IN TERUGKEER EN RUS LÊ JULLE VERLOSSING

alternate textDie Shabbat tussen Yom Teruah en Yom Kippur word soms Shabbat Shuvah genoem. Die begrip “Shuvah” het met bekering en terugkeer (Engels: “repentance”) te make. Dit is duidelik dat daar alreeds “Yom Kippur” oor hierdie besonderse naam geskryf is en dat dit bedoel is as ‘n Shabbat van voorbereiding met die oog op die Groot Versoendag, oftewel Yom Kippur. Bekering en terugkeer is ‘n baie groot tema in die Skrif, veral in die profetiese boeke – dink aan Jes 55:7 “Laat die afvallige hom tot Yahweh bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees”; Jer 15:19 “Daarom, so sê Yahweh: As jy terug keer, sal Ek jou laat terugkeer”; Eseg 18:23 “Yahweh sê: Het Ek dalk ‘n behae in die dood van die afvallige? Nee, Ek wil liewer dat hy hom bekeer”; Hos 12:6 “En jy, tot jou Elohiem moet jy terugkeer”; Joél 2:13 “Skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot Yahweh julle Elohiem”; Amos 4:9 “Ek het julle hewig getref, maar nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, sê Yahweh” en Sag 1:4 “Ek het vir julle vaders gesê: Bekeer julle tog van julle bose werke; maar hulle het nie gehoor en na My nie geluister nie, sê Yahweh”. Verreweg die meeste van die gedeeltes in die Tanak of Ou Verbond wat oor bekering handel, is gerig aan die adres van die volk van Israel. Hulle was die groep mense op wie Yahweh Hom by uitnemendheid toegespits het. As hulle van sy pad af weggedraai het, het Hy dit nie net daar gelaat nie. Hy het hulle nooit uitgelos nie. Want daar was ‘n band tussen Hom en sy volk. ‘n Verbintenis, ‘n verbond. Dit klink miskien formeel, maar van Yahweh se kant af was dit persoonlik en intiem. Daar was emosie by betrokke. Hy kon nie sommer net iets prysgee wat vir Hom kosbaar was nie. Daarom was terugkeer ‘n prioriteit en wegbly nie ‘n opsie nie.

Maar daar is ook gedeeltes waar die oproep om terug te keer, ‘n wyer adres gehad het as net die eng definisie van Jode wat op ‘n gegewe stadium binne die grense van die land gewoon het. Een van die mooiste gedeeltes in hierdie verband, is Miga 5:2 en 3: “En jy, Betlegem Efrata, klein om te wees onder die geslagte van Yehudah, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Yiesraél sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid. Daarom sal Hy hulle prysgee tot op die tyd dat ‘n barende verwek het. Dan sal die oorblyfsel van sy broers saam met die kinders van Yiesraél terugkeer.” Dit is dalk nodig om kortliks kommentaar te lewer op hierdie twee verse. ‘n Mens kan nie anders as om Miga 5 as ‘n Messiaanse profesie te sien nie – ‘n uitspraak oor ‘n Heerser vir Yiesraél wat vanuit Betlegem sal uitgaan, maar wie se “uitgange uit die voortyd” is. Die geboorte van Y’shua van Nasaret in Betlegem (of Betlehem) voldoen uitstekend aan hierdie kriteria. Dat sy “uitgange uit die voortyd” is, is ‘n ander manier om te sê sy koms na hier wêreld was iets groots en baie besonders en was deel van Yahweh se Groot Plan wat reeds voor die grondlegging van die wêreld in plek was. Die feit dat die profeet sê sy “uitgange” (meervoud/plural, in plaas van enkelvoud/singular) was uit die voortyd, versterk die uitspraak nog verder. In Hebreeus word ‘n meervoud dikwels bó ‘n enkelvoud verkies om die gedagte oor te dra dat daar van iets byna ondenkbaar groot gepraat word, soos wanneer die woord “hemele” vir die hemel gebruik word en “waters” vir die see en “riviere” vir ‘n groot rivier. Sonder om verder daarop uit te brei, wil ek net byvoeg dat ons, in die lees van hierdie gedeelte, eerlik genoeg behoort te wees om te erken dat Miga 5 nie vir ‘n enkele oomblik vir ons probeer sê dat die een wat in Betlegem gebore sou word, Yahweh in menslike gestalte sou wees nie. Nee, Hy sou ‘n menslike heerser (“mashal”) oor Yiesraél wees, maar op dieselfde manier as die volk van Yiesraél (Ps 74:2), het hierdie heerser oor Yiesraél, binne die raadsplan van Yahweh, reeds voor die grondlegging van die wêreld “bestaan”.

