DIE GEES VAN YAHWEH 6

alternate text‘n Mens hoor dikwels dat gelowiges die aktiwiteit van die Gees van Yahweh voorstel as iets wat die teenoorgestelde is van die onderhouding van die Torah. Die indruk word geskep dat die Gees van Yahweh nie vrylik in ‘n mens se lewe kan werk as jy sterk voel oor aspekte van die Torah soos byvoorbeeld die opdragte wat met die Shabbat en die feeste en onrein kosse te make het nie. Gees en Torah is vir hierdie mense dus min of meer twee teenoorgesteldes, wat nie eintlik in harmonie met mekaar is nie. Selfs al spreek hulle dit nie hardop uit nie, sit sommiges met die idee in die agterkop dat die Torah ‘n hindernis vir die werking van Yahweh se Gees kan wees. Ons is tans besig om vanuit verskillende hoeke na die werking van Yahweh se Gees te kyk en ek meen dat dit baie belangrik is om die waarheid van hierdie siening, al dan nie, so eerlik as moontlik, te toets aan die boodskap van die Skrif.

Die siening wat hierbo beskryf word, word gewoonlik uit Skrifgedeeltes van die Nuwe Testament afgelei. Daar is altesaam 7 plekke in die Nuwe Testament waar die Griekse woord vir “Torah” (“nomos”) en die Griekse woord vir “Gees” (“pneuma”) in dieselfde vers voorkom. Deur hierdie gedeeltes van naderby te bekyk en veral die breër konteks waarbinne hierdie teksgedeeltes staan, deeglik in ag te neem, behoort ons groter sekerheid te verkry oor wat die Skrif werklik in hierdie verband vir ons leer.

Luk 2:27 “En Shiemón het deur die Gees in die tempel gekom; en toe die ouers die Kindjie Y’shua inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die Torah.” Twee verse tevore lees ons dat Shiemón vervul was met die Afgesonderde Gees. In hierdie vers lees ons dat dit “deur” of “onder leiding van” die Gees was dat hy na die tempel gegaan het. Wat het by die tempel gebeur? Y’shua se ouers het daarnatoe gegaan om aan die vereistes van die Torah te voldoen, wat betref die geboorte van hul eersteling en die bring van offers, wat daarmee saamgaan. Hier sien ons duidelik dat die Gees en die Torah nie teenoor mekaar staan nie. Yahweh se Gees vergun aan ‘n bejaarde persoon die voorreg om iets te beleef en te sien wat ander maar net kon droom om te ervaar. En die geleentheid wat Yahweh uitgekies het vir Shiemón om die beloofde Messias te sien, is waar Y’shua se ouers spesiaal na die tempel toe gaan om aan die vereistes van die Torah te voldoen.

Rom 7:6 “Maar nou is ons vrygestel van die Torah, aangesien ons dit afgesterf het waardeur ons gebonde was, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie.” Deur hierdie vers bloot op sy eie te lees, klink dit of Torah en Gees aan teenoorgestelde kante van die spektrum lê. Die vers moedig gelowiges aan om “die nuwigheid van die Gees” te verkies bo die “oudheid van die letter”. Daar is iets wat hulle voorheen “gebind” het, maar deurdat hulle tot geloof in die Messias gekom het, het hulle hierdie gebondenheid “afgesterf” en is hulle dus nie meer gebind nie. Die vraag is: Presies WAT het hulle afgesterf? Wat sê die breër konteks waarin hierdie vers voorkom? Die vorige vers (vers 5) noem twee aspekte: “sondige hartstogte” en “Torah”. Die twee is nie dieselfde nie. Die sondige hartstogte het “deur” die Torah (Grieks: “dia too nomoo”) gekom. Die volgende vers (vers 7) verduidelik wat “deur die Torah” beteken: “Ons ken die sonde deur die Torah (dia too nomoo)”. So, is dit die “sondige hartstogte” wat hulle gebind het en wat hulle moes afsterf, of is dit die “Torah”? Duidelik is dit die sondige hartstogte, nie die Torah nie. Die Torah is die medium waardeur sonde en sondige hartstogte geken en herken word. Dit waarvan ons vrygestel is deur die werking van Yahweh se Gees, dit wat ons gebind het, is NIE die Torah (wat in Rom 7:12 “afgesonder en regverdig en goed” genoem word) nie, maar die sondige en vleeslike begeertes wat deur die Torah aan die lig gebring word en waarvoor daar vergifnis en verlossing is deur geloof in Y’shua die Messias.

Rom 8:2 “Die Torah van die Gees van die lewe in die Messias Y’shua het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.” Hierdie vers wat net in die volgende hoofstuk van dieselfde brief van Shaúl (Paulus) voorkom, en nog steeds handel oor die uitwerking van sondige begeertes in ons lewe, lê in betekenis baie naby aan die vorige vers. Net soos Rom 7:6, sê Rom 8:2 dat die Gees van Yahweh ons vrygemaak het van ‘n binding wat voorheen soos ‘n wet (“nomos”) oor ons lewens geheers het. Watter soort wet was dit? Dit was die wet van sonde en dood. Daardie wet wat bepaal dat sonde tot die dood lei, of soos dit vroeër in dieselfde boek uitgespel word, “die loon van die sonde is die dood” (Rom 6:23). Alhoewel hierdie wet déél uitmaak van die Torah en in die Torah beskryf word, is dit nie die somtotaal van Torah nie. Daarom tref Shaúl (Paulus) in hierdie vers ‘n duidelike onderskeid tussen “die Torah van die Gees van die lewe” en “die wet van sonde en dood”. Die Torah of die wet van die Gees van die lewe is die diepste betekenis van Torah wat Y’shua aangemoedig en uitgeleef het. Die “wet van die sonde en die dood”, is die donker skaduwee waaronder die volk vóór die koms van die Messias geleef het en die rede waarom Y’shua hier op aarde verskyn het en sy werk as Verlosser kom doen het.

