ISRAEL EN ONS 2

alternate textVerlede week het ons stilgestaan by die benaming “Israel” of “Yiesraél” en by die vraag in watter mate ons onsself met Israel behoort te identifiseer. Na aanleiding van talle Skrifgedeeltes in dié verband, het ons tot die slotsom gekom dat ons onsself nie té gemaklik met Israel behoort te identifiseer nie. Die profesieë aangaande Israel en die nasies sinspeel almal daarop dat gelowiges uit alle nasies, volke en tale hulle toenemend met Israel sal ASSOSIEER – maar NIE hulleself met Israel sal IDENTIFISEER nie. Die rede waarom gelowiges uit die nasies hulle met Israel assosieer, is omdat hulle deur die antieke geskrifte met Yahweh, die Elohiem van Israel, kennis gemaak het – sy woorde en sy gebooie leer liefkry het, sy guns en sy liefde leer ken het, sy plan met hierdie wêreld begin verstaan het en die keuse gemaak het om by Hom aan te sluit en hulleself aan sy outoriteit te onderwerp. Dit is NIE dieselfde as om by sy volk aan te sluit nie. As ons aandring om by Israel aan te sluit of onsself as “Israeliete” te beskou, keer ons terug na ‘n soort “Replacement Theology” wat van die standpunt af uitgaan dat daar ‘n groep mense is wat die fisiese en etniese Israel verplaas of vervang. Só ‘n standpunt is in wese ‘n weerspreking van Yahweh se belofte aan Avraham dat IN of DEUR sy nageslag (of sy saad), al die geslagte van die aarde geseën sal word (sonder dat hulle etnisiteit of verbintenis aan ‘n sekere nasie, daardeur opgehef gaan word).

Daar is sommiges wat hiermee verskil en wat in hierdie verband ‘n vers aanhaal soos Gal 6:16: “Mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël (die reël dat dit nie besnydenis of onbesnedenheid is wat ons sterk maak in die geloof nie, maar die feit dat ons in die Messias ‘n nuwe skepsel is – Gal 6:15) en (mag daar vrede en barmhartigheid wees) oor die Yiesraél van Elohiem!” Die uitdrukking “Yiesraél van Elohiem”, sê hulle, beteken dat beide besnedenes en onbesnedenes wat in die Messias glo, aan die Yiesraél van Elohiem behoort, wat in wese ‘n ANDER groep mense is as “Yiesraél na die vlees” (1 Kor 10:18). Die feite is egter dat Shaúl (Paulus) nooit in enige van sy briewe die woord “Yiesraél” gebruik vir enige ander mense as die fisiese Israel of “Yiesraél na die vlees” nie. Selfs in Romeine waar hy die woorde gebruik, “hulle is nie almal Yiesraél wat uit Yiesraél is nie” (Rom 9:6) is die bedoeling nie dat daar twee “soorte” Israel’s is nie, maar bloot dat daar sommiges is wat etnies aan die fisiese Israel behoort – die volk wat Yahweh vir Homself as sy eiendom verkies het – maar dat hulle weens ongeloof nie kinders van Elohiem is nie. Om hierdie rede moet ons aanvaar dat die uitdrukking “die Yiesraél van Elohiem” in Gal 6:16 ook na fisiese Israel verwys. Die punt wat Shaúl dáár wil maak is dat hy begeer dat daar vrede en barmhartigheid sal wees oor die gelowiges in die Messias (ongeag of hulle van Joodse of nie-Joodse afkoms is, d.w.s. ongeag of hulle besny is of nie besny is nie), SOWEL AS oor fisiese Israel, wat (nog) nie ‘n keuse gemaak het om in die Messias te glo nie. Met hierdie wens of gebed sluit hy dus 100% aan by die versugting wat hy in Romeine uitgespreek het: “O, as ek tog maar net my eie volk jaloers kon maak en sommige uit hulle kon red (Rom 11:14)!” En hierdie versugting sluit 100% aan by die opdrag van Y’shua aan sy dissipels dat hulle die boodskap van die Koninkryk aan die verlore skape van die huis van Yiesraél moet bring (Mat 10:5).

