DIE GEES VAN YAHWEH 5

alternate textDie afgelope vier weke waarin ons oor die rol van die Gees van Yahweh in ons lewens gepraat het, het my onwillekeurig laat dink aan my eie persoonlike ervaring van die Gees en geestelike dinge – vanaf daardie heel eerste keer dat ek ‘n bewustelike ervaring gehad het dat daar op ‘n “geestelike vlak” iets buitengewoon in my binnekant gebeur het. Ek het nie ‘n visioen gesien, of geprofeteer of in tale gespreek nie. Ek het nie eens ‘n hoorbare stem gehoor nie. Maar as 12-jarige het die eenvoudige boodskap van Y’shua as sy Vader se grootste geskenk aan hierdie wêreld my hart aangegryp en my lewe omgedop. So jonk as wat ek was, het ek geglo dat ek iets beleef het van die profesie van Eseg 36: “Ek sal ‘n nuwe gees in julle binneste gee.” Ek het bewus geword van ‘n soort liefde en ‘n soort passie en dryfkrag wat ek ek voorheen nie geken het nie. Dalk het ek dit nie op daardie stadium so verstaan nie, maar ek weet vandag dat dit alles volledig die werk van Yahweh se Gees was. Rom 5:5 sê duidelik dat die liefde van Elohiem in ‘n mens hart uitgestort word deur die werking van die Afgesonderde Gees. Hieruit kan ek dus nie anders nie as om die afleiding te maak dat die Gees van Yahweh ‘n rol in my lewe begin speel het, minstens vandat ek 12 jaar oud was. Daardie Gees van aanneming waarvan Rom 8:15 praat, wat jou status van buitestander na kind laat verander en wat maak dat jy vir die Allerhoogste “Abba” kan sê, is dalk nader aan ons, en langer met ons, en méér van ‘n realiteit, as wat meeste van ons besef!

As dit dan die Gees van Yahweh was wat by baie van ons vroeër in ons lewe reeds betrokke was, waarom het Yahweh dan nie deur sy Gees, reg van die begin af, die volheid van kennis en geloof en ervaring aan ons geopenbaar nie? Waarom moes so baie van ons “wag” tot tien, twintig of selfs dertig jaar, nádat ons tot geloof gekom het, voordat ons verstaan het wat in die Skrif seker ses of sewe keer duidelik uitgespel word, naamlik dat ‘n mens in die Naam van Y’shua die Messias gedoop moet word, sodra jy tot geloof in die Messias gekom het? As dit dan die Gees van Yahweh is wat ons by die Messias uitgebring het en gemaak het dat ons vir Yahweh “Abba” noem, waarom het dieselfde Gees ons nie oortuig van die regte manier van doop nie? En, gepraat van die manier waarop ons Yahweh aanspreek, waarom het die Gees van Yahweh ons nie reg van die begin af oortuig om die Skepper by sy Naam, Yahweh, aan te roep nie, soos wat ons geloof-voorlopers in die Skrif, insluitend Y’shua, dit konsekwent gedoen het, voordat daar ‘n vreemde “gees” van sogenaamde godsdienstigheid ingekom het wat Jode sowel as Christene van die Naam bo alle name laat wegbeur het? As die Gees wat in ons is, soms ook die Gees van Y’shua genoem word, en Y’shua die Shabbat en die feeste gehou het, waarom het sommige van ons so lank geneem voordat ons die Woord in hierdie opsig begin navolg het? Word die Gees dan nie “die Gees van waarheid” genoem nie? Is dit nie te verwagte dat Yahweh, saam met sy Gees, uit die staanspoor ook die volle waarheid vir ons sal gee nie?

