DIE SIEL VAN JOSEF

alternate textIn die Torah leesstuk van hierdie week (Gen 44 – 47) kom die woord “siel” (enkelvoud) slegs een keer in die vertaling van Woord en Getuienis voor, in Gen 44:30 “As ek dan nou by u dienaar, my vader, kom en die seun nie by ons is nie – terwyl sy siel innig aan hom verkleef is, sal hy sterf as hy sien dat die seun daar nie is nie”. In die Hebreeuse teks staan daar letterlik: “sy siel was innig verkleef aan die siel van die seun” – die woord “siel” (Heb “nefesh”) kom dus eintlik 2 keer in hierdie vers voor, nie net een keer nie. In die vertaling van The Scriptures kom die woord “soul” nie een keer in hierdie hele leesstuk voor nie. Ons moet egter byvoeg dat die woord “soul” NOOIT in The Scriptures gebruik word nie, en dat dit een van die kenmerke van hierdie vertaling is dat dit gewoonlik die woord “life” of “person” gebruik waar ander vertalings “soul” of “siel” gebruik. Dit is interessant dat Gen 44:30 hierbo die woord “siel” gebruik om na Yaakov te verwys en hoe sy siel aan Benjamin verkleef is, en dat dit glad nie na Josef verwys nie – ten spyte daarvan dat Josef die sentrale karakter van die hierdie deel van Genesis is. Ook ten spyte daarvan dat die antieke Joodse geskrifte dit uitspel dat Josef (en nie Yaakov of Benjamin nie) die suiwer en ongeskonde siel van die mens simboliseer. Dit is verder interessant dat in die res van die leesstuk – en spesifiek in Gen 46 – die woord “siele” (meervoud) nog 8 keer gebruik word, dus altesaam 10 gebruike van hierdie woord, in hierdie Parashah alleen. Dit is meer gebruike van die woord “siel” as in meeste van die ander 54 parashot wat deel uitmaak van die jaarlikse leesprogram.

Ons weet almal dat die woord “siel” soms eenvoudig “mens” of “persoon” beteken. Daarom word daar byvoorbeeld gepraat van die aantal siele wat in Egipte aangekom het – in hierdie geval sewentig siele wat deel uitgemaak het van die huis van Yaakov. Ons weet ook dat dit nie verkeerd is om die oorspronklike woord met “lewe” te vertaal, soos wat The Scriptures (TS) dit doen nie. As Psalm 6:4 dus sê “Keer terug, Yahweh, red my siel”, dan vertaal TS dit met: “Return, O יהוה, rescue my life”. Persoonlik dink ek dat die konsep van “siel” in die Skrif meer genuanseerd is, as net “lewe”. Dit gaan oor die diepste setel van jou lewe – daar waar jou gedagtes en jou woorde en jou aksies en jou waardes gebore word. Daar waar jou komplekse karakter uitspruit en vorm aanneem. Daar waar jou emosies soms wipplank ry omdat die lewe nie net soos ‘n lang, reguit pad in die woestyn loop nie. Soms gaan dit oor die verwerking van terugslae en teleurstellings. Soms gaan dit oor die drie aspekte van wysheid, kennis en verstaan, waaroor ons verlede week gepraat het. Soms gaan dit oor begeertes en drome – die een aspek waarvoor Josef veral bekend gestaan het. Soms gaan dit oor die dinge uit die verlede wat jy met deernis onthou, of die dinge wat jy verkies om liewer te vergeet. Soms gaan dit oor jou verwagting ten opsigte van die toekoms. En ten diepste gaan dit oor jou konneksie met die Skepper en oor die leemte wat daar binne-in jou sal bly, as jy aanhoudend van Hom af wegskram. Ons verstaan dit nie soos die Griekse filosowe dit verstaan het nie – dat liggaam, siel en gees drie verskillende kompartemente van ons lewe is nie. Nee, die mens is ‘n eenheid, maar hy is ‘n komplekse eenheid en ‘n mens kry die idee dat die skrywers van die Skrif begrip hiervoor gehad het, maar nie altyd genoeg woorde gehad het om die verskillende fasette van ons mens-wees behoorlik van mekaar te onderskei nie. Daarom het hulle (in Hebreeus) hoofsaaklik drie woorde gebruik wat al drie met “asem” te make het (nefesh/siel, neshama/inspirasie en ruag/gees), om uitdrukking te gee aan veel meer as net drie onsigbare aspekte van die mens se totale bestaan hier op aarde.

Soms is dit reg om die woord “nefesh”, soos meeste van die tyd in TS, met “lewe” of “life” te vertaal. Die voorval in 1 Konings 17 waar Elijah die weduwee se seun wat gesterf het, uit die dood opgewek het deur drie maal op hom te gaan lê, is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Letterlik staan daar dat sy siel (“nefesh”) na hom toe teruggekeer het. Maar duidelik is dit sy lewe of sy lewensasem wat na hom teruggekeer het. Wanneer jy sterf, volgens meer as 40 verse in die Skrif, gaan jou siel nie na ‘n ander plek nie. Nee, jy sterf, wat beteken: Jou siel sterf. So byvoorbeeld, Jer 38:17 “As jy dit doen, sal jou siel lewe”, Eseg 18:4 “Die siel wat sondig, hy moet sterf”, Ps 33:19 “Om hulle siel te red van die dood” en Jak 5:20 “Hy sal ‘n siel uit die dood red”. Soms is jou siel iets wat jy HET (lewe, emosies, gedagtes, begeertes) en soms is dit iets wat IS (mens) – soos die sewentig siele (MENSE) wat in Egipte aangekom het. Maar dikwels wanneer hierdie woord in die Skrif gebruik word, gaan dit oor die fyner detail van ons menslike bestaan en oor dit wat betekenis gee aan ons lewe, maar nie met die menslike oog gesien kan word nie.

