DIE GEES VAN YAHWEH 3

alternate textDaar is ‘n goeie kans dat enige mens wat dit waag om iets anders oor die Gees van Yahweh te sê as wat vir eeue lank in kerklike kringe as “aanvaarbaar” beskou is, as ketter gebrandmerk kan word, en selfs van die “sonde teen die Heilige Gees” beskuldig kan word. Y’shua het na sonde teen die “Ruag” verwys en gesê dis wanneer iemand werke wat duidelik die werke van Elohiem is – soos om demone uit te dryf – uitmaak as iets wat deur die mag van demone of Satan gebeur het (sien Mat 12:24-32). As ons dus na Y’shua se verduideliking luister, is dit NIE sonde teen die “Ruag” as ‘n mens nie die kerklike leerstuk aanvaar dat die “Heilige Gees” ‘n afsonderlike persoon binne ‘n sogenaamde “Heilige Drie-eenheid” is nie. Veral nie as Matteus in Mat 12:28 beskryf dat Y’shua die demone deur die Gees van Elohiem uitgedryf het en in Lukas in Luk11:20 beskryf dat Hy dieselfde demone deur die vinger van Elohiem uitgedryf het nie.

Daar is geen twyfel dat nie een van die skrywers van die Ou of Nuwe Testament OOIT in drie-eenheids-terme aan die Gees van Yahweh gedink het nie. Vir hulle was die begrip “Drie-eenheid” of “Trinity” nie iets wat enigsins met die Elohiem van Avraham en Mosheh en Dawid en Y’shua verbind kon word nie. Soms word “Afgesonderde Gees” – veral in die Nuwe Testament – op ‘n manier gebruik wat duidelik die indruk skep dat daar van ‘n persoon gepraat word. Maar daar is hoegenaamd GEEN rede waarom hierdie “persoon” as ‘n AFSONDERLIKE PERSOON, of ‘n ander Persoon, as die Elohiem van Yiesraél gesien moet word nie – óók nie ‘n Persoon wat DEEL UITMAAK (‘n “onderafdeling”) van die Elohiem van Yiesraél nie. Die blote gedagte aan so ‘n konsep (één Elohiem wat uit 2 of 3 persone bestaan) is nooit deur Yahweh of enige van sy profete uitgespreek nie en het nie binne die denke bestaan van mense wat hulle geloof op die Torah en die Profete gebou het nie.

Skrifgedeeltes soos die volgende verwys na die Afgesonderde Gees in persoonlike terme en telkens sou “Afgesonderde Gees” of “Gees” bloot met “Elohiem” of “Yahweh” weergegee kon word. “Y’shua is deur die Gees weggelei die woestyn” (Mat 4:1); “Die Afgesonderde Gees het aan Shiemón geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Messias gesien het nie” (Luk 2:26); “Waarom het jy vir die Afgesonderde Gees gelieg?” (Hand 5:3 – later: “Jy het vir Elohiem gelieg”); “Die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word” (1 Tim 4:1). Een moontlike rede waarom die skrywers van die Nuwe Testament (wat almal die Hebreeuse begrip “ruag” baie goed geken het) in hierdie spesifieke gevalle eerder van “Ruag” as van “Elohiem” of “Yahweh” gepraat het, is omdat hierdie verse veral op die onsigbare, innerlike en geestelike werking van Yahweh fokus. ‘n Mens kan jou voorstel dat Y’shua ‘n “stem” binne-in hom “gehoor” wat Hom aangespoor het om na die woestyn te gaan; dat Shiemón dalk ‘n droom gehad het waarin hy verseker is dat hy die Messias vóór sy dood te siene sou kry; dat GananYah (Ananias) gedink het dat hy maar van die koopsom van sy grond kon terughou, omdat hy nie rekening gehou het met die feit dat Yahweh gees is en ‘n mens dus nie iets vir Hom kan wegsteek nie en dat Shaúl (Paulus) die profesieë oor die eindtyd beskryf as ‘n uitspraak van die “Ruag”, omdat hy en Timoteus beide die patroon van die Tanak geken het dat profesieë ontstaan wanneer die Gees van Yahweh oor iemand kom of in iemand vaardig word (soos ‘n mens duidelik kan sien in ‘n gedeelte soos Num 11:29 “Ag, as die hele volk van Yahweh maar profete was, dat Yahweh sy Gees oor hulle mag gee!”).

