DIE LAASTE DRIE PLAE

alternate textParashah “Bo”, wat strek vanaf Eksodus 10:1 tot 13:16, begin met ‘n beskrywing van die laaste drie plae, naamlik sprinkane, duisternis vir drie dae lank en die dood van die eersgeborenes van die Egiptenare. Op ‘n manier het al drie hierdie laaste plae met duisternis te make. Die onophoudelike, onmeetbare swerms sprinkane het donkerte oor die aarde en duisternis in die hemelruim veroorsaak. Met die aanbreek van die volgende plaag, drie dae van algehele duisternis waarin die nag en die dag vir drie periodes van 24 uur, presies eenders gelyk het, moes vir die Egiptenare, en vir die Israeliete, ondraaglik gewees het! Maar veral vir die Egiptenare. Die Egiptenare was sonaanbidders en “darkness by day” was vir hulle bó alles ‘n teken dat hulle “godheid” hulle verlaat het. En die laaste plaag, die dood van die eersgeborenes, het letterlik in die nag plaasgevind, en het die Egiptenare, op ‘n emosionele vlak, in ‘n diep, verlate, donker plek ingeneem waar hulle vantevore en daarná nog nooit was nie.

As ‘n mens net dink oor die impak van fisiese duisternis op ‘n mens se emosies, is dit geen wonder dat Eksodus 10:23 vir ons sê dat niemand van sy plek af opgestaan het nie, vir drie dae lank. Baie kommentators het al daarop gewys dat die Egiptenare teen hierdie tyd, na alle waarskynlikheid, in ‘n diepe depressie verkeer het. Nie net oor die duisternis nie, maar oor die 400 jaar wat hierdie duisternis vooraf gegaan het. Teen dié tyd moes meeste Egiptenare al besef het daar is ‘n hoër Hand aan die werk in hulle land. Teen dié tyd het hulle lankal al begin nadink oor wat hulle die Israeliete aangedoen het. Iemand wat nie van sy plek af opstaan nie, is gewoonlik depressief. Een kommentator sê die Egiptenare moes in sak en as gewees het oor “the realization of how much their own comfort depended on the enslavement of others.” Ons moenie vergeet dat dit nie net die Egiptenare was wat die duisternis gesien en beleef het nie. Dit was die Israeliete ook. Dis nie net Egiptenare wat moet nadink oor die vraag of daar nie episodes in hulle lewe was toe hulle eie voorspoed en gerief gebou was op die swaarkry en verslawing van ander mense nie. Dis óns ook, vandag, wat met hierdie vraag gekonfronteer word.

Meeste van ons het al met hierdie vraag gestoei en geworstel binne die konteks van die apartheidsjare en die stelsel van ongelykheid en verdrukking waaruit baie van ons en ons ouers voordeel getrek het. Maar hierdie vraag het nog nie weggegaan nie – dit bestaan nog steeds – ons durf nie “done and dusted” daaroor skryf nie! Ons kan nog steeds mense verslaaf – selfs in ons eie huishouding, en heimlik vir onsself sê ons het die reg om dit te doen! Nee, ons het nie die reg nie! Mans en vrouens mag dit nie met mekaar doen nie; ouers mag dit nie met hulle kinders doen nie; werkgewers mag dit nie met hulle werknemers doen nie en politici mag dit nie met belastingbetalers doen nie! Ek mag nie my eie ideale nastreef of my eie tradisies vertroetel of my eie geldsakke volstop of doodluiters voortgaan op my eie verkeerde weg en in die proses skade aanrig aan mense wat, net soos ek, deur Yahweh geskape is nie!

As ek of jy, op enige manier, in so ‘n patroon verval het, dan sê hierdie week se leesstuk vir ons: Gaan! (“Bo!”) – gaan uit daardie ongewenste situasie uit! Stel reg wat verkeerd is! Moenie net bly sit waar jy is nie! Dit mag die jaar 2021 wees, maar daar is nog steeds Eksodusse (uittogte) in ons lewens nodig! Moenie in duisternis vasgevang bly nie! Ons het verwys na die drie laaste plae wat al drie verband hou met duisternis. Vanuit ‘n ander hoek bekyk, is daar nie net drie plae nie, maar ook drie lae – drie komponente wat verband hou met ons bestaan hier op aarde: Die komponente van Plek, Tyd en Siel (Engels: “Being”). Dit is interessant dat die heel eerste opdrag of Mitzvah (van die 613 opdragte wat Yahweh deur Mosheh aan die volk gegee het) met Tyd te make het en dat dit in die leesstuk van hierdie week voorkom: “Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees” (Ex 12:2).

Wat ons dikwels uit die oog verloor, is dat TYD in die eerste plek met verandering en vernuwing te make het. Dink aan die verloop van tyd in een jaar en die veranderinge in die natuur en seisoene wat in daardie periode plaasvind. Selfs die drie belangrikste eenhede van tyd wat in die Skrif gebruik word, die weeklikse Shabbat, die maandelikse nuwemaan en die jaarlikse feeste, het almal met verandering en vernuwing te make. Dir Shabbat is bedoel as ‘n rusdag om die mens te vernuwe en te verkwik. Die nuwemaan staan bekend as “chodesh” wat letterlik “vernuwing” beteken. En die Hebreeuse woord vir jaar wat aan die jaarlikse feeste gekoppel word, is “shanah” wat verwant is aan “shinui” wat “verandering” beteken en “shoneh” wat “verskil” of “difference” beteken.

