ISRAEL EN ONS

alternate textParashah Vayishlach is veral bekend vir die stoeigeveg tussen Yaakov en die boodskapper by Yabbok en die gevolglike naamsverandering van “Yaakov” na “Yiesraél”. Die normale Torah leesrooster stel voor dat ‘n mens Ovadyah (Obadja) 1 saam met Gen 32 – 36 behoort te lees, omdat hierdie profeet uitbrei oor die lot van die nageslag van Esau, wie se naam ongeveer 40 keer in Gen 32 – 36 na vore kom. Persoonlik verkies ek om liewer op Yaakov en Yiesraél te fokus, as op Esau. Israel of Yiesraél is ‘n naam wat deesdae op almal se lippe is. Dis ‘n naam wat met sterk emosie en met uiteenlopende standpunte verbind word. Dis tegelykertyd ‘n naam wat bekoor en ‘n naam wat verdeel. Dis ‘n naam wat 3700 jaar oud is en wat vandag oneindig méér as net die naam van ‘n land is. Selfs op die talle plekke in die Skrif waarin die naam “Yiesraél” gebruik word, het dit nie altyd dieselfde konnotasie en dieselfde betekenis nie.

In Gen 32 is dit eers net die naam wat aan ‘n persoon gegee word, omdat hy met (‘n boodskapper van) Elohiem geworstel en oorwin het. In die hele Skrif word die begrip “kinders van Yiesraél” meer as 600 keer gebruik om na die nasie van Yiesraél of die nageslag van Avraham, Yietsgak en Yaakov te verwys. Die woord “Yiesraél” (alleen) word selfs nog meer gebruik om na dieselfde volk te verwys. Later, ná die verdeling van die koninkryk in ‘n Noordelike Ryk en ‘n Suidelike Ryk, word “Yiesraél” hoofsaaklik gebruik vir die Noordelike Ryk en Yehudah vir die Suidelike Ryk. Dit kan gesien word in ‘n vers soos Jer 5:11: “Want die huis van Yiesraél en die huis van Yehudah het baie troueloos teen My gehandel, sê Yahweh”. Nog later, het die apostel Shaúl (Paulus) gekom en op ‘n manier oor “Yiesraél” gepraat wat vir talle mense van sy dag dalk nie so maklik was om te verteer nie. Eers het hy gesê, “Hulle is nie almal Yiesraél wat uit Yiesraél is nie” (Rom 9:6) en homself só verduidelik, Rom 9:8 “Hulle is nie almal kinders van Elohiem wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag” (Rom 9:8). Op ‘n ander plek het hy hierby aangesluit deur te verklaar “Die wat uit die geloof is, hulle is die kinders van Avraham” (Gal 3:7) en “As julle aan die Messias behoort, dan is julle die nageslag van Avraham en volgens die belofte erfgename” (Gal 3:29).

Dis nie asof Shaúl hierdie idees uit sy duim uit gesuig het nie. Die profete wat lank voor hom geleef het, het gereeld met die openbaring vorendag gekom dat Yahweh die deur al hoe meer sou oopmaak vir mense uit ander nasies om by Hom (Yahweh) aan te sluit en sy Naam aan te roep. Ons sien dit onder meer in Ps 22 (al die geslagte van die nasies sal voor U aangesig aanbid); Ps 67 (die volke, almal saam, sal U loof); Ps 138 (die konings van die aarde sal U loof as hulle u woorde gehoor het); Jes 11 (in daardie dag sal die nasies vra na die wortel van Yieshai); Jes 49 (my Kneg sal gemaak word tot ‘n lig vir die nasies); Jes 56 (uitlanders sal by Yahweh aansluit); Jer 16 (volke van die einde van die aarde sal bely: Net leuens het ons vaders geërf); Hos 2 (Ek sal hulle wat nie my volk was nie, my volk noem); Miga 4 (baie nasies sal sê: Laat Hy ons in sy weë leer sodat ons in sy paaie kan wandel); Sef 3 (Ek sal aan die nasies rein lippe gee, sodat hulle die Naam van Yahweh aanroep); Sag 2 (baie nasies sal by Yahweh aansluit); Sag 8 (volke van oral oor sal na Jerusalem toe kom om Yahweh om guns te smeek); Sag 14 (nasies sal in Jerusalem aankom om te aanbid voor die Koning, Yahweh van die leërskare); Mal 1 (my Naam is groot onder die nasies).

Met die geboorte en aardse lewe van Y’shua van Nasaret, was daar keer op keer verwysings na hierdie profetiese woord dat die Elohiem van Yiesraél meer en meer sou uitreik na die nasies, omdat dit sy begeerte is dat hulle Hom ook moet ken en dien. ‘n Mens sou selfs kon sê dat daar in die naam van die Parashah van hierdie week (Vayishlach = “En hy het gestuur”) ’n profetiese boodskap opgesluit is dat net soos Yaakov boodskappers uitgestuur het (na Esau toe), daar oor die eeue heen boodskappers en boodskappe uitgestuur sou word – van Yaakov en van Yiesraél af, die wêreld in, om seker te maak dat die nasies kennis neem van die Elohiem van Yiesraél. Y’shua van Nasaret word gereeld in die Skrif voorgestel as Een wat “gestuur” is (“shalach”). ‘n Boodskapper, maar ook ‘n Boodskap, op sigself (Goeie Nuus!), dat die tyd gekom het vir Yahweh om sy beloftes in vervulling te laat gaan. Daarom kon die bejaarde Shiemón in Luk 2 by die nuus van die geboorte van Y’shua, skaars sy eie opgewondenheid bedwing. Luk 2:29 “Nou laat U, Meester, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, omdat my oë u verlossing gesien het, wat U berei het voor die oë van al die volke – ‘n lig tot verligting van die nasies en tot grootheid van u volk Yiesraél” (Luk 2:29-32). Ooreenkomstig die profesieë het hy geweet dat Y’shua se geboorte ‘n lig tot verligting van die nasies sou wees. In Joh 10 praat Y’shua van “ander skape” wat ook nog deel van sy kudde moet word. Dit kan wees dat hierdie skape nog nooit deel van die kudde was nie. Dit kan egter ook wees dat hulle voorheen wél deel van die kudde was, maar dat hulle êrens langs die pad verstrooid (en wég!) geraak het en (op ‘n manier) weer by die kudde moet aansluit, soos dit in die gelykenis van die Verlore Seun (Luk 15) baie treffend uitgebeeld word. Dit kan selfs wees dat die bedoeling van die begin af was dat die kudde groter (in getal en in verskeidenheid) sou word.

