DIE GEES VAN YAHWEH 7

alternate textTer afsluiting van ons reeks oor die Gees van Yahweh, wil ek vandag stilstaan by vier aspekte wat met die werking van die Gees verbind word, maar dikwels op ‘n manier aangepak en voorgestel word wat nie getrou is aan die boodskap van die Skrif nie. Om dit maklik te maak het ek aan elkeen van die vier aspekte ‘n etiket gegee wat met ‘n “G” begin: (1) Die Gees en Gawes; (2) Die Gees en Gebrabbel; (3) Die Gees en Gebed en (4) Die Gees en Gemeenskap. Kom ons kyk na elkeen van hierdie vier baie relevante aanknopingspunte in die hedendaagse besinning en gesprekke oor die Gees van Yahweh.

(1) Die Gees en Gawes. Die “gawes” van die Gees is ‘n aspek wat veral in gedeeltes soos Rom 12, 1 Kor 12, Efes 4 en 1 Pet 4 na vore kom en die vraag is of die gawes ‘n nuwe werking van die Gees van Yahweh was en of dit ook in die tyd vóór die koms van die Messias ‘n rol gespeel het. Die woord “gawes” is ‘n vertaling van die Griekse woord “charismata” en hierdie woord help ons om te verstaan hoe dit gebeur het dat die “charismatiese” beweging, veral in die moderne tyd, die idee van “gawes van die Gees” buite proporsie opgeblaas het en die idee verkondig het dat die beoefening van die charismata ‘n teken of ‘n bewys van besonderse “salwing” en geestelike “diepte” is. Die feite is egter dat die woord “charismata” net ‘n Griekse weergawe is van die Hebreeuse begrip “chanan” (“guns”, “favour”) en gewone en onbekwame manne en vroue het lank voor die koms van die Messias ook “chanan” of “charismata” deur die Gees van Yahweh ontvang om toegerus en bekwaam te wees vir die werk wat hulle moes doen. Mense soos Mosheh, Yahushua, Devorah, Gideon, Dawid, EliYah en Elisha was almal baie bewus van hulle eie tekortkominge, gebrekkige agtergrond en selfs krake in hulle karakter, maar hulle is met die Gees van Yahweh vervul en húlle was die eintlike “charismatiese voorlopers” in die Skrif. Nie een van hulle het ‘n kursus gedoen in “Ontdek jou gawes” nie. Nie een van hulle het geval of gelag of gebrabbel in die Gees nie. Nee, hulle het eenvoudig die Gees van Yahweh vertrou en die Woord van Yahweh in gehoorsaamheid nagevolg (al was dit dikwels ná ‘n aanvanklike periode van verset en teëstribbeling). Yahweh ken elkeen van ons deur en deur. Hy weet hoe elkeen van ons die heel beste in sy diens kan staan hier op aarde. Hy kom na ons toe en konfronteer ons met die rykdom van sy Woord. Deur sy Gees se werking binne-in ons spoor Hy ons aan om Hom te vertrou en sy Woord te volg. En Hy skenk ons die “gawes” of “charismata” wat ons nodig het en wat ons mens-wees en persoonlikhede aanvul op maniere wat van doodgewone mense ‘n aanwins maak vir die koms van sy koninkryk hier op aarde!

