DIE SIEL – STERFLIK OF ONSTERFLIK?

alternate textDie naam van hierdie week se Torah leesstuk is Vayĕchi, wat beteken: “En hy het gelewe.” Dit is die begin van Gen 47:28 wat sê dat Yaakov nog 17 jaar in Egipte gelewe het. Die woord “Vayĕchi” kom van dieselfde woord wat ons gebruik as ons vir mekaar toewens “Lechayim” – “Op die lewe!”, of in Engels: “To life!” In die klassieke fliek, Fiddler on the Roof, probeer die hoofrolspeler, Tevye, om mans te vind vir sy 5 dogters. Alhoewel hy weet dat sy oudste dogter, Tzeitel, verlief is op die brandarm kleremaker met die swak oë en die ronde brilletjie, belowe Tevye vir Lazar Wolf, die slagter van die dorp wat net so oud soos hyself is, en skatryk, dat hy sy dogter Tzeitel vir hom wat Lazar Wolf is, as vrou sal gee. Die arme Tzeitel (en haar geliefde kleremaker) is nie eens teenwoordig as hierdie ooreenkoms gemaak word nie. Dis net ‘n klomp mans in ‘n drinkplek en Lazar Wolf maak bekend dat hy vir al die drankies sal betaal omdat Tevye sy dogter aan hom belowe het. Die aand raak al hoe meer plesierig en hulle sing die lied, “Lechayim – To Life”, wat onder meer hierdie woorde bevat: “L’chaim, l’chaim, to life. Here’s to the father I tried to be! Here’s to my bride, my wife to be! L’chaim, l’chaim, to life! Life has a way of confusing us, Blessing and bruising us. L’chaim, l’chaim, to life. May all your futures be pleasant ones, Not like our present ones! L’chaim, l’chaim, to life. It takes a wedding to make us say, Let’s live another day. L’chaim, l’chaim, to life.”

Ons weet dat LEWE seker die belangrikste en mees oorheersende tema in die hele Skrif is. ‘n Mens dink aan Deut 30 waar Yahweh vir sy volk sê Hy het vir hulle die keuse tussen lewe en dood gegee het en dat hulle tog die LEWE moes kies, wat beteken dat hulle moes kies om aan Hom gehoorsaam te wees. ‘n Mens dink aan die bekende uitdrukking “So waar as wat Ek (Yahweh) leef” of “So waar as wat Yahweh leef!” of “So waar as wat jou siel leef” wat oor en oor in die Skrif gebruik word om tussen waarheid en leuen te onderskei. ‘n Mens dink aan die formule van toewyding wat dikwels gebruik word, soos “Ek sal iets van myself aan Yahweh wy, al die dae van my lewe” of “Ek sal Hom vrees, al die dae van my lewe” of “Ons sal ‘n sekere dag of ‘n sekere fees onderhou, al die dae van ons lewe”. ‘n Mens dink aan die meer as 50 keer dat die woorde “my lewe” in die Skrif gebruik word, en die sterk fokus op lewe in uitdrukkings soos “ek het my lewe gewaag”, “hy het my lewe gesoek”, “hy het my lewe gered”, “die vyand lê en loer op my lewe”, “my lewe is kosbaar in sy oë” en “Yahweh is die toevlug van my lewe”. En natuurlik die bekende woorde van die Messias, “Ek is die weg en die waarheid en die lewe – niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”

Dis baie interessant dat die leesstuk wat “Vayĕchi” genoem word en wat met die tema van LEWE begin, altesaam oor 4 hoofstukke strek wat al vier met die tema van DOOD eindig. Gen 47 eindig met Yaakov wat besef het dat hy binnekort sou sterf en toe vir Josef laat belowe het dat hulle hom in Hebron by sy eie mense sou begrawe as hy sterf en nie in Egipte nie. Gen 48 eindig met Yaakov wat weer met Josef praat en vir hom sê “Kyk, ek gaan sterf, maar Elohiem sal met julle wees, en Hy sal julle terug laat gaan na die land van julle vaders.” Gen 49 eindig met hierdie woorde: “Toe Yaákov klaar sy bevele aan sy seuns gegee het, trek hy sy voete terug op die bed en blaas die asem uit; en hy is by sy volksgenote versamel.” En Gen 50 eindig met ‘n kort beskrywing van die dood van Josef: “En Josef het gesterf, honderd en tien jaar oud. En hulle het hom gebalsem, en hy is in ‘n kis gesit in Mietsrayiem.”

