REINHEID VAN HART

alternate textAugustinus was een van die bekendste antieke teoloë wat in die 4de eeu geleef het en het allerweë bekend staan as “Augustine of Hippo”. Hippo verwys na ‘n streek in die hedendaagse Algerië, in Noord-Afrika, waar Augustinus gebore is. Hy was na alle waarskynlikheid deel van die “Berber” bevolkingsgroep wat in lande soos Algerië, Tunisië, Libië en Morokko gewoon het. Die bekende Franse sokkerspeler, Zinedine Zidane (berug vir sy omstrede kopstamp in die 2006 sokker wêreldbeker wedstryd teen Italië), was ook ‘n Berber wat in Algerië gebore is. Nie baie mense is bewus daarvan dat Afrika op só ‘n vroeë stadium een van die grootste rolspelers in die vroeë kerk opgelewer het nie – ‘n man wat deur baie beskou word as ‘n groter hervormer as Luther en Calvyn, omdat baie van die “nuwe idees” waarmee hierdie twee manne in die 16de eeu vorendag gekom het, alreeds deur Augustinus in die 4de eeu uitgespreek is.

Daar is baie dinge wat Augustinus gesê en geleer het, waarmee ons natuurlik nie vandag sal saamstem nie. Dis nie eens nodig om vandag op hierdie dinge in te gaan nie. Maar tog het hy ‘n soort insig in die Woord openbaar wat jy nie by baie mense sal aantref nie. Dis hý wat op ‘n keer gesê het: “Die Almagtige het ons as mense vir Homself gemaak en ons harte sal onrustig in ons bly, totdat dit rus vind in Hom”. Dan is daar nog ‘n uitspraak wat hy gemaak het, wat aansluit by die tema van REINHEID, waarby ons vandag in meer detail wil stilstaan. In Engels klink hierdie uitspraak só: “Can human folly harbour a more arrogant or ungrateful thought than the notion that whereas the Creator makes man beautiful in body, man makes himself pure in heart?” Die punt wat Augustinus wou maak, is dat reinheid van hart nie iets is wat ons as mense self kan optower nie – dit is iets wat Yahweh alleen vir ons kan gee. Net soos wat ons nie ons uiterlike gelaatstrekke en liggaamsbou kan verbeter en herskep nie, net so kan ons nie uit ons eie uit, ons hart verbeter en herskep nie.

En tóg roep die Woord ons op om suiwer van hart te wees. As ons ontdek dat daar onsuiwerheid of valsheid of besoedeling of verkeerde motiewe in ons harte is, rus die verantwoordelikheid op ons, as mense wat sê dat ons Yahweh dien en Hom lief het, om ons harte te suiwer, deur van die onsuiwerheid ontslae te raak. Iemand het eenkeer die punt gemaak dat om kronies onsuiwer gedagtes te koester, in wese nie veel anders is as om jouself of iemand anders dood te maak nie. As jy iemand dood maak, bring jy sy lewe tot ‘n einde. As jy aanhoudend onsuiwer gedagtes in jou hart koester, bring jy miskien nie ‘n fisiese lewe to ‘n einde nie, maar jy bring aspekte van jou eie lewe tot ‘n einde, wat op die einde nie net ‘n impak op jouself het nie, maar ook op die mense rondom jou. Met volgehoue onsuiwer gedagtes maak jy jou eie onskuld dood. Jy tas jou eie gesondheid aan. Jy bring ‘n einde aan eienskappe soos stabiliteit, betroubaarheid, geloofwaardigheid, integriteit, opregtheid, eerlikheid, vertroue, kalmte, vreugde, vrede en openhartigheid. In kort, om onsuiwer gedagtes in jou hart en in jou denke te koester, sonder om iets daaraan te doen, is ‘n manier om jouself stukkie vir stukkie dood te maak en boonop jouself van ander mense af te sny, kompleet asof jy vir hulle dóód is!

