DIE EWIGHEID IN ONS HARTE

alternate textAsterix en Obelix is twee sprokieskarakters wat die afgelope 60 jaar reg oor die wêreld bekendheid verwerf het. Vanaf 1961 tot verlede jaar het daar meer as 40 verskillende Asterix Volumes die lig gesien wat nog steeds baie gesog is – beide onder kinders en grootmense. Die titel van die heel eerste Asterix boek was “Asterix the Gaul” en hierdie boek is aangewys as die 23ste “grootste boek” van die 20ste eeu. Die Asterix verhale speel af in die Romeinse tyd van ongeveer 2000 jaar gelede, toe Julius Ceaser aan bewind van die Romeinse ryk was. Volgens die Asterix verhaal was die streek Gaul (in die hedendaagse Frankryk) onder Romeinse beheer, maar daar is ‘n dorpie in Gaul waar die Romeine nie hond haar-af kon maak nie. En die rede: Die dorpie se dokter, Getafix, het ‘n “magic potion” resep ontwikkel en as Asterix en Obelix van hierdie doepa drink, is hulle onoorwinlik en moet al wat ‘n Romeinse soldaat is, dit ontgeld!

Die streek Gaul het werklik bestaan en was ‘n paar honderd jaar later ‘n sleutel gebied wat onder beheer van die Gote (Engels: Goths) gekom het. Die Gote was destyds ‘n magtige bevolkingsgroep wat ‘n groot rol in die val van die Romeinse Ryk gespeel het. In die 5de eeu het die Gote onderverdeel in twee groepe – die Ostrogote wat die oostekant van die hedendaagse Europa beheer het (met Italië as hoofsetel) en die Visigote wat in die Westekant gekonsentreer was (met Spanje as hoofsetel). Die bekendste rolspeler van die tydperk van die Ostrogote was koning Theodorik die Grote en een van sy raadgewers en vertrouelinge was die bekende filosoof Boethius, wat later ook as konsul onder Theodorik gedien het. As gevolg van politieke verwikkelinge het die verhouding tussen Theodorik en Boethius egter later versuur en presies op hierdie dag, 23 Oktober (in die jaar 524), het Theodorik vir Boethius op ‘n wreedaardige manier laat teregstel.

Sommige van Boethius se geskrifte het tot in ons tyd behoue gebly. Soos meeste van die bekende name uit daardie tyd, sal ons nie met alles kan saamstem wat Boethius gesê en geskryf het nie. Hy was ‘n kind van sy tyd wat deur vreemde idees van daardie wêreld beïnvloed is. Maar hy het nietemin ‘n soort wysheid openbaar waaraan ‘n mens jou gerus kan steur en wat moontlik vir ons kan help om perspektief te kry oor sommige van die dinge wat vandag rondom ons gebeur. Kom ons kyk na sommige hiervan.

“I see clearly enough that neither is independence to be found in wealth, nor power in freedom, nor reverence in formalities, nor fame in praise, nor true joy in pleasures.” Die vyf dinge wat Boethius hier opnoem, is gewoonlik taamlik hoog op ons almal se lys van prioriteite. Om rykdom en vryheid te bekom. Om “formeel” en korrek op te tree. Die woord “formality” kom van “forma” wat aandui dat twee dinge in jou lewe baie belangrik is: eerstens, om uiterlik die regte vorm of fatsoen en gestalte te hê en tweedens, om ‘n goeie indruk op mense te maak. Die aspek van “praise” (die obsessie om deur mense raakgesien en erken te word) sluit hierby aan. En wie is daar van ons wat nie die “pleasures” van die lewe najaag nie en eers ná ‘n aantal duur lesse ontdek dat plesier en geniet en beleef nie dieselfde as innerlike vreugde is nie? Luk 8:14 “En die saad wat in die dorings geval het – dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie.”

“Man is so constituted that he only excels in other things when he knows himself.” Boethius kom hier dalk baie naby aan een van die vernaamste redes waarom mense dikwels baie nuwe dinge uittoets, maar die een mislukking na die ander beleef. Hulle het dalk nog nie die belangrikheid daarvan ontdek om tyd te neem om eerlike selfondersoek en selfevaluering te doen nie. Die Skrif verwys dikwels hierna. Rom 12:3 “Want deur die guns wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos Elohiem dit aan elkeen toebedeel het.” Spr 26:12 “Het jy ‘n man gesien wat wys is in sy eie oë? Daar is meer hoop vir ‘n dwaas as vir hom.” Luk 18:11 “En die Perushiet het gaan staan en by homself so gebid: o Elohiem, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie – rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie.” Gal 6:3 “Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself.” Groei kan nie werklik plaasvind as ‘n mens probeer bou op die fondament van misleiding nie. Dit is nie altyd maklik om misleiding raak te sien of te herken nie. Maar in die geval van self-misleiding is dit anders. ‘n Mens kán eerlik met jouself wees. ‘n Mens kán jou eie hart ondersoek. En ons almal het hierdie soort kennis van onsself, nodiger as enige iets anders in die lewe!

