BEVRYDING UIT BITTERHEID

alternate textDaar is ‘n hele aantal groot temas wat uitstaan as ‘n mens die eerste 5 hoofstukke van Shemot/Exodus lees. Daar is die tema van Farao wat die Hebreeuse seuntjies laat dood maak het om te verseker dat die Hebreeuse volk nie té magtig word nie. Daar is die tema van Mosheh/Moses wat op ‘n buitengewone manier in die paleis van Farao beland het en dáár as deel van Farao se huishouding groot geword het. Daar is die tema van Mosheh wat die Egiptenaar doodgemaak het toe hy een van die Hebreeuse slawe geslaan het. Daar is die tema van Mosheh van na Midian gevlug het en met een van Jetro se dogters getrou het. Daar is die tema van die brandende bos en Yahweh wat sy Naam aan Mosheh bekend gemaak het en die tema van die onthulling van die plan aan Mosheh en Aharon om die Hebreeuse volk uit Egipte uit te lei. Geen wonder dat daar al duisende boeke geskryf en honderde films en dokumentêre programme oor hierdie besondere periode in die geskiedenis van Israel gemaak is nie.

Daar is natuurlik heelwat kleiner temas ook wat afspeel in hierdie eerste 5 hoofstukke van Exodus – minder bekend as die groter temas, maar enige tyd net so belangrik. Die meeste van hierdie temas – groot of klein – hou op ‘n manier verband met seker een van die belangrikste waarhede van die hele Skrif: Die waarheid dat Yahweh die nood van sy mense raaksien en dat Hy die begeerte en die mag het om hulle uit hulle nood te verlos. Elkeen van ons kan ons met hierdie waarheid assosieer. As ons verdrukking, of verslawing, of benoudheid, of binding, of beklemming, of angs, of gebrek, of diskriminasie, of desperaatheid, of frustrasie hier op aarde beleef, is daar Een wat nie net gewillig is nie, maar ook magtig genoeg, om ons daarvan te verlos en vry te maak.

By hierdie lysie van die verskillende vorme van nood waarin ons as mense dikwels verkeer, sou ons ook die aspek van bitterheid kon byvoeg. Bitterheid kan op twee verskillende maniere opgeneem word. Dit kan dui op die moeilikheidsgraad van die lyding of swaarkry waarin ‘n mens verkeer. Daarom praat mense van bittere lyding of bittere verdriet of selfs ‘n bittere dood. Maar bitterheid kan ook dui op ‘n mens se reaksie wanneer jy swaarkry of verdruk word. Jou langdurige swaarkry maak jou bitter – jy is kwaad; jy voel te ná gekom, jy wil wraak neem. As ‘n mens die twee vorme van bitterheid moes lokaliseer, sou ‘n mens kon sê die eerste vorm van bitterheid is in jou mond – natuurlik nie letterlik nie – maar die swaarkry laat as’t ware ‘n bitter nasmaak in jou mond. Die tweede vorm is meer in jou hart as in jou mond. Dis meer van ‘n emosie, as wat dit ‘n smaak of ‘n sensasie is. Dis nie hoe jou omstandighede, uiterlik gesproke, VIR JOU voel (of proe) nie – dis HOE JY, innerlik gesproke, oor jou omstandighede voel. Wat vir ons belangrik is om te weet, is dat Yahweh ons van beide hierdie twee vorme van bitterheid WIL en KAN verlos!

Ons het gepraat van die kleiner temas binne die gedeelte van Exodus 1-5. Een van hierdie kleiner temas is juis die tema van die bitterheid wat die Israeliete ervaar het terwyl hulle aan 430 jaar van slawerny in Egipte onderwerp is. Bitterheid in die mond (‘n sensasie van intense swaarkry), sowel as bitterheid in die hart (intense emosionele reaksie teen dit wat die Egiptenare hulle aangedoen het). Ons lees in Exodus 1:13-14 “Die Mietsrayimiete het die kinders van Yiesraél met hardheid laat dien en hulle lewe verbitter deur moeilike werk … wat hulle met hardheid verplig was om te doen.” Die woord “verbitter” is ‘n vertaling van “marar” wat “bitter” beteken en waarvan “Marah” – die plek in die woestyn met sy bitter water – afgelei is. Die oorsprong van hierdie woord hou verband met die Engelse woord “trickle” en gee dalk vir ons ‘n kykie in die proses wat plaasvind wanneer ‘n mens uiteindelik deur bitterheid vasgevang word: Aanvanklik is dit soos ‘n enkele waterdruppel of ‘n enkele traan wat teen die wang afrol (of “trickle”). Maar dan is daar nog ‘n druppel … en nog een … en uiteindelik is dit soos ‘n konstante stroom water wat nie onder beheer gebring kan word nie. Bitterheid begin dikwels met ‘n onbenulligheid (blote sensasie) en eindig met ‘n onkeerbare stroom (intense emosie)!

Yosef was natuurlik een van die groot redes waarom die Israeliete in Egipte beland het, maar al wat Exodus 1-5 vir ons oor Yosef sê is dat hy gesterf het (Ex 1:6) en dat die nuwe koning van Egipte niks van Yosef geweet het nie (Ex 1:8). Maar danksy dit wat in die Skrif vir ons nagelaat is, weet óns (ánders as die koning van Egipte) ‘n hele paar dinge van Yosef. Een van hierdie dinge is die seën wat sy pa, Yaakov, oor hom uitgespreek het in Gen 49:22-26 – onder meer die volgende: Gen 49:22 “Yosef is ‘n jong vrugteboom by ‘n fontein; sy takke klim oor die muur. Die boogskutters het hom geprikkel en beskiet en bestry, maar sy boog het sterk gebly … deur die hande van die Magtige van Yaákov” (vers 22-24). Die woord wat hier met “geprikkel” vertaal word, is dieselfde “marar” van vroeër, wat letterlik “verbitter” beteken. Wat die teks dus vir ons wil sê, is dat Yosef se vyande (“boogskutters” is in die Skrif dikwels ‘n kode-woord vir die vyande van Yahweh se volk) vir Yosef se nakomelinge alle rede sal gee om bitter te wees, maar dat Yosef se eie boog sterk sal wees omdat die hand van Yahweh hom sal sterk maak.

