OP HIERDIE DAG

alternate textDis gebruiklik om met die begin van elke nuwe siklus van Torah-lesings (in die week wat volg na die Agste Dag of Yom Hashemini) stil te staan by die skepping en by die dinge wat reg aan die begin gebeur het. Die naam van die eerste boek in die Skrif is alreeds ‘n goeie aanduiding hiervan: Bereshiet, wat letterlik beteken: In die begin. Soms vergeet ‘n mens dat die eerste Torah-lesing of Parashah nie net oor die temas handel van die Skepping en die begin en die eerste mense op aarde nie, maar ook oor die tema van die Shabbat. In ses dae het Elohiem alles geskape en op die sewende dag het Hy gerus! Genesis 2 noem dit nie maar net in die verbygaan dat Yahweh op die sewende dag gerus het nie. Hierdie hoofstuk beklemtoon ten sterkste die waarheid dat Yahweh hierdie spesifieke dag ook geseën en afgesonder het.

Sommige mense verwerp die idee van Sabbatsonderhouding op grond daarvan dat dit deel van Torah van Mosheh was en omdat hulle (verkeerdelik) verstaan dat Y’shua se koms die onderhouding van hierdie Torah oorbodig gemaak het. Ons hoef nie vandag in detail op hierdie siening in te gaan nie. Kom ons neem egter deeglik daarvan kennis dat die unieke en spesiale karakter van die Shabbat alreeds tydens die skepping duidelik na vore gekom het en dat die belangrikheid van die Shabbat nie net één keer (as deel van die Tien Gebooie) uitgelig word nie, maar minstens 12 keer, in die Ou Testament alleen! Kom ons kyk kortliks daarna.

Die eerste keer is in Gen 2:2-3 waarna ons so pas verwys het: “En Elohiem het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En Hy het die sewende dag geseën en dit afgesonder, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat Hy geskape het deur dit te maak.”

Die tweede keer is met die episode van die manna in die woestyn, voordat Mosheh nog die Torah ontvang het. Let veral op Ex 16:28-29: “Toe sê Yahweh vir Mosheh: Hoe lank weier julle om my gebooie en my leringe te onderhou? Kyk, omdat Yahweh julle die Shabbat gegee het, daarom gee Hy julle op die sesde dag brood vir twee dae.”

Die derde keer is met die ontvangs van die Tien Gebooie, en die res van die Torah in Exodus 20. Let veral op Ex 20:8 en 11: “Onthou die dag van die Shabbat, dat jy dit afsonder … want in ses dae het Yahweh die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het Yahweh die dag van die Shabbat geseën en dit afgesonder.”

Die vierde keer was net voordat Yahweh vir die tweede keer die kliptafels aan Mosheh gegee het, in Exodus 31. Let veral op Ex 31:13: “Spreek jy met die kinders van Yiesraél en sê: Julle moet beslis my Shabbatte onderhou, want dit is ‘n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek Yahweh is wat julle afsonder.”

Die vyfde keer was in Exodus 35, net voordat Mosheh die instruksies vir die tabernakel ontvang het. Let veral op Ex 35:2: “Ses dae lank kan daar werk verrig word, maar op die sewende dag moet daar vir julle ‘n afgesonderdheid, ‘n dag van volkome rus wees tot eer van Yahweh. Elkeen wat daarop werk verrig, moet doodgemaak word.”

Die sesde keer was in Levitikus 23, die hoofstuk wat ‘n breedvoerige uiteensetting van die feeste bevat. Let veral op Lev 23:3: “Ses dae lank kan werk gedoen word, maar op die sewende dag moet daar ‘n dag van volkome rus wees, ‘n afgesonderde byeenkoms; geen werk mag julle doen nie – dit is ‘n Shabbat van Yahweh in al julle woonplekke.”

Die sewende keer was in Deuteronomium 5 toe Mosheh die hoogtepunte van die hele Torah uitgelig het, kort voordat die volk die beloofde land binne gegaan het. Deut 5:12 staan uit: “Onderhou die dag van die Shabbat, dat jy dit afsonder soos Yahweh jou Elohiem jou beveel het.”

