AAN HOM AL DIE EER

alternate textTwee dae gelede, met die aanvang van die nuwe maand, het ons kortliks op die tema van eer en verering en eerbied gefokus en op die onus wat daar op ons as gelowiges rus om met ons hele lewe aan Yahweh, ons hemelse Vader, eer toe te bring. Hy is immers die een wat ons gemaak het. Hy sorg vir ons. As ons swaar kry of verdruk word of benoud is, staan Hy altyd gereed om sy hand na ons toe uit te steek en op die mees wonderbaarlike maniere uitkoms te gee. Verder het ons Hom leer ken as die een wat absoluut getrou is, volkome regverdig is en volmaak in sy liefde vir ons. Hy verdien dit om geëer te word. Om iemand te vereer, volgens die woordeboeke, het ‘n tweeledige implikasie: Eerstens beteken dit dat jy met respek en agting en verwondering teenoor daardie persoon sal optree. En tweedens, as jy met so ‘n persoon in ‘n verhouding of ‘n verbintenis staan, beteken dit dat jy absoluut toegewyd aan hierdie verbintenis sal wees in alles wat jy doen en sê en dat jy jou lojaliteit aan hierdie persoon bó ander lojaliteite in jou lewe sal stel. Die woord wat veral in die Skrif gebruik word om die begrip van “eer” of “verering” te beskryf, is die woord “kavod” wat letterlik beteken: “om swaar te wees” of “om iemand of iets as swaar, in die sin van groot en belangrik en voortreflik, te beskou”. Dus, figuurlik gesproke, is die vraag waarop elkeen van ons behoort te antwoord: Hoe swaar weeg Yahweh, die Almagtige, regtig vir ons?

Een van die punte waaraan ons net liggies geraak het, twee dae gelede, is dat Yahweh ons as mense met eer beklee het. Genesis 1 sê dat Hy die mens na sy beeld geskape het. Psalm 8 sê Hy het ons met eer en voortreflik bekroon – net ‘n klein bietjie minder as die hemelse boodskappers voor sy troon. Efesiërs 1 sê dat Yahweh vir ons as sy volgelinge, in die Messias, geseën het met al die geestelike seëninge in die hemel. Een van die treffendste gedeeltes in die hele Skrif wat hierdie waarheid beklemtoon dat Yahweh mense met eer beklee, is 1 Samuel 2:8 wat deel is van die dankgebed waarmee Hannah aan Yahweh eer toegebring het nadat Hy haar smeekgebed oor haar eie kinderloosheid verhoor het. Wat Hannah hier in 1 Samuel 2 doen, is om aan Yahweh eer toe te bring, omdat sy tot die insig gekom het dat Yahweh aan háár eer toegebring het. Daarom sê sy in vers 8: “Hy rig die geringe op uit die stof, uit die ashoop verhef Hy die behoeftige; Hy laat (die geringes) sit by die heersers en Hy laat hulle ’n erestoel beërwe” (letterlik: ‘n stoel of ‘n troon wat groot gewig dra of baie kosbaar is). Wie van ons het nie al beleef dat Yahweh ons uit die stof uit opgelig het nie? Besef ons hoeveel gewig dra die gawes en die beloftes en die bemoediging wat ons daagliks uit die Woord vir onsself kan toe-eien? Ons verdien dit nie. Ons verstaan dit nie. Maar Yahweh bewys eer aan ons as nietige, feilbare mense. Hoe lyk die eer wat aan Hom behoort te bewys? “As Ek dan ‘n Vader is, waar is my eer? En as Ek ‘n Meester is, waar is die vrees vir My?” (Mal 1:6). Ag, as ons maar net iets van die gesindheid van Dawid kon gehad het wat in nederige erkenning teenoor Yahweh uitgeroep het: “Wie is ek, Yahweh Elohiem, en wat is my huis, dat U my tot hiertoe gebring het? Wat is daar wat ek nog kan byvoeg om te vergoed vir die eer wat U aan my as u kneg aangedoen het?” (1 Kron 17:16-18).

