PERSPEKTIEWE OOR TERUGKEER

alternate textOns het verlede week begin om die aspek van “re-alignment” in die Skrif te ondersoek. Dit het veral gegaan oor die verstellings wat ons van tyd tot tyd in ons lewens moet aanbring om in lyn te kom met die patroon van die Skrif en van die Elohiem wat Homself in die Skrif aan ons openbaar. Dit het gegaan oor die keuse om absoluut lojaal aan Yahweh te wees, soos die keuse wat Rut gemaak het, toe sy as Moabiet vir Naomi gesê het: Jou volk is my volk, jou Elohiem is my Elohiem, en by implikasie: Jou geloof is my geloof. Die hoofsaak wat na vore gekom het, uit al die gedeeltes wat ons ondersoek het, is dat hierdie soort aanpassings of verstellings nie sommer net op ‘n drafstap, so in ‘n mens se “stride”, gebeur nie. Nee, dit vra ‘n verandering van hart, ‘n verandering van koers en ‘n verandering van leefstyl. Die begrip in die Skrif wat hierdie soort verandering die heel beste beskryf, is die begrip van “terugkeer” of “omdraai” of “bekeer”, wat gewoonlik met die Hebreeuse woord “shuv” weergegee word. Hierdie woord kom meer as 1000 maal in die Hebreeuse deel van die Skrif voor. Sommige kere is die woord nie so swaar gelaai met die idee van ‘n keuse wat jy maak, soos ander kere nie. As daar byvoorbeeld in Gen 3 staan “Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer (shuv)”, dan is dit nie asof jy ‘n keuse hierin moet uitoefen nie. Dis bloot ‘n stelling van iets wat ‘n feit is, en wat hoogstens vir ons sê: maak die heel beste van daardie periode tussen die twee “stof-tye” van jou lewe: die stof waar jy vandaan kom en die stof waarheen jy op pad is. Maar dan is daar ander kere dat die woord “shuv” gebruik word, wat vir ons as gelowiges uit en uit voor ‘n keuse stel: Soos Rut wat vir Naomi gesê het “Ek wil saam met jou teruggaan (shuv) na jou volk” (Rut 1:10) of soos die profeet YeshaYahu wat dit duidelik stel dat mense wat hulle nie bekeer (shuv) nie, nie kan gesond word nie (Jes 6:10) of soos die profeet YermeYahu wat verklaar dat mense nie die nuwe verbond sal smaak voordat daar nie ‘n gesindheid van terugkeer (shuv) en berou plaasgevind het nie (Jer 31:19).

Daar is natuurlik ook dinge of situasies waarheen ‘n mens verkieslik NIE moet teruggaan nie. Daar staan in Spreuke 26:11: “Soos ‘n hond wat na sy uitbraaksel teruggaan (shuv), is ‘n dwaas wat sy sotheid weer ophaal.” Ons behoort nie terug te keer na dit wat ons vantevore van Yahweh en sy Woord vervreem het nie. Ons behoort nie terug te keer na daardie tyd toe ons in halstarrigheid en rebelsheid sekere duidelike opdragte van die Woord eenvoudig verontagsaam het nie. Ons behoort nie terug te keer na die foute wat ons voorgangers gemaak het nie – selfs al was dit uit onkunde. Joh 13:17 gee vir ons die beginsel dat as jy sekere dinge voorheen nie geweet het nie en jy kom dit later te wete, dan is jy eers geseënd as jy dit dan ook DOEN! Hoe meer ons ontdek dat ons voorgangers ons van die wal af in die sloot gehelp het, hoe meer doelgerig behoort ons ons daarop toe te spits om weer by die plek van waarheid en gehoorsaamheid uit te kom. Dit maak nie saak of hierdie voorgangers in ons eie familie was, of voorgangers, leiers, kerke, organisasies, groepe wat oor ‘n korter of langer tydperk ons geloof beïnvloed en, veral, besoedel het nie. Maar kom ons keer terug na daardie dinge in ons lewe waarheen ons BEHOORT terug te keer, as ons tot die besef kom dat ons in een of ander area van ons lewe van koers af en uit lyn uit is. Dis onmoontlik om in een sessie op elke enkele aspek van hierdie groot tema te fokus. Ons sal bloot kyk na 4 belangrike perspektiewe wat in die Woord na vore kom.

Die perspektief van Job. Job se vriende het nie altyd vir hom die beste raad gegee nie. Maar hulle was ook volgelinge van Yahweh en onder die dinge wat hulle vir Job gesê het, is daar heelwat wat absoluut waar en volkome reg was. Hulle het net die fout gemaak wat ons ook dikwels maak en dit is om iemand wat in lewensnood verkeer met waarheid en met “doctrine” te peper, in plaas daarvan om liewer die persoon met deernis en begrip en guns en lankmoedigheid by te staan. In Job 22: 23 het Elifaz vir Job gesê: “As jy tot die Almagtige terugkeer (shuv), sal jy gebou word; as jy die onreg verwyder uit jou tent.” Vandag weet ons daar was nie onreg in Job se tent nie, maar wat ‘n geweldige belangrike beginsel is dit nie hierdie nie! As jy tot die Almagtige terugkeer, sal jy GEBOU word! En dan voeg hy boonop by, in die gedeelte wat volg: “En gooi die gouderts in die stof en tussen die rotse van die spruite die goud van Ofier. Dan sal die Almagtige jou gouderts wees en stawe silwer vir jou. Want dan sal jy in die Almagtige jou verlustig en jou aangesig tot Elohiem ophef.” Wie van ons wil nie opgebou word deur die Almagtige nie? Maar dikwels is dit ons weiering om te “re-align” wat ons terughou! Ons wil nog krampagtig vashou aan wat vir ons voel soos gouderts in die stof en tussen die rotse. En ons besef nie dat die Almagtige vir ons ons gouderts en ons stawe silwer wil wees nie. Ons ken nie die ervaring van jou in HOM te verlustig en jou aangesig na HOM toe op te lig nie!

