INBRAAK BY DIE HUIS VAN ELOHIEM

alternate textIemand skryf êrens op die internet: “Aside from Halloween, Friday the 13th is the spookiest day of the year.” Halloween word wêreldwyd op die omgekeerde 13, oftewel 31 Oktober gevier, of waargeneem, of wat ‘n mens dit ook al wil noem. En ‘n klompie weke gelede het die 13de Augustus op ‘n Vrydag geval. As ‘n mens daardie Vrydag bytel, sal hierdie komende Vrydag die 13de Vrydag vanaf Vrydag die 13de Augustus 2021 wees. Party mense dink regtig dat 13 ‘n getal is waarvandaan jy liewer so ver as moontlik moet wegbly. Dit word beweer dat daar in die Verenigde State alleen, ongeveer 20 miljoen mense is wat hulle daaglikse roetines en beplanning sal verander om seker te maak dat hulle nie op Vrydag die 13de per motor of per vliegtuig hoef te reis nie, en selfs niks hoef te doen op daardie dag wat nie absoluut noodsaaklik is nie. In Italië is daar blykbaar ook ‘n beduidende aantal mense wat dieselfde voel oor Vrydag die 17de (nie Vrydag die 13de nie). Die getal 17 word in Romeinse letters geskryf as XVII. As jy hierdie 4 letters skommel, vorm dit die Latynse woord VIXI, wat beteken: “Ek HET gelewe” en dus, by implikasie, “Ek is dood”. Daarom vermy jy alles wat moontlik jou dood kan beteken op Vrydag die 17de!

Halloween is eintlik net ‘n variasie en latere ontwikkeling van die kerklike dag wat bekend staan as “All Saints Day”. Die datum vir All Saints Day is 1 November. Die woord “hallow” is ‘n oud-Engelse woord vir “holy” en ‘n afgeleide vorm vir “holy ones” of “saints”. Die laaste deel van “Halloween” (“-een”) is afgelei van “even” of “evening” of “eve”, soos wat mense vandag nog praat van “Christmas eve” of “New Years’ eve” – verwysend na die aand tevore. “Hallow’s Eve” of “Halloween” beteken dus doodeenvoudig “The evening of holy persons”, bedoelende “The evening before All Saints Day”. Die aand van 31 Oktober het natuurlik oor die jare heen totaal ‘n ander kleur en geur begin kry, met pampoene en “spookiness” en “trick & treat” aan die orde van die dag. Ek wil nie vandag uitbrei oor Halloween nie, behalwe om te sê dat daar in die proses van die ontwikkeling van hierdie dag, tot by die formaat wat ons vandag ken, ‘n hele aantal heidense en selfs okkultiese elemente bygesleep is en dat ons as gelowiges niks daar verloor het en ook niks daarmee te make behoort te hê nie.

Kom ons bepaal ons vir ‘n oomblik net by die konsep wat in sekere kerke vandag nog ‘n groot rol speel en waarmee daar gepoog word om Halloween van sy bedenklike verlede te stroop en te sê dat dit “onskuldig” en “aanvaarbaar” is, omdat dit eintlik net ‘n dag van herinnering is aan “all the saints who came before us” – hulle wat vir ons ‘n sêding of ‘n geskrif of ‘n manier van doen nagelaat het wat ‘n sekere betekenis het. Maar die probleem is net dat hierdie praktyk om “saints” te vereer, nie werklik in die Skrif gevind kan word nie. Natuurlik is ‘n mens dankbaar vir ons voorgangers soos Avraham en Dawied en Kefa en Shaúl – hulle nalatenskap en hulle voorbeeld van geloof is vir ons van onskatbare waarde. Laat ons eerstens vir mekaar sê dat hulle (net soos óns) “afgesonderdes” (of “set-apart ones”) is, nie “saints” nie (Die Engelse woorde “saint” en “sanctify” is in wese nie dieselfde as die Hebreeuse en Griekse woorde wat in die Skrif vir “afgesonderdheid” gebruik word nie. Die kom van die Latynse woord, “sanctus”, ‘n woord wat heel moontlik afgelei is van die antieke Romeinse god, Sancus en wat nie ‘n woord is wat ek vir myself, of my broer of suster wil gebruik nie). Word daar ooit in die Skrif ‘n dag opsy gesit om mense te vereer? Ek kon nie so iets opspoor nie. En soos met elke ander tradisie of feesdag of gebruik wat oor eeue heen in die kerklike repertoire opgeneem is, behoort ons ook in hierdie opsig vir ons slegs te laat lei deur die patroon en beginsel en voorbeeld van die Skrif.

