KYK, AL KAN JY NIE ALTYD SIEN NIE!

alternate textVerlede week het ons gehoor hoe sentraal die aspek van hoor en luister (Heb “shema”) in die hele Skrif, maar veral in die boek Devariem (Deuteronomium) is en dat die woord “shema” meer as 90 keer in hierdie boek alleen voorkom. En hierdie week, asof die nuwe Parashah ons bevindinge van verlede week verkeerd wil bewys, word die Parashah genoem: “Re’eh” – “Kyk”! Nie Luister nie, maar Kyk! “Kyk (Heb. ‘Re’eh’), Ek hou seëninge en vloeke aan julle voor” – só staan daar aan die begin van die Parashah (Deut 11:26). En … “Kom na die fees toe sodat Ek na julle kan kyk” (Heb. “Re’eh”) – só staan daar letterlik twee keer aan die einde van die Parashah (Deut 16:16). Om te luister is geweldig belangrik, maar om te kyk – veral om op ander maniere te kyk as net met die doel om iets fisies waar te neem – is ewe belangrik. Dit is die sentrale boodskap van hierdie week se Parashah wat bekend staan as Parashah “Re’eh”. Kom ons kyk (en luister!) na ‘n paar verskillende maniere van “kyk” wat in hierdie besonderse Parashah na vore kom:

1. Kyk, in die sin van Kies. Deut 11:26-28: Kyk, ek hou aan julle vandag seën en vloek voor – die seën as julle luister na die gebooie van Yahweh … en die vloek as julle nie luister na die gebooie van Yahweh julle Elohiem nie. Die implikasie is duidelik: Die keuse lê by julle. Kies julle seën of kies julle vloek? Anders as wat baie mense graag wil glo, is daar nie iets tussen-in nie. ‘n Mens sou die keuse ook só kon verstaan: Kies jy die populêre, selfgesentreerde patroon van die wêreld of kies jy die buitengewone en afgesonderde patroon wat deur die Skepper van die heelal voorgehou word aan hulle wat Hy geskep het? Ja, dis twee uiterstes, maar beide lê voor jou as haalbare werklikhede – iets wat jy inderdaad kan bereik – afhangende van jou keuse. Daar is meer in hierdie lewe as die keuse tussen twee politieke standpunte, die keuse tussen om te bly waar jy is of ‘n nuwe koers in te slaan, die keuse tussen om ingeënt te word of nie ingeënt te word nie en deesdae selfs die keuse van watter geslag jy verkies, manlik, vroulik of iets tussen-in. Kyk baie mooi, sê Deut 11 vir ons, die belangrikste keuse van almal gaan daaroor om te luister of nie te luister nie – na die Een aan wie ons ons lewe, ons hoop, ons alles, te danke het!

2. Kyk, in die sin van Selfondersoek. Soms moet ‘n mens kyk na dit wat voor jou is, soos in die vorige paragraaf. Op ander tye moet ‘n mens egter kyk na dit wat binne-in jou is. In alle eerlikheid. Sonder om vir jouself te lieg. Dit is wat Deut 12:8 vir die volk probeer uitwys het: “Julle moet nie doen net soos ons vandag hier doen nie (of: soos wat almal tot dusver gedoen het nie) – elkeen net maar wat reg is in sy eie oë.” Interessant dat hier na die oë verwys word: Doen wat reg is in jou eie oë. As jy na jouself kyk – jouself beoordeel – en jy sê vir jouself: Alles is reg … my lewe is okei … ek is op die regte pad – terwyl dinge NIE okei is nie en jy NIE op die regte pad is nie, dan het jy nie gekyk soos wat Yahweh wil hê jy moet kyk nie. Twee keer in die boek Rigters staan hierdie woorde (een keer reg aan die einde van die boek): “In daardie dae was daar geen koning in Yiesraél nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.” Wat ‘n verskriklike misleiding is dit nie as ‘n mens aanhou om te doen wat reg is in jou eie oë?! Daarom sê Spr 14:12: “Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.” Mag die Gees van Yahweh ons leer om liewer te doen wat reg is in sy oë!