Die vraag op baie mense se lippe (en in hulle harte) is of gelowiges in die Messias wat uit die nasies uit kom (soos meeste van ons, hier in Suid Afrika, wat in Y’shua glo) hulleself volledig as Israel, of as déél van Israel, moet sien en of dit nie beter is (en meer Skriftuurlik) om liewer nie uitsluitlik op die naam “Israel” of “Yiesraél” te fokus nie. Of dit nie beter is om eerder op die Naam te fokus van Hom wat Israel as volk vir Hom verkies het nie. Dieselfde Een wat pertinent deur sy profete bekend gemaak het dat Hy uiteindelik ook deur ander nasies geken en gedien wil word. Persoonlik meen ek dat daar vandag onder Messiaanse gelowiges te veel klem geplaas word op Israel en te min klem op die Een wat Israel geroep het, maar pertinent bygevoeg het dat Hy graag die ander nasies ook na Hom toe wil trek. Waarom voel party groepe so sterk daaroor om hulleself met die naam van Israel te identifiseer, maar terselfdertyd het hulle geen begeerte om hulle met die Naam van Yahweh te identifiseer nie?

Ek het weer spesifiek gaan kyk na die profesieë in hierdie verband. Yeshayahu (Jesaja) en Zegaryah (Sagaria) het geprofeteer dat gelowiges uit die nasies by Yahweh sou aansluit (nie by Israel nie). Tsefanyah (Sefanja) profeteer dat gelowiges uit die nasies rein lippe sou ontvang sodat hulle die Naam van Yahweh kan aanroep (nie Hebreeuse of Israelitiese woorde gebruik nie). Zegaryah (Sagaria) profeteer dat die nasies van oral oor sal kom om Yahweh om guns te smeek. Gaan hulle die identiteit van hulle geboorte-nasie prysgee en as “Israel” voor Yahweh verskyn as hulle dit doen? Nee, duidelik is dit nie die geval nie. As Hoshea profeteer dat Yahweh hulle wat voorheen nie sy volk was nie, sy volk gaan noem, beteken dit dan dat Hy hulle Israel gaan noem? Nee, dit dui daarop dat Hy sy kudde GROTER gemaak het en aan mense wat voorheen nie deel van sy kudde was nie, iets kom gee wat voorheen net vir Israel beskore was. Dit is presies dieselfde waarheid wat in Efes 2:12-13 na vore gebring word: “Onthou dat julle in daardie tyd sonder die Messias was, vervreemd van die burgerskap van Yiesraél en vreemdelinge met betrekking tot die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder Elohiem in die wêreld. Maar nou in die Messias Y’shua het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van die Messias.”

Daar is baie Messiaanse gelowiges wat verkies om na hulleself as Israeliete te verwys. Met die term “Israeliete” verwys hulle dalk juis nie na Jode nie, maar na ‘n soort “geestelike” Israel – Israel, soos wat Yahweh dit reg aan die begin bedoel het. Dit gaan nie vandag vir my oor terminologie nie. Dit gaan nie oor die etiket wat ons vir onsself uitgesoek het nie. Laat ons egter onthou dat Israel vandag nog ‘n bestaande, konkrete groep mense is. Hulle is nie geestelik nie en hulle is ook nie volmaak nie. Hulle onvolmaaktheid en hulle onvermoë om Yahweh in Gees en in waarheid te dien, is juis een van die redes waarom die deur vir mense soos ons oopgemaak is om by die Elohiem van Yiesraél aan te sluit. Daar is ‘n belangrike les wat ons kan leer uit die naam verandering wat plaasgevind het toe Yaakov met die boodskapper geworstel het. Sy naam is verander van Yaakov na Yiesraél. Meeste mense sê die naam “Yiesraél” beteken “oorwinnaar saam met Elohiem”. Sommige van die oudste verklarings van hierdie woord klink egter so ‘n bietjie anders. Die woord was eintlik “ish-raáh-el”, word deur sommige rabbis beweer: ‘n Mens (ish) wat Elohiem raaksien (raáh). In plaas daarvan dat ons ons voortande sal gee om as “Israel” in hierdie wêreld bekend te staan, kom ons sluit liewer aan by die tien mans uit al die tale van die nasies wat die slip van ‘n Israeliet aangryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat Elohiem met julle is (Sag 8). Ek wil ook graag iemand wees wat my oog op Elohiem hou en op sy Woord hou en wat raaksien wat Hy van my in hierdie lewe verlang!