SEKERHEID TE MIDDE VAN ONSEKERHEID

alternate textDaar is ‘n merkwaardige verskynsel wat ons in die Woord van Yahweh aantref waarvan nie almal bewus is nie, maar wat ‘n onbeskryflike boodskap vir ons almal inhou – veral op die spesifieke tydstip waarin ons ons op die oomblik bevind, naamlik die begin van die jaar wat as “2021” bekend staan. Ons almal weet dat die manier hoe ons maande en jare ingedeel word, nie dieselfde patroon volg as wat in die Skrif vir ons aangedui word nie. Ons almal weet dat die Skriftuurlike nuwe jaar nie op 1 Januarie begin nie en dat die groot bohaai rondom oujaarsdag en nuwejaarsdag niks met die indeling van die tye van ons Skepper te make het nie.

Die feite is egter dat ons nie die maande en jare van hierdie wêreld – ook nie die begin en die einde van ‘n sogenaamde “nuwe jaar” – totaal kan ignoreer nie. Die wêreld rondom ons is volgens die ritme van hierdie tye ingedeel en aangepas en almal van ons word tot ‘n mate gedwing om by daardie ritme in te val. Die periodes van werk en verlof van bykans alle industrieë en instansies val in by hierdie patroon. Die akademiese jare van skole en kolleges en universiteite is geskoei op hierdie patroon. Die opteken van historiese gebeurtenisse van die verlede maak hoofsaaklik van hierdie patroon gebruik. En selfs die kalenders en die beplanning en die projeksies vir die toekoms, wêreldwyd, is gebaseer op die aanname dat die moderne jaartelling 2021 jaar gelede begin het en dat elke nuwe jaar op 1 Januarie afskop.

So, wat is die verskynsel in die Woord van Yahweh wat só ‘n besonderse boodskap vir ons inhou? Dis ‘n verskynsel wat die heel beste met die Engelse woord “open-endedness” beskryf kan word. Telkens in die Skrif, wanneer een periode of fase of seisoen tot ‘n einde gekom het en die volk van Yahweh of die Messiaanse gelowiges op die drumpel van ‘n nuwe periode of seisoen gestaan het, is hulle herinner en bemoedig met beloftes en waarhede wat nog nie volledig in vervulling gegaan het nie, maar wat hulle absoluut bemagtig en versterk het vir die nuwe seisoen wat voorlê.

Kom ons kyk na sommige van die groot “oorgange” en veranderinge van seisoene wat in die Skrif opgeteken is. In die TaNaK of die Voor-Messiaanse Skrifte kan ‘n mens bloot gaan kyk na die einde van elkeen van die drie hoof tydperke, die Torah (eerste vyf boeke, wat eindig met Deut 34), die Nevi’im (Profete, wat eindig met Mal 4) en Ketuvim (Geskrifte, wat eindig met 2 Kron 36). Die Torah eindig met die episode in Deut 34 waar Yahweh vir Mosheh by die berg Nebo (in die moderne Jordanië) laat opklim en vir hom, kort voor sy dood, die Beloofde Land wys en vir hom sê: “Dit is die land wat Ek aan Avraham, Yietsgak en Yaákov met ‘n eed beloof het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek dit gee; Ek het jou dit met jou oë laat sien, maar jy sal daarheen nie oortrek nie.” Dis die einde van ‘n seisoen. Daar is ‘n element van teleurstelling teenwoordig wat vir ‘n mens tragies en ironies en selfs hopeloos mag voorkom: Mosheh was die groot rolspeler in die hele Exodus verhaal. Hy was ‘n leier van formaat, ‘n profeet soos min, ‘n middelaar tussen Yahweh en sy volk. Maar die boodskap waarmee hy as’t ware sy dood tegemoet gaan, is dat hy nie sy voet in die Beloofde Land sal sit nie. Maar hy sterf met die woorde van die belofte nog vars in sy ore: “Dit is die land wat Ek aan Avraham, Yietsgak en Yaákov met ‘n eed beloof het met die woorde: Aan jou nageslag SAL Ek dit gee.” Dis wat ons meer as enigiets anders tydens ‘n oorgang nodig het – die wete dat Yahweh getrou is aan sy beloftes. ‘n Woord van Yahweh wat sy getrouheid en sy waaragtigheid vir ons bevestig – maak nie saak hóé donker dit rondom ons lyk nie en maak nie saak hóé teleurgestel ons is oor wat met ons gebeur het nie. Yahweh is by ons in die proses van oorstap en Hy maak nie ‘n fout nie!

Die gedeelte van die TaNaK wat as “Profete” (of Nevi’im) bekend staan, eindig met Maleagi 4 waar Yahweh deur sy profeet aan die volk sê: “Kyk, Ek stuur julle die profeet EliYah voordat die groot en vreesaanjaende dag van Yahweh aanbreek. En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie” (Mal 4:5-6). Hier is dit weer die einde van ‘n seisoen, maar nie die einde van die pad nie. Niemand het “gearriveer” nie. Die proses van Yahweh se bemoeienis met sy volk is nie afgehandel nie. En die belangrikste van alles: Hy bemoedig hulle met sy eie woorde en sy eie beloftes. Hy SAL die Eliyah van die toekoms stuur, die voorbereider van die koms van die Messias. Hy SAL die hart van die vaders terugbring tot die kinders en die hart van die kinders tot die vaders. Hy SAL sy volk en die nuwe generasie opnuut leer wat dit beteken om te glo en gehoorsaam te wees en te wandel in gehoorsaamheid soos wat Avraham en Yietsgak en Yaakov dit gedoen het. Hy sal hulle in die seisoen wat voorlê, nie in die steek laat nie.