Wanneer ons praat oor terugkeer en bekering, is Miga 5 besonders betekenisvol – veral die woorde: “Dan sal die oorblyfsel van sy broers saam met die kinders van Yiesraél terugkeer.” Hierdie “oorblyfsel van sy broers” moet verstaan word in die lig van Jes 11:16 “En daar sal ‘n grootpad wees vir die oorblyfsel van sy volk wat oorbly uit Ashur, soos daar een gewees het vir Yiesraél op die dag toe hulle uit Mietsrayiem opgetrek het.” Ashur is Assirië en Jes 11 verwys kennelik na die Noordelike tien stamme wat in 722 v.M. in ballingskap na Assirië weggevoer is en nooit weer sigbaar teruggekeer het na die land van Israel nie en oor die eeue heen letterlik met die nasies van die aarde vermeng geraak het. En tog sê Jes 11 daar sal uiteindelik ‘n grootpad vir die Assiriese oorblyfsel wees. As ons dit saam met Miga 5 lees wat sê daar sal ‘n terugkeer van die oorblyfsel wees, bevestig dit die duidelike boodskap van ander gedeeltes in die Skrif dat daar in die laaste dae ‘n groot “terugkeer” na Yahweh vanuit die nasies van die wêreld sal plaasvind. Hoe kan hulle “terugkeer” as hulle nie voorheen by Hom was nie? Hierdie verborgenheid word uitgeklaar as ons verstaan dat Yahweh sy volk gevolg en gemerk en bewaar het – selfs toe die grootste gedeelte van hulle 2800 jaar gelede in ballingskap weggevoer is en oor die afgelope 2800 jaar tussen die nasies van die wêreld “weggeraak” het. Vanuit die oogpunt van Hom van wie Ps 139 sê “Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?”, het sy oorblyfsel nie weggeraak nie en kom die oproep uit sy Woord vandag helder en duidelik: Dis nie net die etniese Jode wat moet terugkeer nie – die oorblyfsel uit die nasies moet ook terugkeer. En dit is inderdaad wat vandag op ‘n groot skaal gebeur. En Miga 5 sê vir ons: Die Messias wat net meer as 2000 jaar gelede (waarskynlik rondom hierdie tyd waarin ons nou is) in Betlegem gebore is, beskou hulle (ons!) wat só teruggekeer het, as die “oorblyfsel van sy broers”!

In die Messiaanse Skrifte of Nuwe Testament is bekering duidelik ook ‘n oproep wat gerig word aan Jode, sowel as nie-Jode. Teen die agtergrond van Miga 5 en Jes 11 kan ons sê: Die oorblyfsel wat die eindtyd oproep tot bekering gaan hoor en daarop gaan reageer, gaan bestaan uit twee groepe mense: (1) Mense wat soos Ragab, Ruth, Naäman en talle gelowiges in die Nuwe Testament wat “van buite af” by die volk van Yahweh aangesluit het, en (2) Mense wie se oorspronklike voorsate uit al 12 die stamme van Yiesraél kom en wat na Yahweh toe terugkeer vanuit ‘n begeerte om Hom in alles te behaag. Dis nie nodig om te weet in watter een van hierdie twee kategorieë ‘n mens jou bevind nie. Die een is nie beter as die ander nie. Die een word nie voorgetrek bo die ander nie. Jes 56 sê ‘n uitlander wat by Yahweh aansluit, ontvang ‘n status wat selfs beter is as seuns en dogters. Efes 2 sê binne hierdie een, nuwe liggaam is daar nie iets soos vreemdelinge en bywoners nie – almal is medeburgers van die afgesonderdes en huisgenote van Elohiem.