Simbolies is dit nogal betekenisvol dat die Griekse woord ᾿Ισραήλ (Isra’el) presies 70 keer in die Messiaanse Skrifte na vore kom. 70 is ‘n getal wat vir die fisiese nasie van Israel van groot betekenis is. Van die meer bekende voorkomste van die getal 70 wat verband hou met Israel, is die feit dat die getal mense van Yaakov se familie wat in Egipte aangekom het en uiteindelik die nasie van Israel geword het, volgens Ex 1:5 presies 70 siele was. In Num 11:16 het Mosheh opdrag gekry om sewentig man as oudstes oor Israel aan te stel. Die antieke Sanhedrin of Joodse Raad wat belangrike besluite rakende Israel geneem het, het ook uit 70 man bestaan en in ongeveer die derde eeu v.M. is daar opdrag gegee aan 72 Joodse skrywers (of oudstes) om die Hebreeuse Tanak in Grieks te vertaal. Alhoewel daar 72 vertalers was, het dit gebruiklik geraak om slegs na 70 te verwys en die Griekse vertaling is die “Septuagint” of “LXX” genoem, wat albei 70 beteken. Wat nie so bekend is nie, maar BAIE interessant, is dat die Egiptenare 70 dae oor die dood Yaakov/ Yiesraél gerou het (Gen 50:3) en dat daar 70 afgesonderde of spesiale dae op die basiese, jaarlikse kalender is wat in die Skrif aan Israel voorgehou word: 52 Shabatte, 7 dae van Ongesuurde Brode, 1 dag van Shavuot, 1 dag van Yom Teruah, 1 dag van Yom Kippur, 7 dae van Sukkot en 1 dag van Yom Hashemini. Selfs nog minder bekend, maar net so interessant is dat daar in Bereshiet (Genesis) 70 verse is vanaf die woorde “In die begin” (Gen 1:1) totdat daar ‘n vloek oor Satan (of die slang) uitgespreek word (Gen 3:14). Volgens dieselfde patroon is daar in die boek Ester 70 verse vanaf Haman se bevordering tot owerste (Ester 3:1) totdat hy aan die galg opgehang word wat hy vir Mordegai laat maak het (Ester 7:10). Vir die volk Israel dui dit moontlik simbolies en profeties daarop dat die getal 70 te make het met periodes van besondere swaarkry en beproewing onder die hand van die vyand, soos met die 70 jaar van Babiloniese ballingskap en die sewentig sewetalle wat volgens Dan 9:24 oor Israel en oor Jerusalem uitgeroep is “om die afvalligheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring”.

Maar die getal 70 hou nie net verband met Israel nie. Dit hou ook verband met die nasies. Die uitgebreide familie en stamboom van die drie seuns van Noag wat in Genesis of Bereshiet 10 uiteengesit word (70 name altesaam), word soms beskryf as “The Table of Nations” en dus die fondament van die sogenaamde “70 nasies” wat van Noag se tyd af die aarde sou bevolk. Daar is ‘n siening dat die 70 bulle wat volgens Numerie (Bemiedbar) 29 op die 7 dae van die Huttefees geoffer moes word (13 op die 1ste dag, 12 op die 2de dag, 11 op die 3de dag, ens) ‘n profetiese herinnering daaraan was dat die volk van Israel nie ALLEEN op die aarde gewoon het nie. Hulle was omring deur die 70 nasies van die wêreld. En sommige van die ou rabbis het geglo dat die offer van die 70 bulle met die gebed gepaard gegaan het dat daar ook in die midde van die nasies vrede sou heers, nie net in die midde van die volk van Israel nie. “For peace is indivisible (het hulle gesê). If not shared by all, it will not be enjoyed by anyone.”

Waarom het het ons oor die getal 70 begin praat? Omdat die woord “Israel” 70 keer in die Messiaanse Skrifte gebruik word. En omdat die Messiaanse Skrifte ons oproep om te besin oor die vraag: In watter soort verhouding staan ons (wat uit die 70 nasies van die wêreld afkomstig is) tot Israel (wat uit die 70 siele afkomstig is wat 3700 jaar gelede in Egipte gaan woon het, 17 jaar voordat Yaakov (oftewel Yiesraél) sy seuns geseën het, die laaste asem uitgeblaas het en in Magpela by Hebron begrawe is, ongeveer 70 km van die plek af in Jerusalem waar Y’shua van Nasaret baie eeue later begrawe is en drie dae later uit die dood opgestaan het?

