘n mens se agterkop: Waarom sou Yahweh, as Hy geweet het dat 10 van die 12 verspieders met soveel negatiwiteit en vrees en bewing sou terugkeer van hulle van besoek aan die beloofde land, nog steeds voortgaan om aan Mosheh die opdrag te gee om die 12 verspieders uit te stuur? Waarom nie dan maar 12 ander verspieders kies nie? Of waarom nie dan net vir Yahushua (Joshua) en Kaleb alleen uitstuur nie? Die antwoord lê vir my opgesluit in die heel laaste vers van hierdie Parashah – Num 15:41: “Ek is Yahweh julle Elohiem wat julle uit Mietsrayiem uitgelei het om vir julle ‘n Elohiem te wees. Ek is Yahweh julle Elohiem.” Twee keer word hierdie stelling duidelik uitgespreek: Ek is Yahweh julle Elohiem. Ek is Yahweh julle Elohiem. Nie net enige Elohiem nie. Nie net ‘n magtige, soos wat baie ander nasies ook sogenaamde “magtiges” het nie. Nee, Ek is Yahweh, julle Elohiem. Ek is die Een wat nou hier is, in julle situasie van hierdie oomblik. Ek is ook die Een wat vóór vandag daar was. Toe julle bang was, was Ek dáár. Toe julle getwyfel het, was Ek dáár. Toe dit vir julle gevoel het of julle gaan wegsink, was Ek dáár. En Ek is ook die Een wat voor julle uit trek en wat maak dat die toekoms geen verskrikking vir julle hoef in te hou nie. Die Beloofde Land mag dalk op hierdie oomblik vir julle na ‘n onbekende en angswekkende vooruitsig lyk. Maar onthou: Ek is Yahweh julle Elohiem. En Ek is híér!

En telkens staan hierdie boodskap uit: Wanneer die volk die woorde gehoor het, “Ek is Yahweh julle Elohiem”, het dit daaroor gegaan dat Hy Yahweh, die Elohiem van die HELE volk was. Nie net die Elohiem van die sterkes nie. Nie net die Elohiem van die super-gelowiges (as daar ooit so iets bestaan!) nie. Nie net die Elohiem van die Joshua’s en die Kaleb’s nie. Hy is (veral) ook die Elohiem van die twyfelaars en die swakkes en die armes en die wat met angs vervul is en die “backsliders”. Hy distansieer Hom nie van die uitgeworpenes en die wat ge-“sideline” en deur mense oorgeslaan en misgekyk word nie. Trouens, as daar één is wat die randfigure en die beteuterdes wat in die skaduwees skuil, raaksien en selfs nader roep, dan is dit Hy wat nooit die kans laat verbygaan het om selfs vir die geringes onder sy volk te sê “Ek is Yahweh julle Elohiem” nie.

Die leesrooster stel voor dat Joshua 2 saam met die gedeelte oor die 12 verspieders gelees word. Dis nie moeilik om die verband tussen Joshua 2 en Numerie 13 raak te sien nie, want in Joshua 2 word daar óók verspieders uitgestuur – hierdie keer bevind die volk hulle reg teenaan die Beloofde Land (Oos van die Jordaan rivier) en word die verspieders spesifiek na Jerigo gestuur. En die getal verspieders was 2, nie 12 soos toe die volk nog in die woestyn, Suid van die Beloofde Land was nie. Ons weet nie wat die name van die 2 verspieders was nie. Daar is ‘n Joodse tradisie wat sê dat dit Kaleb en die priester Pineás of Pinegas was, maar daar is geen Skriftuurlike bewys hiervoor nie en boonop staan daar in Jos 6:23 dat die twee verspieders “jongmanne” was en ons weet dat minstens Kaleb nie meer jonk was toe die volk in die Beloofde Land ingetrek het nie.

Wat egter vir ons van besondere belang is, is dat die twee verspieders met Ragab in aanraking gekom het – ‘n vrou wat ‘n bedenklike reputasie in Jerigo gehad het. Sy het haar huis en haar hart vir hulle oopgemaak en onder meer vir hulle gesê, in Jos 2:11: “Ek weet dat Yahweh julle Elohiem die Elohiem in die hemel daarbo en op die aarde hieronder is”. En onmiddellik is ons weer terug by die woorde aan die einde van Parashah “Lech Lecha”: “Ek is Yahweh julle Elohiem”, en die herhaling van hierdie presiese woorde, asof die Een wat dit destyds uitgespreek het, vir sy eie volk ‘n leidraad wou gee dat daar nog méér is (méér as net fisiese Israel) wat hierdie woorde sou hoor en daarop sou reageer. Mense soos Ragab die Kanaäniet, oftewel Ragab die hoer – na wie daar later in die Joodse literatuur verwys word as een van die mooiste vroue wat ooit geleef het. Of sy fisies en uiterlik mooi was, weet ons eenvoudig nie. Maar dat sy innerlik mooi was, en geseënd en besonders en kosbaar in Yahweh se oë – ten spyte daarvan dat sy die reputasie van ‘n hoer gehad het – dit wéét ons. Want haar oë het daarvoor oopgegaan dat Yahweh ook háár Elohiem is, soos wat haar latere skoondogter, Rut die Moabiet, se oë daarvoor oopgegaan het dat Yahweh ook háár Elohiem is en soos wat ons oë daarvoor oopgegaan het dat Yahweh ook ons Elohiem kan wees. Wat ‘n voorreg vir ‘n buitestander, ja, selfs ‘n “outcast” om as MOOI en KOSBAAR in Yahweh se oë beskou te word – om toegang tot die binnekring te verkry en om te kan sê: Yahweh, U is nou ook mý Elohiem!