Anders as die gedeeltes wat in die vorige paragraaf uitgelig is, is daar talle gedeeltes in die Skrif waar daar op ‘n manier van die Gees van Yahweh gepraat word, wat dit baie moeilik maak om aan “ruag” in persoonlike terme te dink. In Num 24:2 word gesê dat die Gees van Elohiem op Bileam gekom het. Die mees natuurlike manier om dit te verstaan is dat daar ‘n krag of ‘n woord of ‘n openbaring van Elohiem “op Bileam” – d.w.s. in sy denke – gekom het. In Ps 51:10 bid Dawid tot Yahweh: “Skep vir my ‘n rein hart, o Elohiem, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees (ruag).” Die “ruag” wat hy begeer, verwys duidelik nie na ‘n persoon nie, maar na ‘n innerlike ingesteldheid en die vermoë om vas te staan en goeie keuses te maak. In Jes 42:1 word daar profeties vooruit gekyk na die Messias wat Yahweh sou stuur: “Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ‘n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê.” Hier is “ruag” weer eens baie duidelik ‘n stuk toerusting wat van Yahweh af kom, sodat hierdie Kneg die werk kan doen waarvoor Yahweh Hom uitverkies het. In Eseg 36:27 belowe Yahweh aan sy volk: “Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.” Kennelik is dit nie ‘n persoon wat Yahweh in sy volk se binneste gaan gee nie, maar IETS van Homself wat hulle op ‘n nuwe manier sal motiveer en in staat stel om sy gebooie te hou. In Joël 2:28 belowe Yahweh opnuut dat Hy sy Gees sal uitstort en dat seuns en dogters sal profeteer, ou mense sal drome droom en jongelinge sal gesigte sien. Die bedoeling is duidelik nie dat Yahweh ‘n persoon na hierdie verskillende groepe mense sal stuur nie, maar dat Hy ‘n persoonlike impak op hulle gees sal maak wat aan hulle nuwe openbaring sou bring en hulle baie sterk sou inspireer om namens Yahweh te praat.

Dieselfde manier van praat oor die Gees van Yahweh kom in die Nuwe Testament ook voor. In Mat 3:11 sê Johannes die Doper dat die een wat ná hom kom, nie met water sou doop nie, maar met die Afgesonderde Gees en met vuur. Hier is dus sprake van drie DINGE waarmee ‘n mens “gedoop” kan word: water, gees en vuur. Nie een van hierdie drie moet gesien word as ‘n persoon nie. Die bedoeling is bloot dat elkeen van die drie aspekte ‘n ander betekenis of ‘n ander simboliek het: water (bekering), gees (toerusting en afsondering) en vuur (loutering en vervolging). In Mark 12:36 sê Y’shua dat Dawid deur die Afgesonderde Gees gesê het: Yahweh het vir my Meester gesê: Sit aan my regterhand. Die feit dat Dawid so iets deur die Afgesonderde Gees gesê het beteken eenvoudig dat sy woorde profeties was en dat Yahweh “deur hom” gespreek het. In Luk 11:13 sê Y’shua aan sy hoorders: “As julle wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Afgesonderde Gees gee aan die wat Hom bid?” Sommige antieke manuskripte bevat hier die woorde “goeie gees” in plaas van “afgesonderde gees”, maar selfs al bly ons by die meer bekende “afgesonderde gees”, is dit duidelik dat dit op dieselfde vlak as vaders se “goeie gawes” aan hulle kinders gesien moet word en dat daar in hierdie konteks glad nie aan die gawe van ‘n PERSOON gedink hoef te word nie. In Joh 3:34 sê Johannes die Doper van Y’shua dat Hy die woorde van Elohiem sal praat, omdat Elohiem aan Hom die Gees nie met mate (NIV: “in limited measure”) gegee het nie. ‘n Mens kan IETS met mate (of: “in limited measure”) ontvang, maar dis baie moeilik om te verstaan hoe dit moontlik is om IEMAND met mate (of: “in limited measure”) te ontvang.