Die derde gedeelte van die TaNaK is die Ketuvim of Geskrifte, wat onder meer die Psalms en Spreuke insluit en eindig met 2 Kronieke 36. Net soos aan die einde van die ander twee hoof afdelings, is hier ook ‘n stuk “open-endedness” of “unfinished business”, aangevul met ‘n belofte van Yahweh. Dis absoluut merkwaardig dat hierdie hoofstuk afsluit met ‘n besonderse verwysing na Koresh (Engels: Cyrus) – die heidense koning wat deur Yahweh self as profeet en baanbreker ingespan is toe hy deur die Gees van Yahweh aangespoor is om te profeteer: “Al die koninkryke van die aarde het Yahweh, die Elohiem van die hemel, aan my gegee, en Hy het my opgedra om vir Hom ‘n huis te bou in Yerushalayiem wat in Yehudah is. Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort – mag Yahweh sy Elohiem met hom wees, en laat hom optrek!” (2 Kron 36:23). Voor hierdie aankondiging was die volk in die seisoen van 70 jaar van ballingskap. Koresh se naam kom van ‘n Aramese woord wat verband hou met die maag of die uterus en bring dus die beeld na vore van ‘n vrou wat ‘n baba verwag. Aan die einde van een van die donkerste periodes in die geskiedenis van hierdie volk, gebruik Yahweh ‘n vreemde en byna onvanpaste instrument (die koning van Persië!) om aan sy volk hoop en uitsig te gee vir die periode wat voorlê. Hy gee vir hulle rede tot blydskap en opgewondenheid, soos wanneer daar uitgesien word na die geboorte van ‘n kind. Ons kan vandag ook die nuwe periode wat voorlê, binnegaan met die bemoediging van Koresh: “Julle kan gerus maar optrek, want Yahweh julle Elohiem gee aan julle ‘n verwagting en sal met julle wees!”

Die hemelvaart van Y’shua (in die Messiaanse Skrifte) het ook die aanbreek van ‘n nuwe seisoen ingelui. Ook in hierdie besonderse oorgangsfase kry ons ‘n fyn balans tussen onsekerheid en sekerheid – op ‘n manier wat vir die volgelinge van Y’shua nuwe hoop en perspektief gebring het. In Hand 1 het die dissipels gehoop dat Y’shua vóór sy afskeid vir hulle al die detail oor die koninkryk en die tekens van die eindtyd bekend sou maak. Maar Y’shua beklemtoon dat hulle nog nie by die eindstreep gekom het nie. “Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; maar julle sal krag ontvang wanneer die Afgesonderde Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Yerushalayiem sowel as in die hele Yehudah en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand 1:7-8). Julle weet nie wat die toekoms vir julle inhou nie. Julle ken nie al die tye en geleenthede van die Vader nie, sê Y’shua. Julle ken Mý, maar dit beteken nie julle het volledige insig in alles wat my Vader vir julle beplan nie. Maar julle sal ongekende krag ontvang wanneer die Afgesonderde Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees – ook getuies van die soort uitkoms wat Yahweh bring wanneer ons as mense dink dat ons die einde van die pad bereik het.

Ons vind dus ‘n duidelike patroon reg deur die Skrif. ‘n Patroon wat veral na vore kom wanneer daar van een seisoen na ‘n ander oorgegaan word. ‘n Patroon van sekerheid wat in Yahweh gesetel is, te midde van omstandighede van onsekerheid en selfs die moeilikste omstandighede denkbaar. ‘n Patroon wat alreeds beslag gekry het aan die einde van die boek Genesis (en deel van die Parashah van hierdie week) toe Yosef, in sy sterfjaar, toe hy 110 jaar oud was, vir sy broers gesê het: “Ek gaan sterf, maar Elohiem sal gewis op julle ag slaan en julle uit hierdie land laat optrek na die land wat Hy aan Avraham, Yietsgak en Yaákov met ‘n eed beloof het” (Gen 50:24). Dit was die einde van ‘n era, maar nie die einde van die pad nie. Yosef se dood was ‘n groot verlies – op soveel maniere was hy instrumenteel in die ontstaansgeskiedenis van die volk Israel. Maar saam met die onsekerheid wat sy dood meegebring het, kry die oorblywende deel van hierdie familie ‘n woord waaraan hulle kon vashou met alles wat hulle het: Elohiem sal gewis op julle ag slaan en julle laat optrek na die plek wat Hy belowe het. Selfs die 110 jaar van Yosef se leeftyd was ryk aan betekenis. 110 is die numeriese waarde van die woord “am” of “volk” of “people” wat vier keer in Genesis 50 voorkom. Julle mag nóú verslae en bedroef en ontnugter wees, sê Yahweh by implikasie vir hierdie groepie van 70 siele wat in Egipte aangekom het. Julle mag dalk totaal oorweldig wees deur ‘n gevoel van verlies en gebrek aan identiteit. Maar Ek gaan van hierdie beteuterde groepie mense MY VOLK (my “am”) maak. Ek maak dit my werk om julle te beskerm, guns aan julle te bewys en julle te red uit elke vorm van gevaar. Moenie terugdeins vir die nuwe seisoen wat voorlê nie. Ek is saam met julle, elke tree van die pad!