DIE FYNER DETAIL VAN TORAH

alternate textDaar is deesdae al hoe meer mense wat tot die besef kom dat hulle vroeëre leermeesters aan hulle ‘n misleidende en oordrewe negatiewe prentjie van die Torah voorgehou het, wat nie ooreenstem met die manier waarop Y’shua en sy eerste volgelinge oor die Torah gedink en gepraat het nie. Saam hiermee, is daar die byna ongelooflike ontdekking dat dit van die begin af deel van Yahweh se plan was dat mense van buite die kring van Israel, die Torah (letterlik: die onderwysinge of die onderrig) van Yahweh sou hoor, dit met ope arms sou ontvang en by Israel ingereken sou word. En ‘n baie groot positiewe gevolg hiervan is dat gelowiges in die Messias begin het om die Torah te lees en dit na te volg.

Maar dis nie so maklik nie. Want daar is detail en opdragte in die Torah wat hulle nie verstaan nie. Daar is opdragte wat vandag nie letterlik uitgevoer kan word nie, soos dié wat met die beperkinge in die woestyn, mediese beperkinge, higiëniese beperkinge, regsbeperkinge, die tabernakel, die offers en die priesters te make het. In die Torah leesstuk van hierdie week (Ex 27-30) is daar byvoorbeeld ‘n lang beskrwying van die kleredrag van die priesters en hoëpriesters en daar is mense wat skoon afgeskrik sal word met woorde soos kassies, toutjies, klokkies, granaatjies, soompies en plaatjies wat in Ex 28 gebruik word. Interessant genoeg is die word wat met “plaat” of “plaatjie” vertaal word (en wat na die goue plaat verwys wat aan die tulband van die hoëpriester vasgemaak moes word, met die woorde “Afgesonder aan Yahweh” daarop) dieselfde woord wat vir “tsits-tsits” (tosseltjies/klossies) wat volgens twee gedeeltes in die Torah aan die vier hoeke van die “kleed waarmee jul jul toemaak” geheg moes word – as ‘n herinnering aan Yahweh se gebooie.

Ek het hierdie week ‘n navraag gekry oor die dra van tossels en miskien is dit ‘n goeie tyd om te praat oor wat die Skrif nou eintlik hieroor sê. Ek wil dit reg aan die begin duidelik stel dat die dra van tossels deel van die Torah is en dat niemand van ons, op enige manier, ‘n mede-gelowige wat hierdie tossels wil dra, behoort te verhinder of te kritiseer nie. Veral nie as die motivering is dat hulle, in ooreenstemming met Num 15:38-40, voel dat hulle hierdie tossels nodig het om hulle aan Yahweh se gebooie te herinner. As die motivering egter bloot is om ELKE ENKELE DETAIL van die Torah te onderhou, dan het ek ‘n vraagteken of twee in my hart. In hierdie gebod self is daar detail wat in meeste gevalle nie meer volgens die oorspronklike voorskrif onderhou word nie. Volgens Numerie 15 moes die tossels ‘n draad of ‘n toutjie bevat wat van “tekelet” gemaak is. Meeste Bybel vertalings vertaal hierdie Hebreeus woord kortweg met “blou”, maar dit verwys eintlik heel spesifiek na ‘n unieke turkoois kleur wat van ‘n sekere seediertjie afkomstig was wat eeue gelede uitgesterf het. Daar is sommiges wat sê dat hulle intussen weer hierdie spesifiek kleur opgespoor het, maar die feite is dat meeste tossels van gewone blou kleurstof gemaak is (sommiges laat die blou heeltemal uit omdat hulle bang is hulle verbreek die Torah!) en dus nie streng by die Torah se voorskrif hou nie. En omdat meeste mense vandag nie meer ‘n letterlike oorkleed dra met vier hoeke nie, word die Torah se voorskrif ook in daardie opsig nie presies gevolg nie.

So wat probeer ek sê – dat ons die Torah in meer detail moet onderhou? Nee, ek probeer sê dat ons die Torah meer volledig, meer as ‘n eenheid, meer na sy oorspronklike bedoeling, moet onderhou – met die lig en die leiding wat ons het vanuit die manier hoe Y’shua en sy volgelinge die Torah verstaan en uitgeleef het. Dis met hierdie lig dat ons tot geloof gekom het. Soos meeste ander Jode het Y’shua tossels gedra, maar het Hy nooit ‘n enkele keer (waarvan ons weet) met iemand oor die dra van tossels gepraat nie. Dit op sigself is te verwagte, want meeste mense met wie Y’shua te make gehad het, was Jode wat met trots hulle tossels gedra het. Maar Y’shua het vir ons as nie-Jode ‘n duidelike voorbeeld gestel om na te volg. En dit is om in ons onderlinge gesprekke en ons vermaning teenoor mekaar en die lering wat ons gee, te fokus op bekering, vergifnis, barmhartigheid, ontferming, deernis, herstel, genesing. As ek meer geneig is om mense te beoordeel op grond van tossels as wat ek hulle beoordeel op grond van vergifnis en barmhartigheid, dan is ek nie ‘n getroue volgeling van Y’shua nie. As my getuienis na buite meer verwysings na tossels en besnydenis en die regte verstaan van die kalender bevat as na genesing en herstel, dan is ek nie ‘n getroue volgeling van Y’shua nie.