Met die Eksodus verhaal word elkeen van ons gekonfronteer met die drie hoof komponente van die mense se bestaan. Daar is drie vrae waarop ons vir onsself ‘n antwoord moet kry: (1) Op watter PLEK is ek op die oomblik? Is ek dalk in Egipte of Mietsrayiem waar ek self verdrukking of verslawing ervaar of waar ek mede-verantwoordelik is of was vir iemand anders se verdrukking of verslawing? In die verlede was ons geneig om bloot aan Egipte te dink as ‘n plek van slawerny. Eintlik beteken “Egipte” egter “Place of narrowness” oftewel “Place of tightness”. Was ek dalk verantwoordelik daarvoor dat iemand se lewe ingekrimp of verskraal is? Het ek dalk in ‘n patroon verval om mense rondom my in “tight spots” te sit en vir hulle ‘n sensasie van versmoring en engte-vrees (claustrophobia) te gee?

Dan is daar ‘n tweede vraag waarop ons vir onsself ‘n antwoord moet kry: (2) Het dit nie TYD geword om te verander en te vernuwe nie? Gelyktydig met die instelling van Pesag, aan die begin van die Eksodus uit Egipte, het die Skepper dit goed gedink om vir die mens die heel belangrikste leidraad oor sy eie patroon van tye en kalenders te gee: Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees! Het dit nie tyd geword om, wat ons geloofspad betref, uit die verskraling en die versmoring van Egipte weg te stap nie? En wat elkeen van ons persoonlik betref: Is daar nie ‘n situasie in my huis of in my werk of in my vriendekring of in my hart (iets waarvan niemand weet nie!) wat uitroep na ‘n Eksodus nie? Is daar dalk ‘n stuk huiwering en ‘n stuk vashou aan wat bekend en wat gemaklik is, waaroor die Gees van Yahweh met my praat en vir my sê: Gaan daar uit! Bo! Daardie tyd is verby! Moenie ‘n oomblik langer vertoef nie!

En dan die derde vraag: (3) Hoe gaan dit regtig met my siel (my “Being”) in hierdie tyd wat seker een van die donkerste periodes van ons land se geskiedenis is? Die Skrif leer ons dat die toestand van ons eie “being” onlosmaaklik verbind is aan watter soort verhouding daar tussen ons en ander “beings” is. Daar was in die verlede al eindelose debatte oor die vraag wanneer dit nou regtig donker is – veral ook wanneer dit kom by die bepaling van wanneer presies begin en eindig ‘n Shabbat nou eintlik? Die ou rabbis het hulle vir ure lank met hierdie vraagstuk besig gehou. Is dit wanneer die aandster sy verskyning maak of wanneer jy drie sterre in die hemelruim kan uitken? Is dit wanneer jy nie meer tussen ‘n blou kledingstuk en ‘n wit kledingstuk kan onderskei nie of nie meer die verskil tussen ‘n hond en ‘n wolf kan raaksien nie? Is dit wanneer jy nie meer goed genoeg kan sien om te weet of dit ‘n wilde esel of ‘n mak esel is wat reg voor jou oor die pad loop nie? Maar uiteindelik het sommige van die ou rabbis al hierdie moontlikhede verwerp en gesê die enigste manier hoe ‘n mens kan bepaal of dit regtig donker is, is wanneer jy nie meer die gesig van jou vriend kan herken nie, wanneer jy hom of haar nie meer vol-uit in die oog kan kyk nie.

Ek meen dat die vraag “Hoe gaan dit regtig met ons SIEL in hierdie donker tyd?” absoluut verband hou met die vraag of ek die ander “beings” rondom my, nog werklik kan raaksien en in die oë kan kyk. As die antwoord “nee” is, dan het die donkerte my reeds só verswelg, dat ek soos die Egiptenare dit nie eens kan regkry om van my plek af op te staan nie. Maar die feit dat dae soos Shabbat of ‘n nuwemaansdag of jaarlikse feesdag, geopenbaar is as dae wat begin met duisternis en eindig met lig, sê vir ons dat daar vir ons HOOP is om te kan verander, selfs al het die duisternis ons oorweldig en afstand tussen ons en ander mense gebring. Net soos wat die Shabbatte en die nuwemane en die feeste in wese oor verandering en vernuwing gaan, is Yahweh van nature daarop ingestel om verandering en vernuwing in ons lewens tot stand te bring. Hy is die Inisieerder en die Voorloper van elke vol-bloed Eksodus, ter wille van geregtigheid en ter wille van sy Naam, wat daar al in die geskiedenis van die mensdom plaasgevind het – klein of groot, bekend of onbekend. Hy is uitstekend daarmee om die donkerte met sy lig te verdryf. En toe Hy sy Seun aan hierdie wêreld bekend gestel het – die Een wie se koms profeties deur die donkerte van die laaste drie plae en die Pesaglammers van die laaste plaag aangekondig is – het hierdie Seun van Hom vir ons nuwe HOOP kom gee, toe daar oor Hom gesê is “die volk wat in duisternis sit, het ‘n groot lig gesien” (Mat 4:16) en “as ons in die lig wandel soos Elohiem in die lig is, het ons gemeenskap met mekaar (d.w.s. met ander “beings” rondom ons), want die bloed van Y’shua die Messias, sy Seun, reinig ons van alle sonde” (1 Joh 1:7). Sélf, het hierdie Seun onomwonde verklaar: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal beslis nie (meer) in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Joh 8:12).