As ‘n mens die twee woorde van “All Saints Day” – “all” en “saints” – terug vertaal na Hebreeus, kom jy uit by “kol” (“all”) en “qodesh” (“afgesonder”). Kom ons toets die voorkoms van hierdie twee woorde in ‘n gewone weeklikse leesstuk of Parashah, soos die een van hierdie week, Parashah Chayei Sarah (The Life of Sarah) wat strek vanaf Gen 23:1 tot Gen 25:18. Die woord “qodesh” kom glad nie in hierdie Parashah voor nie. Die woord “kol” kom 13 keer voor. Nogal interessant, in die lig van die verband tussen Halloween en die getal 13! In ander leesstukke van die Torah, kom die woord “qodesh” weer baie gereeld voor. Daar is selfs enkele hoofstukke waarin die woord “qodesh” ongeveer 13 keer voorkom – in een hoofstuk alleen! ‘n Voorbeeld hiervan is die bekende Lev 23 wat oor Yahweh se feeste handel en waarin daar gereeld na die “afgesonderde byeenkomste” verwys word wat op bepaalde tye reg deur die jaar gehou behoort te word. Hier is dit duidelik nie die “afgesonderdes” wat ONTHOU moet word nie, maar die “afgesonderde byeenkomste” wat GEHOU moet word!

Kom ons neem ons ondersoek ‘n bietjie verder. Kom ons kyk na plekke in die Tanak (Ou Testament) waar “kol” en “qodesh” langs mekaar gebruik word, soos wat dit in “all saints” langs mekaar gebruik word. Daar is net mooi 13 sulke plekke in die hele Tanak! (Baie interessant dat die getal 13 weer sy verskyning maak!) So, nou is die vraag of daar in enige van hierdie 13 gevalle sprake is van ‘n gebruik of ‘n verwysing na afgesonderdes of gelowiges (super gelowiges of gewone gelowiges!) wie se nagedagtenis met ‘n jaarlikse herinneringsdag vereer word. En die antwoord is: Nie in die minste nie! Om die waarheid te sê: In nie ‘n enkele van hierdie 13 verse verwys die woord “qodesh” na mense nie. Dit verwys na plekke en byeenkomste en gawes en dinge. Watter soort dinge … en gawes … en byeenkomste … en plekke? Sonder enige uitsondering: Dinge en gawes en byeenkomste en plekke wat vir Yahweh eenkant gesit word. Wat vir Hom afgesonder word. Wat vir SY nagedagtenis bedoel is. Wat vir HOM tot eer behoort te strek.

Kom ons neem slegs die laaste van die 13 verse as voorbeeld: 2 Kron 24:7 Want die afvallige AtalYah – haar seuns het in die huis van Elohiem ingebreek en al (“kol”) die afgesonderde (“qodesh”) gawes van die huis van Yahweh vir die Baáls gebruik. Die manier waarop daar reg deur die geskiedenis afgewyk is van die patroon van aanbidding wat Yahweh deur sy diensknegte bekend gemaak het en die manier waarop “gawes” wat vir Yahweh bestem is, gesteel en misbruik is, laat ‘n mens besef dat dit nie net die seuns van die afvallige AtalYah is wat in die huis van Elohiem ingebreek het nie. Ons voorgangers in die geloof het dit ook gedoen. Ons eie tydgenote het dit gedoen en doen dit nog steeds. En die moontlikheid is nie uitgesluit nie dat ons self deur die afvallige AtalYah verlei kan word en lustig meedoen aan praktyke wat op dieselfde skaal is as inbraak by die huis van Yahweh en misbruik van die gawes van Yahweh.

