MINDER BEKENDE HERVORMERS

alternate textOngeveer 250 jaar gelede het die Duits-Joodse filosoof, Moses Mendelssohn, twee gedeeltes uit die parashah (of leesstuk) van hierdie week uitgesonder en op grond van hierdie twee gedeeltes die uitspraak gemaak dat die Woord ons nie in die eerste plek beveel om te glo nie, maar om te verstaan. Die twee gedeeltes is: Deut 4:39, “Daarom moet jy vandag weet en ter harte neem dat Yahweh Elohiem is, bo in die hemel en onder op die aarde; daar is geen ander nie”, en die bekende Deut 6:4, “Hoor, Yiesraél, Yahweh is ons Elohiem; Yahweh is een.” Mendelssohn se punt was dat nie een van hierdie twee kern gedeeltes die volk aangesê het om te GLO nie, maar om te HOOR en te WEET en te VERSTAAN (ter harte neem). Die opdragte van die Woord, sê Mendelssohn, is gemik op die mens se verstaan en sorgvuldige oorweging en oortuiging – dit was nooit bedoel om jou tot geloof te forseer nie. Hierdie verstaan en oorweging en oortuiging sal uiteindelik vanself oorgaan in geloof. Geloof en twyfel, word nie bepaal deur begeertes of verlangens of vrees of hoop nie, maar deur kennis en oortuiging van waarheid en onwaarheid.

Mendelssohn se verstaan van die Woord het ‘n groot impak op die destydse wêreld gehad – nie net in Joodse kringe nie, maar ook op die terrein van ander godsdienste en selfs op die terrein van die kunste en wetenskap. Nie almal het met hom saamgestem nie, maar sy idees is in sommige kringe met die hervorming van Martin Luther vergelyk. Die Duitse skrywer Heinrich Heine het êrens geskryf: “As Luther had overthrown the Papacy, so Mendelssohn overthrew the Talmud; and he did so after the same fashion, namely, by rejecting tradition, by declaring the Bible to be the source of religion, and by translating the most important part of it. By these means he shattered Judaic Catholicism, as Luther had shattered Christian Catholicism; for the Talmud is, in fact, the Catholicism of the Jews.” Mendelssohn het op een stadium van sy lewe ‘n uitgebreide vriendskap en korrespondensie met ‘n (Christen) teologiese student van Berlyn gehad wat vir Mendelssohn beskryf het as “a companionable, brilliant soul, with piercing eyes, the body of an Aesop, a man of keen insight, exquisite taste and wide erudition, frank and open-hearted”, maar in dieselfde asem ook die begeerte uitgespreek het dat Mendelssohn tog eendag die Messias sou erken, wat hom immers in dieselfde geselskap as groot geeste soos Plato en (sy naamgenoot) Mosheh sou plaas. Dit is baie interessant om te let op sommige van die uitsprake wat Mendelssohn, die man met die besonderse handtekening, gedurende sy leeftyd gemaak het.

MM: “To whatever visible church, synagogue, or mosque you may belong! See if you do not find more true religion among the host of the excommunicated than among the far greater host who excommunicated them.” Wat presies hy ook al met hierdie uitspraak bedoel het, ‘n mens kan duidelik aflei dat Mendelssohn in sy leeftyd beleef het dat manne en vroue wat bereid was om op te staan vir die waarheid van die Woord, nie baie vriendelik deur die amptelike godsdienstige instellings van daardie tyd ontvang en aanvaar is nie. So is dit natuurlik vandag nog en so was dit ook van die vroegste tye af. Dit word bevestig deur bekende gedeeltes in die Skrif soos Ps 37:12 (Die afvallige bedink listige planne teen die regverdige en kners met sy tande teen hom); Dan 8:24 (Sy krag sal groot word … hy sal buitensporig baie kwaad aanrig … en die volk van die afgesonderdes probeer vernietig); Mat 5:10 (Geseënd is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel); Mat 10:22 (En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word); Joh 15:19 (As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle); Joh 16:2 (Hulle sal julle uit die sinagoges ban – ja, daar kom ‘n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ‘n diens aan Elohiem bewys); ens.

MM: “The state has physical power and uses it when necessary; the power of religion is love and beneficence.” ‘n Mens is normaalweg nie geneig om aan liefde en goeie werke te dink as ‘n mag en ‘n wapen wat binne jou bereik is nie. En tog leer die Skrif ons dat liefde vrees kan verdryf (1 Joh 4:18); dat liefde ‘n menigte sondes kan bedek (1 Pet 4:8); dat liefde ‘n mens se hart kan verkwik (Filemon 1:7); dat liefde saam met geloof soos ‘n borswapen is (1 Tes 5:8); dat liefde ‘n mens laat opgroei tot volmaaktheid (Efes 4:15); dat die liefde van die Messias ‘n mens dring (1 Kor 5:14) en dat liefde soos ‘n koord is waarmee jy mense na jou toe trek, net soos wat Yahweh daarmee mense na Hom toe trek (Hos 11:4).

