HOE MOET ONS OFFERS LYK?

alternate textDie leesstuk van hierdie week word “Terumah” genoem wat “offergawe” beteken en hierdie tema kom uit Exodus 25:2 waar Yahweh vir Mosheh gesê het: Sê aan die kinders van Yiesraél dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandryf, moet julle my offergawe bring. In die res van daardie hoofstuk, en die twee hoofstukke wat volg, word die tipe offergawes wat gebring moes word, in groter detail beskryf. Die offergawes wat gebring moes word, was hoofsaaklik vir die bou en versiering van die tentwoning of tabernakel. Die tentwoning moes gebou word ooreenkomstig die voorbeeld wat Yahweh vir Mosheh op die berg Sinai gewys het. In die boek van Hebreërs word daar ook na hierdie “voorbeeld” verwys (Heb 8:5 en 9:9) en word uitdruklik gesê dat die voorbeeld wat Yahweh vir Mosheh (en later ook vir Dawied, met die bou van die tempel – 1 Kron 28:11-19) gewys het, te make het met ‘n patroon wat vooraf reeds in die hemel bestaan het. Ons weet nie presies wat dit is wat Mosheh en Dawied gesien het nie, maar die Skrif dui aan dat Yahweh self ‘n beeld of ‘n prent in die gees van hierdie manne vasgelê het en dat die planne van die tentwoning en (later) die tempel op hierdie voorbeeld gebaseer was. Die ou rabbis het die boodskap van die Skrif só verstaan dat daar sewe dinge en rolspelers was wat Yahweh reeds van die grondlegging van die wêreld af in plek gestel het en wat Hy bedoel het om op die regte tyd aan die mense van die wêreld te openbaar.

Die sewe dinge, wat volgens die Skrif alreeds vóór die grondlegging van die wêreld (in beginsel) bestaan het, is (1) die Torah, want Spr 8:22 sê Yahweh het “wysheid” oftewel die Torah voorberei as die “eersteling” van sy weg; (2) die Troon, want Ps 93:2 sê dat die troon “van ouds af” alreeds gevestig is; (3) die Tempel of Tabernakel, want Jer 17:12 sê dat die afgesonderde plek “verhewe van die begin af” is; (4) die Aartsvaders, want Hos 9:10 sê Yahweh het die vaders gesien as die “voorvye aan die vyeboom”; (5) die volk Israel, want Ps 74:2 sê dat Israel Yahweh se vergadering is wat “in die voortyd” verwerf het; (6) die Messias, want Ps 72:17 verwys daarna dat die Messias se Naam “van ewigheid af” bestaan en uitspruit solank die son daar is; (7) Bekering (of terugkeer en berou), want Ps 90:2-3 sê dat Yahweh die mens laat terugkeer (Heb: “shuv”) “voordat die berge gebore is en voordat Hy die aarde en die wêreld voortgebring het”.

Net ‘n opmerking oor die 4de, 5de en 6de items hierbo. Die bedoeling is duidelik dat dit bloot die konsep of die plan vir die “koms” van hierdie individue of groepe is wat voor die grondlegging van die wêreld “in die hemel” bestaan het. Binne daardie opset, voor die grondlegging van die wêreld, pas die fisiese aartsvaders (Avraham, Yietsgak en Yaakov), die letterlike volk van Israel en die vlees en bloed persoon van Y’shua, die Messias, nog nie in nie. Wanneer die Nuwe Testament oor en oor (ongeveer 8 keer) herhaal dat dit nodig is vir gelowiges om te glo dat die Messias “in die vlees” gekom het (Let wel: nie dat Yahweh in die vlees gekom het nie), dan sluit dit een honderd persent aan by hierdie verstaan van die Skrif. Die konsep of die plan van die Messias (Johannes noem dit die “logos”, wat met “woord” vertaal word) was van die begin af by Elohiem. Maar die Messias het nog nie in die vlees gekom nie. Eers “in die volheid van die tyd” – ongeveer 2000 jaar gelede – is hierdie “logos” in die vlees aan die wêreld geopenbaar. En dís wat mense moes glo voordat hulle “gelowiges in die Messias” kon word. Dis ‘n tema waaroor ons al in die verlede gepraat het en waaroor ons by ‘n volgende geleentheid weer sal praat.

