PLEKKE VAN BETEKENIS

alternate textVerlede week het ons opnuut ‘n kykie gekry in die belangrikheid en die afgesonderdheid van die sewende dag. Hierdie unieke karakter van die sewende dag het sy ontstaan te danke aan die feit dat Yahweh op die sewende dag van al sy skeppingswerk gerus het en so het dit gekom dat die sewende dag later “die dag van rus” of “Shabbat” genoem is. Die opskrif van verlede week se boodskap was “Op hierdie dag”, na aanleiding van die lied gebaseer op Psalm 92 met drie strofes wat elke keer begin met die woorde “Op hierdie dag van die Shabbat”. Psalm 92 is die enigste psalm wat spesifiek genoem word: ‘n Lied vir die dag van die Shabbat.

Dit is interessant dat die uitdrukking “op hierdie dag” (Heb: “bayom hazeh”) sewe maal in die Skrif voorkom (“hierdie dag” – sonder die “op” – kom 154 keer voor!). ‘n Mens kom gereeld op gedeeltes af in die Skrif waarin jy duidelik kan sien dat, binne die Hebreeuse verstaan van dinge, TYD ‘n geweldige belangrike rol speel. Die feit dat ‘n spesifieke dag van elke week afgesonder word en voorgehou word as ‘n dag waarop geen werk verrig moet word nie en ‘n mens selfs nie die gewone patroon van die res van die week moet volg nie, wys dat TYD in Yahweh se oë belangrik is. Die feit dat die eerste dag van elke maand, en ‘n aantal dae elke jaar, uitgesonder en eenkant gesit word en voorgehou word as dae van bymekaarkoms en feesviering en besinning, en gepaard gaan met simbole soos ongesuurde brood, die blaas van die ramshoring en onthouding van kos, is weer eens ‘n aanduiding dat die verloop van TYD en die aanbreek van sekere TYE nie as vanselfsprekend aanvaar moet word nie. Aan die een kant is vasgestelde tye soos afsprake wat die Skepper met sy skepping gemaak het, as ‘n herinnering dat Hy van die begin af by sy skepping betrokke was en tot reg aan die einde betrokke sal bly. Aan die ander kant is die spesifieke tye wat weekliks en maandeliks en jaarliks uitgesonder word, soos ‘n dissipline, of ‘n leerskool, waarby ons, as deel van die skepping, behoort in te val, sodat ons ‘n beter aanvoeling kan kry vir die feit dat ons Skepper, Yahweh, van ewigheid tot ewigheid bestaan en ons vir die ewige lewe bestem het. ‘n Mens kan dit in verband bring met die beginsel wat Y’shua meer as een keer uitgelig het: Oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel – omdat jy bereid was om ‘n klein bietjie van jou tyd aan Yahweh af te staan, sal Hy grenslose tyd by jou bestaan byvoeg en boonop die voorreg om vir ewig in sy teenwoordigheid te kom!

Dis nie net TYE wat in die Skepper se rekenkunde belangrik is nie. PLEKKE is net so belangrik. Terwyl die uitdrukking “op hierdie dag” sewe maal in die Skrif voorkom, kom die uitdrukking “op hierdie plek” (Heb: “bamaqom hazeh”) 19 keer in die Skrif voor (“hierdie plek” – sonder die “op” – kom 63 keer voor). Net soos ons nie die TYE van ons lewe moet geringskat nie, moet ons ook nie die PLEKKE van ons lewe geringskat nie. Nie net plekke in die sin van lande en streke en dorpe nie, maar ook plekke in ‘n figuurlike sin. Soos wanneer jy vir iemand sê: Ek was op ‘n plek in my lewe waar ek deur my angstigheid oorweldig is. Of: Ek was op ‘n plek in my lewe waar ek my eie foute van die verlede duidelik raakgesien het. Of: Ek was op ‘n plek in my lewe waar ek van Yahweh probeer weg hardloop het. Of: Dit was op daardie plek dat ek waarlik ‘n ontmoeting met die Vader gehad het!

Party mense sal dalk sê die Skrif laat ons nie toe om só abstrak aan plekke te dink nie. Kom ons kyk kortliks na een of twee voorbeelde. Toe Yaakov die droom gehad het van die leer en die skare van boodskappers wat met die leer af- en opgaan en Yahweh wat in die droom belowe dat Hy hom ‘n groot nageslag sou gee en hom nooit sou verlaat nie, het hy, toe hy wakker word, gesê: “Waarlik, Yahweh is op hierdie plek (‘bamaqom hazeh’), en ek het dit nie geweet nie” (Gen 28:16). Die vraag is: Was dit die fisiese adres van daardie plek of die betekenis en konnotasie van daardie plek wat vir Yaakov die woorde “bamaqom hazeh” laat gebruik het? Beslis die betekenis van die plek, nie die adres nie.

Teen die einde van die 40 jaar van omswerwinge deur die woestyn het Mosheh vir die volk gesê: “Ons het Yahweh aangeroep en Hy het ons stem gehoor en ons ellende en ons moeite en ons verdrukking aangesien; en Hy het ons uit Mietsrayiem uitgelei deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders en Hy het ons na hierdie plek (“bamaqom hazeh”) gebring en ons hierdie land gegee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning (Deut 26:7-9). Die “hierdie plek” wat hier genoem word, was nog nie die beloofde land nie. Dit was net ‘n plek naby aan die beloofde land waar Mosheh die volk pertinent herinner het aan alles wat Yahweh vir hulle gedoen het. Weer eens was dit nie soseer die adres van “hierdie plek” wat getel het nie, maar die betekenis. Dit was ‘n plek van waarheid (dat Yahweh hulle vir 40 jaar beskerm het). Dit was ‘n plek van her-oriëntasie (alles was nie net sleg nie – Yahweh se hand was oor hulle). Dit was ‘n plek van bemoediging (eintlik behoort hulle bly te wees, nie depressief nie).