3. Kyk, in die sin van Opkyk. In elkeen van die twee hoofstukke Deut 12 en Deut 26 word die uitdrukking “voor die aangesig van Yahweh” nie minder nie as vier keer gebruik – méér as in enige ander hoofstuk van die boek Devariem (Deuteronomium). Die volk moes eet voor die aangesig van Yahweh. Hulle moes vrolik wees voor die aangesig van Yahweh. Hulle moes hulle eerstelinge bring voor die aangesig van Yahweh. Ander gedeeltes in die boek Devariem sê hulle moes hulle geregtigheid bewys, hulle dienste lewer, hulle gruwels verwyder, hulle geskille uitklaar en hulle toewyding aan die verbond verklaar – alles voor die aangesig van Yahweh. Waarom spesifiek “voor die aangesig van Yahweh”? Dit is baie moeilik om die Hebreeuse uitdrukking ten volle te verstaan (een woordeboek bestee 16 kolomme – gelykstaande aan 16 bladsye – om al die betekenisse van slegs die eerste letter van hierdie uitdrukking te probeer verduidelik). Die maklikste manier om dit in gewone taal om te sit, is om te sê dat Yahweh met hierdie uitdrukking, “voor my aangesig”, vir die volk wou leer om nie net rondom hulle te kyk nie, maar in ALLES wat hulle doen, op te kyk en met Hom rekening te hou. “Voor sy aangesig” behoort die oriëntasie-punt van elke gelowige se lewe te wees. Hy is ons kompas en padkaart. Hy maak ons koppe weer skoon as ons duiselig word van al die rondkyk om te probeer uitvind watter idee in die wêreld daarbuite nou eintlik vir ons die beste is!

4. Kyk, in die sin van Liefhê. In Deut 15:9 staan daar: “Bewaar jouself, dat daar in jou hart geen slegte gedagte is nie … en jou oog jou arm broer nie skeef aankyk nie, sodat jy hom niks gee nie.” Die mens se oog word in die Skrif in verband gebring met HOE ‘n mens na iemand kyk. As jy jou broer “skeef” aankyk, beteken dit jy heg nie juis waarde aan hom nie, en daarom verag jy hom of verkleineer jy hom of ignoreer jy hom of verwaarloos jy hom of praat en dink jy sleg van hom. Selfs as hy arm is, of in desperate nood is, skeel dit jou min, want die gebod wat sê jy moet jou naaste liefhê soos jouself, is nie in jou hart nie. Geen wonder Y’shua het gesê die oog is soos die lamp van die liggaam nie. As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is (en skeef na mense kyk), is jou liggaam ook donker. Mag Yahweh ons skewe oë, en die gegluur waarmee ons mense seermaak, weer herstel. Mag die lig van sy bonatuurlike liefde dit weer helder en lig maak rondom ons!

5. Kyk, in die sin van Uitsien. In Deut 12:9 word die volk attent gemaak op ‘n saak wat van die allergrootste belang was: “Julle het nog nie gekom in die rusplek en in die erfenis wat Yahweh julle Elohiem julle sal gee nie.” Die interessante is dat hierdie woord uitgespreek word, direk na die vers wat sê dat elkeen voorheen net gedoen het wat reg was in sy eie oë. Dalk is hier ‘n verband wat ons moet raaksien. Die Een wat hulle gemaak het, die Een wat hulle harte ken, die Een wat weet hoe swaar hulle kry met hulle oë – dat hulle nie reg kan sien nie en soms nie verder as hulle eie klein wêreldjie kan sien nie – hierdie Een kom sê vir hulle: Kyk ‘n bietjie verder vooruit. Kyk na die rusplek en die erfenis wat Ek aan julle belowe het. Julle het nog nie daar gekom nie, maar julle gaan beslis daar kom. Julle het my woord daarvoor! Niemand of niks kan dit van julle wegneem nie. Daarom moet julle ook nie julle oog daarvan af wegneem nie. Sien uit daarna. Verlang daarna. Laat die blote gedagte daaraan julle gedrag en julle uitkyk op die lewe verander. Hierdie uitsien is julle hoogste bron van motivering in alles wat julle doen. Julle is nie sonder hoop en sonder Elohiem in hierdie wêreld nie! En hierdie hoop, sê Hebreërs 11, is soos ‘n bewys van dinge wat ons nie nou kan sien nie!

