MINDER BEKENDE HERVORMERS 4

alternate textOns het die afgelope jaar of wat by ‘n paar geleenthede stilgestaan by sogenaamde “minder bekende hervormers” wat ‘n groot impak op hulle eie generasies en ook die generasies daarna, gehad het. Die laaste hervormer wat ons bespreek het, was Jonathan Sacks, die bekende Hoofrabbi van Brittanje wat verlede jaar tragies oorlede is. Vandag wil ek graag, in aansluiting by verlede week se boodskap, die soeklig op Augustinus van Hippo laat val. Sommiges sal kapsie maak, omdat Augustinus juis een van die leidende rolspelers was wat die vroeë kerk op ‘n roete van verwarring en verstarring geplaas het – ‘n roete waarin daar méér op ingewikkelde teorieë en doktrines gefokus is as op die suiwer en eenvoudige leer van die Skrif. Laat ons maar eerlik wees: Die vroeë kerk in sy geheel, vir ‘n hele aantal eeue lank, het stadig maar seker in hierdie rigting begin beweeg en selfs iemand so briljant en so toegewyd soos Augustinus was nie by magte om hierdie tragiese, magtige momentum te keer nie. Maar ek is nie een van daardie mense wat glo dat daar NIKS goeds uit die eerste paar eeue ná die aardse lewe van Y’shua die Messias gekom het nie. Net soos ons by mense soos Jonathan Sacks kan leer, alhoewel ons met baie van sy vernaamste idees nie kan saamstem nie, net so kan ons kosbare dinge leer by iemand soos Augustinus van Hippo, sonder om met al sy idees saam te stem. Die geskiedenis het oor en oor bewys dat AL die fasette van die waarheid nie net op een plek of in een tydvak of by een persoon gesoek moet word nie. Ons behoort nooit té eng of té eksklusief of té eendimensioneel of té arrogant te wees as ons oor die waarheid dink of praat nie – asof ons self só briljant en só ingelig en só goed toegerus is om die Skrif te verstaan, dat ons eie idees ALLE ander idees van ALLE tye oortref – en dít terwyl “ons” idees dikwels net ‘n eggo is van iets wat ons op sosiale media of die internet gesien of gehoor het!

Augustinus, so het ons verlede week gehoor, het in die 4de en 5de eeu geleef en is in Afrika gebore. Hy het meestal in Latyns geskryf en meer as 5 miljoen woorde van al sy skrywes het vir ons behoue gebly. Anders as latere hervormers soos Luther en Calvyn, het Augustinus ‘n veel meer gunstige opinie van die Jode gehad en sterk daarin geglo dat Yahweh die Jode spesiaal uitverkies het om deur middel van hierdie volk sy plan op aarde te volbring. Vir die tyd waarin hy geleef het, het Augustinus ook ‘n buitengewone sterk houding teenoor slawerny ingeneem en in een van sy boeke skryf hy dat slawerny ‘n “product of sin” was en “contrary to the divine plan of the Almighty”. Baie min van sy tydgenote sou bereid wees om so iets te sê. Kom ons kyk na sommige van sy ander uitsprake, en na wat ons vandag daaruit kan leer.

1. In aansluiting by sy “verligte” siening van slawerny, het Augustinus eenmaal geskryf: “A good man, though a slave, is free; but a wicked man, though a king, is a slave. For he serves, not one man alone, but what is worse, as many masters as he has vices (wrongdoings).” Ek dink elkeen van ons weet wat Augustinus hiermee bedoel het. Ongehoorsaamheid aan die Woord en ontrouheid aan Yahweh bring ‘n soort beklemming en oppressie oor ‘n mens wat soortgelyk is aan die belewenis van wanneer iemand jou onregverdig behandel en onnodig laat swaarkry. In hierdie geval is dit JY wat JOUSELF onnodig laat swaarkry. En as jy toelaat dat daar ‘n klomp dinge in jou lewe insluip wat indruis teen die Woord, dan is dit kompleet asof jy ‘n slaaf is – nie net van een meester nie, maar van ‘n hele klomp! In die Skrif is dit nie ‘n vreemde gedagte nie dat om dinge in jou lewe toe te laat wat teen die Skrif indruis, ‘n duidelike vorm van slawerny is (Titus 3:3-5; Rom 8:15; Heb 2:15, ens).

2. “Right is right even if no one is doing it; wrong is wrong even if everyone is doing it.” Almal van ons sal hiermee saamstem. Die probleem is net, wat vir een persoon reg is, is nie vir die ander persoon reg nie. En wat vir die een persoon verkeerd is, is nie vir ander verkeerd nie. So hoe moet ons weet? Die antwoord is natuurlik dat ons die kriterium vir reg en verkeerd BUITE ONSSELF moet soek. En veral, dat ons dit by die MEES BETROUBARE BRON moet gaan soek. En hierdie Bron is Yahweh en dit wat Hy in sy Woord vir ons gegee het. Kom ons bly by die reg en die verkeerd van Yahweh se Woord – al is ons verreweg in die minderheid. En as ons eerlik met onsself is en nie honderd persent seker is of ons die Woord op enkele punte reg verstaan nie, kom ons luister na mense wat ons kan vertrou en kom ons vertrou die mense wat ons glo Yahweh as leiers opgerig het en gebruik. Kom ons weerhou ons daarvan om ons blind te staar teen ‘n vermoede van reg en verkeerd en ‘n ongetoetste opinie van reg en verkeerd, wat die eenheid tussen gelowiges bedreig wat in Yahweh se oë so kosbaar is!