Die leesrooster van hierdie week stel verder voor dat Mat 10:1-14 ook saam met Num 13 tot 15 gelees word. My eie voorstel is dat ‘n mens die laaste twee getalle omdraai en dit maak: Mat 10:1-41, nie Mat 10:1-14 nie. Want die hele hoofstuk van Mat 10 is ‘n beskrywing van die uitstuur van die 12 dissipels – weliswaar nie as verspieders nie, maar as verspreiders van die Goeie Nuus dat die koninkryk van die hemel naby gekom het. En vers 41, spesifiek, is so treffend van toepassing op wat destyds met Ragab gebeur het: “Wie ‘n profeet ontvang omdat hy ‘n profeet is, sal die loon van ‘n profeet ontvang; en wie ‘n regverdige ontvang omdat hy ‘n regverdige is, sal die loon van ‘n regverdige ontvang.” Ragab het die twee verspieders miskien nie as profete ontvang nie (dalk hét sy!), maar sy het hulle beslis as “regverdiges” ontvang – daarom het sy (in die woorde van Y’shua, haar nasaat!), “die LOON van ‘n regverdige ontvang!” En die hele hoofstuk van Mat 10 (waar Y’shua uitdruklik opdrag gee dat die dissipels net op Jode moes fokus), gelees teen die agtergrond van wat ná die Shavuot van Hand 2 gebeur het (toe al hoe meer nie-Jode die boodskap van verlossing aanvaar het), is soos ‘n volmaakte bevestiging van die ontwikkelende patroon van die voor-Messiaanse periode: Eers was dit net die lede van die volk wat gehoor het “Ek is Yahweh julle Elohiem”. Maar daar was kere dat Yahweh hierdie woorde letterlik net so herhaal het. En vanwaar ons vandag staan, kan ons insien dat dit ‘n verborge manier was om aan te dui dat daar nog ‘n groep mense was, wat hierdie selfde woorde later óók sou hoor – ‘n groep mense van wie Ragab en haar skoondogter Rut die voorlopers sou wees.

Alhoewel die presiese uitdrukking “Ek is Yahweh julle Elohiem” nie woordeliks in Mat 10 voorkom nie, is daar iets wat ons nie moet miskyk in Mat 10 nie – veral in ‘n tyd waarin die aanbidding van die SEUN van Elohiem ‘n kultus geword het en die Een wat sy Seun gestuur het, al hoe meer uit die prentjie uitgeskuif word. Laat ons veral raaksien hoedat Y’shua nooit nalaat om te erken en uit te spreek dat die finale outoriteit en seggenskap van sy Vader af kom en nie van Hom (Y’shua) af nie en dat Yahweh (alleen) die ware Elohiem is: “Moenie julle kwel oor wat julle sal praat nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word … deur die Gees van julle Vader” (Mat 10:19-20); “die dienskneg is nie bo sy meester nie” (beide met verwysing na Homself as dienskneg van Yahweh, soos deur die profete uitgewys, én die dissipels as diensknegte van Y’shua – Mat 10:24); “Moenie mense en dinge vrees wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom (Yahweh) liewer wat die siel sowel as die liggaam kan laat verderwe” (Mat 10:28); “Niks sal met julle gebeur buite die wil van julle Vader in die hemel nie – Hy tel selfs die hare van julle hoof” (Mat 10:29-30); “Elkeen wat My bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemel is” (Mat 10:32). Hoe bely ‘n mens Y’shua voor die mense? Jy spreek dit uit teenoor mense dat jy oortuig is dat Y’shua die beloofde Messias is. En omdat jy hiervan oortuig is, slaan jy nie skielik ‘n ander koers in en verhef Y’shua uit die bloute uit tot Yahweh nie. Nee, jy doen wat Y’shua self, en al sy voorlopers, gedoen het: Jy erken dat Yahweh die enigste ware Elohiem is en dat Hy sy beloftes in Y’shua wáár gemaak het. En hoe bely Y’shua ‘n mens voor sy Vader? Deur voor sy Vader te verklaar: Hier is iemand wat glo dat u Dienskneg die beloofde Messias is en dat U as die enigste en ware Elohiem, my gestuur het. Maak hom of haar nou ook tot een van die wat aan U behoort!