DIE GEES VAN YAHWEH 2

alternate textOns het voorheen daarna verwys dat daar ongeveer 320 keer in die hele Skrif na die Gees van Yahweh verwys word. Ons het ook gesien dat die woord “gees” nie altyd spesifiek na die Gees van Yahweh verwys nie. Met ander woorde: die woord “gees” kom baie meer as net 320 keer in die Skrif voor, maar is nie altyd spesifiek ‘n verwysing na Yahweh se Gees nie. Beide die Hebreeuse “ruag” en die Griekse “pneuma” word ongeveer 380 keer gebruik, dit wil sê 760 keer altesaam. Voordat ons ten volle kan verstaan wat presies met die Gees van Yahweh bedoel word, moet ons eers ‘n baie goeie prentjie kry, veral van die gebruik van die woord “ruag” – omdat hierdie begrip die agtergrond vorm van wat daar in die hele Skrif oor die Gees van Yahweh geleer word. Ons weet reeds dat die woord “ruag” ook “asem” of “wind” kan beteken. Verder kan “ruag” ook ‘n gemoedstoestand, emosie of eienskap (Eng. “disposition”) wees, soos moed, wanhoop, geduld, ongeduld, blydskap en droefheid. Dit behels inspirasie, toerusting en vaardigheid (dink aan die profete), asook die teenwoordigheid van Yahweh (soms genoem “Shekina”).

Deur Jes 11:1-2 met Spr 8 te vergelyk, kry ‘n mens ‘n baie goeie idee van wat dit beteken as die Gees van Yahweh op ‘n mens rus. Dis opvallend dat Jesaja 11 vooruit kyk na die koms van ‘n takkie uit die stomp van Yieshai (oftewel: die koms van die Messias). Die profesie gaan daaroor dat die Gees van Yahweh op ‘n baie besonderse manier op hierdie Messias sou rus. In Spreuke 8 is “Wysheid” self aan die woord (personifikasie), maar hierdie “wysheid” toon opvallende ooreenkomste met die verskillende gestaltes van “ruag” in Jes 11. Spr 8 kyk terug (nie vorentoe soos Jes 11 nie) en beklemtoon dat die “wysheid” reg van die begin af daar was (Spr 8:23 Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af …). Ten spyte van die twee verskillende fokuspunte van hierdie twee hoofstukke, is daar ‘n parallel wat ‘n mens nie kan miskyk nie.

Jes 11:1-2 “Maar daar sal ‘n takkie uitspruit uit die stomp van Yieshai, en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra; en op Hom sal die Gees van Yahweh rus: die Gees van wysheid (Spr 8:12 Ek, Wysheid, is vertroud met die skranderheid) die Gees van verstand/insig (Spr 8:14 Ek is die verstand/insig), die Gees van raad (Spr 8:14 Raad en beleid is myne), die Gees van sterkte (Spr 8:14 Sterkte is myne), die Gees van kennis (Spr 8:12 Ek vind kennis van regte oorleg) en die Gees van die vrees van Yahweh (Spr 8:13 Uit vrees vir Yahweh haat ek wat sleg is).”

Alhoewel Spreuke 8 die indruk skep van ‘n persoon wat oor homself (letterlik: haarself) praat, bring Jesaja 11 die perspektief dat al hierdie fasette wat ook in Spr 8 voorkom, soos wysheid, verstand, raad en sterkte, bloot verskillende fasette van die Gees van Yahweh is. Daar is ‘n “takkie” wat uit die stomp van Yieshai gaan voortkom, sê Jes 11. Ander gedeeltes beskryf hierdie takkie as die “Mashiag”, wat “Gesalfde” beteken. WAARMEE sou hierdie takkie gesalf word? Wat sê Jes 11? “Op Hom sal die Gees van Yahweh rus.” Hy sal met Yahweh se Gees gesalf word. Die res van die Skrif sluit hierby aan: Jes 42:1 Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ‘n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Jes 61:1 Die Gees van die Meester Yahweh is op My, omdat Yahweh My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring; Mar 1:10 En dadelik toe Hy opklim uit die water, sien Hy die hemel skeur en die Gees soos ‘n duif op Hom neerdaal; Hand 10:38 Elohiem het Y’shua van Natsaret gesalf met die Afgesonderde Gees en met krag. As die Messias wat deur Yahweh self uitverkies en gestuur is, die takkie uit die stomp van Yieshai, is Y’shua van Nasaret vir hierdie besonderse taak toegerus deurdat Hy gesalf is met die Gees van Yahweh (Jes 11), oftewel, vervul is met die Wysheid van Yahweh (Spr 8).

