YAHWEH SE WERK EN ONS WERK

alternate textIn Shemot (Exodus) 39, naby aan die einde van die Torah leesstuk van hierdie week, en nadat die bouproses aan die tentwoning voltooi is, is daar veral drie verse wat uitstaan: vers 32, 42 en 43: “So is dan al die werk aan die tentwoning van die tent van byeenkoms voltooi; en die kinders van Yiesraél het dit gemaak net soos Yahweh Mosheh beveel het; so het hulle dit gemaak … Net soos Yahweh Mosheh beveel het, so het die kinders van Yiesraél die hele werk gemaak … En Mosheh het die hele werk bekyk – en kyk, hulle het dit gemaak soos Yahweh beveel het, so het hulle dit gemaak. Toe het Mosheh hulle geseën.” ‘n Mens kan nie help om die duidelike ooreenkoms met Gen 2:1-3, aan die einde van die skeppingsverhaal, raak te sien nie: “So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle hele leërmag. En Elohiem het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En Elohiem het die sewende dag geseën en dit afgesonder, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat Elohiem geskape het deur dit te maak.” Let op die drie woorde, werk, voltooi en seën, wat in albei hierdie gedeeltes voorkom. As ‘n mens die hoofstukke in Shemot lees oor die bouproses van die tentwoning, besef jy dit was meer as net ‘n bouprojek – dit was ‘n soort skeppingswerk. Daar word telkens gesê dat die mense wat gekies is vir die verskillende fasette van hierdie bouwerk (soos Betsalél en Oholiáv), kunsvaardige manne en vroue was – mense aan wie Yahweh letterlik “wysheid van hart” gegee het om kreatief en skeppend deel te neem aan die proses om ‘n tentwoning, tot eer van Yahweh, op te rig. Dus het ons aan die begin van Genesis ‘n beskrywing van die skeppingswerk van Yahweh, waarin daar ‘n werk aangepak is wat voltooi is en daarna met seën bekroon is. En aan die einde van Exodus het ons ‘n beskrywing van die skeppingswerk van mense, waarin daar ‘n werk aangepak is wat voltooi is en daarna met seën bekroon is.

Daar is nog ander ooreenkomste ook tussen die skeppingswerk van Genesis en die skeppingswerk van Exodus. Die hele skeppingsverhaal tot en met Gen 2:3 is gebou rondom die tema van ‘n aantal sewes. Die skepping het sewe dae lank geduur. Die sewende dag is uitgesonder as ‘n dag van rus. Die heel eerste vers (in Hebreeus) bestaan uit sewe woorde. Die tweede vers bestaan uit 14 woorde. Die laaste drie verse (Gen 2:1-3) bestaan uit 35 (7×5) woorde. Die woord “Elohiem” kom 35 (7×5) keer voor. Die woord “eretz” (aarde) kom 21 (7×3) keer voor. In Exodus 35 tot 40 het ons dieselfde verskynsel. Wanneer die materiale wat vir die bouproses benodig word, beskryf word, voordat die name van Betsalél en Oholiáv genoem word, kom die woord “hart” sewe maal voor (Ex 35:5-29). Wanneer daar beskryf word op watter manier Betsalél en Oholiáv hulle werk gedoen het, kom die woord “hart” weer sewe keer voor (Ex 35:34 – 36:8). Die woord “terumah” (vrywillige bydrae, geskenk) kom sewe maal voor. Wanneer die werk aan die klere en uitrusting van die priesters beskryf word (Ex 39:1-31), kom die woorde “soos Yahweh Mosheh beveel het” presies sewe maal voor. En in hoofstuk 40 wanneer die laaste “final touches” van die totale bouwerk beskryf word, kom die woorde “soos Yahweh Mosheh beveel het” weer sewe maal voor.

Wat ‘n besonderse projek moes dit nie gewees het nie! Onthou dit was ‘n werk wat gedoen moes word. En die woord “werk” val nie altyd so maklik op mense se oor nie! Maar hierdie werk is nie halfhartig en teësinnig aangepak soos so baie projekte deesdae aangepak word nie. Nee, die werk is met entoesiasme aangepak – mense se harte was daarin; elkeen het alles gedoen wat in hulle vermoë was en het hulle heel beste gegee; almal wat enigsins kon, het vrywillige bydraes gebring, totdat daar later méér was as wat hulle vir die projek sou nodig hê; doodgewone mense het hulle kunsvaardigheid en kreatiwiteit op ‘n manier uitgeleef wat werklik tot eer van Yahweh gestrek het en, die belangrikste van alles, hulle het die werk voltooi, binne die beraamde tyd, sodat die tentwoning op die eerste dag van die eerste maand opgeslaan kon word en behoorlik kon funksioneer. En daarom het daar seën op die werk gerus. Toe Mosheh aan die einde van die bouproses seën oor die mense uitgespreek het, was dit eintlik maar net ‘n bevestiging van Yahweh se seën wat reeds oor hulle handewerk gerus het. Waarom? Omdat hulle nie afgewyk het van die patroon van “soos Yahweh beveel het” nie. Omdat hulle die taak voor hulle nie as ‘n las gesien het nie, maar as ‘n uitlaatklep van hulle dankbaarheid oor wat Yahweh vir hulle gedoen het.