Terug na die Tabernakel en Tempel wat ook vóór die grondlegging van die wêreld (in konsep vorm) bestaan het. Dis interessant dat Jer 17:12, wat hieroor praat, sê dat die afgesonderde plek verhewe (Heb “marom”) van die begin af was. Die woord “marom” is afgelei van “rum” wat beteken: “om op te lig, te verhef of hoog te maak”. Die woord “terumah” (offergawe – die naam van hierdie week se leesstuk) is van presies dieselfde woord (“rum”) afgelei. Die tempel is verhewe, omdat dit met Yahweh te make het, wat verhewe is. Ons offers is verhewe, omdat dit aan Yahweh gebring word, wat verhewe is! Om offers te bring, is ‘n manier om erkenning te gee dat Yahweh deel van jou lewe is. As offers nie meer ‘n rol speel in jou lewe, of nie meer vir jou belangrik is nie, dan het jy stadig maar seker begin om die verhewenheid, die grootheid, die soewereiniteit van Yahweh uit die oog te verloor. En dis onmoontlik om in ‘n behoorlike verhouding met Yahweh te staan as jy nie volledig rekening hou en erkenning gee aan sy grootheid en sy verhewenheid nie. Die Naam, “Yahweh” beteken ten diepste: Hy wat was en wat is en wat altyd sal wees. Die blote gedagte aan die implikasie van hierdie Naam, behoort ons in ootmoed voor Hom te laat neerbuig. Dit behoort ons outomaties vrae te laat vra, soos: Hoe kan ek aan Hom eer bewys? Hoe kan ek sy Naam in hierdie wêreld bekend maak? Hoe kan ek ander mense laat verstaan wat dit vir my beteken om Hom aan te roep en te dien? Hoe kan ek my eie lewe inrig sodat dit ‘n refleksie van Hom is en nie van ‘n oordrewe siening van myself nie? Hoe kan ek myself as mens volledig uitleef, binne die raamwerk van sy wil en sy grootheid?

So, hoe moet ons offers lyk? Ons het netnou gesien dat die aartsvaders een van die “items” is wat voor die grondlegging in die hemel “bestaan” het. Dit beteken onder meer dat die aartsvaders vir ons ‘n voorbeeld is om na te volg. Toe die koning van Sodom vir Avraham groot rykdom aangebied het, was Avraham se heel eerste woorde: “Ek hef my hand op (“rum”) tot Yahweh, El, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde (dat ek nie jou aanbod sal aanvaar nie – Gen 14:22).” Avraham se offer aan Yahweh, is dat hy nie onbehoorlike offers (omkoopgeld!) uit die hand van mense sal aanvaar nie. Om offers te bring aan Yahweh, is ‘n manier om te erken dat dit Hý is wat ons seën en ryk maak, nie mense nie. Toe Mosheh sy lied geskryf het, nadat Yahweh die volk so wonderbaarlik deur die Rooisee laat trek het, het hy gesê: “Yah is my krag en my psalm, en Hy het my tot verlossing geword. Hy is my El, Hom sal ek roem; die Elohiem van my vader, Hom sal ek verhef” (“rum” – Ex 15:2). Die natuurlike reaksie van iemand wat verstaan dat Yahweh ‘n groot werk of selfs ‘n wonderwerk in sy of haar lewe gedoen het, is om sy Naam te verhef, verkieslik deur ‘n offer van lof en lofsang aan Hom te bring. Nog ‘n voorbeeld uit Mosheh se lewe wat daarop dui dat Yahweh wil sien dat ons Hom, op watter manier oor al, vereer of verhoog, is die stryd teen die Amalekiete waartydens Mosheh sy arms letterlik moes oplig (“rum”). Ex 17:11 sê vir ons as Mosheh sy hande opgehou het, was Yiesraél die sterkste; maar as hy sy hand laat sak, was Amalek die sterkste. Daar is groot simboliese betekenis daarin om ons hande op te lig, wanneer ons sing of wanneer ons bid. Dit mag nooit wees om mense te beïndruk nie (want dan neem ons Hom uit die pakkie, oor wie se eer dit eintlik gaan), maar as dit suiwer daaroor gaan om ons fokus op Yahweh te rig, dan word Hy verhoog, soos dit hoort!