(2) Die Gees en Gebrabbel. Sommiges mag dalk aanstoot neem omdat ek die woord “gebrabbel” hier gebruik. Maar ek doen dit omdat daar in die charismatiese beweging dikwels oordrewe klem geplaas word op die gawe van “spreek in tale” (soms word dit as die “sigbare bewys” voorgehou dat iemand die Gees van Yahweh ontvang het) en omdat hierdie “spreek in tale” dikwels – anders as wat in die Skrif voorgestel word – as ‘n onsamehangende gebrabbel verstaan word en NIE as die oordra van ‘n boodskap in ‘n bestaande taal (ter wille van diegene wat daardie boodskap dalk nie in ‘n ander taal kan verstaan nie). Die tale wat die apostels tydens die bekende Shavuot byeenkoms van Hand 2 gepraat het, was nie ‘n gebrabbel nie, dit was bestaande tale (Hand 2:8 “Ons hoor hulle praat in ons eie tale waarin ons gebore is”). Die Griekse woord wat hier vir “taal” gebruik word, is “dialektos” – verwant aan die woord “dialek” en duidelik ‘n verwysing na ‘n taal (met grammatika), nie ‘n onsamehangende gebrabbel nie. Die ander Griekse woord wat ook vir “taal” of “tale” gebruik word, is “glossa” wat letterlik “tong” beteken en wat by implikasie ook na ‘n bestaande taal verwys. So word daar byvoorbeeld in Engels van ‘n mens se “mother tongue” gepraat – en dan is dit die taal wat ‘n mens van kindsbeen af gepraat het. In Rom 14:11 word hierdie verstaan van die word “glossa” bevestig: “So waar as Ek leef, sê Yahweh, voor My sal elke knie buig, en elke tong (“glossa”) sal Elohiem bely.” Die bedoeling is sonder twyfel: Mense wat verskeie tale praat (oftewel: mense uit verskeie nasies) sal voor Hom buig en sy Naam bely. Hierdie teks in Rom 14:11 is ‘n aanhaling uit die Tanak – spesifiek Ps 72:11 en Jes 45:23 waar dieselfde waarheid in die vorm van ‘n profesie gegee word – dat daar ‘n tyd in die toekoms sal wees waarin mense UIT ANDER NASIES op ‘n groot skaal die knie voor Yahweh sal buig en sy Naam sal aanroep. Dit is duidelik dat die periode ná Y’shua se hemelvaart die begin van die vervulling van hierdie profesie was. In die hoofstuk waarin Shaúl (Paulus) by verre die meeste uitbrei oor die rol van “spreek in tale” (1 Kor 14), haal hy weer eens aan uit die Tanak en plaas hy die “spreek in tale” binne die konteks van Yahweh wat toegang verleen aan vreemde nasies (wat ander tale praat) om deel te verkry aan voorregte wat voorheen net tot Israel beperk was (vers 21). In verreweg die meeste plekke in die Nuwe Testament waar die woord “taal” of “tale” gebruik word, is dit juis in hierdie konteks van Yahweh wat die deur van die koninkryk vir die nasies van die wêreld oopgemaak het (sien bv. Hand 10:45-46; Hand 19:6 en die volgende 7 gedeeltes in die boek Openbaring: 5:9; 7:9; 10:11; 11:9; 13:6; 14:6 en 17:5). Ek glo dat die gawe van spreek in tale vandag nog voorkom – NIE wanneer daar met sterk emosionele opsweping in sekere byeenkomste in onsamehangende klanke gebrabbel word nie, maar wanneer die suiwer Woord van Yahweh, in hulle eie taal, aan mense gebring word wat hierdie unieke boodskap nog nie voorheen gehoor het of verstaan het nie. ‘n Mens hoor tot vandag toe nog die roerende verhale van mense wat só ‘n boodskap in hulle eie taal met hulle hele hart en siel en met onbeskryflike blydskap aanvaar het. Kan daar ‘n duideliker bewys wees dat so iets juis die werk van Yahweh se Gees is?