Ek dink nie daar is nog ‘n teks in die Skrif wat só ‘n sterk boodskap oor bitterheid bevat nie. Soms gee mense vir ons rede om bitter en kwaad te wees. Soos Yosef word ons dikwels geprikkel en beskiet en bestry. Maar as die geestelike nasate van Yosef, word ons aangeraak deur die “hand van die magtige van Yaakov” en Hy maak dit vir ons moontlik om van bitterheid af weg te stap. Letterlik staan hier dat Hy ons boog sterk maak. Die woord “boog” is ‘n afgeleide vorm van ‘n woord wat “buig” (Afr) of “bend” (Eng) beteken. Wat is dit wat Yahweh vir ons wil doen? Hy wil ons leer om te buig, sonder om bitter te word. Wat eintlik dieselfde is as: Hy wil ons leer om te buig sonder om te breek. Die seën in Gen 49 verwys na Yosef wat ‘n jong vrugteboom by ‘n fontein is. Die hout wat van só ‘n boom af kom, is die tipe hout wat nodig is om ‘n goeie kwaliteit, buigsame, boog te maak. As die vrugteboom nie by die bron van die fontein geplant is nie, gaan die boë wat van hierdie vrugteboom gemaak word, stokstyf raak en geneig wees om te breek – geneig wees om toe te gee aan bitterheid. As ons nakomelinge van Yosef is, is daar geen twyfel dat ons oor en oor gebuig gaan word nie. Daar is geen twyfel dat ons geprikkel en getoets gaan word nie. Maar dis juis die herhaalde gebuig van die boog wat dit sterk en buigsaam en effektief maak. En dit is die betekenis van die seën wat oor Yosef uitgespreek word. En by implikasie ook oor ons, want Yosef (wie se naam letterlik beteken: “Ek sal byvoeg”) is die één seun van Yaakov met wie ons as nie-Jode baie sterk kan identifiseer.

Die woord “mirre” (Engels: “myrrh”) is ook afgelei van die Hebreeuse woord “marar” (om bitter te wees). Wat is die konneksie? Mirre is ‘n soort gom of resin afkomstig van sekere soort doringbome. Die mirre word letterlik ge-oes deur die bas van die boom herhaaldelik te wond met ‘n skerp voorwerp. Dus, die konnotasie met bitterheid is tweeledig: Daar is dorings betrokke en daar is verwonding en beskadiging van die boom betrokke. Maar die wonderlike ding van mirre is dat die eindproduk nie bitterheid is nie. Die eindproduk is een van die natuur se grootste gawes aan die mens: ‘n middel wat oor ‘n wye spektrum vir sy wonderlike aroma gebruik word en selfs as ‘n geneesmiddel vir toestande soos tandpyn, verstuiting, skraapmerke en selfs vir asma, artritis en kanker.

Dis ‘n wesenlike deel van die groter boodskap van die Skrif dat Yahweh uitstekend daarmee is om gebeurtenisse en omstandighede wat ‘n bitter smaak in die mond nalaat, te gebruik om ‘n aangename geur uit te straal en genesing en redding in mense se lewens in te bring. Kort nadat Naomi vir Rut gesê het “dit is vir my baie bitterder as vir jou dat die hand van Yahweh teen my uitgestrek is” (Rut 1:13), het Rut ‘n keuse gemaak om as Moabiet by die volk van Israel aan te sluit, deur teenoor Naomi te verklaar: “Waar u gaan, sal ek gaan, u volk is my volk, u Elohiem is my Elohiem” (Rut 1:16). Sodoende het sy vir ons ‘n voorloper geword om as nie-Jode by die volk van Yahweh aan te sluit en sy was uiteindelik die ouma-grootjie van Dawid, uit wie se nageslag Y’shua die Messias gebore is. In Jesaja 38:17 kom dieselfde tendens na vore as die profeet verklaar: “My bitter lyding het in verlossing oorgegaan – U het my siel liefgehad en getrek uit die kuil van vernietiging”. Hoeveel bitter lyding het Y’shua van Nasaret nie hier op aarde deurgemaak nie? Sagaria profeteer hieroor en sê: (Hulle sal oor hom rouklaag) “soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind” (Sag 12:10). Maar dis juis hierdie Een wat self soveel bitterheid geken het en vir baie ander ‘n bitter pil was om te sluk, wat ons donkerste nood en ons bitterste smart kan wegneem en vir ons die verlossing en shalom van Yahweh kan laat smaak.

Dis suiwer as gevolg van wat Y’shua gedoen het dat die Skrif vir ons sê: “Soek nie jou eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie” ( 1 Kor 13:5); “Alle bitterheid en woede moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid” (Efes 4:31); “Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie” (Kol 3:19); “Pas op dat daar geen wortel van bitterheid opskiet en baie hierdeur besoedel word nie (Heb 12:15) en “As julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem teen die waarheid nie” (Jak 3:14). Mag ons deur Y’shua waarlik van elke vorm van bitterheid verlos word – die bitterheid wat in ons monde ‘n nasmaak gelaat het, maar ook die bitterheid wat op een of ander manier ons harte aangetas het!