Die antwoord op hierdie tipe vrae hou verband met die aspek waarop ons die afgelope paar weke baie klem gelê het, naamlik dat ons nie op ENIGE manier die “Gees” moet probeer losmaak van Yahweh nie. Die Gees waarvan die Skrif praat, is Yahweh se Gees – niks meer, niks minder en niks anders nie. Net soos wat Yahweh Homself en sy redding en sy waarheid nie op ‘n mens afdwing nie, net so is die werking van sy Gees nie ‘n waarborg dat alles in ons lewe sommer reg van die begin mooi netjies in plek sal val nie. Yahweh het sy Gees oor die eerste koning van Israel (Saul of Shaúl) uitgestort om hom toe te rus vir sy taak, maar dit het hom nie van ernstige sonde gevrywaar nie. Koning Saul moes nog steeds kies om Yahweh in alles te gehoorsaam en hierin het hy nie die toets geslaag nie. Uiteindelik was Dawid die man na Yahweh se hart, nie Saul nie. Kefa (Petrus) was ‘n leier onder die apostels en vervul met die Gees van Yahweh, maar nog steeds moes Shaúl (Paulus) hom minstens een keer berispe omdat hy hom aan geveinsdheid of skynheiligheid skuldig gemaak het (Gal 2). Shaúl, aan die ander kant, was ook nie sonder sy foute en tekortkominge nie, al was hy die apostel wat verreweg die meeste oor die Gees van Yahweh geskryf het en die gelowiges gereeld aangemoedig het om in die Gees te wandel, met die Gees vervul te word en elke dag deur die Gees te lewe. In Romeine 7 erken hy ruiterlik dat dit nie altyd vir hom maklik was om ‘n lewe van gehoorsaamheid te lewe nie. “Die goeie wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil doen nie, dit doen ek” sê hy. Die Gees van Yahweh was sonder twyfel deel van sy lewe, maar daar was steeds areas van sy lewe waar daar haakplekke, tekortkominge en dorings in die vlees was.

Ons wat die Gees het, kan nog steeds die Gees bedroef (Jes 63:10; Efes 4:30). ‘n Mens kan rebels wees teen die Gees van Yahweh (Ps 106:33), wat beteken jy is rebels en opstandig teenoor Yahweh en sy woord. Sy woord kom soms só duidelik na ‘n mens – jy moet omtrent siende blind en horende doof wees om dit nie met ope arms te ontvang nie, maar vir die een of ander rede is daar net ‘n stuk opstandigheid in jou om daardie woord jou eie te maak. Soms probeer mense om, soos Psalm 139 sê, te vlug van Yahweh se Gees. En weer eens: Om te probeer vlug van Yahweh se Gees, is dieselfde as om te probeer vlug van Yahweh. Waarom sou ‘n mens so iets wou doen? Gewoonlik net om één rede: Daar is ‘n gees of ‘n gesindheid of ‘n ingesteldheid in jou eie lewe wat in botsing is met die Gees wat Yahweh uitstraal of wat van Yahweh af uitgaan. En die Gees wat van Yahweh af uitgaan is een honderd persent in lyn met die manier waarop Hy Homself ge-openbaar het in sy Woord. Daar is altyd harmonie tussen die Asem en die Woord wat uit Yahweh se mond uitgaan!

Die feit dat al hierdie aksies, soos bedroef, rebelleer en vlug, spesifiek met die GEES van Yahweh verbind word, is omdat dit op ‘n geestelike, onsigbare vlak lê en dikwels met ‘n worstelstryd gepaard gaan waarvan die mense rondom jou nie bewus is nie. Jy rebelleer teen ‘n aspek van die Woord. Iets in jou binnekant skop vas en maak dit troebel hier binne-in jou. Hierdie woord is nie vir my bedoel nie, sê jy vir jouself. Hoekom moet ek gebruike volg wat deur die Jode gevolg word? Hoekom moet ek iets bevraagteken wat al vir honderde jare lank tradisie in die kerke is? En jy het jou eie redes hoekom jy dink soos wat jy dink en kriewelrig is oor gebruike waaraan jy nie gewoond is nie. Maar so vertroetel jy dikwels jou pogings om van die Gees af weg te vlug, in jou hart, sonder om met ‘n mens daaroor te praat. Want diep in jou binneste weet jy dat jou redes nie eintlik geldig is nie en NIE op die Woord gebou is nie. En jy weet as jy met iemand praat wat die suiwer Woord as maatstaf neem, en nie menslike tradisies nie, sal die rebellie in jou eie gees aan die lig kom.