(3) Die Gees en Gebed. Ons kan nie anders as om ook te vra na die verbintenis tussen ons gebede en die Gees van Yahweh nie. Die uitspreek van gebede (en die verhoring van gebed) lê dikwels op daardie onsigbare en onhoorbare vlak waarbinne die Skrif dikwels melding maak van die Gees van Yahweh. In Efes 6:18 vra Shaúl (Paulus) dat die gelowiges “met alle gebed en smeking by elke geleentheid (vir hom sal) bid in die Gees”. Het hy bedoel dat hulle vir hom op ‘n buitengewone manier moes bid – miskien deur van “brabbeltaal” gebruik te maak? Nee, hy het bloot bedoel dat hulle baie ernstig vir hom moes bid. Ek meen dat beide Shaúl en die Efesiërs verstaan het dat ware gebed altyd “in die Gees” plaasvind. As ons die “geestelike” aspekte in ons lewens moes opnoem, sou ons maklik gebed heel bo-aan daardie lysie kon geplaas het. Daarom het Y’shua ook gesê dat die ware aanbidders Yahweh in Gees en in waarheid moes aanbid en dat Yahweh na mense soek wat só tot Hom bid (Joh 4:23). Wanneer daar in Rom 8:26 gesê word dat die Gees ons swakhede te hulp kom, “want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge”, dan verwys die “onuitspreeklike sugtinge” nie na ‘n gebrabbel nie. Dit herinner ons daaraan dat as ons die Gees van Yahweh vertrou om ons (in alles) te lei, ons beter sal weet hoe om te bid – met geloof en volgens die wil van Elohiem (Jak 1:6; 1 Joh 5:14). Die vers wat direk volg op Rom 8:26 (vers 27), bevestig hierdie waarheid: “Hy wat die harte deursoek (Yahweh), weet wat die bedoeling van die Gees is (omdat dit sy eie Gees is en) omdat die Gees ooreenkomstig die wil van Elohiem vir die afgesonderdes intree.”

(4) Die Gees en Gemeenskap. Die regstreekse gevolg van die uitstorting van die Gees van Yahweh in die Handelinge periode is dat daar ‘n baie hegte gemeenskap van gelowiges tot stand gekom het – eers net in Jerusalem en later, al hoe meer snel-groeiende gemeenskappe in die res van Israel en Klein Asië, tot so ver as Rome in Italië. Hand 2:42 beskryf die daaglikse roetine van hierdie vroeë gelowiges as volg: “Hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap (Grieks: “koinonia”) en in die breking van die brood en in die gebede.” Die woord “koinonia” beteken letterlik om alles te deel – nie net materiële dinge nie, maar ook waardes soos hoop, geloof, oortuigings, toewyding, passie, bemoediging, ensovoorts. Deur sy Gees het Yahweh lewenskragtige gemeenskappe tot stand gebring waarin indiwidue in ‘n relatiewe kort tydjie op ‘n liefdevolle en radikale manier by mekaar se lewens betrokke geraak het. Hoe kon só iets gebeur? Dit is die noodwendige gevolg as mense die allesoorheersende lig betree wat in hierdie wêreld ingekom het toe Yahweh sy eie Seun ter wille van ons gestuur het. Maak nie saak as daardie mense van mekaar verskil nie. Maak nie saak watter draaie hulle lewens voorheen gemaak het nie. Maak nie saak hoeveel donkerte hulle in die verlede geken het nie. 1 Joh 1:7 beskryf dit só: “As ons in die lig wandel soos Hy (Y’shua) in die lig is, dan het ons gemeenskap (“koinonia”) met mekaar.” Efes 3:5-21 sê daar is ‘n verborgenheid, iets wat vir eeue lank geheim gehou is, wat in hierdie laaste dae (ná die koms van Y’shua die Messias) DEUR DIE GEES openbaar gemaak is. Wat is hierdie geheim? Ons wat vandag hierdie boodskap hoor, het alreeds iets daarvan beleef: Wat deur die Gees van Yahweh in hierdie laaste dae geopenbaar is, is dat mense uit nie-Joodse nasies, mense soos ons, mede-erfgename van Yahweh se eie uitverkore volk geword het, mede-deelnemers aan beloftes wat voorheen net vir húlle gegeld het en mede-lede van die liggaam van die Messias. Hierdie openbaring word die “menigvuldige wysheid van Elohiem” genoem en sy “ewige voorneme” wat vasgestaan het, van die begin af. En dít, sê Efes 3, gee vir ons vrymoedigheid en vertroue en toegang om deur geloof tot Yahweh te mag nader. Deur hierdie ongekende, nuwe gemeenskap versterk Hy ons deur sy Gees in die innerlike mens en maak Hy ons standvastig en stewig veranker (Engels: “GROUNDED”). Deur sy Gees motiveer Hy ons om hierdie koinonia met liefde en omgee te onderhou (en daarin te volhard) en aan Hom, as die enigste Elohiem, lof en eer toe te bring!