MINDER BEKENDE HERVORMERS 2

alternate textIn die 12de eeu is daar twee bekende Joodse leiers in Spanje gebore, Mosheh Maimonides en Mosheh Nachmanides. Maimonides was die seun van Maimon en het later as RAMBAM bekend gestaan, wat ‘n akroniem is vir: Rabbeinu Mosheh ben Maimon (Ons rabbi, Mosheh, seun van Maimon). Nachmanides was die seun van Nachman en het later as RAMBAN bekend gestaan, wat ‘n akroniem is vir Rabbeinu Mosheh ben Nachman (Ons rabbi, Mosheh, seun van Nachman). Daar word beweer dat Rambam op die aand voor Pesag gebore is en Ramban (‘n klompie jare later) in die maand van Elul. Beide hierdie twee rabbi’s was uiters geniaal en het ‘n groot impak op die generasies van hulle tyd gemaak. Baie aspekte van hulle sienings en uitleg van die Skrif word tot vandag toe nog erken en in bronne aangehaal. In daardie sin behoort beide hierdie twee manne as hervormers gesien te word, na wie ‘n mens gerus kan luister – maak nie saak of jy ‘n Jood is of nie en of hulle ‘n paar dinge gesê het waarmee jy nie kan saamstem nie.

Die twee Mosheh’s het nie altyd langs dieselfde vuur gesit nie en het soms oor netelighede van mekaar verskil, wat ‘n mens eintlik verstom. ‘n Klassieke voorbeeld hiervan is hulle botsende standpunte oor die Hebreeuse taal, of soos dit soms bekend staan, die lashon hakodesh (of in Engels: “the holy tongue”). Ramban was oortuig dat die taal Hebreeus werklik ‘n “holy language” is en dat daar sekere dele van ‘n mens se geloofsbeoefening is wat jy net in Hebreeus kan doen. Hierdie siening word tot vandag toe nog in sommige kringe aanvaar en die Mishnah maak onder meer ‘n vaste lys van openbare lesings wat in enige taal gedoen kan word (soos byvoorbeeld die “shema”, sekere gebede en die voorlegging van tiendes) en ander lesings wat net in Hebreeus gedoen mag word (soos byvoorbeeld die voorlegging van eerstelinge en die uitspreek van die priesterlike seën van Numerie 6). Rambam, daarenteen, was oortuig dat die Hebreeuse taal nie op sigself heilig of afgesonder is nie en dat dit bloot ‘n tipe skoonheid en suiwerheid gehad het omdat dit geen vuil of vulgêre taal ingesluit het nie. Dis nie eens nodig om hierop kommentaar te lewer nie, behalwe dat ‘n mens dit moet betreur dat daar opnuut vandag stemme uitgaan wat die idee skep dat ‘n mens Hebreeus moet praat, of minstens net ‘n aantal betekenisvolle Hebreeuse woorde moet gebruik, om jou geloof “op standaard” te bring! Die blote feit dat mense die gebruik van ‘n sekere taal as ‘n barometer van geloof voorhou, dui vir my op ‘n stuk geestelike armoede en ‘n miskenning van die waarheid wat die eerste Mosheh wat ons ken, so mooi uitgespel het: “Voordat die berge gebore was en voordat U die aarde en die wêreld voortgebring het (en voordat enige taal nog bestaan het), ja, van ewigheid tot ewigheid is U Elohiem” (Ps 90:2).

Maar die ander twee Mosheh’s, wat 2600 jaar ná die skryf van Psalm 90 op die toneel verskyn het, het hulle meeste van die tyd nie met nuttelose argumente besig gehou nie. Maimonides het byvoorbeeld uitstekende kommentaar gelewer op die eerste paar verse van die Torah porsie van hierdie week: Deut 11:26-28 “Kyk, ek hou julle vandag seën en vloek voor – die seën as julle luister na die gebooie van Yahweh julle Elohiem wat ek julle vandag beveel; en die vloek as julle nie luister na die gebooie van Yahweh julle Elohiem nie.” Rambam het gepleit dat mense asseblief tog nie die dwase doktrine moet verkondig dat die Almagtige, by die oomblik van jou geboorte, bepaal of jy regverdig of onregverdig gaan wees nie. Elke persoon, het hy gesê, word só geskape dat dit volledig vir hom of haar moontlik is om regverdig of onregverdig te wees. Mense wat verlore gaan, is self daarvoor verantwoordelik – hulle kan die skuld daarvoor op hulle Skepper plaas nie! As ‘n mens in sonde verval het, roep die Skrif jou op om berou te hê en terug te keer na Yahweh toe – sonder om ‘n oomblik te huiwer en sonder om eers die moontlikheid te oorweeg dat dit vir jou moeiliker is as vir ander mense (of selfs onmoontlik is!) om so ‘n stap te neem. Rambam het Klaagliedere 3:38-40 so ‘n bietjie anders vertolk as wat meeste mense doen, maar dis uiters verhelderend en in lyn met die boodskap van die res van die Skrif: “Uit die mond van die Allerhoogste kom geen uitspraak wat kwaad of goed oor ‘n mens bring nie (veral nie by jou geboorte nie). Waarom kla jy (by Elohiem) oor die feit dat jy verkeerd gedoen het? Ondersoek liewer jou eie weë en bekeer jou tot Hom.”