Ek dink beide Augustinus (wat gesê het nét Yahweh kan ons harte vernuwe) en húlle wat sê dis ons eie verantwoordelikheid om ons harte te vernuwe, is reg. As Yahweh deur sy Gees jou lewe aanraak, dan ontdek jy ‘n nuwe sensitiwiteit in jou binnekant vir wat reg en wat verkeerd is – óók wat jou onsigbare gedagtes en motiewe betref. Dis deur SÝ toedoen dat jy dan besef dat gedagtes en motiewe en denkpatrone wat voorheen vir jou die normaalste ding op aarde was, nou nie meer aanvaarbaar is nie. Dit slaag nie die toets van sy lig wat alles verhelder en sy Woord wat (soos Heb 4:12 sê) “deurdring tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en ‘n beoordelaar is van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” Maar wanneer jy hierdie ontdekking maak, is dit JOU verantwoordelikheid om iets daaraan te doen! Yahweh, wat jou lewe aangeraak het en jou sensitiwiteit opgeskerp het, verwag dit van jou! Daarom sê Ps 24:3-4: “Wie mag klim op die berg van Yahweh? En wie mag staan in sy afgesonderde plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie.” Daarom sê Ps 73:1: “Waarlik, Elohiem is goed vir Yiesraél, vir die wat rein van hart is.” En daarom sê Spr 27:19: “Soos die gesig van ‘n mens in water weerspieël word, so word die karakter van ‘n mens in sy hart weerspieël.” Dieselfde Esegiël (Yegezkel) wat sê dat Yahweh ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees in die binneste van sy volgelinge sal gee (Eseg 36), sê ook dat niemand met ‘n onbesnede hart in Yahweh se plek sal inkom nie (Eseg 44). ‘n Onbesnede hart is ‘n hart wat nie besny is nie – en besny, volgens die eenvoudige betekenis van die Hebreeuse woord “arel”, is ‘n aanduiding van iets wat ONS moet doen, as ‘n uitvloeisel van dit wat Yahweh gedoen het. ‘n Mens sien dit veral in ‘n vers soos Jer 4:4 “Besny julle vir Yahweh en verwyder die onbesnedenheid van julle hart”. Een van die sterkste opdragte wat na ons toe kom vanuit die Woord, is dat Yahweh ons binnekant vernuwe, maar as ons nie hierop reageer deur werk te maak daarvan om ons harte op praktiese maniere skoon te maak van elke vorm van onreinheid nie, kan Yahweh se Gees nie in ons woon nie. So eenvoudig soos dit.

Toe Y’shua in sy bergrede gesê het “Geseënd is die wat rein van hart is, want hulle sal Elohiem sien”, het Hy nie bedoel “Gaan doen ‘n ondersoek na jou hart om te sien of dit rein is nie.” Nee, wat Hy bedoel het, was dit: “Identifiseer die onreinheid van jou hart en raak ontslae daarvan.” Maak nie saak of jy lankal op die pad van geloof is of onlangs eers op die pad gekom het nie. Maak nie saak of jy oud of jonk is nie. As jy jonk is, is daar ‘n goeie stuk aansporing uit Ps 119:9, en ook ‘n praktiese wenk oor hoe om jou hart te suiwer: “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.” Vir die ouer geslag wat hulle harte wil suiwer hou, is daar ook ‘n aansporing uit die Woord, net soos vir die jonger geslag: “Ons gee nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook (m.a.w. “al word ons ouer”), nogtans word die innerlike mens dag na dag vernuwe” ( 2 Kor 4:16). Dis moontlik vir iemand wat ouer geword het – iemand wie se gedragspatrone al vasgelê is, iemand wat glo dat hy of sy nie meer maklik kan verander nie – om na die innerlike mens (in die area van die hart en die denke) DAG NA DAG VERNUWE te word! Gaan dit vanself gebeur? Nee, jy moet dit LÁÁT gebeur. Jy moet dit nie maar net oorsien en LÁÁT staan nie. Waarom? Omdat Yahweh suiwer en rein en onbevlek en afgesonder is. En omdat Hy deel van jou lewe is. En omdat Hy vir jou sê: Wees afgesonder, want Ek is afgesonder! En omdat Hy belowe dat Hy jou tot die bittereinde toe sal dra: “Tot die ouderdom toe is Ek dieselfde, ja, tot die grysheid toe sal Ek julle dra; Ek het dit gedoen, en Ek sal julle opneem, en Ek sal dra en red” (Jes 46:4). Al wat daar by ons moet wees – tot die dag van ons dood – is dieselfde afsku en dieselfde weersin wat daar by Yahweh is oor alles wat onsuiwer en onrein is.