Ek het hierbo na ons as “nie-Jode” verwys. Waarom maak ons so ‘n onderskeid? Word Jode en nie-Jode dan nie oor dieselfde kam geskeer nie? Volgens die Skrif is Joodse gelowiges in Y’shua en nie-Joodse gelowiges in Y’shua, één in die Messias. Daar is immers net een Elohiem, net een Messias, net een geloof en net een doop. Maar in daardie kritieke ontstaansperiode van die geloof in Y’shua as die Messias, kort na sy hemelvaart, het die leiers onder hierdie vroeë gemeentes, meeste van hulle direkte dissipels van Y’shua, meeste van hulle Jode, sekere besluite geneem oor presies wat die posisie van nie-Jode binne hierdie opset behoort te wees.

Yahweh het hierdie manne op ‘n besondere manier met sy Gees vervul. Die besluite wat hulle op hierdie kritieke stadium sou neem, sou van deurslaggewende belang wees vir die generasies van gelowiges in die toekoms. En die fout wat baie Torah-gesindes vandag maak, is om te beweer dat die nie-Jode destyds presies soos die Jode hanteer is. Hulle is NIE presies net so hanteer nie. Een van die kritiese foute wat die Jode gemaak het, ‘n fout wat vandag nog sy kop uitsteek, is dat hulle elke stukkie detail van die Torah op die nie-Jode wou afdwing. Dit het GROOT verwarring veroorsaak, en in sommige gevalle, SKEURING. Maar die vroeë apostels – die leiers wat deur Y’shua self voorberei is – het met ‘n ferm hand ingegryp. Iets soos die tossels is nooit genoem nie, maar die BESNYDENIS wel, en die lyn is duidelik getrek. Dit was nie nodig vir die nie-joodse gelowiges om hulle te laat besny nie. Daar moes nie ‘n onnodige juk op die skouers van nie-Jode gelê word nie – nie rondom aspekte van die Torah wat uiterlik en simbolies en selfs etnies van aard was nie.

Hierdie dinge het duidelik die potensiaal gehad om ‘n wig in gemeentes in te dryf. Kom ons erken dit vandag: Hierdie vroeë leiers wat deur Y’shua aangewys is, is ook ons “voorlopers” in die geloof – nes Avraham en Mosheh en Dawied. Ons moenie dink ons is slimmer as hulle nie. Ons moet leer uit die kritieke foute van gemeentes soos Galate en Korinte en die leiding en waarskuwings van die apostels ter harte neem.

Dit was dringend nodig vir Y’shua om 2000 jaar gelede op die toneel te verskyn. Al was daar voorheen ‘n Torah en al was daar hoeveel profete, al was daar besnydenis en offers en tossels, het die mense van Israel nog steeds nie die Torah gehou nie. Die oplossing was nie om die Torah in fyner detail te beklemtoon nie. Die oplossing was ook nie om die Torah te skrap nie. Die profete het die sleutel geken en hulle het daardie boodskap uitgedra: Daar sou ‘n dag kom dat mense op ‘n nuwe manier gemotiveer sou word om die Torah, na sy ware bedoeling, te onderhou. Hierdie “nuwe tyd” is die tyd wat ingelui is met die koms van Y’shua. ‘n Tyd waarin Yahweh sy Gees in mense se hart sal uitstort. ‘n Tyd waarin dit nie nodig sal wees vir ‘n mens of ‘n uiterlike teken om jou aan die Torah te herinner nie, maar waar dit die Gees van Yahweh, in jou, sal wees wat jou voortdurend sal herinner daaraan om VOLMAAK aan sy Torah gehoorsaam te wees (in die sin waarin Y’shua hierdie word verstaan het). Die ultra streng Jode in Y’shua se dag het gemeen dat hulle by hierdie punt gekom het, maar Y’shua het ‘n ander siening gehad en vir hulle gesê: Wat julle nodig het, is om by die ware bedoeling van Torah uit te ko men volmaak te wees soos julle hemelse Vader volmaak is!