AtalYah was die dogter van Isébel, seker die mees berugte, verleidelike en manipulerende karakter in die hele Skrif, en dis duidelik dat Isébel se dogter-appel nie alte ver van die boom af geval het nie. Die International Standard Bible Encyclopedia beskryf AtalYah as volg: “She inherited her mother’s strength of will, and like her developed a fanatical devotion to the cult of Baal.” Dis net verstommend dat die mens se obsessie en “fanatical devotion” om die ware aanbidding te vermeng met vreemde elemente, oor die geslagte heen, nog nie ‘n duimbreedte verminder het nie! Dis net asof die bekoring van die Baals en die Astarte’s en enige nuwe gees van die dag só sterk en só aanloklik is, dat selfs die mees toegewyde gelowiges dit soms eenvoudig nie kan weerstaan nie. En in die proses word die dinge en die dae wat bedoel was om vir Yahweh afgesonder te word, baie subtiel gesteel en aangepas en vir doelwitte gebruik wat niks met die Skrif se patroon te make het nie.

Daar is natuurlik niks inherent sleg aan die getal 13 nie. Die Hebreeuse woorde “avi” (“my Vader”) en “echad” (“een”) en “ahavah” (“liefde”) het elkeen ‘n numeriese waarde van 13. Die Vader se Naam “Yahweh” het ‘n numeriese waarde van 26 (2 X 13). In die teks wat ons hier bo aangehaal het (2 Kron 24:7), kom daar twee kontrasterende woorde voor wat elkeen numeriese waardes het wat veelvoude van 13 is. Die eerste is “ha’elohiem”, waarin die woord “Elohiem” duidelik gesien kan word. Die numeriese waarde van hierdie woord is 91, oftewel 7X13. Die tweede woord is “laba’aliem”, waarin die woord “Ba’al” duidelik gesien kan word. Die numeriese waarde van hierdie woord is 182, oftewel 14X13. Daar is ‘n interessante simboliek opgesluit in die kontras tussen hierdie twee woorde. Die woord wat na Yahweh verwys (“ha’elohiem”) is ‘n sewevoudige veelvoud van 13. Yahweh is volmaak; Hy is alles wat ons nodig het; Hy sal elke begeerte van ons vervul. Maar vir een of ander duistere rede hou ons nooit op om te soek “na die Ba’als” (“laba’aliem”) rondom ons nie. Sewe (die volmaakte wat Yahweh self voorsien het en beskryf het) is vir ons nie genoeg nie. Ons wil liewer 14 hê – dubbel soveel! Ons bly onvergenoegd met wat Hy duidelik beveel en duidelik beskryf het. Hy sê: Maak seker dat julle MY nie vergeet nie: Mý dae, mý huis, mý gawes, mý byeenkomste. Maar die mens met sy sterk wil soos AtalYah, met sy obsessie om alewig te soek “na die Ba’als” (“laba’aliem”), sê: Yahweh se dae pas nie vir my nie. Wat het ek met sy huis te doen? En sy gawes wat Hy vir my gegee het – ek sal maak daarmee wat ek wil. En sy byeenkomste – ek sal dit bywoon soos dit vir my pas. 7X13 is net te beperkend, te veel reëls, te min vryheid. Te gewoon. Ek soek 14X13 en ek sal aanhou soek, totdat ek dit vind! In plaas van: Ek soek U aangesig, o Yahweh (Ps 27); My siel dors na U, o Yahweh (Ps 63); Ek smag na u voorhowe, o Yahweh (Ps 84)!