DIE SEËN VAN SHAVUOT

alternate textDie afgelope week vra iemand my uit oor die gebruik om kinders te seën of in te seën, en of hierdie openbare inseëning nie so gou as moontlik ná die geboorte van die kind behoort plaas te vind nie – net vir ingeval die kind iets oorkom en dalk sonder die seën van Yahweh te sterwe kom nie. My antwoord was min of meer iets soos die volgende: Ons het wel die gebruik om kleintjies in die openbaar te seën of in te seën, maar so ‘n inseëning is uit die aard van die saak net ‘n verlengstuk van die ouers se volgehoue seën en hulle aanhoudende gebede (van vóór geboorte af) dat Yahweh daardie kind sal seën en aanraak en bewaar. Op so ‘n manier val die ouers in by die Skriftuurlike patroon van gelowige ouers (of selfs net ouer persone, wat nie noodwendig biologiese ouers is nie – dink aan Simeon van Luk 2) wat reg van die begin af daarop in gestel is om hulle kinders te seën en aan Yahweh se sorg toe te vertrou. Die spesiale geleentheid van inseëning in die openbaar behoort nooit gesien te word as ‘n soort “magiese seremonie”, waarsonder die kind se siel verlore sal raak nie.

Die feit dat Numerie (Bemiedbar) 6 (volgende week se parashah) vir ons die sogenaamde “priesterlike seën” gee met drie sinne wat elke keer met “Yahweh” begin en na afloop van hierdie seën byvoeg: “So moet hulle dan my Naam op die kinders van Yiesraél lê; en Ek sal hulle seën” (Num 6:27), sê vir ons dat dit die gebruik was in die antieke tyd om kinders en volwassenes so gereeld as moontlik te seën en dat daar geen beter manier van seën was as die uitdruklike vermelding van Yahweh se Naam en die erkenning dat dit net met ‘n mens kan goed gaan as Yahweh, die Elohiem van Avraham, Yietsgak en Yaakov, sy hand na jou toe uitsteek en sy aangesig na jou toe draai.

Deut 16:16-17 stel dit baie duidelik dat die feestye almal geleenthede was waarop die volk opnuut die seën van Yahweh ontvang het: “Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van Yahweh jou Elohiem verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die Fees van die Ongesuurde Brode en op die fees van die Weke en op die Huttefees; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van Yahweh verskyn nie; elkeen ooreenkomstig die gawe van sy hand ooreenkomstig die seën van Yahweh jou Elohiem wat Hy jou gegee het.” Alles wat by die feeste gebeur – nie net die feit dat ons ons gawes na die feeste toe bring en nie met leë hande daar aankom nie – gebeur ooreenkomstig die seën van Yahweh. Dit gebeur OMDAT Hy ons seën, TERWYL Hy ons seën en VOLGENS DIE PATROON van sy seën.

Iemand het êrens geskryf: “It is a peculiarity of Shavuot that it is called not after the day itself but after the process that leads up to it.” “Shavuot” beteken “Weke” en hierdie weke verwys na die proses of die tydperk wat die eintlike feesdag voorafgaan – die sewe weke of 49 dae wat afgetel word vanaf ‘n dag in die week van Ongesuurde Brode. Gewoonlik seën ons iemand met die oog op die toekoms – dit wat nog voorlê, die behoeftes wat vorentoe mag uitkristalliseer en die voorsiening in daardie behoeftes, die gevare wat oor iemand se pad mag kom, die keuses wat gemaak moet – soos wanneer ons kinders seën of pasgetroudes seën of ‘n vriend of familielid seën van wie ons afskeid neem. Maar met Shavuot kyk ons terug na die sewe weke of 49 dae wat verby is en ons seën nie in die eerste plek mekaar of ons kinders of die pasgetroudes onder ons nie, maar ons seën vir Yahweh vir wat Hy in ons lewens gedoen het – sy getrouheid, sy genoegsaamheid, sy geduld, sy goedheid. Die drie groot “fees-blokke” van die Skriftuurlike jaar – die blok van die eerste maand (rondom Pesag), die blok van die derde maand (rondom Shavuot) en die blok van die sewende maand (rondom Yom Teruah) beklemtoon hoe belangrik dit is dat ons voortdurend met Yahweh se TYE moet rekening hou – nie net met afsonderlike DAE nie, maar ook met WEKE (SHAVUOT – Lev 23:15 Van die dag na die Shabbat (in die week van Ongesuurde Brode) moet julle sewe volle weke aftel), en MAANDE (PESAG – Ex 12:2 Hierdie maand – die maand van Pesag – moet vir julle die begin van die maande wees) en JARE (SUKKOT – Ex 23:16 Hou ook die fees van die insameling aan die einde van die jaar as jy jou werk uit die land insamel). In Ex 34:18-22 kom hierdie vier aspekte van MAAND, DAG, WEEK en JAAR in één paragraaf na vore, met uitdrukkings soos “bepaalde tyd”, “ploegtyd” en “oestyd” verweef deur die hele paragraaf: “Die Fees van die Ongesuurde Brode moet jy hou; sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand Aviev; want in die maand Aviev het jy uit Mietsrayiem uitgetrek … Ses dae moet jy arbei, maar op die sewende dag moet jy rus, In die ploegtyd en in die oestyd moet jy rus … Die fees van die Weke moet jy ook hou, die fees van die eerstelinge van die koring-oes; en die fees van die insameling by die wisseling van die jaar. Om die dae en die weke af te tel vóór die fees wat as’t ware in die middel van die jaar geposisioneer is, is ‘n sterk herinnering daaraan dat in Yahweh se ontwerp vir hierdie wêreld is dit nie net sekere dinge en plekke en mense wat vir Hom afgesonder moet word nie, maar ook sekere TYE. Met ons eie selfsugtige geaardheid is ons geneig om te dink: Dis net te moeilik om die Shabbat heeltemal af te sonder; dit pas my nie om die byeenkoms op nuwemaansdag by te woon nie; dis genoeg om te weet van Shavuot – dis nie nodig om ‘n “big deal” daarvan te maak nie. Maar die Skrif is duidelik: In Yahweh se oë is tye ‘n “big deal”. Ons durf dit nie afwater nie. Ons mag nie sy tye probeer verander nie. Ons kan nie bekostig om die seën van sy spesiale dae mis te loop nie. As ons die opdrag wat soos ‘n goue draad deur die Skrif loop, dat ons afgesonder moet wees omdat Yahweh afgesonder is, werklik wil gehoorsaam, moet ons die tye wat Yahweh eens en vir altyd afgesonder het, ook afsonder. So eenvoudig soos dit.