Selfs die aantal kere dat die woord “bekering” in die Nuwe Testament gebruik word, bevestig die feit dat die fokuspunt tot reg teen die einde, nog steeds die 12 stamme van Yiesraél sal wees. Die werkwoord “bekeer” word 12 keer in Openbaring gebruik en ook 12 keer in die boek Handelinge en die naamwoord “bekering” (“metanoia”) word 24 keer in die hele Nuwe Testament Skrif gebruik. Dis nie ‘n geval van sekeres wat bekering nodig het en andere wat dit nie nodig het nie. As jy begeer om deel van Yahweh se mense te wees en deel van sy beloftes, is dit nodig om jou te bekeer – nie net een keer nie, maar elke keer as sonde en ongehoorsaamheid soos ‘n muur skeiding gebring het tussen jou en die Een wat begeer dat jy voor sý aangesig sal lewe en nie wég van sy aangesig met jóú aangesig rooi van skaamte nie!

Wat gebeur as ‘n mens jou waarlik en heelhartig tot Yahweh bekeer? Rom 2:4 sê jy ontdek dat die goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid wat jy al die jare uit Yahweh se hand ontvang het, eintlik daarop gemik was om jou terug te bring by Hom. 2 Kor 3 sê dat wanneer jy jou tot Yahweh bekeer, word die bedekking of die sluier verwyder wat daar oor jou oë was en wat gemaak het dat jy sekere dinge van die Woord net nie kon snap nie. ‘n Mens kan dit eintlik baie goed verstaan, want bekering is om weer in die ligkring van die Vader se teenwoordigheid in te beweeg waar sy volmaakte lig jou help om beter te kan sien. 2 Kor 7 sê dat ware bekering vir ons leer wat “droefheid volgens die wil van Elohiem” is en dat hierdie soort droefheid die beste teëvoeter is vir die droefheid van die wêreld. Droefheid van die wêreld is daardie groot stuk, ongeneeslike onvrede wat bly knaag in ‘n mens se binneste as jy verkies om ‘n pad van ongehoorsaamheid te loop. 2 Tim 2:25 sê dat bekering nodig is om tot kennis van die waarheid te kom, maar waarsku ook dat as ons andere by hierdie punt wil bring, ons hulle met sagmoedigheid moet benader. Anders dryf ons hulle van Yahweh af weg, in plaas van om hulle by Hom uit te bring. Heb 6:1 sê bekering is nodig om ons uit die spiraal van “dooie werke” uit te lig en ons by ‘n plek te bring waar ons deur hoop en die beloftes van Yahweh geïnspireer word.

Met Yom Kippur om die draai, is daar ‘n sterk oproep, maar ook net so ‘n sterk bemoediging opgesluit in die woorde van Jes 30:15: “Want so sê die Meester Yahweh, die Afgesonderde van Yiesraél: In terugkeer en rus lê julle verlossing, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie.” Laat ons ophou om teen die prikkels te skop. Kom ons laat sak die skanse wat ons oor jare rondom ons opgebou het – uit selfverdediging of vrees of ongeloof of skaamte, of wat ook al. Skanse wat skade aanrig en skeiding bring. Hier het ons die sleutel. Hierin lê ons verlossing. Hierin lê ons krag. Hierin lê ons rus. Net in hierdie één ding: Om waarlik terug te keer na Yahweh, die Afgesonderde van Yiesraél! Sommiges maak die fout om te dink dat die Griekse woord “metanoia” bloot net ‘n “after-thought” is (“meta” = “after” & “noia” = “thought”). Mense wat só dink is op ‘n tragiese dwaalspoor. Bekering of “metanoia” is ‘n totale verandering van denke en hart en siel, wat neerslag vind in ‘n totale verandering van gedrag!