Die Woord leer verder dat die Gees van Yahweh van ‘n mens af kan weggaan (2 Kron 18:23); dat Yahweh sy Gees van ‘n mens kan wegneem (Ps 51:11); dat Yahweh se kinders planne kan maak wat nie uit sy Gees is nie (Jes 30:1); dat Yahweh Hom van mense kan onttrek, al het Hy voorheen sy Gees in hulle midde gegee (Jes 63:11); dat ‘n mens die Gees van Yahweh kan weerstaan, omdat jy hardnekkig en onbesnede van hart is (Hand 7:51); dat ‘n groep mense hulle aan jaloersheid en twis en tweedrag en vleeslike gedrag kan oorgee, al is die Gees van Yahweh in hulle midde (1 Kor 3); dat dit moontlik is om met die Gees te begin, maar met die vlees te eindig (Gal 3:3); dat ‘n mens wat die Afgesonderde Gees ontvang het, die beginsels van reinheid en afgesonderdheid in die Woord kan verwerp (1 Tes 4:7-8) en dat iemand wat die Afgesonderde Gees deelagtig geword het, afvallig kan word en Y’shua as die Messias kan verwerp (Heb 6:4-6 – Hoe tragies is dit nie om so ‘n houding te sien by iemand wat voorheen saam met jou op die geloofspad geloop het nie!).

As ek terugdink aan my eie ervaring van die Gees van Yahweh oor baie jare – aan die hoogtepunte en die laagtepunte – herken ek ‘n hele aantal van hierdie pogings om die Gees van Yahweh te systap, wat in die Skrif aangeteken word. Miskien het die apostel dit die beste opgesom, toe hy gesê het ons moet oppas dat ons die Gees nie UITBLUS nie (1 Tes 5:19). Hierdie woord beteken letterlik dieselfde as wanneer jy ‘n groot emmer water op ‘n kampvuur uitgooi. Oor hierdie episodes kan ek vandag alleen maar net my kop in skaamte laat sak! Hoeveel keer het ek nie gereed gestaan om met my reuse emmer water ‘n vinnige einde te maak aan die vuur wat Yahweh deur sy Gees in my lewe probeer aansteek het nie? Hoeveel keer het my eie opstandige gees nie die goeie werk van Yahweh se Gees met een, selfsugtige, kortsigtige swiep van die tafel af gevee nie? Waar sou ek vandag gewees het as Yahweh moes boekhou van my eie weerstand teen sy Gees en dit voor my moes uitstal, elke keer as ek begeer om weer van voor af my gees aan sy Gees te onderwerp?

Maar dis nie hoe Hy is nie. Deur sy Gees is Hy bereid om weer en weer ‘n nuwe gees in ons binneste aan te wakker. Deur sy Gees kan Hy lewe bring op plekke waar daar niks meer as doodsbeendere oorgebly het nie. Deur sy Gees kan (en wil) Hy ons verstand verlig en ons harte opwek. Hy kan sy Gees van guns en smeking male sonder tal oor ons uitstort. Wat eenvoudig beteken: Sy Gees is maar net ‘n manier om al sy unieke en uitmuntende eienskappe onder een sambreel saam te vat – soos vergewensgesindheid, goedgunstigheid, liefde, ‘n passie vir hulle wat aan Hom behoort en ‘n begeerte dat hulle wat Hom nog nie van harte dien en vrees nie, uiteindelik ook sal kies om dit te doen. Selfs al bedroef ons sy Gees, kan ons vashou aan hierdie wete: Hy het sy Gees as onderpand, as sekuriteit (“pledge”) in ons harte gegee (2 Kor 1:22). Hy sal nooit ophou om ons aan hierdie innige verbintenis te herinner nie. Hy sal nie sommer net wegstap van ‘n mens of ‘n groep mense in wie Hy van sy eie Gees gedeponeer het nie! Sy Gees sit nie net in ‘n mens se klere nie – dit roer iets in jou hart!