‘n Rabbi wat 200 jaar gelede in Rusland gewoon het, het gesê “the soul is that part of man that strives to go beyond the parameters of the ego and become absorbed in the source of all existence.” Dit klink dalk filosofies, maar miskien het hierdie rabbi verstaan dat die woord “nefesh” eintlik met daardie basiese handeling te make het waarmee elkeen van ons in hierdie wêreld ingekom het: “om asem te haal” – “to breathe and to be breathed upon”. Dis die deel van ons bestaan waar daar geen pretensies is nie. Geen nodigheid om iemand te beïndruk nie. Geen geskarrel om in die kompetisies van hierdie lewe altyd ‘n plek op die podium te kry nie. Nie omdat jy lui is nie. Ook nie omdat jy lewensmoeg is nie. Of omdat jy ‘n swakkeling is nie. Maar bloot omdat jy besef: As ek nie terwyl ek leef, by die Bron van my bestaan uitkom nie, gaan daar “doelloos” en “betekenisloos” oor my lewe geskryf staan – op ‘n stadium dat ek niks meer aan die saak kan doen nie.

Toe Josef in Gen 45 sy ware identiteit aan sy broers bekend gemaak het en navraag gedoen het oor sy pa en só gehuil het dat die Egiptenare aan die buitekant sy geween gehoor het, het ons ‘n kykie in sy psige en in sy siel gekry wat nie dikwels die geval in die Skrif is nie. Maar dit beklemtoon juis die feit dat die karakters van wie ons in die Skrif lees, nie net fisiese, emosielose, siellose mense was nie, maar dat hulle elke dag dieselfde emosionele en geestelike stryd gestry het wat ons so goed in ons eie lewens ken – selfs in die mees ekstreme gestaltes daarvan. As ‘n mens na die karakter van Josef kyk, na die onreg wat hom aangedoen is en na die manier waarop hy bokant dit uitgestyg het en ‘n redder vir sy volk geword het, dan sien jy ‘n siel wat hom nie laat vashou deur korrupsie en oneerlikheid en manipulasie en egosentriese politiek en kragvertoon nie.

Dit laat ons iets verstaan van ons eie siel. Die hunkering van ‘n mens se siel is nie om ander te domineer, om jouself te propageer, om wraak te neem en om valse fasades tussen jou en ander mense op te bou nie. Ja, sonde het gemaak dat ons harte aangetas is – daar is ‘n element van bedrieglikheid en verderf wat in ons harte ingekom het, soos Jer 17:9 sê. Die mens is geneig om versinsels in sy hart te laat inkom wat sleg an korrup is, soos Gen 6:5 sê. Maar daar is ‘n deel van ons wat van Bo af in ons ingebou is, wat altyd sal huil oor onreg en onreinheid en altyd sal hunker na geregtigheid en gemeenskap met die Allerhoogste. Iemand het gesê: “The soul harbours a single yearning: to melt away in the all-pervading truth of the Almighty.” Ons siel is daardie begeerte in ons om ons met die grootste waarheid wat daar is, besig te hou. Die waarheid van Yahweh en sy weë, en sy wil. In hierdie sin is die “siel” presies dit waarvan Shaúl in Rom 7 gepraat het toe hy gesê het hy doen soms (verkeerde) dinge wat hy ten diepste nie wil doen nie en dan is dit nie HY wat dit doen nie (dws nie sy SIEL nie), maar die sonde wat in sy lewe ‘n vastrap plek gekry het. Onthou, ons behoort nie te vinnig te wees om begrippe soos siel en gees en hart en gedagtes en begeertes in afsonderlike kompartemente te plaas en aan elkeen ‘n afgemete definisie te gee nie. Dis nie wat die skrywers van die woord daarmee bedoel het nie. Hulle wou bloot die boodskap deurgee, dat ‘n mens nie net dit is wat jy van die buitekant af sien nie. En ons behoort dit te weet en altyd in gedagte te hou – nie net ten opsigte van onsself nie, maar ook ten opsigte van ander mense.

Hou ons genoegsaam rekening met die siel in ons, terwyl ons met ons daaglikse aktiwiteite besig is? Josef se broers het die een wat die “siel” in hulle wou aanwakker, in ‘n put gegooi en later aan vreemdelinge verkoop. Doen ons nie dieselfde met ons eie siel as ons die leemte in ons binnekant en ons hunkering na Yahweh probeer regdokter met dinge wat niks met Yahweh te doen het nie? En verkoop ons nie ons siel wanneer ons stilbly oor, en selfs meedoen aan die korrupsie en geweld en onderdrukking en manipulasie in hierdie wêreld nie? Hou ons nie met alle geweld die siel daar onder in die put as ons gedurig ‘n front teenoor ons medegelowiges voorhou en iets voorgee wat ons nie is nie? Het dit nie tyd geword om met die ware Josef hier binne-in ons vorendag te kom nie? Want dit was eers toe Josef sy siel ontbloot het, dat die pad voorberei is om nuwe lewe en redding vir sy familie te verseker. Die siel het met lewe en asem te make. Kom ons haal asem, kom ons gebruik elke deeltjie van die lewe wat aan ons geskenk is en die goeie wat in ons ingebou is en rondom ons opgestel is om werklik by ons broers en ons susters en by die Bron van ons bestaan uit te kom. Slegs dán sal ons voor Hom kan vertoef, sodat Hy sy asem en sy Gees oor ons ook kan uitblaas en ons op dié manier met sy guns oor ons, kan lewe. As mense wat WAARLIK lewe en wie se lewens waarde en betekenis het!