YAHWEH IS VIR ONS GENOEG

alternate textDaar is deesdae ‘n hernude belangstelling in wat die Skrif te sê het oor die eindtyd en veral die uitsprake van Bybelse profete, maar ook moderne profete wat verband hou met die uitbreek van die Coronavirus pandemie.

Die bekende evangelis en profeet van Nigerië, TB Joshua, het onlangs geprofeteer dat die Coronavirus op 27 Maart 2020 tot ‘n einde sou kom: “This month, 27th, it will be over, by the end of this month, whether we like it or not, no matter the medicine they have produced to cure whatever, it will go the way it came.” Wat toe nie gebeur het nie.

Nog ‘n bekende profeet van Afrika, Emmanuel Makandiwa, het drie weke gelede ‘n groep van derduisende kerkgangers in ‘n tent basilika in Zimbabwe toegespreek en geprofeteer dat die medici nie ‘n kuur vir die Coronavirus gaan vind nie, maar “God will put His power in a medication or a product that is already available on the market.” Vir die Almagtige is dit selfs moontlik om sy genesingswerk deur ‘n eenvoudige produk soos rys te volbring, het hy gesê.

Die omstrede profetes, Sylvia Brown, het in 2008, die volgende uitspraak gemaak: “In around 2020 a severe pneumonia-like illness will spread throughout the globe, attacking the lungs and the bronchial tubes and resisting all known treatments. Almost more baffling than the illness itself will be the fact that it will suddenly vanish as quickly as it arrived, attack again ten years later, and then disappear completely.” Oor die akkuraatheid van hierdie profesie word baie gegis, maar Brown was in die verlede nie altyd reg nie en het selfs haar eie sterf ouderdom op nasionale televisie verkeerd voorspel (88 in plaas van 77).

700 jaar gelede het die Frans-Joodse filosoof en astroloog, Gersonides, met die volgende profesie vorendag gekom: “In the footsteps of the Messiah, on Passover Eve, there is no king in Israel (daar is tans erge woelinge binne die regering van Israel); And the scourge (plague) came out of Ashkenaz (daar is DNA kenners wat vandag sê dat die Ashkenaz Jode ‘n verbintenis met Sjina het); And it’s letters add up to a crown (die woord “Corona” in Latyn beteken “crown” of “kroon”); And it goes out and hits Israel’s enemies and kings of Persia and Medi fall under it; And Israel is sitting in their homes (soos die res van die wêreld ook deesdae doen); So Israel you will be strong and happy and cling to the Creator of the world, our Father. There is none other besides Him.”

En dan het meeste van ons kennis geneem van die manier waarop Jesaja 26:20-21 in die sosiale media skielik deur almal bestudeer en aangehaal word: “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ‘n klein oomblik, totdat die gramskap verbygaan. Want kyk, Yahweh sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek.” Nog iemand wat blykbaar ook die Coronavirus in 2018 voorspel het, was Pastor Joseph Prince van Singapore, wat net mooi die teenoorgestelde trant as Jesaja 26 ingeslaan het: “The coronavirus is not from God but from the devil, who comes to steal, kill, and destroy.”

‘n Joernalis van een van ons Suid Afrikaanse dagblaaie het as buitestaander na al hierdie (en ander) profesieë oor die virus geluister en toe die volgende geskryf: “When animals are engulfed by a plague, they don’t seek to explain whatever afflicts them; for, unlike us humans, animals don’t have the capacity to understand things. The capacity to understand things should be our advantage over animals. Paradoxically, the opposite is the case … when we are threatened by a pandemic, we listen to a medical doctor with one ear while the other ear listens to chancers who manufacture their own fake explanations and solutions.” Daar is sekerlik ‘n element van waarheid in hierdie waarneming en as ek persoonlik een, klein sinnetjie uit al hierdie profesieë moes kies om aan vas te hou, dan sou dit die laaste deel van Gersonides se profesie wees: “Be strong and happy and cling to the Creator of the world, our Father. There is none other besides Him.” Hierdie benadering word oor en oor in die Skrif bevestig en sal ons help om nie tot in ons fondasies deur hierdie wêreldkrisis geskud te word nie.