Watter rol het die Gees van Yahweh by die skepping van hemel en aarde gespeel? Ps 33:6-11 is in hierdie opsig besonders relevant. Deur die Woord (Heb: “davar”; Gr: “logos”) van Yahweh is die hemele gemaak en deur die Gees/asem (“ruag”) van sy mond hulle hele leër. Hy versamel die waters van die see soos ‘n hoop; Hy bêre die wêreldvloede weg in skatkamers. Laat die hele aarde vir Yahweh vrees; laat al die bewoners van die wêreld vir Hom bedug wees; want Hy (Yahweh) het gepraat, en dit was; Hy (Yahweh) het gebied, en dit staan. Yahweh vernietig die raad van die nasies, Hy verydel die gedagtes van die volke. Die raad van Yahweh bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag.

Dis is duidelik dat die Hebreeuse “davar” (woord) en “ruag” (gees) of die Griekse “logos” en “pneuma” (wat normaalweg binne die die Drie-eenheid met die “Seun” en die “Gees” verbind word) in hierdie Psalm parallel gebruik word en met mekaar gelyk gestel word: Yahweh het deur sy woord geskep, net soos Hy deur sy Gees geskep het. Dis twee verskillende maniere om na dieselfde saak te verwys. Wanneer ‘n woord (“davar”) uitgespreek word, word daar asem (“ruag”) by die mond uitgeblaas. Die een wat as Skepper gevrees en geëer moet word, op grond daarvan dat alles só volmaak en skynbaar sonder inspanning geskep is, is Yahweh (Hy het net gepraat en dit wás … laat die hele aarde dus vir Yahweh vrees). Hier is geen sprake van ‘n persoon, anders as Yahweh self, wat aan die werk is nie. Dit is ook hoe daar konsekwent, reg deur die Tanak, oor Yahweh en sy Gees gepraat en gedink word. Daar is geen sprake van ‘n “personhood of the Spirit” in die Tanak nie. Die Gees is alleen ‘n verlengstuk van Yahweh se persoonlikheid, teenwoordigheid en werksaamheid in hierdie wêreld.

Baie mense sê die “ruag” in die Tanak is onpersoonlik, maar die “pneuma” wat op Shavuot uitgestort is, is persoonlik. Is dit waar? Kom ons kyk na 1 Kor 2:10-14: Maar Elohiem het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van Elohiem. Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in Elohiem is nie, behalwe die Gees van Elohiem. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit Elohiem is, sodat ons kan weet wat Elohiem ons uit guns geskenk het. Daarvan praat ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dit wat die Afgesonderde Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van Elohiem nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Ons sien in hierdie brief van Shaúl dat Yahweh se gees “ondersoek” en “weet” wat daar in Elohiem is, net soos wat die mens se gees “ondersoek” en “weet” wat daar in ons is. Net soos wat ons gees nie iets apart van onsself is nie, net so is Yahweh se gees ook nie iets losstaande van Hom nie. Verder is Yahweh se gees (die gees wat uit Elohiem is) die teenpool / teenoorgestelde van die gees wat daar in die wêreld is. Net soos wat die gees wat in die wêreld is, nie ‘n persoon(likheid) is nie, net so is die gees wat uit Elohiem is, ook nie ‘n persoon wat van die Vader onderskei moet word nie. Yahweh se gees kan vir ons sekere dinge “leer”, op dieselfde manier as wat ons menslike wysheid vir ons sekere dinge kan “leer”. Dit beteken dat Yahweh se gees met wysheid en lering, en dus die ware Torah, te make het (“torah” beteken “lering”). Die feit dat sy Gees kan “leer” beteken NIE dat sy gees ‘n (afsonderlike) persoon is nie. Lering word bloot as ‘n werk van sy Gees beskryf omdat dit op ‘n geestelike vlak plaasvind – op ‘n vlak wat ons nie met ons natuurlike sintuie kan waarneem en kan meet nie. Yahweh se gees is ook iets wat ons as gelowiges uit guns van Yahweh ontvang het, en waarvan ons nog meer kan ontvang, sodat ons menslike wysheid en onvermoë om te verstaan, al hoe meer kan plek maak vir die vermoë om dinge geestelik te beoordeel.