Die gebed van Ps 51:10 mag nooit ophou om die gebed van ons harte te wees nie: “Skep vir my ‘n rein hart, o Elohiem, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees.” Dis hierdie gesindheid van Dawid wat gemaak het dat Yahweh nie sy rug op hom gedraai het toe hy die sonde teen Batseba (oftewel Batsheva) en haar man, UriYah, gepleeg het nie. Die kombinasie van die twee name Batsheva en UriYah, die twee mense wat betrokke was by seker die grootse misstap en krisis in Dawid se lewe, is ‘n bedekte beskrywing van dit wat Dawid in hierdie donker uur van Yahweh leer ken het en wat hom uiteindelik by die punt gebring het om hierdie gebed te bid: “Skep vir my ‘n rein hart, o Elohiem”. UriYah beteken letterlik “My vuur is Yahweh” en “Batsheva” beteken “dogter van die eed”. Ons het verlede week in die voorval rondom Nadav en Avihu gehoor dat daar soms ‘n vuur van die aangesig van Yahweh uitgaan. En daardie vuur is dikwels bedoel om ons te suiwer. Die één aspek van ons lewe wat altyd heel eerste aan die Vader se suiweringsproses onderwerp behoort te word, is die area van ons hart en ons denke. Dit help net mooi NIKS om jou lewe aan ‘n oppervlakkige “spot clean” te onderwerp en jou hart oor te slaan nie. Dit het Dawid met ‘n baie duur les geleer. Maar die naam van die vrou wat die hoofrol in hierdie drama gespeel het, het vir Dawid daaraan herinner dat Yahweh nie net ‘n Elohiem van vuur is nie, maar ook ‘n Elohiem van eed en van belofte en van verbond.

Die woord vir “eed” (“sheva”) wat verskuil lê in die naam van Batseba is ‘n uiters interessante woord. Woordeboeke verklaar dat hierdie woord letterlik beteken “to seven oneself, in the sense of: repeating a declaration seven times”. Die aftelling van die Omer is vir ons ‘n herinnering daaraan dat Yahweh ‘n eed gesweer het dat Hy hulle wat aan Hom behoort, nie sal los nie. Daar is nie ‘n duideliker demonstrasie van “to seven oneself” as die aftelling van sewe weke, van sewe dae elk, tussen Pesag en Shavuot nie. Vandag het ons by die voltooiing van die tweede sewe gekom – die 14de dag van die Omer. Die omertelling, wat in wese ‘n herhaling van sewes is (nie net ‘n enkelvoudige herhaling nie, maar ook ‘n sewevoudige herhaling), is ‘n herinnering aan die eed wat Yahweh gesweer het. Soms ervaar ons Hom as ‘n Elohiem van vuur, maar sy vuur is bedoel om ons te suiwer. En in die heel eerste plek, om ons gedagtes te suiwer. Kom ons hou vas aan sy woord en sy eed en sy belofte. En kom ons bring ons gees in lyn met sy Gees, wat soms ook genoem word die Afgesonderde Gees – Yahweh se intieme betrokkenheid by ons om van ons afgesonderde mense in die ware sin van die woord te maak!