Die woord “cling” (wat Gersonides in sy laaste sin gebruik het) word in Afrikaans gewoonlik met “aankleef” vertaal en met die Hebreeuse woord “davac” geskryf. Dit is die letterlike omgekeerde van die woord “COVID” (as ‘n mens dit in Hebreeus moes skryf – let op die drie medeklinkers D, V en C). In Deuteronomium 13:4 word die hele volk van Israel opgeroep om Yahweh na te volg, Hom te vrees, sy gebooie te hou, na sy stem te luister en Hom aan te hang (“davac”). Joshua het dikwels sy volk in krisistye moed ingepraat en in Joshua 22:5 sê hy dat hulle nie moet ophou om in Yahweh se weë te wandel, Hom aan te kleef (“davac”) en Hom met hulle hele hart en siel lief te hê nie. In Psalm 119:30-31 sê die skrywer dat hy vir die waarheid gekies het en Yahweh se getuienisse aanhang (“davac”). Vir ons as gelowiges is DAVAC die belangrikste manier om COVID behoorlik om te keer en dit hok te slaan. In hierdie tyd waarin ons almal moet vermy en niemand moet aanraak of aankleef nie en “social distancing” moet handhaaf, is dit een van die dinge wat ons grootste prioriteit behoort te wees: Om Yahweh aan te kleef met alles wat ons het!

Ek hoor van baie mense wat sê dat die blote gedagte aan afsondering vir minstens drie weke, gevoelens van beklemming en benoudheid oor hulle bring. Die Skrif is onbeskryflik prakties wanneer dit hieroor praat:

“In my benoudheid het U vir my ruimte gemaak” (Ps 4:1). Yahweh alleen is in staat om vir ons in ‘n tyd van inperking die gevoel van ruimte te gee – die ruimte wat ‘n mens leer ken as jy fokus op sy groot guns, sy groot Naam, sy groot werke, sy groot krag, sy groot lankmoedigheid en sy groot plan met hierdie wêreld.

“So is Yahweh dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid” (Ps 9:9). Ons het so ‘n rotsvesting NOU nodig! Iets of iemand wat vir ons vastigheid en sekuriteit kan gee. Dis net Hy wat jou uit die modderige slyk kan optrek en jou voete op ‘n rots kan staanmaak (Ps 40:2). Dis net Hy wat jy só sterk kan laat voel dat jy elke more wil sing en jubel oor sy goedertierenheid (Ps 59:16).

Die volgende bemoedigende vers uit die Psalms moet in Engels gelees word: “You are my hiding place; You preserve me from distress; You surround me with songs of deliverance” (Ps 32:7). In ‘n tyd waarin ons almal “wegkruip” vir die wêreld, is die wete dat Yahweh ons wegkruipplek is, ‘n absoluut oorweldigende wete. Hy bewaar ons van benoudheid en wanhoop en depressie. Hy omring ons met tientalle redes om liedere van verlossing en hoop te sing!

“Elohiem is vir ons ‘n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef” (Ps 46:1). Die woord “beproef” dra die idee oor dat Hy ondervinding het hoe om ‘n krisis situasie te hanteer. Wat ‘n geweldige troos om juis dit te weet in die midde van ‘n krisis waarin selfs die grootste kenners byna geen praktiese ervaring het nie. Sommige van die Engelse vertalings vertaal hier: “He is a very present help in the time of trouble.” Die Hebreeuse woord (“matza”) sê ‘n hele paar dinge vir ons: He is present; He is able; He is enough; He is ready; He is there to be found. Om van die wêreld afgesluit te wees, beteken NIE om van Yahweh afgesluit te wees nie. Hy staan gereed om deur elkeen wat Hom soek en aanroep, gevind te word. Hy is groot; Hy is vol deernis; Hy is vir ons genoeg! Hy kan die 3 weke wat voorlê vir ons uiters betekenisvol maak!

Subscribe
Notify of
guest
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x