Yiesraél word in Hoshea 11:1 die seun van Elohiem genoem. In Shemot (Exodus) 4:22 gee Yahweh opdrag aan Mosheh dat hy vir Farao moet sê: “So sê Yahweh: My eersgebore seun is Yiesraél.” In Jeremia 31:9 hoor ons een van die mees passievolle uitsprake in die hele Skrif: “Hulle sal kom met geween, en met smekinge sal Ek hulle lei; Ek sal hulle bring by waterstrome, op ‘n gelyk pad waarop hulle nie sal struikel nie; want Ek is vir Yiesraél ‘n Vader, en Efrayiem is my eersgeborene.” Yiesraél is my eersgebore seun. “Eersgebore” in die sin van: Yiersraél was deel van die plan van Elohiem wat vóór die grondlegging van die wêreld alreeds volledig in plek was. Voordat daar nog iemand soos Avraham en Yietsgak en Yaakov was. Ek het Yiesraél vir Myself uitverkies voordat die hemel en aarde geskape is. Ek het hom liefgehad, voordat hy gebore is. Ek het vir hom ‘n erfporsie gereed gemaak voordat hy my geken het. Want van nature is Ek ‘n Elohiem van liefde en guns en barmhartigheid. Ek oorspoel die een wat ek gekies het en nader getrek het na my toe, met my oorvloed, voordat hy nog bewus geword het van my bestaan.

Klink dit nie baie bekend as ons dink aan die boodskap wat baie honderde jare later vanuit Betlehem en Nasaret en Jesusalem weerklink het nie? Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het (Mark 1:11). Dit is my Seun wat Ek uitverkies het. Luister na Hom! (Luk 9:35). Hy is die eersgeborene van die hele Skepping (Kol 1:15). “Eersgebore” in die sin van: Hy was deel van die plan van Elohiem wat vóór die grondlegging van die wêreld alreeds volledig in plek was. Hy is die Gesalfde van Elohiem – die beloofde Messias – die Mashiach – afgelei van die woord “mashach” wat “salf” beteken en wat 70 keer in die Skrif voorkom. Oor die afgelope 2000 jaar het mense van elke volk en nasie en taal op die mees uiteeenlopende maniere die goeie nuus (Heb: “basar”; Gr: “eu-angelion”) van hierdie Mashiach te hore gekom. En hulle wat dit omhels het en in hulle harte opgeneem het en besluit het om hulle by die Mashiach te skaar en hulle aan sy outoriteit te onderwerp, het die voorreg ontvang om kinders van Elohiem genoem te word – seuns en dogters van Elohiem, net soos wat Y’shua as “Seun van Elohiem” bekend gestaan het. Die geloof wat deur hierdie proses in die harte van doodgewone mense opgewek word, is tot vandag toe nog een van die grootste, enkele bronne van inspirasie en innerlike sterkte wat in ‘n mens se lewe teenwoordig kan wees. Oor sulke mense reageer die Messias vandag nog soos wat Hy oor die nie-Joodse Romeinse hoofman gereageer wat vas geglo het dat Y’shua sy kneg wat ernstig siek was, kon gesond maak sonder om eens fisies by hom te wees. “Ek sê vir julle (het Y’shua vir die omstanders gesê), selfs in Yiesraél het Ek so ‘n groot geloof nie gevind nie. Baie sal kom van die (nasies van die) ooste en die weste en saam met Avraham en Yietsgak en Yaákov aansit in die koninkryk van die hemel (Mat 8:10-11). Dit klink byna te goed om waar te wees! Ons kan aansluit by Avraham, Yietsgak en Yaakov, want Yahweh het ons as sy kinders aangeneem. Selfs hulle wat volbloed Yiesraél is, is nie almal kinders nie. Wat ‘n uitmuntende voorreg om vanuit nêrens – vanuit absolute guns – kindskap in sy Koninkryk te mag ontvang!