Ons lewe in ‘n tyd waarin die grense maklik verskuif word. En dit word dikwels gedoen onder die dekmantel van “moderne tye”, “tegnologiese vooruitgang” en “vryheid van denke en opinie”. In die Torah leesstuk van hierdie week staan daar in Num 2:2 “Die kinders van Yiesraél moet kamp opslaan elkeen by sy vaandel, by die tekens van die huis van hulle vaders, op ‘n afstand rondom die tent van byeenkoms moet hulle kamp opslaan. Waarom het Mosheh hier bygevoeg: By die tekens van die huis van hulle vaders? Waarom het hy nie net gesê: Elke persoon moet kamp opslaan by die vaandel van sy spesifieke stam nie? Wat word bedoel met die tekens van die huis van hulle vaders? Dit was om hulle daaraan te herinner dat hulle nooit die grense van die huis van hulle vaders mag verskuif nie. Die direkte vader van die 12 stamme was natuurlik Yaakov en daar is Skrifverklaarders wat meen dat Yaakov voor sy dood reeds vir sy 12 seuns riglyne gegee (‘n TEKEN!) van hoe hulle hulself moes groepeer as daar ‘n tent van samekoms in hulle midde opgerig sou word. Hoe het hy dit gedoen as daar nog nie ‘n tabernakel in sy tyd was nie? Hy het dit gedoen toe hy hulle bymekaar geroep het om hulle te seën – Genesis (Bereshiet) 49. Die eerste vers sê: “Daarna het Yaákov sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae (oftewel: na afloop van my dood) sal beleef.

Daar is aanduidings in die teks van Gen 49 dat Yaakov by hierdie geleentheid ook reëlings vir sy eie begrafnis deurgegee het. As ons hierdie gesprek moes rekonstrueer, sou dit moontlik só geklink het: “As ek te sterwe kom, moet julle as my 12 seuns op ‘n gepaste wyse aan my eer betoon. Yehudah, Yiessasgar en Zevulon moet aan die oostekant van my draagbaar loop. Ruven, Shimon en Ghad moet aan die suidekant van my draagbaar loop. Efrayiem, Menasheh en Benyamien moet aan die westekant van my draagbaar loop en Dan, Asher en Naftali moet aan die noordekant loop. Josef moenie een van die draers wees nie, want hy is ‘n koning en julle moet hom eer. Levi moenie een van die draers wees nie, want hy sal die ark dra en die een wat die ark dra van Hom wat vir ewig lewe, mag nie die draagbaar dra van iemand wat dood is nie. As julle my instruksies volg en na my dood my draagbaar dra soos ek julle beveel het, sal Yahweh julle seën en sy tekens vir julle gee. Dit is die tekens van die huis van julle vaders wat nooit sal verander nie en wat niemand van julle af kan wegneem nie.

En só het elke lid van die 12 stamme, op die dag toe die tabernakel in hulle midde gestaan het en Mosheh verduidelik het presies hóé hulle rondom die tabernakel moes stelling inneem, geweet dat die tekens van die huis van hulle vaders nog steeds gegeld het. Hulle moes hulle tente op presies dieselfde manier opstel as wat hulle stamvaders rondom die doodskis van Yaakov opgestel is, in gehoorsaamheid aan die woorde van Yaakov self. Dit is soos wat in Job 36:3 beskryf word: “Ek sal my kennis van ver af ophaal en aan my Skepper reg verskaf.” Laat ons nie ons kennis wat van ver af kom, verontagsaam of geringskat nie. As ons aan ons Skepper reg wil verskaf en sy seën wil geniet – ook in hierdie fees wat voorlê – kom ons gaan dan hierdie fees tegemoet terwyl ons mekaar daaraan herinner dat die Torah (waaroor Shavuot ten diepste gaan) die grootste, enkele bron is waaruit ons ons kennis van ver af kan opdiep en aan ons Skepper reg en eer kan bewys.