3. “Hope has two beautiful daughters; their names are Anger and Courage. Anger at the way things are, and Courage to see that they do not remain as they are.” Woede is meeste van die tyd nie ‘n goeie eienskap nie, maar die Skrif moedig die soort “afgesonderde woede” of “geregverdigde woede” aan waarvan Augustinus gepraat het. In Num 25 het Yahweh vir Pinegas, die seun van Aharon, die hoëpriester, geprys omdat hy man-alleen met gramskap en met woede opgetree het teen een van sy volksgenote wat ‘n direkte opdrag van Yahweh verontagsaam het. In Neh 5 hoor ons dat die groot hervormer, Nehemia of NegemYah, met verontwaardiging gereageer het toe hy uitvind dat daar op ‘n onregverdige manier geld gemaak word uit mense wat hy as sy broers beskou het. Ons het vandag ook manne en vroue nodig wat hulle regverdige en getemperde WOEDE kan opvolg met die soort MOED waarvan Augustinus gepraat het – die moed om ‘n positiewe impak te maak op die wêreld rondom jou en jou deel te doen om dit wat rondom jou verkeerd is, weer reg te stel.

4. “The truth is like a lion; you don’t have to defend it. Let it loose; it will defend itself.” Hierdie stelling is een wat ons gerus kan onthou. Waarheid hoef nie met ‘n groot gestoei of met sterk oorredings-vernuf of met bonatuurlike tekens of met indrukwekkende formules en baie woorde verduidelik en verdedig te word nie. Waarheid het ‘n manier om self-verduidelikend te wees – om eenvoudig en sonder vuurwerke jou hart aan te raak en jou kop te swaai. Boonop is dit nie ons as mense se werk om andere van waarheid te OORTUIG nie. Wat ons moet doen, is om van die waarheid te GETUIG. Sag 12:10 “Maar oor … die inwoners van Yerushalayiem SAL EK UITGIET die Gees van guns en smekinge …” Joh 8:32 Julle sal die waarheid ken, en DIE WAARHEID SAL JULLE VRYMAAK.

5. “Your best servant is the person who does not attend so much to hearing what he himself wants as to willing what he has heard from you.” Uiteindelik is hierdie stelling van Augustinus ‘n aanduiding van watter soort volgelinge ons van die Vader behoort te wees. Ons behoort op geen manier daarvan terug te deins om onsself as diensknegte van Yahweh en van sy Seun, Y’shua, te sien nie. Bekendes in die Skrif soos Shaúl (Paulus) en Yaakov (Jakobus) het nie gehuiwer om na hulleself te verwys as ‘n “dienskneg (Grieks: “doulos” – letterlik: “slaaf”) van Elohiem (of Yahweh)” nie. Dis egter een ding om jouself ‘n dienskneg te noem en heeltemal ‘n ander ding om werklik ‘n dienskneg te wees. Die vraag wat ons vir onsself moet beantwoord, is: Na wie luister ons regtig? Luister ons na wat ons self graag wil hê of het ons die gesindheid van “willing” en “absolute submission” wanneer dit kom by die dinge wat ons by Yahweh gehoor het. As ons nog probeer redes vind waarom dit nie nodig is om die dinge te doen wat duidelik in die Woord geleer word nie, is ons nog nie ‘n “doulos” van ons hemelse Meester nie. As ons begeerte om dinge vir onsself so maklik as moontlik te maak, GROTER is as ons begeerte om Yahweh te behaag, dan tel ons nie onder die ware diensknegte van Yahweh nie.

6. “My soul is like a house, small for you to enter, but I pray you to enlarge it. It is in ruins, but I ask you to remake it. It contains much that you will not be pleased to see: this I know and do not hide. But who is to rid it of these things? There is no one but you”. Hierdie uitspraak wat vir ons iets van Augustinus se hart openbaar en wat kom uit sy bekende Confessions, is een waarmee elkeen van ons kan identifiseer. In ons diepste wese ervaar ons die geweldige kloof tussen ons en Yahweh. Ons kan nie met Hom vergelyk word nie. Ons is Hom nie waardig nie. Die blote gedagte dat Hy deur sy Gees hier binne-in ons wil woon, is byna verbysterend! En tog het ons by dieselfde punt gekom as Augustinus: Hoe anders gaan ons gesond word? Hoe anders gaan ons vrede vind? Hoe anders gaan ons lewe vir ons sin en betekenis kry? Daarom is dit ook ons gebed: Maak my siel ruimer om plek te maak vir U. Maak dit suiwerder sodat ek ook iets van u grootheid kan uitstraal. Net U kan dit doen. Daar is niks wat ek meer begeer as dit nie!