6. Kyk, in die sin van Onderskei. Volgens hierdie Parashah is daar minstens twee opsigte waarin die volk moes leer om te kan onderskei. Die een is dat hulle moes onderskei tussen rein en onrein voedselsoorte (Deut 14). Sekere soorte diere word as geskik verklaar om geëet te word en ander soorte diere word as ongeskik verklaar om geëet te word. Hierdie onderskeid kom van die Skepper af. Niemand was by magte (of in ‘n posisie) om daaraan te verander nie en, anders as wat dikwels daarbuite verkondig word, hét niemand in die Skrif ook probeer om daaraan te verander nie – nie Y’shua nie en ook nie enige van sy volgelinge nie. Van die begin af was dit Yahweh se bedoeling dat ons na “rein” en “onrein” kyk soos Hy daarna kyk en ons lewens daarby aanpas. Die tweede vorm van onderskeid in hierdie Parashah is die onderskeid tussen ware en valse profete (Deut 13:1-5). Ek is bevrees maar baie min mense hou hulle by hierdie beginsel van die Torah, wat duidelik ‘n opdrag van Yahweh self is. Deut 13 verklaar dat selfs ‘n profeet wat groot tekens doen en wie se voorspellings wáár word, NIE aanvaar moet word as hy of sy enigiets verkondig of doen wat in stryd met Yahweh se woord of gebod is nie. Profete word dikwels “sieners” genoem, maar die eintlike “sieners” behoort ONS te wees, wat dikwels met profete en profetiese woorde en sogenaamde profetiese aksies gekonfronteer en betower word, maar nie die insig en die visie het om te besef dat ons nie ons oë en ore moet uitleen aan mense wat hulle nie steur aan die volheid van Yahweh se Woord nie!

7. Kyk, in die sin van Verskyn. Deut 16:16 “Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van Yahweh jou Elohiem verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die Fees van die Ongesuurde Brode en op die fees van die Weke en op die Huttefees; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van Yahweh verskyn nie.” Die tema-woord van hierdie hele Parashah, “re’eh” word hier vir die woord “verskyn” gebruik. In kort: Yahweh wil ons by sy feeste sien! Ons moet daar wees, in vlees en bloed – verkieslik almal van ons, maar as die vrouens dalk ‘n pasgebore baba het na wie hulle by die huis moet omsien, dan moet minstens die mans by die feeste opdaag, en nie met leë hande nie. Waarom? Want ons doen dit “ooreenkomstig die seën van Yahweh jou Elohiem wat Hy jou gegee het” (16:17). Ons hoef nie na meer redes te soek nie. Hierdie een rede is groot genoeg! Dink byvoorbeeld aan al die seëninge wat Hy vir ons deur sy Seun, Y’shua gegee het. Shaúl sê in Efes 1:3-4 dat Yahweh ons in Y’shua die Messias geseën het “met alle geestelike seëninge in die hemel” wat insluit dat Yahweh ons in die Messias “uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om afgesonder en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees.” As dít is wat die toekoms vir ons beteken, dat ons sonder gebrek voor Hom sal wees, is daar geen rede waarom ons nie ook nou elke geleentheid moet aangryp om voor Hom by sy afgesonderde feeste te verskyn nie!