Maimonides het ook iets te sê gehad oor Deut 15:11 “Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer, vir die ellendige en die arme in jou land.” Hy meen dat die “wyd oopmaak” ‘n aanduiding is van hoe ver ons bereid moet wees om hulp te verleen en guns te bewys aan enige iemand met wie ons in ‘n verhouding staan. Hierdie beginsel geld ook vir mense wat ons te na gekom het, want in Deut 23:7 sê Yahweh byvoorbeeld vir sy volk: “Die Edomiet moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want hy is jou broer en die Egiptenaar moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want jy was ‘n vreemdeling in sy land.” Die implikasie hiervan is dat die volk hulle nie moes blindstaar teen die feit dat die Egiptenare hulle meer as 400 jaar verdruk het nie, maar dat hulle moes onthou dat die Egiptenare aan die Israeliete, as vreemdelinge, vir meer as 400 jaar ‘n tuiste gegee het. Maak jou hand wyd oop vir jou broer, al is jy nie lus om hom jou broer te noem nie. In die woorde van die Messias: Moenie net een myl met hom saamloop nie – loop twee myl. As dit jou broer is wat jou in die steek gelaat het, dink daaraan dat daar ‘n tyd was toe hy ‘n klip uit jou pad gerol het. As dit jou baas is wat jou in die pad gesteek het, dink daaraan dat hy jou vir ‘n seisoen van werk voorsien het. As dit jou familielid is wat nie met jou geloofsoortuigings of enige ander aspek van jou lewe saamstem nie, dink daaraan dat hy in ander areas vir baie lank ‘n pad saam met jou geloop het.

Nachmanides (Ramban) is bekend vir sy uitspraak dat mense wat die Torah ken en ondersoek moet oppas “that they don’t become scoundrels with the full permission of the Torah.” Hy het hierdie uitspraak gemaak in die konteks van die opdrag dat ons afgesonderd moet wees soos wat Yahweh afgesonderd is. Om hierdie gebod te gehoorsaam, sê Ramban, is dit nie net nodig om die dinge te vermy wat verbied word nie – dit is ook nodig om die dinge wat toegelaat word en aangemoedig word op só ‘n manier te doen, dat dit pas by die karakter van die Een wat die gebod gegee het. Weereens word ‘n mens herinner aan die leringe en optrede van Y’shua die Messias – en veral sy hewige kritiek teen die leefstyl van die Fariseërs. Die Torah bestaan nie net in die onderhouding van dooie reëls en regulasies nie. Dit gaan nie oor ‘n lysie wat jy moet afmerk en jouself op die skouer klop en verklaar: ek het alles gedoen wat ek moes doen en ek het niks gedoen wat verbode is nie. As dit jou houding is, kan jy baie maklik ‘n oortreder raak – selfs ‘n skurk – met die volle “blessing” van die Torah. Ek het my tiende vir Yahweh gegee, maar ek gee nie eens ‘n honderdste vir my broer in nood nie! Ek het op die Shabbat gerus, maar ek het my werkgewer se tyd gesteel waarvoor hy my betaal! Ek het my broer opgehelp wat gestruikel het, maar ek het my lewensmaat se lewe versuur. Ek het die Naam van Yahweh uitgespreek, maar my leefstyl is nie ‘n uitbeelding van dit waarvoor sy Naam staan nie. Ek het nie ’n enkele moord op my kerfstok nie, maar ek verwoes mense se lewens met my woorde.

In aansluiting hierby het Nachmanides gesê: “This was the purpose of the whole creation, that man should recognize and know Him and give praise to His Name.” ‘n Byna soortgelyke uitspraak as die een van Augustinus: “U het ons vir Uself gemaak, en ons hart is onrustig in ons, totdat dit rus vind in U”. Om net maar vir die vertoon (om goed te lyk!) op uiterlike gedrag te fokus, sonder om die diepe kennis en innige verhouding met ons Skepper te soek, gaan ons nooit die vervulling bring wat ons soek in hierdie lewe nie. Nachmanides het by geleentheid diep onder die indruk gekom van hoe ver hy tekortskiet van hierdie “purpose of the whole creation” en homself, in die gees van die maand van Elul, só uitgedruk:

“Erring, I wandered in the wilderness,
In passion’s grave, almost sinking, powerless;
Now deeply I repent, in sore distress,
That I kept not the statutes of the King!”

Die Een wat vir ons sy opdragte gegee het en die beginsels van sy koninkryk geleer het, is nie ‘n buitestander nie – Hy is ons regverdige, goedgunstige, almagtige, alomteenwoordige Koning! As ons in hierdie lewe ons eie “passions” gaan najaag en vertroetel, gaan dit vir ons ook voel of ons in ‘n wildernis is en in ‘n graf wegsink en sonder krag – “powerless” – is. Wat kan ons doen? Daar is net een antwoord en dit lê opgesluit in die woorde van hierdie gedig: “Now deeply I repent, in sore distress, that I kept not the statutes of the King!” Of, om weer aan te sluit by die eerste Mosheh se Psalm 90, teenoor Yahweh te bely: U bring ons verborge sondes uit in die lig van u aangesig … leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom … keer tog terug, Yahweh (want ons wil na U toe terugkeer) … versadig ons (weer) met u goedertierenheid … maak ons (weer) bly … laat u werk (weer) sigbaar word in ons … laat u lieflikheid (weer) oor ons wees … en bevestig asseblief die werk van ons hande – maak van ons onvolmaakte werke iets wat volmaak en volkome is!

Subscribe
Notify of
guest
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x