In die boek Bemiedbar of Numerie (hoofstuk 18) word daar telkens verwys na die tiendes wat letterlik as offergawe (“terumah”) na Yahweh “opgelig” (“rum”) moes word. Almal wat dit gehoor het of gelees het, het geweet: Dis nie soseer die tiendes wat opgelig moes word nie (alhoewel dit nie kan skade doen om jou gawe letterlik op te lig voordat jy dit op die aangewese plek afgee nie) – dit is Yahweh wat opgelig en verhef en vereer en groot gemaak moet word. Het Hy dan ‘n skaap of ‘n bees of ‘n paar rand nodig om groot in mense se oë te wees? Nee, nie in die minste nie. Maar wanneer sy lojale volgelinge ‘n offer – enige soort offer – aan Hom bring met ‘n gesindheid van “Ek wens ek kon méér vir Hom gee” – dan erken Hy as Skepper die regmatige eer wat aan Hom bewys word deur een deeltjie van sy skepping vir wie Hy werklik omgee.

Iemand wat Yahweh lief het en wat ‘n offer aan Hom bring, sal dit altyd met die gevoel doen van: Ek weet dit is nie werklik genoeg nie. Hy gee vir my soveel meer. Hy beteken vir my soveel meer. En tog behoort ons nooit op te hou om fisiese en geestelike offers voor Hom te bring nie. Ons behoort altyd gereed te wees om die grootste offer te bring wat ‘n mens kan bring: die offer van jou eie lewe. Rom 12:1 beskryf treffend wat dit behels: Stel jou liggaam as ‘n lewende en afgesonderde offer wat aan Elohiem welgevallig is. Ps 99 sluit hierby aan. Vers 5 sê: “Verhef (“rum”) Yahweh ons Elohiem, en buig julle neer voor die voetbank van sy voete”. Vers 9 gebruik byna die identiese woorde: “Verhef (“rum”) Yahweh onse Elohiem, en buig julle neer voor sy afgesonderde berg.” Die verse tussen-in is myns insiens ‘n beskrywing van wat dit beteken om JOUSELF as offer na Yahweh toe op te lig. Jy moet ‘n aanroeper van sy Naam wees (vers 6). Jy moet sy getuienisse en sy insettinge onderhou (vers 7). En jy moet sy vergifnis déél van jou lewe maak (vers 8 – onthou die 7de item wat voor die grondlegging van die wêreld bestaan het!). Dit is ten diepste wat dit beteken om neer te buig voor die voetbank van sy voete (vers 5) en voor sy afgesonderde berg (vers 9). Die beeld van die “berg” herinner ons daaraan dat Hy hoog is (en dat dit soms vir ons voel dat ons Hom nie kan bereik nie). Maar die “voetbank van sy voete” herinner ons daaraan dat, alhoewel Hy hoog is, kan ons Hom tóg bereik. Ons kan neerbuig voor die voetbank van sy voete. In ons geringheid en in ons laagtepunte, selfs as ons in die diepste put sukkel om kop bo water te hou, kan ons sy Naam groot maak en Hom verhef, want dis hoe Hy ons gemaak het!