MM: “I am, therefore there is a God.” Mense is geneig om hierdie stelling om te draai en die fokus hoofsaaklik op die mens te laat val, in plaas van die Een wat die mens gemaak het. Daarom hoor ‘n mens gereeld uitsprake soos “I think, therefore I am”; “I doubt, therefore I am”; “I feel, therefore I am”; “I can, therefore I am”; “I eat, therefore I am” en “I choose, therefore I am”, ens. Miskien is daar ‘n element van waarheid in elkeen van hierdie stellings. Maar om my eie bestaan alleen te koppel aan sekere dinge wat ek kan doen, en nie aan die Een wat my gemaak het nie, skiet in wese ver tekort. Hoe kan ons na onsself kyk en na ons eie bestaan en na dit wat ons ontvang het in hierdie lewe, en nog steeds nie erkenning gee daaraan dat dit ‘n onbeskryflike Skepper moes gewees het wat dit alles gedoen het nie! Job 10:9-12 U het my soos klei gevorm … met vel en vlees het U my beklee, en met beendere en senings het U my deurvleg, die lewe, ja, guns het U aan my bewys, en u sorg het my gees bewaak. Job 31:15 Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, nie ook my slaaf en slavin gemaak nie? En het Een ons nie in die geboorte voorberei nie? Ps 8:3-4 As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U voorberei het – wat is die mens dat U aan hom dink, en ‘n seun van Adam dat U hom besoek? Ps 139:13 Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Jer 1:5 Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou afgesonder.

Kom ons keer terug na Mendelssohn se stelling dat die Skrif ons nooit forseer om te go nie, maar wel om te luister en te verstaan. Sommiges sal probeer hare kloof en sê dat net so min as wat jy iemand kan dwing om te glo, net so min kan jy hom dwing om te verstaan. Maar ek glo Mendelssohn het dit nie só bedoel nie. Mendelssohn se bedoeling was dat ons as mense nie so swaar op ons eie geloof moet steun dat ons te gronde gaan wanneer daar twyfel en vrees en wanhoop in ons lewe inkom nie. Gister het ek dalk nog hoop gehad, maar vandag het daar iets gebeur wat my hoop verpletter het en nou is my geloof ook daarmee heen! Gister het ek nie gevrees nie en toe was my geloof sommer sterk. Maar vandag het daar vrees by die voordeur ingekruip en toe kruip my geloof by die agterdeur uit! Geloof is iets wat van my kant af kom en wat maklik geskud en verwond kan word. Maar luister en verstaan en ter harte neem is gebaseer op iets wat van Yahweh se kant af kom en dit kan nie wankel nie. Dit kan nie verander nie. Dit word nie vertroebel deur die wolke wat rondom my saamgepak het nie. Daarom kan die Skrif sê: Julle MOET sekere dinge hoor; julle MOET sekere dinge weet; julle MOET sekere dinge verstaan en julle MOET sekere dinge ter harte neem.

Dit is heel moontlik ook wat Shaúl (Paulus) in gedagte gehad het toe hy geskryf het, “Want uit guns is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van Elohiem (Efes 2:8). Die Skrif dwing ons nie om te glo nie, maar as ons by die punt kom dat ons bely dat ons vir Yahweh wil volg en ons deur sy Woord wil laat lei, dan word ons deur die Skrif beveel om te luister. Hoor, Israel, Yahweh is ons Elohiem, Yahweh is een! Want as ons nie luister en verstaan nie, gaan ons binnekort weer op die plek beland waar ons slegs ons eie geloof en ons eie twyfel en one eie vrees aangewese is. Hoekom sou ons dit doen as ons die opsie het om skuiling te soek in die stabiliteit van Yahweh se woorde? Ons word nie net deur die Skrif beveel om te luister nie, maar ook om te verstaan en daardie (verworwe) kennis in die fondasie van ons lewe hier op aarde in te bou. Die een wat weier om dit te doen, gaan altyd twyfel oor wat waarheid is en wat nie. As jy iemand is wat hou van ‘n slagspreuk soos “I think (or I choose), therefore I am”, gebruik dit gerus, maar dan met hierdie voorwaarde: Dink na oor die feit dat jou bestaan en wie jy as mens is, nie maar net uit die lug uit geval het nie – dat daar Iemand is wat jou met sorg gemaak het – en kies dan om Hom aan te hang, om noukeurig na sy woorde te luister en te verstaan watter plek Hy graag in jou lewe wil inneem!

Subscribe
Notify of
guest
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x