In 1 Pet 4:14 skryf die apostel dat die gelowiges geseënd is as hulle beledig word oor die Naam van die Messias, omdat dit ‘n aanduiding is dat “die Gees van die voortreflikheid en van Elohiem” op hulle rus. Die punt is: Die “Gees van Elohiem” is ‘n “gees van voortreflikheid”, net soos wat dit ‘n “gees van afsondering” (Rom 1:4); ‘n “gees van lewe” (Rom 8:2); ‘n “gees van waarheid” (Joh 14:17); ‘n “gees van wysheid en openbaring” (Efes 1:14) en ‘n “gees van guns” (Heb 10:27) is. Dit hoef NIE as ‘n persoon voorgestel te word nie, want die Een van wie af dit kom, is alreeds ‘n Persoon! Wanneer sy Gees oor ‘n mens kom, of op ‘n mens rus of deur ‘n mens werk – met enige faset, of ‘n kombinasie van fasette, wat deel uitmaak van die groot verskeidenheid van maniere waarop Yahweh iets van Homself in ‘n mens kan deponeer en kan openbaar – dan beleef ons dat die Almagtige PERSOONLIK by ons betrokke is, asof Hy sy eie Trooster of Verteenwoordiger na ons gestuur het en ons NOOIT hoef te voel dat Hy ons aan ons eie lot oorgelaat het nie!

Nooit lees ons in die Skrif dat iemand tot die Afgesonderde Gees gebid het nie – ons behoort dit ook nie te doen nie. Nie een keer in die Skrif staan daar dat ‘n mens uitroep “Kom, Ruag!” of “Kom, Heilige Gees!” of “Kom, Gees van Yahweh!” nie – ons behoort dit ook nie te doen nie. Niemand in die Skrif wat Yahweh waarlik gedien het, het ooit uitgeroep “Val op ons, of vervul ons, of salf ons, o Gees” nie. Yahweh salf en bedek en vervul en rus toe met sy Gees, nie wanneer mense die Gees vir hulle eie agendas wil oproep en aanwakker nie, ook nie as hulle optree op ‘n manier wat die indruk skep dat die Gees ‘n ANDER WERK doen as Yahweh nie, maar wanneer hulle opdaag en aanmeld om Yahweh se Woord te hoor en op sy Woord te reageer. In Hand 5:32 sê Kefa en die ander apostels aan die lede van die Joodse Raad: “Ons is getuies van hierdie dinge, en ook die Afgesonderde Gees wat Elohiem gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is.” Die Gees word gegee aan hulle wat aan Yahweh gehoorsaam is. Die Gees word gegee aan hulle wat in Y’shua as die Messias glo. Die Gees word gegee aan hulle wat hulle bekeer, hulle skuld voor Yahweh bely en opreg vra vir sy vergifnis (Hand 2:38 “Bekeer julle … laat julle doop … tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Afgesonderde Gees ontvang”). En wanneer ons dit gedoen het en daar lê vir ons ‘n taak voor waarvoor ons besonderse toerusting en krag van Bo nodig het, kan ons bid in die woorde van Ps 143:10 “Laat u goeie Gees my lei” of in die woorde van Neh 9:12 “Laat u goeie Gees my onderrig” of in die woorde van Gal 5:25 “Laat my deur u Gees wandel”. As ons minder as dit vra, besef ons nie hoe afhanklik ons van die Gees van Yahweh is nie. As ons meer as dit vra, is die kanse goed dat ons ‘n vreemde “gees” soek – nie die Gees wat alleen van Yahweh afkomstig is nie.