Ons het gesien dat Hannah in haar gebed erkenning gee dat Yahweh haar uit die stof uit opgelig het en haar op ‘n erestoel laat sit het. In Woord en Getuienis word daar nog vier ander woorde gebruik wat ook met “ere-” begin: eretroon (Jes 22:23); erenaam (Jes 44:5 en 45:5); erekoning (vier keer in Ps 24) en erediens (Rom 9:4 en Heb 9:1). In Jesaja 22 word daar ‘n besonderse eer aan Elyakiem betoon. Sy naam beteken letterlik “Elohiem sal verhoog of Elohiem sal vereer”. Hy was ‘n doodgewone man, maar uit die bloute uit word hy aangestel as hoof van die paleis van koning Giezkiyah (Hiskia). Die profeet Jesaja beskryf vir ons wat Yahweh self oor Elyakiem te sê gehad het: “Ek sal mag in sy hand lê … hy sal vir die huis van Yehudah ‘n vader wees … Ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer lê; en hy sal oopmaak, en niemand sal sluit nie; en hy sal sluit, en niemand sal oopmaak nie … hy sal ‘n eretroon wees vir die huis van sy vader” (Jes 22:21-23). Waarom word daar só ‘n groot ophef van Elyakiem gemaak? Sommiges sê dis omdat hy ‘n soort voorloper van die Messias was (in Opb 3 word Y’shua beskryf as die een wat die sleutel het en wat oopmaak en niemand sluit nie en wat sluit sodat niemand kan oopmaak nie). Dit mag wáár wees, maar die storie rondom Elyakiem (en die besondere betekenis van sy naam) hou vir jou en my, as doodgewone mense, ‘n baie sterk boodskap in: Yahweh maak dit sy werk om doodgewone mense op te lig en te verhef. As die Een aan wie alle eer in die hemel en op die aarde toekom, bedek Hy mense met eer – Hy gee aan hulle sy beloftes; Hy maak hulle deel van sy volk; Hy beklee hulle met mag; Hy gee hulle ‘n lewende hoop en ‘n erfenis; Hy verbind hulle aan sy eie Seun en behandel hulle soos sy eie kinders. En elkeen van ons kom van ‘n plek af waar ons NIKS van hierdie eer verdien het nie. En dit bring ons net weer terug by die vraag: Eer ons Hom wat alle eer verdien? Eer ons die Een wat méér eer waardig is as enige mens, of dier of ding wat aan ons bekend is?

In Jesaja 44:5 skryf die profeet: “Die een sal sê: Ek behoort aan Yahweh; en die ander sal die naam van Yaákov uitroep; en die ander sal met sy hand skryf: Ek behoort aan Yahweh, en hom met die erenaam Yiesraél noem.” In die volgende hoofstuk hoor ons Yahweh se eie woorde: “Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is en die verborge rykdomme, sodat jy kan weet dat Ek Yahweh is wat jou by jou naam roep … Ek het jou by jou naam geroep; Ek het jou ‘n erenaam gegee, hoewel jy My nie geken het nie” (Jes 45:3-4). Twee keer word die woord “erenaam” gebruik. Anders as op ander plekke waar die woord “eer” of “ere” gebruik word, is dit nie die gewone “kavod” (wat “swaar” beteken) wat hier gebruik word nie. In al twee hierdie gedeeltes word die woord “kannah” saam met die woord vir “naam” gebruik. Letterlik beteken dit: “to address by an additional name, in order to add value and honour”, soortgelyk aan dit wat met die Engelse woord “eulogize” bedoel word (“to talk about how much you respect and admire a person”). Dis die soort eer wat ons van ons hemelse Vader ontvang. Hy noem ons met nuwe name; Hy voeg waarde by ons bestaan; Hy maak nie ‘n geheim daarvan dat Hy ons respekteer nie; Hy wag nie totdat ons dood is voordat Hy ‘n eulogie of ‘n lofrede oor ons uitspreek nie.