Die agste keer is die bekende hoofstuk oor die Shabbat in Jesaja 58. Die gedeelte wat veral noemenswaardig is, is Jes 58:13-14 “As jy jou voet weerhou van die Shabbat – om nie jou sake op my afgesonderde dag te doen nie, en as jy die Shabbat ‘n verlustiging noem en die afgesonderde dag van Yahweh hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie … sal Hy jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Yaákov.”

Die negende keer is in Jesaja 66 waar daar oor die periode van die nuwe hemel en die nuwe aarde gepraat word. Jes 66:23 is baie betekenisvol: “En elke maand op die nuwemaan en elke week op die Shabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê Yahweh.”

Die tiende keer is in Jeremia 17 toe die profeet vir die volk gesê het dat die lot van Jerusalem onder meer bepaal sal word daardeur of die volk Yahweh se Shabbat sou eerbiedig. Jer 17:24-25: “As julle dan aandagtig na My luister … om die dag van die Shabbat af te sonder deur daarop geen werk te doen nie … sal deur die poorte van hierdie stad konings en heersers ingaan wat op die troon van Dawied sit … en hierdie stad sal vir ewig bewoon word.”

Die elfde keer is in Esegiël 20 waar die profeet weer ‘n slag sê dat die Shabbat as teken gegee is, maar dat die volk hierdie teken geminag het. Eseg 20:12-13: “Ek het my Shabbatte aan hulle gegee om ‘n teken te wees tussen My en hulle, dat hulle kan weet dat dit Ek, Yahweh, is wat hulle afsonder, maar hulle was rebels teen My … my Shabbatte het hulle baie ontwy.”

Die twaalfde keer was toe Nehemia met die ballinge terug gekeer het uit ballingskap en Nehemia self opgetree het toe sekere mense die Shabbat verontagsaam het. Neh 13:17-18: “Watter verkeerde ding is dit wat julle doen, dat julle die dag van die Shabbat ontwy? Het julle vaders nie so gehandel, sodat onse Elohiem oor ons en oor hierdie stad al hierdie rampspoed gebring het nie? Ja, julle vermeerder die gloeiende toorn oor Yiesraél deur die Shabbat te ontwy!”

Die dag van die Shabbat word reg deur die Skrif as ‘n besonderse en ‘n unieke dag voorgehou. Sommiges het probeer om Y’shua daarvan te beskuldig dat Hy nie die Shabbat onderhou het nie. Die rede hiervoor was dat hulle nie die hart en die essensie van die Shabbat, as ‘n dag van rus in die volle sin van die woord, verstaan het nie. Maar Y’shua het dit verstaan en Hy het hierdie dag gehou. Hy het die byeenkomste op die Shabbat bygewoon. Hy het die Skrif op die Shabbat bestudeer en gelees en uitgelê. Ons kan aanvaar dat Hy ook, soos dit die gebruik was, offers gebring het en saam met ander liedere tot eer van Yahweh gesing het op hierdie dag. Miskien ‘n lied soos Psalm 92, wat spesifiek “’n Lied vir die Dag van die Shabbat” genoem word. Daar is ‘n Engelse vertaling van die Skrif wat “The Passion Translation” genoem word, wat ek nie sal aanbeveel as die mees akkurate vertaling nie, maar wat die laaste deel van Psalm 92, die Psalm wat geslagte lank op die Shabbat gesing is, op ‘n baie besonderse manier vertaal en wat vir ‘n mens begrip gee daarvoor dat die Shabbat by uitstek ‘n dag is om lof aan Yahweh toe te bring:

Yes! Look how you’ve made all your lovers
to flourish like palm trees,
each one growing in victory,
standing with strength!
You’ve transplanted them into your heavenly courtyard,
where they are thriving before you.
For in your presence they will still overflow and be anointed.
Even in their old age they will stay fresh,
bearing luscious fruit and abiding faithfully.
Listen to them! With pleasure they still proclaim:
“You’re so good! You’re my beautiful strength!
You’ve never made a mistake with me.”