In die priesterlike seën van Num 6:24-26 staan daar: “Yahweh sal jou seën en jou behoed; Yahweh sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou goedgunstig wees; Yahweh sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.” Die woord “aangesig” (Heb “paniem”) kom twee maal in hierdie seën voor. Om naby aan Yahweh se aangesig te wees – daar waar Hy sy aangesig oor jou kan laat skyn en sy aangesig oor jou kan verhef – beteken om in sy teenwoordigheid te wees. Dit beteken ook dat jy naby genoeg aan Hom is dat Hy sy lewens-asem (“ruag”) by jou kan inblaas. Reg by Hom, voor sy aangesig, kan ons sy woorde hoor – selfs as Hy fluister. Dáár kan ons sy asem op ons eie gesig voel en sy gees van lewe inasem. Die taal wat hier in die priesterlike seën gebruik word, is ‘n indirekte verwysing na die Gees van Yahweh, al word die woord “gees” nie gebruik nie. Dit kan gesien word in ander gedeeltes van die Skrif, soos Ps 51:11 “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Afgesonderde Gees nie van my weg nie” (m.a.w. om weg van sy aangesig te wees is dieselfde as om sonder sy Gees te wees) en Ps 139:7 “Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?” (m.a.w. om van sy aangesig te vlug is dieselfde as om van sy Gees te vlug). Hierdie waarheid word verder ook bevestig in Eseg 39:29 “En Ek sal my aangesig nie meer vir hulle verberg nie, omdat Ek my Gees oor die huis van Yiesraél uitgegiet het, sê die Meester Yahweh.”

Ons het reeds daarna verwys dat Y’shua se vernaamste titel, “Messias” of “Mashiag”, wat meer as 500 keer in die Skrif gebruik word (meeste vertalings: “Christus” of, in Engels, “Christ”), onder meer ‘n aanduiding is dat Yahweh se Gees op Hom gerus het, omdat Hy “kwistig” (Engels: “lavishly”) met die Gees van Yahweh gesalf is. Joh 3:34 verklaar immers dat Yahweh sy Gees nie met mate aan hierdie Seun van Hom gegee het nie! Vir óns, wat tot geloof in Y’shua gekom het, het dit vêrreikende implikasies! Deurdat ons met Y’shua verbind word, en in die geloof aan Hom vashou en in Hom bly soos die lote in ‘n wynstok bly en met Hom één word, soos Hy met sy Vader één geword het, gebeur daar iets ongekend in ons lewens. Die Gees van Yahweh wat daar in Hom is, kom nou ook in ons. Dis onvermydelik. Hy hoef nie eens op ons te blaas soos wat Hy ná sy opstanding op sy dissipels geblaas het nie. Die Gees hoef nie eens met spesiale tekens uitgestort te word soos op daardie bekende Shavuot gebeur het nie. As iemand die gees van die Messias nie het nie, behoort hy nie aan Hom nie (Rom 8:9). Die oomblik as jy tot ware geloof in die Messias kom, stort Yahweh die gees van sy Seun in jou hart uit en daardie gees maak dat jy uitroep: Abba, Vader! (Gal 4:6). Teen die einde van sy boek skryf Johannes “Hierdie dinge is opgeskryf, sodat julle kan glo dat Y’shua die Messias is, die Seun van Elohiem; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.” Hoe kry ons hierdie lewe? Deurdat Yahweh sy lewens-asem by ons neusgate inblaas en ons vul met sy Gees, net soos Hy sy Seun met sy Gees gevul het!