Die perspektief van Psalms. Ons ken die woorde van Psalm 19:7 baie goed: “Die Torah van Yahweh is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van Yahweh is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige.” Dit verkwik die siel … wat sou daarmee bedoel word? Letterlik staan daar: Dit laat die siel terugkeer (shuv)! Wie van ons was nie al by ‘n punt in ons lewe waar ons absoluut begeer het, en selfs daarvoor gebid het, dat ons siel tog net weer sal terugkeer na Yahweh? Dat ons tog net weer ons vrede in Yahweh sal terugkry! Dat ons net weer die ervaring sal beleef dat ons met Hom kan kontak maak – dat daar nie iets is wat ons kommunikasie met Hom belemmer nie. Niks verkwik ‘n mens se siel só as wanneer jy terugkeer nie. Terugkeer, waarnatoe? Na die torah (letterlik: die onderrig) en die getuienis van Yahweh (letterlik: die dinge wat Hy oor en oor aan sy volk herhaal het). “Terugkeer” in die Skrif is nie ‘n abstrakte, ongedefinieerde begrip nie. Nee, dis ‘n terugkeer met ‘n spesifieke fokuspunt – die onderrig en die getuienis van Yahweh. En in Openbaring word hierdie tweede aspek, die aspek van “getuienis” nie minder nie as sewe maal verbind met Y’shua, die Messias – met ander woorde, dis nou nie meer net die getuienis van Yahweh in die voor-Messiaanse Skrifte nie, dis nou ook die getuienis aangaande Y’shua in die na-Messiaanse periode.

Die perspektief van YeshaYahu. Jesaja (YeshaYahu) 35 is een van die hoofstukke in die Skrif wat die duidelikste praat oor die herstel wat Yahweh in die toekoms op die aarde sal bring. Die woestyn en die wildernis sal bloei soos ‘n narsing, die oë van die blindes en die ore van die dowes sal geopen word, die lammes sal spring soos ‘n takbok, die stommes sal woorde van blydskap oor hulle lippe laat kom, in die dorslande sal daar fonteine van water wees, plus nog ‘n hele aantal ander groot veranderinge wat sal plaasvind. Ons verstaan is dat dit ‘n beeld is van die periode wat in Openbaring die vrederyk van 1000 jaar genoem word. Wat sal die posisie wees van hulle wat hulle vertroue in Yahweh geplaas het en wat die Gesalfde Een wat Hy gestuur het, as Messias erken het? Jes 35:10 verklaar onomwonde: “Die losgekooptes van Yahweh sal teruggaan (shuv) en na Tsion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle ontvang, maar kommer en gesug vlug weg.” Dis vir my baie betekenisvol dat daar spesifiek gesê word dat hulle sal teruggaan. Net soos wat ons hier die Shabbat moet hou om ons in te oefen vir die Groot Rus wat voorlê, en hier elke maand die nuwemaan moet erken om ons voor te berei vir die Nuwe Bedeling wat voorlê, en ons hier van onrein kosse moet onthou, om ons voor te berei vir daardie toekomstige Grootpad waarvan die einste Jes 35 sê dat GEEN ONREINE op daardie pad gevind sal word nie, net so is ons nou in die tyd van voorbereiding, waarin ons vir ons moet inoefen om terug te keer, soveel keer as wat dit nodig is, sodat ons eendag kan deelneem aan daardie groot gebeurtenis van terugkeer na die plek wat Yahweh vir ons voorberei het.

Die perspektief van Y’shua. In dieselfde hoofstuk (Luk 15) waarin Y’shua die gelykenis van die verlore seun vertel het wat sy deel van die erfporsie opgeëis het en dit toe gaan vermors het, maar later na sy pa se huis toe teruggekeer het (shuv), word die gelykenis van die man met die 100 skape en die een wat weggeraak het, ook vertel. Die man het die 99 skape eers net so gelos om die verlore skaap te gaan soek en daar was groot blydskap toe hy hierdie skaap gevind het. Y’shua gebruik dan hierdie gelykenis om die les te leer (Luk 15:7,10): Daar is blydskap voor die boodskappers van Elohiem oor een sondaar wat hom bekeer (shuv). Hiermee gee Y’shua vir ons ‘n kykie in die hemelse waardestelsel. Daar is nie altyd blydskap in die hemel oor dieselfde goed waaroor óns blydskap ervaar nie. Maar oor elke sondaar, elke eenvoudige mens, elkeen wat die einde van sy kragte bereik het en wat terugkeer na Yahweh toe, oor elkeen van hierdie geringes wat terugkeer, dit kan ons weet sonder om te twyfel, is daar groot blydskap in die hemel! En by hierdie blydskap behoort ons aan te sluit en die Naam van ons hemelse Vader oor sulkes te verhef!