UITVERKIES AS VRIEND

alternate textIn die Torah leesstuk van hierdie week hoor ons vir die eerste keer die naam, “Avraham” wat, volgens die verstaan van sommige Skrifuitlêers, aan Avram toegeken is omdat Yahweh ‘n besonderse verhouding met hom aangeknoop het en as ‘n simbool hiervan, ‘n letter van sy eie Naam, by die naam “Avram” bygevoeg het. Die profetiese gedeelte wat saam met Genesis 12 tot 17 gegroepeer word, is Jesaja 40:27 – 41:16, waarin die merkwaardige Jes 41:8-10 voorkom: “Maar jy, Yiesraél, my kneg, Yaákov, wat Ek uitverkies het, nageslag van Avraham, my vriend, jy, wat Ek gegryp het van die eindes van die aarde en van sy uithoeke geroep het, en aan wie Ek gesê het: Jy is my kneg; jou vir wie Ek uitverkies het en nie verwerp het nie: Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou Elohiem. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”

As ‘n mens oor uitverkiesing praat, kan jy nie anders as om by Avraham te begin nie. Yahweh noem hom “Avraham, my vriend” – letterlik: “Avraham ohavi” – Avraham, die een wat My lief het, die een wat met My in ‘n verbond gestaan het, die een wat My bo sy familie en sy geboorteland gestel het, die een wat aan my belofte vasgehou het en nooit daaraan getwyfel het nie. So kan ‘n mens aangaan en nog baie wonderlike dinge opnoem wat Avraham gedoen het. Maar die punt is, ons sou nie eens van Avraham geweet het as Yahweh hom nie uitverkies het nie. In hoofstuk 11 hoor ons nog net die koue feite of die “bio” van Avram – dat hy in Ur, deel van die destydse Babilonië, gebore is, dat hy die seun van Terag was, dat hy twee broers en ‘n onbekende aantal susters gehad het en dat die naam van sy broer se seun Lot was. Maar met die aanvang van die nuwe leesstuk (Gen 12), hoor ons die rede waarom Avraham later so ‘n belangrike rol vervul het – nie net in die geskiedenis van Yahweh se bemoeienis met Israel nie, maar ook in die geskiedenis en die self-verstaan van die drie groot godsdienstige groeperinge van die wêreld, Judaïsme, die Christendom en Islam.

In die eerste deel van Genesis 12 is dit duidelik dat Yahweh die een is wat inisiatief geneem het in Avraham se lewe: Gen 12:1-4 “En Yahweh het aan Avram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word. Toe het Avram weggetrek soos Yahweh hom gesê het, en Lot het saam met hom getrek.” En só het dit gebeur dat die naam “Avraham” ‘n betekenis en konnotasie gekry het wat ‘n impak sou hê op die lewens van duisende der duisende ander mense. En dit het alles begin by Yahweh wat vir Avraham gekies het of geroep het of uitverkies het om ‘n pad met Hom, Yahweh, te loop – om voor sy aangesig te wandel of, soos die Skrif dit talle kere beskryf, in ‘n posisie te wees waarin Avraham (en sy mense) vir Yahweh, die Skepper van hemel en aarde, “mý Elohiem” (of “óns Elohiem”) kan noem.

Uitverkiesing is een van daardie onderwerpe wat dikwels tot groot verwarring aanleiding gee, en een van die grootste redes hiervoor, myns insiens, is omdat dit uit die konteks van die Tanak of die Ou Testament geneem word en dus uit die konteks van Yahweh se inisiatief in Avraham se lewe en in die totstandkoming van die volk Israel. In Gen 18:19 (wat deel uitmaak van volgende week se leesstuk) lees ons hierdie woorde: “Want Ek het hom (Avraham) verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis na hom bevel sou gee dat hulle die weg van Yahweh moet hou om geregtigheid en reg te doen” en in Deut 7:6 kom die gedagte van uitverkiesing weer pertinent ter sprake: “Want jy (Israel) is ‘n volk afgesonder aan Yahweh jou Elohiem; jou het Yahweh jou Elohiem uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees.” Ons sien dus dat Yahweh vir Avraham (en sy nageslag) uitverkies het en sodoende vir Israel, en almal wat aan Israel verbind is, uitverkies het. Hy het Israel uitverkies – nie omdat hulle so besonders was nie, maar omdat Hy deur hulle sy werke en sy karakter aan die wêreld wou toon en deur hulle ook sy plan aan die wêreld wou bekendmaak. In Deut 7:7 kan hierdie waarheid duidelik gesien word: “Yahweh het ‘n behae in julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke.”