“Contemplate the extent and stability of the heavens, and then at last cease to admire worthless things.” Boethius mag dalk ‘n ander idee van “the heavens” gehad het as wat in die Skrif vir ons voorgestel word. Hy mag selfs iets anders bedoel het met “stability” as die stabiliteit van die ewige koninkryk waarvan ons in die Skrif lees. Maar dat baie mense, selfs oortuigde gelowiges, in ons dag ook bekoor en gefassineer word deur “worthless things”, is ‘n feit. Daarom is Boethius se oproep vir ons ook van pas: Laat ons eens en vir altyd ophou om dit wat geen blywende waarde het nie, te admireer en na te jaag. Laat ons ophou om kosbare tyd van ons beperkte lewensduur op aarde te gebruik om te praat en te lees en te skryf en te redeneer en te droom en te wonder en te wroeg oor dinge wat, soos Y’shua gesê het, nie een el by ons ouderdom of by ons lengte kan voeg nie. Psalm 39 sê só ‘n persoon is soos iemand wat soos ‘n skaduwee-beeld of ‘n spook-beeld op aarde rond beweeg: Dit het die voorkoms van ‘n mens, maar dis eintlik ‘n wese wat sonder siel en hartklop is (Ps 39:6 “Waarlik, die mens wandel as skadubeeld rond; ja, hulle woel verniet; hulle stapel op en weet nie wie dit sal insamel nie.”). Jes 55:2 sluit hierby aan: “Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig.”

“We cannot raise the question: How can there be evil if God exists? without raising the second: How can there be good if He exists not?” Ons het verlede week weer na hierdie eeu-oue vraagstuk verwys van hoekom ‘n goeie Elohiem slegte dinge op aarde toelaat. Die slim mense praat van die “teodisee” vraagstuk. Is die Skepper regverdig as Hy toelaat dat mense ly en swaarkry en deur oorlog en hongersnood en kanker en pandemies uitgeroei word? Hoe kan al hierdie slegte goed gebeur as daar ‘n goeie en regverdige Opperwese is wat dit in sy mag het om mense se omstandighede binne ‘n oogwink te verander? Boethius gee vir ons ‘n ander perspektief. Hy keer hierdie vraagstuk koponderstebo en vra die vraag: Hoe kan al die goeie dinge gebeur wat ons op ‘n daaglikse basis beleef en rondom ons sien, as daar nie ‘n Opperwese is wat dit in sy hart en in sy mag het om mense se lewens ten goede te verander nie? As ons werklik ons oë oopmaak, kan ons nie die tekens van goedheid en welwillendheid en guns en seën rondom ons miskyk nie. Dis in ons huise. Dis in die materiële voorsiening wat na ons kant toe kom. Dis in die wonderwerke van genesing wat ons beleef. En as daar oënskynlik een of twee gebede om genesing is, wat volgens ons oordeel nie verhoor is nie, moet ons nie só inkonsekwent wees en nóú skielik in Yahweh begin twyfel nie. Wat van die honderde kere dat ons sy goedheid geniet en ingedrink het sonder om ‘n woord daaroor te sê? Die feite is: Ek is net ‘n spikkeltjie van die totale skepping en die totale heelal. Daar is ‘n Skepper wat na elke deeltjie van hierdie heelal omsien – met onoortreflike wysheid en met absolute regverdigheid – daardie soort regverdigheid wat jy net by die Skepper sou verwag – een wat nie deur die sondige inklinasies van hierdie verwonde wêreld geaffekteer is nie. Wanneer iets goed of sleg in my, klein spikkeltjie, se lewe gebeur, is dit nie ewe skielik ‘n refleksie oor óf daar ‘n Elohiem is, of nie. En óf Hy regverdig is, of nie. Asof my lewe en my omstandighede en wat daar met mý gebeur, die sentrale fokuspunt van die ganse heelal is nie. Nee, as daar met my iets goed of sleg gebeur, dan beteken dit eenvoudig ek is óók mens. Ek is óók deel van hierdie gebroke wêreld. En ek is nog nie in daardie bedeling waarin alles herstel sal word en waarin daar geen dood en droefheid en geween en moeite sal wees nie en waar Elohiem elke traan van ons oë sal afvee nie. Maar terwyl ek hier op aarde is, terwyl ek mens is en die soort dinge oorkom wat ander mense óók oorkom, kan ek, as iemand wat Yahweh leer ken het en wat glo in sy Seun, Y’shua, met reikhalsende verlange, en met hoop en selfs met opgewondenheid, daarna uitsien dat daar ‘n beter wêreld is wat kom, en dat Yahweh, in sy groot guns, my ook daarby ingesluit het!