Dis die patroon van ons bestaan hier op aarde. Die een oomblik verkneuter jy jou in die vreugde en genot om lewendig te kan wees. En dan, voordat jy jou oë uitvee, staan die dood hier voor jou en klop aan die deur. Of in ‘n oogwink verloor jy iemand aan die dood wat vir jou kosbaar is. En jy probeer die sin van dit alles ontrafel en wonder hoe dit is dat lewe en dood mekaar só kan afwissel en tog so onafskeidbaar aan mekaar verbind kan wees. Dis geen wonder dat die groot Vyand van die mens reg aan die begin hierdie dilemma uitgebuit het en vir Adam en Gawwa (Eva) gesê het: As julle van die vrugte van die boom eet, sal julle nie sterf, soos Yahweh gesê het nie. Nee, julle oë sal oopgaan en julle sal soos Elohiem wees, deur goed en kwaad te kan onderskei. Besef ons regtig wat hier gebeur het? Dis die begin van die leuen dat as ‘n mens sterf, dan sterf jy nie regtig nie. Jou siel bly lewe. Jy is eintlik beter daaraan toe. Jou oë gaan oop. Jy word verhef tot ‘n hoër dimensie. Jy kan selfs goed en kwaad onderskei. Pleks daarvan dat jy liewer maar vóór jou dood reeds tussen goed en kwaad onderskei het en die woorde van die Allerhoogste ernstig opgeneem het! En só het die mite van die onsterflikheid van die siel begin … al sê die Torah ‘n dooie mens of ‘n lyk is ‘n “nefesh meyt” – “’n siel wat gesterf het” … en al het Job geglo dat dit beter is vir ‘n siel om dood te gaan as om swaar te ly … en al staan daar in Ps 89 dat geen mens ‘n siel van die mag van die doderyk kan red nie.

Dit kan nie anders as ‘n “mite” beskryf word nie want die sogenaamde onsterflikheid van die siel is nie ‘n leerstelling van die Skrif nie. Dis ‘n menslike en oor-optimistiese verdraaiing wat gebore is vanuit die weiering van die mens om vrede te maak met die feit dat die dood ‘n feit van hierdie lewe is. Dat die dood in die wêreld ingekom het as gevolg van sonde en dat dit nie bedoel was as ‘n verlossing of ‘n beloning waarin jy verhef en verlig word nie, maar as ‘n onafwendbare “afsny” van lewe waaruit jy alleen verlos kan word as jy jou deel ontvang het aan die opstanding van die regverdiges, waarvan die apostel in Hand 24:14-15 gepraat het: “Maar dit erken ek voor u dat ek volgens die Weg wat hulle sekte noem, die Elohiem van my vaders dien, terwyl ek alles glo wat in die Torah en in die profete geskryf is, en ‘n hoop op Elohiem het, ‘n hoop wat hulle self ook verwag, dat daar ‘n opstanding sal wees van regverdiges sowel as onregverdiges.” Hierdie patroon van die Skrif is van die vroegste tye af subtiel verander deur talle kerklike belydenisse wat knaend verwys het na die opstanding van die liggaam, terwyl die Skrif glad nie so iets ken nie en altyd net praat van die opstanding van die dode.

Vertalings soos die KJV het op een of twee plekke die woord “immortality” op só ‘n manier in die Nuwe Testament gebruik, dat dit die idee kan skep dat die Voor-Messiaanse Skrifte nie korrek is as dit oor en oor van die sterflikheid van die siel praat nie. Die twee verse (KJV) wat in hierdie verband in die regte perspektief gestel behoort te word, is Rom 2:7 en 2 Tim 1:10. Rom 2:7 sê dat Elohiem die ewige lewe sal gee aan hulle wat soek na “glory and honour and immortality”. 2 Tim 1:10 sê dat Y’shua die dood vernietig het en in die plek daarvan “life and immortality” gebring het. Die woord wat in beide hierdie verse met “immortality” vertaal word, is “aphtharsia” wat verwys na iets of iemand wat nie bederf sal word of sal verweer (Engels: “wither”) nie. Die bedoeling is duidelik dat dit iets is wat deur Y’shua se dood en opstanding, deel word van die verwagting van gelowiges. Hulle sal sterf, soos wat Hy gesterf het. Maar hulle sal ook opgewek word, soos wat Hy opgewek is. In daardie sin sal hulle nie verderf, tot niet gaan of “wither” nie. Daar is ‘n opstanding waarna hulle kan uitsien. Net soos die gelowiges voor die koms van die Messias na ‘n opstanding uitgesien het en soos Dawid geglo het dat Yahweh hulle siel nie in die doderyk sal agterlaat nie.