In die tyd van die konings het dit duidelik geword dat Yahweh (opnuut) vir Dawid en sy nageslag uitverkies het. In 1 Kon 8:16 lees ons: “Van die dag af dat Ek my volk Yiesraél uit Mietsrayiem uitgelei het, het Ek geen stad verkies uit al die stamme van Yiesraél om ‘n huis te bou, dat my Naam daar sou wees nie; maar Ek het Dawid verkies om oor my volk Yiesraél te wees”. Hierdie gedagte word telkens in die Skrif herhaal, onder andere in 1 Kon 11:34 “Ek sal Shelomo as heerser aanstel al die dae van sy lewe ter wille van my kneg Dawied wat Ek verkies het, wat my gebooie en my insettinge gehou het.” Die Nuwe Testament sluit een honderd persent by hierdie besondere verkiesing van Dawid aan en sê vir ons dat dít is hoe dit gebeur het dat ons as gelowiges in die Messias ook as “uitverkorenes” bekend staan: Ons is (deur ons geloof) verbind aan Y’shua die Messias en Hy (Y’shua) is die fisiese nasaat van Dawid – die een wat geïmpliseer word elke keer as Yahweh sê dat Hy Dawid en sy nageslag uitverkies het. Daarom sê Efes 1:4 dat ons (as gelowiges in die Messias) IN HOM uitverkies is.

Die Engelse woord wat meeste van die kere in die Ou en Nuwe Testament hiervoor gebruik word is “choose” of “chosen”. Soms hoor ‘n mens dat mense praat van “predestination”, maar dis juis hierdie begrip wat soveel verwarring bring. Dit skep die indruk dat dit ‘n mens se “destiny” is en dat niks daaraan kan verander nie. Dis nie die Skrif se boodskap hieroor nie. Alhoewel Yahweh vir Israel (as ‘n volk) uitverkies het, is daar ‘n groot deel van hierdie volk wat ongehoorsaam en rebels teen Hom was en geweier het om terug te keer na Hom toe en daarmee hulle eie uitverkiesing “ongedaan” gemaak het. Soveel so dat die Skrif op ‘n hele paar plekke sê dat net ‘n “oorblyfsel” van Israel gered sal word.

Die primêre betekenis van “uitverkiesing” hang saam met die begrip “afsondering”. Hulle wat uitverkies is, is veronderstel om “afgesonder” te wees – duidelik uitkenbaar (in vergelyking met die res van die wêreld) omdat hulle aan Yahweh behoort en sy woord ernstig opneem. Shaúl (Paulus) het elkeen van sy briewe gerig aan ‘n sekere “ekklesia” wat in ‘n sekere dorp of plek gestasioneer was. Sommige vertalings vertaal dit met “gemeente” of “kerk”. Maar “ekklesia” beteken letterlik “hulle wat uitgeroep of uitverkies is” – dit wil sê uit die wêreld geroep is (deurdat hulle tot geloof in Y’shua gekom het) en dus volgens Yahweh se patroon en se woord lewe (en volgens die voorbeeld van hulle Meester, Y’shua) en NIE volgens die wêreld se patroon en die wêreld se woord nie. As hierdie “uitverkorenes” egter (nadat hulle tot geloof gekom het) weer terugkeer en aan die wêreld gelykvormig word, en nie erns maak met die Een wat hulle gekies het (en met die voorbeeld van sy Seun nie), dan kan hulle hul verkiesing verloor. Daarom staan daar in Lev 26:15-16: “As julle my insettinge verwerp, en as julle siel my verordeninge verag, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek, dan sal Ek dit ook aan julle doen.” Daarom lees ons in Korintiërs (1 Kor 10:12) “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” en daarom sê Y’shua self aan die “ekklesia” of “uitverkorenes” van Laodicea: “Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Openb 3:16).

Uitverkiesing is nie ‘n onveranderlike besluit wat oor iemand geneem word voordat hy nog gebore is nie. Die begrip “uitverkiesing” word nie in die Skrif gebruik om te sê dat die mens se lot uit sy eie hande uit geneem word nie. Reg deur ons hele lewe bly ons mense wat elke dag die keuse moet maak om voor die aangesig van Yahweh te lewe, in plaas van ons rug op Hom te draai. Die begrip “uitverkiesing” is nie bedoel om hierdie keuse uit te kanselleer nie. Inteendeel, dit word gebruik om Yahweh se groot guns en sy uitnemende liefde te demonstreer. Uitverkiesing is ‘n term wat ons herinner aan die waarheid van 1 Johannes 3:1 “Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van Elohiem genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie.” Dit is interessant dat die begrip “ken” in hierdie vers gebruik word. As die Skrif sê dat Yahweh ‘n mens of ‘n groep mense “geken” het, is dit dikwels net ‘n ander manier om te sê dat Hy hulle uitverkies het. Uitverkies het om in ‘n verhouding met hulle te staan. Uitverkies het om deur hulle, iets van sy grootheid en guns aan andere bekend te stel. Van wanneer af het Hy hulle geken? Reeds van die grondlegging van die wêreld af! Maar eers as hulle Hóm leer ken, lank ná die grondlegging van die wêreld, lank ná die eerste keer dat Hy hulle geken het, ontdek hulle dat Hy hulle vroeër reeds geken het en vroeër reeds uitverkies het. En so word hulle harte vervul met onbeskryflike dankbaarheid en blydskap en die innerlike motivering om Hom te bly eer reg deur hulle ganse lewe!