Onder die antieke rabbi’s was daar ‘n sekere siening van werk, wat tot ‘n groot mate in die moderne tyd verlore geraak het. Hulle het geglo dat ons as mense wat daagliks met doodgewone werk hierdie op aarde besig is, in ‘n sekere sin, “skeppende medewerkers van die Almagtige” is, soos wat Mosheh en die volk “skeppende medewerkers” van Yahweh geword het toe hulle die tentwoning opgerig het. Daar is ‘n element van skepping en kreatiwiteit in elke eerbare werk onder die son. ‘n Mens skep nie net met jou hande nie. ‘n Mens skep ook met jou denke, met jou vaardigheid, met jou spesiale talente, met jou kommunikasie, met jou oordrag van kennis, met jou hulpverlening, met jou vermoë om te organiseer en met jou “terumah” – jou bereidheid om nie net jou besittings en jou talente en jou bydrae te gee nie, maar om van jouself te gee.

As ek na die mense kyk wat Yahweh rondom my geplaas het, dan sien ek baie foute en skete en tekortkominge, maar ek sien ook mense wat na die beeld van Elohiem geskape is. Mense wat oor skeppende vermoëns beskik, net soos Hy. Mense wat kreatief is. Mense wat kan werk. Mense wat kan dien. Mense met potensiaal om andere se lewens te verryk en te verbreed en te verleng. Mense wat kan bou – nie net huise en kaste en masjiene en rekenaars kan bou nie, maar ook verhoudinge en vertroue en ‘n nalatenskap (“legacy”) kan bou. En ek verwys hier glad nie na die New Age idee dat elke mens eintlik ‘n soort selfgemaakte “godjie” is wat nie ‘n Skepper nodig het nie! Yahweh sal altyd ons Skepper bly. Ons sal nooit meer as sy handewerk wees nie. Maar Hy sien kans om ons as instrumente in sy hand te gebruik. In sy voortgesette skeppingswerk hier op aarde verkies Hy om van mense gebruik te maak. Hiermee sê ek ook op geen manier dat jy ‘n sendeling of ‘n rabbi of ‘n priester of iemand met teologiese opleiding moet wees of iemand wat Hebreeus magtig is om ‘n instrument in Yahweh se hand te kan wees nie. Dis so ‘n wesenlike fout wat baie mense maak! Jou werk van elke dag – hoe gewoon of onaansienlik of onbekend dit ook al mag wees, is waar jy ‘n skeppende medewerker van Yahweh behoort te wees! As jy gaan probeer wag totdat jy eers sogenaamd “geestelik” bekwaam is, is die kanse baie goed dat jy kosbare tyd gaan verloor om soos daardie vroeë tabernakel-bouers eenvoudig jou hart in jou werk te sit en die taak wat reg voor jou oë is, te voltooi!

Ons weet nie presies hóé die seën geklink het waarmee Mosheh die volk geseën het, toe die bouwerk aan die tentwoning voltooi is nie. Maar ek kan my voorstel dat dit iets soos die volgende was: “Mag Yahweh se teenwoordigheid en sy eer altyd sigbaar en tasbaar in die werk van julle hande wees!” Toe Yahweh aan die begin geskep het, het Hy vir ONS, as mense, in gedagte gehad. Dit was sodat ons kon lewe en seën kon ervaar, dat Hy ons gemaak het. Wanneer ons hier op aarde, as sy skeppende medewerkers, ons nederige werk ook as ‘n stuk skeppingswerk sien, dan behoort ons deurentyd vir HOM, as ons Skepper in gedagte en voor oë te hou. Die gebed van ons hart behoort te alle tye aan te sluit by die seën wat Mosheh heel moontlik oor die volk uitgespreek het: Yahweh, U het my gemaak. My hele lewe behoort op U ingestel te wees. Daarom bid ek dat u teenwoordigheid en u eer altyd sigbaar en tasbaar in die werk van my hande sal wees. My werk moet asseblief ‘n heenwysing na U wees. My werk moet ‘n spieël wees waarin u kwaliteite en u Gees raakgesien kan word. As ek dit nie kan regkry om my hart in my werk te sit nie, verander dan asseblief my hart! As dit my gesindheid is om net uit my werk te ontvang en ek sukkel om daarin iets van myself te gee, leer my asseblief meer oor die betekenis van “terumah” en vrywillige offergawes. As die opdragte en bevele en vyandigheid van my werkgewer vir my te veel raak, herinner my asseblief aan die woorde wat U beveel het en help my om daardie woorde in my werksituasie uit te leef. En as daar bittermin of selfs niks in my werksituasie is om oor opgewonde te raak nie, help my om my werkplek as ‘n uitleef-plek in te ruim, waar ek kan opgewonde raak en oorloop van blydskap oor al die goeie dinge wat U oor my en my mense se pad gebring het!