Ons het verlede week gesien dat ‘n mens se siel ‘n kollektiewe woord vir jou hele mens-wees is – soveel só dat die Woord kan sê “die siel wat sondig, dié sal sterf” en jy kan “jou siel red” van die dood. My hoop volgens Hand 24 is nie daarop gerig dat my siel op ‘n manier tog sal bly lewe as ek gesterf het nie, maar dat ek (oftewel: my siel) sal deel hê aan die opstanding van die regverdiges, wanneer die Messias weer kom. Dit was die groot hoop van ons voorvaders soos Avraham, Yietsgak en Yaakov. Dit was die hoop van Dawid en die profete. Op die bekende Shavuot byeenkoms van Handelinge 2, was DIT die sentrale boodskap wat gelei het daartoe dat 3000 mense hulle bekeer het en hulle in die Naam van Y’shua laat doop het. In Kefa (Petrus) se boodskap van daardie dag was daar onder meer ‘n aanhaling van Dawid wat gesê het: “U sal my siel nie in die doderyk agterlaat nie” (vers 27). Toe Dawid sy oortuiging uitgespreek het dat Yahweh nie sy siel in die doderyk sal agterlaat nie, het hy by implikasie gesê dat selfs die siel van ‘n regverdige sal sterf en in die sogenaamde doderyk (Heb “sheól”) tot ruste sal kom, maar dat Yahweh (deur die opstanding van die regverdiges) sal verseker dat sy siel nie vir altyd daar bly nie.

Dit waaroor Shaúl (Paulus) aan Timoteus en aan die Romeine geskryf het en wat die KJV met “immortality” vertaal het, het niks met ‘n sogenaamde onsterflikheid van die siel te make nie. Dit het te make met die geloof en die verwagting dat ons as gelowiges ook uit die dood opgewek sal word soos wat Y’shua uit die dood opgewek is, en dat ons daarná nie weer sal sterf nie (dat ons dus die ewige lewe sal ontvang). Daar is ‘n ander woord in die Nuwe Testament wat letterlik “onsterflikheid” beteken en dit is die woord “athanasia”. Dieselfde apostel wat die woord “aphtharsia” met verwysing na gelowiges gebruik het, gebruik “athanasia” met verwysing na Yahweh, in 1 Tim 6:16. Hy praat van die grootheid en onvergelyklikheid van Yahweh en sê dat Hy die geseënde en enigste Heerser is, die Koning van die konings en Meester van die meesters en dat HY ALLEEN onsterflikheid (“athanasia”) besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, dat geen mens Hom gesien het of kan sien nie, en dat al die eer aan Hom toekom. Dit kan nie duideliker gestel word nie: HY ALLEEN besit onsterflikheid. En HY ALLEEN besit die outoriteit en die mag en die goedgunstigheid om die ewige lewe te skenk aan hulle wat Hom van ganser harte soek. Hy is die Bron van lewe. Buiten Hom, is alles en almal broos, verganklik, sterflik. Maar in Hom, en in die deurslaggewende dood en opstanding van sy Seun, het daar vir ons ‘n nuwe dag aangebreek. Tevye en sy drinkebroers verbly hulle in ‘n mens-gemaakte bruilof: “It takes a wedding to make us say, Let’s live another day.” Ons glo, soos die Messias ons geleer het: “It takes a withering to make us say, Let’s live another day.” As die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen. Maar as dit sterf, bring dit groot vrug en ewige lewe! (Joh 12:24). Lechayim! Op die lewe!