Wat doen ons met die plekke van betekenis in ons lewe? Hoeveel plekke van betekenis het ons nie al in die verlede gehad nie? Onthou ons nog daardie plekke? Onthou ons nog die bemoediging wat Yahweh vir ons op ‘n sekere plek kom gee het? Die waarheid wat daar op ‘n sekere plek vir ons deurgebreek het? Die besondere ontmoeting wat ons met Yahweh of met sy Seun op ‘n sekere plek gehad het? Die kopskuiwe wat jy op sekere plekke moes gemaak het? Die oomblikke van inkeer en berou en vergifnis wat jy op ‘n sekere plek beleef het? Die wonderwerk en die groot hand van Yahweh wat jy op ‘n sekere plek gesien het? In 1 Kon 8 het Shelomo (Salomo) in sy gebed vir Yahweh herinner aan “die plek waarvan U gesê het, My Naam sal daar wees.” Onthou jy nog die plek waar Yahweh sy Naam aan jou kom bekend maak het? Voel jy nog steeds so sterk oor die aanroep van sy Naam of het jy toegelaat dat die baie plekke rondom jou waar sy Naam nie eerbiedig word nie, die herinnering aan daardie besonderse plek laat vervaag het? In 2 Konings 22 het koning YoshiYah, een van die beter konings in die Skrif, sy kleure geskeur toe hy die boekrol van die Torah gelees het. In die oë van die wêreld lyk dit seker nie goed as ‘n koning sy klere skeur nie. Maar Yahweh se woord aan YoshiYah was: “Omdat jou hart week was en jy jou voor die aangesig van Yahweh verneder het toe jy hoor wat Ek oor hierdie plek en oor sy inwoners gesê het, dat hulle ‘n voorwerp van verbasing en vervloeking sal word, en omdat jy jou klere geskeur en voor my aangesig geween het, daarom het Ek ook verhoor, sê Yahweh.” Die fisiese plek was nie die belangrike deel nie. Maar die plek het gestaan vir ‘n koning wat bereid was om hom voor Yahweh te verneder en hom aan die gesag van die Torah te onderwerp. Was ek en jy al by so ‘n plek? En as ons antwoord “nee” is, het dit nie tyd geword dat ons by daardie plek uitkom nie? Die boodskap van die Skrif is strykdeur: Verneder jou voor Hom en Hy sal jou op die regte tyd verhoog!

In YermeYahu (Jeremia) 7:3 lees ons hierdie woorde: “So sê Yahweh van die leërskare, die Elohiem van Yiesraél: Maak julle weë en julle handelinge goed, dat Ek julle kan laat woon in hierdie plek (bamaqom hazeh).” Of dit nou fisiese Israel is wat is wat in die fisiese land van Israel bly en of dit ons is wat in Suid Afrika bly en graag wil voortgaan om hier te woon en graag vrede wil ervaar terwyl ons hier woon, die beginsel van Jer 7:3 geld ook vir ons: “Maak julle weë en julle handelinge goed!” Maak die plek waar jy nou is, ‘n plek van terugkeer na Yahweh toe. Maak dit ‘n plek van beslissing en nie van draadsittery nie. Maak dit ‘n plek van aktiewe regmaak, nie ‘n plek van passiewe terugsit in jou gemakstoel nie.

Die Hebreeuse woord vir plek, “maqom”, is glad nie ‘n passiewe woord nie. Ons is geneig om aan ‘n plek te dink as ‘n “standplaas” waar jy terugsit en rus, soos in die begrip “settle”, sodat jy stabiliteit en vrede kan beleef. Terwyl daar niks met vrede en stabiliteit verkeerd is nie, is dit nie in die eerste plek die betekenis van die woord “maqom” nie. Hierdie woord kom eintlik van ‘n ander woord wat ‘n baie sterk, aktiewe betekenis het, naamlik om op te staan, om iets te bevestig, om iets vas te maak, om iets te bereik, om te versterk, om op te lig en om te bevorder. Dis dieselfde woord wat in die Parashah van hierdie week gebruik word vir die verbond wat Yahweh met Noag “opgerig” het (Gen 6:18; 9:9; 9:11 en 9:17). Wanneer Yahweh ‘n verbond oprig of sluit of bevestig, kan dit baie dinge beteken, maar dit kan nie beteken dat Hy stilsit en niks doen nie. Net mooi die teenoorgestelde. Dit beteken dat Hy ‘n mens oprig en help en beskerm. Dit beteken dat hy iemand versterk en ‘n rede gee om te lewe. Dit beteken dat Hy betrokke raak by ‘n mens of ‘n groep mense. Die plek waar so iets gebeur, is ‘n plek wat ek en jy goed ken. Yahweh het met ons ook ‘n verbond aangegaan. Daar was ‘n plek waar Hy by ons betrokke geraak het. Hy het ons opgerig toe ons op ‘n plek gelê en spartel het om op ons eie bene te kom. Hy het sy eie Seun op ‘n plek gebring waar ons Hom kon leer ken. Dis ‘n plek wat betekenis het soos min ander plekke. Die vraag is: Kan mense die uitwerking van daardie plek in ons lewe sien?