Daar is 150 Psalms in die Skrif. Die skrywers van hierdie psalms het ‘n alternatiewe manier gesoek om aan Yahweh eer te bewys (deur die medium van sang en poësie) – veral omdat hulle in die moeilikste omstandighede denkbaar, diep onder die indruk van sy liefde en getrouheid en beskerming gekom het en graag aan Hom daarvoor eer wou bewys. Soms is gewone sinne en gewone woorde net eenvoudig nie genoeg en voldoende om Yahweh na behore te vereer nie. In hierdie 150 psalms word die begrip “eer” (Heb “kavod”) 62 keer gebruik. Maar dis nie al nie. Daar is minstens tien ander woorde wat ook gebruik word met die doel om eer en lof en grootheid en voortreflikheid aan Yahweh toe te bring. Daarom vind ons verder in die Psalms dat die woord “loflied” (Heb “tehillah”; Eng “song of praise”) 30 keer gebruik word; “prys” (Heb “halal”; Eng “praise”) word 94 keer gebruik; “dank” (Heb “yadah”; Engels “give thanks”) word 67 keer gebruik; “seën” (Heb “barach”; Eng “bless”) word 75 keer gebruik; “sing/lied” (Heb “shir”; Eng “sing/song”) word 27 keer gebruik; “psalmsing” (Heb “zamar”; Eng “sing praises”) word 41 keer gebruik; “onthou” (Heb “zakar”; Eng “remember”) word 53 keer gebruik; “aanbid” (Heb “shachah”; Eng “worship”) word 17 keer gebruik; “verbly” (Heb “samach”; Eng “rejoice”) word 52 keer gebruik; “vrolike geluid” (Heb “ruah”; Eng “joyful noise”) word 12 keer gebruik; “jubel” (Heb “ranan”; Eng “shout for joy”) word 26 keer gebruik en “juig” (Heb “ghil”; Eng “be glad”) word 19 keer gebruik. Daar is nog ander woorde wat ook in die Psalms gebruik word, in ‘n poging om op geen manier die kans te laat verbygaan om aan Yahweh eer te betoon nie. Teen ‘n gemiddeld van 4 stellings in elke psalm het hierdie skrywers, van wie Dawid by verre die meeste geskryf het, ‘n patroon vir ons nagelaat om VOOR alles en IN alles en BO alles aan Yahweh die eer te gee wat Hom toekom.

Die gevaar is natuurlik dat ‘n mens se eerbied en agting vir Yahweh net lippetaal kan wees. Ons het twee dae gelede verwys na die woorde van die Messias in Mat 15:8 “Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.” Selfs in die Psalms kom dit duidelik na vore dat die psalmskrywers nooit met die idee gesit het dat ‘n mens Yahweh net eer deur sekere dinge te sê of te sing of te skryf nie. Jy eer Hom die heel meeste deur sy woorde ernstig op te neem en by ‘n punt te kom waar jy besef dat gehoorsaamheid nie ‘n abstrakte of ‘n selektiewe of ‘n rituele woord is nie, maar dat dit in sy suiwerste vorm ‘n doen-woord is. Daarom sê Ps 15 dat die een wat in Yahweh se tent mag vertoef, is die een wat opreg wandel en met sy eie hart die waarheid praat. Daarom sê Ps 56 dat ‘n mens net behoorlik kan erkenning gee aan Yahweh se groot werke deur te wandel voor sy aangesig. En daarom sê Ps 78 dat ‘n mens kan agterkom dat mense van Yahweh se wonderdade vergeet het aan die feit dat hulle nie sy Torah ernstig opneem nie. Om Yahweh werklik te eer op die manier waarop dit in die Skrif beskryf word, beteken om dit wat in sy oë gewigtig en kosbaar en noodsaaklik is, ook vir jouself as gewigtig en kosbaar en noodsaaklik aan te neem. Ons mag dalk oor baie dinge twyfel maar ons kan seker wees dat as Hy die moeite gedoen om sekere woorde en sekere beginsels vir ons te laat opteken, dit absoluut tot sy eer sal strek as ons hierdie woorde en beginsels deel van ons lewe maak!