Rom 8:4 “Die reg van die Torah word vervul in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.” Hierdie vers stel dinge in perspektief en verseker dat die gedeeltes in Romeine waarna ons tot dusver gekyk het, nie verkeerd verstaan word nie. Wat teenoor mekaar staan, is nie die Gees en die Torah nie, maar die Gees en die vlees. Die vlees is daardie deel van die mens wat nie die Torah of die Onderrig van Yahweh wil aanvaar nie, maar verkies om sy eie begeertes te bevredig en sy eie kop te volg. Wat die Gees van Yahweh in ons lewe wil doen, is om die reg van die Torah te vervul, dit wil sê: om ons te leer om te streef en te soek na ware geregtigheid, soos wat die Torah dit van die begin af bedoel het.

Gal 3:2 “Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die Torah of uit die prediking van die geloof?” Hierdie is ‘n retoriese vraag en die (vanselfsprekende) antwoord is dat gelowiges die Gees van Yahweh ontvang het, nie omdat hulle op die werke van die Torah gefokus het nie, maar omdat hulle die prediking aangaande geloof in Y’shua aangeneem het. Die rede waarom Shaúl (Paulus) hierdie vraag gevra het, kan duidelik in die vorige vers gesien word: Nadat hulle tot geloof in Y’shua gekom het, het die Galasiërs begin om aan die waarheid ongehoorsaam te raak. In watter opsig het hulle ongehoorsaam aan die waarheid geraak? In die konteks van hierdie hoofstuk kan ons sien dat hulle uit die oog verloor het dat hulle regverdig verklaar word deur geloof in Y’shua en dat hulle die leuen begin glo en verkondig het dat ‘n mens regverdig verklaar word as jy elke stukkie detail van die Torah onderhou. Dit was nooit Yahweh se bedoeling nie, sê Shaúl vir hulle, selfs nie in die tyd van Avraham en Mosheh nie. Ten diepste bevestig die Torah, net soos die Gees van Yahweh, dat die mens alleen deur geloof geregverdig word.

Gal 3:5 “Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die Torah of uit die prediking van die geloof?” Hierdie vers bring dieselfde waarheid na vore as Gal 3:2 hierbo en dit word deur dieselfde voorbeelde uit die Tanak (of Ou Testament) bevestig: Avraham is regverdig verklaar omdat hy onwrikbaar in Yahweh geglo het, nie omdat Hy die sekere wette nagekom het nie. En selfs Mosheh het nooit bedoel om die Torah in die plek te stel van geloof in Yahweh se getrouheid en beloftes nie. Die belofte waaraan beide Avraham en Mosheh in die geloof vasgehou het, was “die belofte van die Gees” (Gal 3:14) en daarom maak dit hoegenaamd nie sin om te sê dat die Gees en die Torah nie langs mekaar hoort nie.

Gal 5:18 “Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die Torah nie.” Soos ons reeds voorheen gesien het, bring die Torah ons voor die aaklige realiteit van sonde en die negatiewe gevolge van sonde te staan. Daarom verwys die begrip “om ONDER DIE Torah te wees” na hierdie negatiewe aspek van die Torah, en meer spesifiek: om onder die straf (en dus onder die vloek) van die Torah te wees omdat jy sonde gedoen en die Torah oortree het. Spesifiek in die konteks van Gal 5 kan ONDER DIE TORAH egter ook verwys na die bron waarop jy vertrou om as “regverdige” voor Yahweh te staan. Vertrou ons bloot op die meetbare en sigbare insettinge van die Torah? Is dit die somtotaal van ons hoop, naamlik dat ons probeer om regverdig verklaar te word voor Yahweh deurdat ons sekere rituele nakom, sekere woorde gebruik, sekere gebruike vermy, sekere soort offers bring, en sekere aksies gereeld herhaal? Of vertrou ons die Gees van Yahweh om ons te lei sodat ons by die bron van regverdigmaking kan uitkom wat Yahweh self voorsien het? Wat is hierdie bron? Die hele Nuwe Testament is eenstemmig oor wie of wat hierdie bron is. Hierdie Bron is Y’shua van Nasaret wat as die Seun van die Allerhoogste, die hoogste prys betaal het sodat ons regverdig voor Yahweh kan staan. Die vraag of ons ONDER die Torah is of ONDER Yahweh se groot guns, deur sy Seun, Y’shua, is ‘n vraag wat met die fokuspunt van ons geloof te make het. Yahweh se Gees lei ons om ons geloof en vertroue op Y’shua te laat fokus. Maar dieselfde Gees leer ons van ware liefde wat die vervulling van die Torah is (Gal 5:14), laat ons ons rug draai op die werke van die vlees (Gal 5:19) en laat in ons harte die vrug van die Gees ontkiem, totdat dit duidelik in ons doen en late gesien kan word (Gal 5:22). Daarom is die Gees die instrument in Yahweh se hand om ons by die kern van die Torah uit te bring wat met ware aanbidding, gehoorsaamheid uit die hart uit en egte toewyding te make het!